Skip to main content

Jesus en Jahwe

Wie is Jesus in die Bybel?

Ek dink in die laaste tyd baie na oor Wie Jesus in terme van die Bybelse boodskap is. Wat is die prentjie wat die Bybel self gee van Jesus?  En hoe beïnvloed dié prentjie van Jesus my lewe?

Die rede daarvoor is aan die een kant omdat die navorsing van die afgelope paar eeue oor die historiese Jesus my ernstig frustreer.  Die poging van die historiese Jesus navorsers om agter die teks van die NT en OT in te kom en met historiese metodes ‘n rekonstruksie van die sogenaamde historiese Jesus te gee, het tot soveel diverse prentjies van Jesus aanleiding gegee, wat nie net onder navorsers tot ernstige konflik van opinies lei nie, maar ook in groot konflik is met die teks van die Bybel self.  Om daarvan sin te maak, is moeilik genoeg.  Om daarvan te leef, is onmoontlik.

Aan die ander kant word my belangstelling in die Bybelse boodskap geprikkel deur die resultate van die narratiewe benadering.  Die erns wat in dié benaderings met die teks van die Bybel self gemaak word, spreek net baie meer tot my.  Elke nuanse van die Bybelteks, elke beeld wat gebruik word, elke verbintenis wat in die teks gemaak word, en die betekenis daarvan in terme van die konteks beide van daardie tyd en vandag, word op só ‘n kreatiewe wyse in spel gebring dat dit vir my lei tot ‘n inspirerende besig-wees met die teks.  Die poging om sin te maak van die teks self, open vir my deure van luister en leef wat nie met historiese metodes moontlik is nie.

God tree in Jesus, die Kurios van die NT, op soos Jahwe, die Kurios van die OT

Wat my op die oomblik veral besig hou van die Bybelse boodskap oor Jesus, is die feit dat Hy in die NT nie net as mens en as God geteken word nie, maar ook as die Here (Kurios):

  • Hy is nie net Jesus, die afstammeling van Dawid uit die stam van Juda, die Een wat mens geword het en onder ons kom woon het nie.
  • Hy is nie net die Messias (Gesalfde, Christus), die Een wat vir ons die Verlosser geword het en die weg en die waarheid en die lewe is nie.
  • Hy is nie net die Seun of Woord van God, waarmee Sy goddelikheid onomwonde uitgedruk word nie.
  • Hy is ook die Here (Kurios), die Een wat Koning is en die koninkryk van God kom vestig het en steeds besig is om dit te doen.

Dit is hierdie laaste beskrywing van Jesus wat my fassineer. Dat Jesus Here (Kurios) genoem word – ‘n naam wat in die Griekse vertaling van die OT (LXX) vir JHWH (Jahwe), God, gereserveer is – beteken dat in Jesus God as Here optree, op dieselfde wyse as wat JHWH, God, dit in die OT gedoen het. Soos Werner Foerster oor Jesus sê: “In him God acts as the kýrios does in the OT” (Kittel, G & G Bromiley, G Friedrich 1976 Theological Dictionary of the New Testament. Eerdmans: Grand Rapids).

Anders gestel:

  • Jesus van die NT tree as die Jahwe (Kurios) van die OT op.

Hoewel daar uiteraard verskille is – Jahwe word bv. nie met ‘n menslike natuur in die OT geteken nie – is die betekenis hiervan vêrreikend.

  • Dit verruim ons beeld van Jesus dat Hy aktief betrokke is in hierdie wêreld, veral in terme van Sy mag en heerskappy, nie net in die lewe van die kerk nie, maar in gang van die wêreld en die geskiedenis.
  • Dit skep in ons die verwagting dat Jesus op dieselfde wyse as wat Jahwe ingegryp en Homself laat geld het in die lewe van sy volk en die wêreld in die OT, dit ook in ons eie lewe sal doen.

Vir meer inligting oor dié identifikasie van Jesus as Jahwe kan die resente boek van Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus: A Theography) geraadpleeg word. Hulle verwys ook na ander teoloë wat dieselfde gedagtes ondersteun: onder andere NT Wright (The Challenge of Jesus – “the Old Testament portrait of YHWH fits Jesus like a glove”), Dietrich Bonnhoeffer (Creation and Fall), Scot McKnight (The King Jesus), en Richard Baukham (God Crucified).

Dink net bv. hieroor na:

  • “Jahwe (die Here) is my herder, ek kom niks kort nie” – Ps 23:1
  • “Ek (Jesus) is die goeie herder … Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” – Joh 10:14,10.
  • Jeremia belowe ‘n regverdige spruit/koning wie se naam sal wees: (letterlik) “Jahwe ons geregtigheid” – Jer 23:5-6 (“Die Here regeer regverdig oor ons”).
  • Jesus as Vervuller hiervan dra dus dié Naam: “Jahwe ons geregtigheid”.

’n Paar perspektiewe uit die Bybel

Ter ondersteuning hiervan die volgende:

  • In die OT word die persoonsnaam van God met die Hebreeuse konsonante JHWH aangedui wat meesal gevokaliseer word as Jahwe en as Here in die verskillende Afrikaanse vertalings en Lord in die verskillende Engelse vertalings weergegee word (bv Eks 3:15).
  • Die Griekse vertaling van die OT (LXX) het deurgaans die Hebreeuse JHWH met die Griekse Kurios vertaal, wat ook die eerste keer is dat die woord Kurios vir God gebruik is in die Griekse taal. Kurios is in Grieks gewoonlik gebruik om eienaarskap of voogdyskap uit te druk, maar in die OT is dit die woord wat gekies is om as vertaling van JHWH (Jahwe) te gebruik.
  • In die NT word die Griekse woord Kurios veral met Jesus verbind. Dit is merkwaardig omdat die LXX die amptelike Bybel ook van die NT gelowiges was en dat hulle met die gebruik van Kurios vir Jesus dus ongetwyfeld Hom met Jahwe geïdentifiseer het.

Soms word die term Kurios vir Jesus waarskynlik as beleefdheidsterm gebruik, veral wanneer mense of skares Hom so aanspreek (Matt 8:2,6,8; 9:28; 21:9; Joh 4:49).

In die oorgrote meerderheid gevalle word die naam Kurios (Here) egter as titel vir Jesus gebruik op dieselfde wyse as wat Kurios (Jahwe) in die OT as titel vir God gebruik is.

Voorbeelde:

  • Die engel van die Here verbind die werk van Johannes die Doper aan die bediening van die OT Kurios (Here – Jahwe) – Luk. 1:15-17
  • Dit word geëggo in die loflied van Sagaria – Luk. 1:76.
  • Elisabet noem Jesus Kurios wat waarskynlik dieselfde bedoel – Luk. 1:43.
  • Johannes die Doper kondig Hom daarom dan ook as die OT Kurios (Here – Jahwe)  aan – Mark. 1:3 (Jes. 40:3); Joh. 1:23.
  • Jesus maak die naam Kurios (Here) op Homself van toepassing, waarskynlik in dieselfde betekenis as OT Jahwe – Matt. 7:21-22; 12:8; 21:3; 24:42, Luk. 4:18-21; 6:5; Joh. 13:13.
  • Die Kanaänitiese vrou verbind interessant genoeg die naam Here aan ‘n ander titel vir Jesus, die Messias, Seun van Dawid, waarmee die term ook waarskynlik ook met Jahwe verbind kan word – Matt. 15:22.
  • Sy dissipels spreek Hom met die titel Kurios (Here) aan, hoewel dit sommige gevalle ook net as beleefdheidsterm gebruik sou kon wees – Matt. 8:21,25; 14:28; 16:22
  • In Marta se belydenis word Jesus beide Kurios (Here) en Christus genoem, waarmee ook waarskynlik na Jahwe verwys word – Joh. 11:27.
  • Na sy dood en opstanding begin die dissipels met meer insig die naam Jesus en Kurios (Here) met mekaar verbind en word dit nie net as beleefdheidsterm gebruik nie, maar as aanduiding van sy Heerskappy – Mark. 16:19; Luk. 24:3,34; Hand 1:21-22.
  • Tomas verbind baie spesifiek ook beide die naam Kurios (Here) en God aan Jesus, waarmee Jesus se Goddelikheid sowel as sy Heerskappy aangedui word – Joh. 20:28.
  • Die evangelieskrywer Lukas veral gebruik die naam Here in sy evangelie as hy Jesus se gesprekke weergee – Luk. 10:39; 12:42; 13:15.
  • Johannes praat selfs in Openbaring daarvan dat die Kurios (Here) gekruisig is – Open. 11:8.
  • Die belangrikste is egter dat ná die Hemelvaart en Pinkster die titel Kurios (Here) baie spesifiek aan Jesus toegeken word en dit aan Jode wat van kindsbeen af geweet het dat Jahwe die Kurios (Here) is: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” – Hand. 2:36.
  • Dit verklaar ook hoedat Jesus se voortgaande werk van nou af veral as die werk van die Kurios (Here) aangedui word, soms in kombinasie met die naam Jesus, en/of Christus, en ander kere daarsonder – Hand. 2:39, 47; 4:33; 11:21.
  • Paulus sluit hierby aan – Rom. 1:4,7.
  • Trouens dit is een van die fundamentele dinge wat ‘n mens moet glo om gered te word, dat Jesus die Kurios (Here) is – Rom. 10:9.
  • Jesus se hele bediening mond volgens Paulus uit in sy Heerskap – Rom. 14:9.

Daar is ook ‘n paar gevalle in die NT waar die titel Kurios vir God in onderskeid van Jesus gebruik word, wat ‘n mens laat besef dat die identifikasie van Jesus van die NT met Jahwe van die OT nie presies is nie.

  • Die engel in sy boodskap aan Maria maak ‘n onderskeid tussen Jesus en die Kurios (Here) – Luk. 1:32.
  • Die engel van die Here verskyn aan die skaapwagters met die heerlikheid van die Kurios (Here) wat om hulle skyn – terwyl Jesus intussen gebore is in Bethlehem – maar praat dan tog ook van Jesus as Christus die Kurios (Here) – Luk. 2:8-12.
  • Simeon maak egter weer ‘n onderskeiding tussen Christus (Gesalfde) en die Kurios (Here) – Luk. 2:26.
  • Jesus self, spreek God sy Vader aan as Kurios (Here) – Matt. 11:25.
  • Petrus en Johannes in hulle toespraak voor die Joodse Raad handhaaf ook ‘n onderskeid tussen Jesus en die Kurios (Here) – Hand. 4:20.
  • Die gelowiges bid tot ook God, die Kurios (Here), in onderskeid van Jesus – Hand. 4:23-31.
  • Paulus maak ook ‘n onderskeid tussen God en Jesus as Kurios (Here) – Rom. 4:24.

Geen wonder dat die kerk in sy nadenke hieroor uiteindelik die Triniteit as belydenis geformuleer het om die gesamentlike prentjie wat die OT en NT van God skets onder woorde te bring, om die drie persone van God te definieer wat al die terme wat vir God gebruik word onder drie noemers bring: Vader, Seun en Heilige Gees.

Maar dat daar ’n integrale verband bestaan tussen Jesus en Jahwe soos in die gebruik van Kurios in die OT en die NT blyk, ly geen twyfel nie.  God tree in Jesus (NT) op net soos Hy in Jahwe (OT) opgetree het.

By Chris van Wyk


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jahwe, Jesus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…