Jona – God ontferm Hom oor Nineve
Inleiding
Die boek Jona, tydgenoot van Jesaja, Hosea, Miga en Amos, vyfde in die ry, versag die boodskap van oordeel oor die nasies en verkondig die ontferming van die Here oor diégene wat hulle tot Hom bekeer, selfs as die profeet dit nie wil hê nie! Daarmee word God se oordeel en genade weereens as ‘n integrale deel van sy nabye verhouding met mense en ook selfs die natuur uitgespel.
Die profeet Jona, seun van Amittai en afkomstig uit Gat-Gefer in Galilea, se onwilligheid om aanvanklik die opdrag as profeet na Nineve te aanvaar, en sy latere weerstand teen die Here se ontferming oor die stad, sy mense en sy diere, kan moontlik verklaar word uit die nasionalistiese ideaal wat hy gekoester het vir die volk Israel, soos uit die ander opgetekende profesie van hom blyk.
Ons lei dit af uit 2 Konings 14:25 waar dit duidelik is dat Jona geprofeteer het – in opdrag van die Here – dat die grense van Israel herstel sal word – “van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jodaanvallei” – as deel van God se ontferming oor die ellende van Israel in die tyd van Jerobeam II, hoewel dit nie die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. kon voorkom nie.
Jona het dit dus waarskynlik moeilik gevind om die genade van die Here teenoor vreemdelinge te versoen met dieselfde boodskap van genade aan sy eie mense. Hy vlug dus, met die ontvangs van die roeping na Nineve, weg van God se liefde af … ter wille van sy eie voorliefde.
Uit die geskiedenis weet ons dat die oordeel oor Nineve, hoofstad van die Assiriërs, uiteindelik voltrek word in 612 v.C., soos in die boek van Nahum voorspel word en in verskeie Joodse geskrifte beskryf word. Die pseudepigrafiese werk Tobit sowel as die Jerusalemse Talmoed wyt dié verwoesting aan die oppervlakkige bekering van die inwoners in die tyd van Jona.
Dit is ook interessant dat die twee boeke wat oor die toekoms van Nineve gaan, Jona en Nahum, albei eindig met ‘n vraag – die enigste twee boeke in die Bybel wat só geskryf is.
- Jona verduidelik God se genade met die volgende argument: “Maar Ék mag nie besorg wees oor Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en boonop nog baie diere?“
- Nahum verduidelik God se oordeel oor Nineve met die volgende argument: “Wie het nie voortdurend onder jou wreedheid deurgeloop nie?” (Nah. 3:19).
Jesus verwys in die NT na die profeet Jona en sy boodskap teen Nineve en gebruik dit: 1) as getuienis teen die skrifgeleerdes en Fariseërs se onwilligheid om na Hom te luister en 2) as ‘n teken van sy dood en opstanding (Matt. 12:38-42).
Interessant genoeg is Jesus se tuisdorp Nasaret net 3 km suid van Gat-Gefer, Jona se geboortedorp. Dit is ook ironies dat die Fariseërs nie rekening gehou het met die feit dat Jona dus ‘n profeet uit Galilea was nie (Joh. 7:52)!
Indeling
Geleerdes beskrywe die boek as ’n hemelse komedie. Die verhaal is vol van ironie. Dit ontlok ’n glimlag by ons as ons die vernuftige wegvlug poging van Jona lees en van die nog meer vernuftige planne wat God maak om Jona by sy roeping uit te bring.
Jona is baie kunstig opgebou en daar is baie literêre kenmerke wat bydra tot die unieke boodskap van die boek. Een van die uitstaande kenmerke is die onderlinge verbande tussen die hoofstukke:
Hoofstuk 1 se eerste drie verse vertel van die eerste roeping van Jona. | Hoofstuk 3 van die tweede roeping van Jona. |
Die res van hoofstuk 1 vertel van Jona en die heidense matrose. | Hoofstuk 3 en die eerste deel van hoofstuk 4 van Jona en die Nineviete. |
Hoofstuk 2 vertel van Jona en God buite die boot. | Die laaste deel van hoofstuk 4 vertel van Jona en God buite die stad. |
En die effek daarvan?
Dit wys vir ons wie God is. Hy sien nie af van sy roeping nie. Hy los nie sy doel met sy profete nie. Selfs die verkeerde pad wat Jona volg, word ’n pad van redding vir die matrose. Hy laat nie ’n enkele mens op aarde sonder meer verlore raak nie. Hy is tegelyk onwrikbaar en vol deernis. Hy is doelgerig en aanpasbaar. Hy is streng en vol begrip.
Dit wys ook vir ons wie ons is. Jona “cuts us to size”. Ons gee hoog op oor wat ons kan en wil en sal doen. Uiteindelik is ons mense wat reageer op God en wat Hy doen en is ons grootste mislukking en ons grootste sukses net getuienisse van God se werk in ons lewens. En dit wys ook vir ons dat ons effektief kan wees … en dit nie geniet nie! Die geheim van ware geluk is om tevrede te wees met wat God deur jou en met jou wil doen en op te hou om daaroor te kerm of dit anders te wil hê.
Ons gaan dit as volg lees:
- 1:1-16 – God roep Jona na Nineve, maar Jona vlug weg
- 1:17-2:10 – God stuur ‘n groot vis, maar die Here red hom na gebed
- 3:1-10 – God roep Jona weer na Nineve, maar God sien af van die ramp
- 4:1-11 – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade
Lees gerus ook my ekskursus oor die verhaal van Jona wat aandag gee aan die historisiteit van die verhaal, die “groot vis”, verskillende maniere om die verhaal uit te lê, die verhale van moderne Jonas, en ‘n uitnodiging om op ‘n verantwoorde manier met verskillende standpunte hieroor om te gaan:
Ekskursus oor elemente van die verhaal van Jona
View all posts in this series
- Jona – God ontferm Hom oor Nineve - February 25, 2015
- Ekskursus oor elemente van die verhaal van Jona
- Jona 1:1-16 – God roep Jona na Nineve, maar Jona vlug weg - February 26, 2015
- Jona 1:17-2:10 – God stuur ‘n groot vis, maar die Here red Jona na gebed - February 27, 2015
- Jona 3:1-10 – God roep Jona weer na Nineve, maar God sien af van die ramp - March 2, 2015
- Jona 4:1-11 – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade - March 3, 2015