Skip to main content

Jesus en Jahwe

Wie is Jesus in die Bybel?

Ek dink in die laaste tyd baie na oor Wie Jesus in terme van die Bybelse boodskap is. Wat is die prentjie wat die Bybel self gee van Jesus?  En hoe beïnvloed dié prentjie van Jesus my lewe?

Die rede daarvoor is aan die een kant omdat die navorsing van die afgelope paar eeue oor die historiese Jesus my ernstig frustreer.  Die poging van die historiese Jesus navorsers om agter die teks van die NT en OT in te kom en met historiese metodes ‘n rekonstruksie van die sogenaamde historiese Jesus te gee, het tot soveel diverse prentjies van Jesus aanleiding gegee, wat nie net onder navorsers tot ernstige konflik van opinies lei nie, maar ook in groot konflik is met die teks van die Bybel self.  Om daarvan sin te maak, is moeilik genoeg.  Om daarvan te leef, is onmoontlik.

Aan die ander kant word my belangstelling in die Bybelse boodskap geprikkel deur die resultate van die narratiewe benadering.  Die erns wat in dié benaderings met die teks van die Bybel self gemaak word, spreek net baie meer tot my.  Elke nuanse van die Bybelteks, elke beeld wat gebruik word, elke verbintenis wat in die teks gemaak word, en die betekenis daarvan in terme van die konteks beide van daardie tyd en vandag, word op só ‘n kreatiewe wyse in spel gebring dat dit vir my lei tot ‘n inspirerende besig-wees met die teks.  Die poging om sin te maak van die teks self, open vir my deure van luister en leef wat nie met historiese metodes moontlik is nie.

God tree in Jesus, die Kurios van die NT, op soos Jahwe, die Kurios van die OT

Wat my op die oomblik veral besig hou van die Bybelse boodskap oor Jesus, is die feit dat Hy in die NT nie net as mens en as God geteken word nie, maar ook as die Here (Kurios):

  • Hy is nie net Jesus, die afstammeling van Dawid uit die stam van Juda, die Een wat mens geword het en onder ons kom woon het nie.
  • Hy is nie net die Messias (Gesalfde, Christus), die Een wat vir ons die Verlosser geword het en die weg en die waarheid en die lewe is nie.
  • Hy is nie net die Seun of Woord van God, waarmee Sy goddelikheid onomwonde uitgedruk word nie.
  • Hy is ook die Here (Kurios), die Een wat Koning is en die koninkryk van God kom vestig het en steeds besig is om dit te doen.

Dit is hierdie laaste beskrywing van Jesus wat my fassineer. Dat Jesus Here (Kurios) genoem word – ‘n naam wat in die Griekse vertaling van die OT (LXX) vir JHWH (Jahwe), God, gereserveer is – beteken dat in Jesus God as Here optree, op dieselfde wyse as wat JHWH, God, dit in die OT gedoen het. Soos Werner Foerster oor Jesus sê: “In him God acts as the kýrios does in the OT” (Kittel, G & G Bromiley, G Friedrich 1976 Theological Dictionary of the New Testament. Eerdmans: Grand Rapids).

Anders gestel:

  • Jesus van die NT tree as die Jahwe (Kurios) van die OT op.

Hoewel daar uiteraard verskille is – Jahwe word bv. nie met ‘n menslike natuur in die OT geteken nie – is die betekenis hiervan vêrreikend.

  • Dit verruim ons beeld van Jesus dat Hy aktief betrokke is in hierdie wêreld, veral in terme van Sy mag en heerskappy, nie net in die lewe van die kerk nie, maar in gang van die wêreld en die geskiedenis.
  • Dit skep in ons die verwagting dat Jesus op dieselfde wyse as wat Jahwe ingegryp en Homself laat geld het in die lewe van sy volk en die wêreld in die OT, dit ook in ons eie lewe sal doen.

Vir meer inligting oor dié identifikasie van Jesus as Jahwe kan die resente boek van Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus: A Theography) geraadpleeg word. Hulle verwys ook na ander teoloë wat dieselfde gedagtes ondersteun: onder andere NT Wright (The Challenge of Jesus – “the Old Testament portrait of YHWH fits Jesus like a glove”), Dietrich Bonnhoeffer (Creation and Fall), Scot McKnight (The King Jesus), en Richard Baukham (God Crucified).

Dink net bv. hieroor na:

  • “Jahwe (die Here) is my herder, ek kom niks kort nie” – Ps 23:1
  • “Ek (Jesus) is die goeie herder … Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” – Joh 10:14,10.
  • Jeremia belowe ‘n regverdige spruit/koning wie se naam sal wees: (letterlik) “Jahwe ons geregtigheid” – Jer 23:5-6 (“Die Here regeer regverdig oor ons”).
  • Jesus as Vervuller hiervan dra dus dié Naam: “Jahwe ons geregtigheid”.

’n Paar perspektiewe uit die Bybel

Ter ondersteuning hiervan die volgende:

  • In die OT word die persoonsnaam van God met die Hebreeuse konsonante JHWH aangedui wat meesal gevokaliseer word as Jahwe en as Here in die verskillende Afrikaanse vertalings en Lord in die verskillende Engelse vertalings weergegee word (bv Eks 3:15).
  • Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het deurgaans die Hebreeuse JHWH met die Griekse Kurios vertaal, wat ook die eerste keer is dat die woord Kurios vir God gebruik is in die Griekse taal. Kurios is in Grieks gewoonlik gebruik om eienaarskap of voogdyskap uit te druk, maar in die OT is dit die woord wat gekies is om as vertaling van JHWH (Jahwe) te gebruik.
  • In die NT word die Griekse woord Kurios veral met Jesus verbind. Dit is merkwaardig omdat die LXX die amptelike Bybel ook van die NT gelowiges was en dat hulle met die gebruik van Kurios vir Jesus dus ongetwyfeld Hom met Jahwe geïdentifiseer het.

Soms word die term Kurios vir Jesus waarskynlik as beleefdheidsterm gebruik, veral wanneer mense of skares Hom so aanspreek (Matt 8:2,6,8; 9:28; 21:9; Joh 4:49).

In die oorgrote meerderheid gevalle word die naam Kurios (Here) egter as titel vir Jesus gebruik op dieselfde wyse as wat Kurios (Jahwe) in die OT as titel vir God gebruik is.

Voorbeelde:

  • Die engel van die Here verbind die werk van Johannes die Doper aan die bediening van die OT Kurios (Here – Jahwe) – Luk. 1:15-17
  • Dit word geëggo in die loflied van Sagaria – Luk. 1:76.
  • Elisabet noem Jesus Kurios wat waarskynlik dieselfde bedoel – Luk. 1:43.
  • Johannes die Doper kondig Hom daarom dan ook as die OT Kurios (Here – Jahwe)  aan – Mark. 1:3 (Jes. 40:3); Joh. 1:23.
  • Jesus maak die naam Kurios (Here) op Homself van toepassing, waarskynlik in dieselfde betekenis as OT Jahwe – Matt. 7:21-22; 12:8; 21:3; 24:42, Luk. 4:18-21; 6:5; Joh. 13:13.
  • Die Kanaänitiese vrou verbind interessant genoeg die naam Here aan ‘n ander titel vir Jesus, die Messias, Seun van Dawid, waarmee die term ook waarskynlik ook met Jahwe verbind kan word – Matt. 15:22.
  • Sy dissipels spreek Hom met die titel Kurios (Here) aan, hoewel dit sommige gevalle ook net as beleefdheidsterm gebruik sou kon wees – Matt. 8:21,25; 14:28; 16:22
  • In Marta se belydenis word Jesus beide Kurios (Here) en Christus genoem, waarmee ook waarskynlik na Jahwe verwys word – Joh. 11:27.
  • Na sy dood en opstanding begin die dissipels met meer insig die naam Jesus en Kurios (Here) met mekaar verbind en word dit nie net as beleefdheidsterm gebruik nie, maar as aanduiding van sy Heerskappy – Mark. 16:19; Luk. 24:3,34; Hand 1:21-22.
  • Tomas verbind baie spesifiek ook beide die naam Kurios (Here) en God aan Jesus, waarmee Jesus se Goddelikheid sowel as sy Heerskappy aangedui word – Joh. 20:28.
  • Die evangelieskrywer Lukas veral gebruik die naam Here in sy evangelie as hy Jesus se gesprekke weergee – Luk. 10:39; 12:42; 13:15.
  • Johannes praat selfs in Openbaring daarvan dat die Kurios (Here) gekruisig is – Open. 11:8.
  • Die belangrikste is egter dat ná die Hemelvaart en Pinkster die titel Kurios (Here) baie spesifiek aan Jesus toegeken word en dit aan Jode wat van kindsbeen af geweet het dat Jahwe die Kurios (Here) is: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” – Hand. 2:36.
  • Dit verklaar ook hoedat Jesus se voortgaande werk van nou af veral as die werk van die Kurios (Here) aangedui word, soms in kombinasie met die naam Jesus, en/of Christus, en ander kere daarsonder – Hand. 2:39, 47; 4:33; 11:21.
  • Paulus sluit hierby aan – Rom. 1:4,7.
  • Trouens dit is een van die fundamentele dinge wat ‘n mens moet glo om gered te word, dat Jesus die Kurios (Here) is – Rom. 10:9.
  • Jesus se hele bediening mond volgens Paulus uit in sy Heerskap – Rom. 14:9.

Daar is ook ‘n paar gevalle in die NT waar die titel Kurios vir God in onderskeid van Jesus gebruik word, wat ‘n mens laat besef dat die identifikasie van Jesus van die NT met Jahwe van die OT nie presies is nie.

  • Die engel in sy boodskap aan Maria maak ‘n onderskeid tussen Jesus en die Kurios (Here) – Luk. 1:32.
  • Die engel van die Here verskyn aan die skaapwagters met die heerlikheid van die Kurios (Here) wat om hulle skyn – terwyl Jesus intussen gebore is in Bethlehem – maar praat dan tog ook van Jesus as Christus die Kurios (Here) – Luk. 2:8-12.
  • Simeon maak egter weer ‘n onderskeiding tussen Christus (Gesalfde) en die Kurios (Here) – Luk. 2:26.
  • Jesus self, spreek God sy Vader aan as Kurios (Here) – Matt. 11:25.
  • Petrus en Johannes in hulle toespraak voor die Joodse Raad handhaaf ook ‘n onderskeid tussen Jesus en die Kurios (Here) – Hand. 4:20.
  • Die gelowiges bid tot ook God, die Kurios (Here), in onderskeid van Jesus – Hand. 4:23-31.
  • Paulus maak ook ‘n onderskeid tussen God en Jesus as Kurios (Here) – Rom. 4:24.

Geen wonder dat die kerk in sy nadenke hieroor uiteindelik die Triniteit as belydenis geformuleer het om die gesamentlike prentjie wat die OT en NT van God skets onder woorde te bring, om die drie persone van God te definieer wat al die terme wat vir God gebruik word onder drie noemers bring: Vader, Seun en Heilige Gees.

Maar dat daar ’n integrale verband bestaan tussen Jesus en Jahwe soos in die gebruik van Kurios in die OT en die NT blyk, ly geen twyfel nie.  God tree in Jesus (NT) op net soos Hy in Jahwe (OT) opgetree het.

By Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jahwe, Jesus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda