Jona – God ontferm Hom oor Nineve
Inleiding
Die boek Jona, tydgenoot van Jesaja, Hosea, Miga en Amos, vyfde in die ry, versag die boodskap van oordeel oor die nasies en verkondig die ontferming van die Here oor diégene wat hulle tot Hom bekeer, selfs as die profeet dit nie wil hê nie! Daarmee word God se oordeel en genade weereens as ‘n integrale deel van sy nabye verhouding met mense en ook selfs die natuur uitgespel.
Die profeet Jona, seun van Amittai en afkomstig uit Gat-Gefer in Galilea, se onwilligheid om aanvanklik die opdrag as profeet na Nineve te aanvaar, en sy latere weerstand teen die Here se ontferming oor die stad, sy mense en sy diere, kan moontlik verklaar word uit die nasionalistiese ideaal wat hy gekoester het vir die volk Israel, soos uit die ander opgetekende profesie van hom blyk.
Ons lei dit af uit 2 Konings 14:25 waar dit duidelik is dat Jona geprofeteer het – in opdrag van die Here – dat die grense van Israel herstel sal word – “van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jodaanvallei” – as deel van God se ontferming oor die ellende van Israel in die tyd van Jerobeam II, hoewel dit nie die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. kon voorkom nie.
Jona het dit dus waarskynlik moeilik gevind om die genade van die Here teenoor vreemdelinge te versoen met dieselfde boodskap van genade aan sy eie mense. Hy vlug dus, met die ontvangs van die roeping na Nineve, weg van God se liefde af … ter wille van sy eie voorliefde.