Jona 1:1-16 – God roep Jona na Nineve, maar Jona vlug weg

prayer-shawlDie verhaal van Jona impakteer ‘n mens op baie verskillende vlakke. Dit is ongelooflik goed geskryf en net deur na die taalgebruik te kyk, word ‘n mens al ingetrek in die diepgang van dié boek. Dit vorm die invalshoek om die dieper teologiese boodskap van die boek te begin hoor, die wyse waarop God geteken word in die konteks van sy intieme besigwees met mense. En daaruit kom daar sekere perspektiewe op God wat beloftes vir ons lewe raak. Uitmuntende boek!

Begin deur te let op bepaalde kontraste in die eerste drie verse:

  • Die woord van die Here kom tot Jona – maar Jona gaan weg van die teenwoordigheid van God af (letterlik van sy aangesig af, wat beteken van die plek waar hy sy roeping gekry het en waar hy sy opdragte ontvang).
  • God stuur Jona oos – Jona gaan wes (Tarsis was die einde van die bekende wêreld, wat ons vandag ken as Spanje).
  • God stuur Jona – Jona vlug
  • God sê vir Jona staan op (dws maak klaar) – maar Jona gaan af na Joppe, en af in die skip.

En die effek van dié kontraste? Dit roep vrae na vore soos:

“Waarom?”

Wel die profeet verskil duidelik van God! En dít maak ons nuuskierig om te weet wat volgende gaan gebeur.

“Maar waarin verskil hy van God? Hoekom sê hy nee vir só ’n geleentheid? Hy is dan ’n profeet van die Here wie se roeping dit is om te sê wat God sê?”

Soos in enige goeie verhaal kom dié antwoord egter eers heel aan die einde van die boek, wanneer Jona sê: “Ek het geweet U is ’n genadige God …” Daarom wou ek nie na Nineve toe kom nie. En kyk nou, alles waarvoor ek bang was, het nou gebeur. Die mense het tot bekering gekom en nou is U genadig. Dit is om van te skreeu!

Dit beteken dat ons die begin in die lig van die einde moet lees en die einde in die lig van die begin.

En die boodskap van die kontraste?

Ons moet mooi kyk waarvoor ons ja sê en waarvoor ons nee sê in ons verhouding met die Here. Ons leer baie keer meer van onsself in waarvoor ons nee sê as waarvoor ons ja sê!

Kyk ook na die baie interessante herhaling in vers 4, 5 en 15:

  • Vers 4: “Maar die Here het ’n kwaai storm oor die see laat opkom (groot wind gegooi!)”
  • Vers 5: “Die matrose (letterlik “souties”!) het die vrag van die skip in die see gegooi …”
  • Vers 15: “Hulle vat vir Jona en gooi hom in die see.

Die effek van dié herhaling is dat die matrose se optredes gevolge is van God se optrede. God is aktief betrokke by wat hier gebeur. Dinge gebeur nie sonder rede nie en nog minder is daar enigiets uit beheer uit! Dit plaas nogal ’n ander perspektief op ons waarneming van storms in ons eie lewens! En help ons om sin te maak van wat ook met ons gebeur!

Kyk verder na die baie interessante rangskikking van die vertelling, wat op só ’n manier geskied dat die fokus volledig op Jona val:

  • Storm steek op en laat matrose bang word (vers 4-5a)
    • Matrose bid tot hulle eie gode (vers 5a)
      • Matrose probeer die skip red (vers 5b,6a)
        • Gesprek tussen matrose en Jona (vers 7-8)
          • Jona bely sy geloof en spreek sy vrees vir die Here uit (vers 9)
        • Gesprek tussen matrose en Jona (vers 10-12)
      • Matrose probeer die skip red (vers 13)
    • Matrose bid tot God (ver 14)
  • Storm bedaar en laat die matrose die Here vrees (vers 15-16)

Hieruit blyk duidelik dat die belydenis van sy geloof wat Jona voor die matrose as getuienis aflê, en dat hy sy ontsag vir die Here erken, die punt is waarom die hele gedeelte draai. Hoe verder Jona gaan, hoe nader kom God! En onthou dat die woord vir wind kan ook vertaal word met Gees. Dit is God se Gees wat Jona opsoek!

Dit gaan dus nie in die eerste plek in die eerste hoofstuk oor die vlugtende profeet nie, maar oor die teenwoordigheid van God waarvan jy nie kan wegkom nie, en wat net een doel voor oë het: ’n belydenis van geloof en ’n erkenning van wie Hy is. En dit gebeur met Jona … en op die koop toe ook met die matrose.

Ek weet nie of jy dieselfde ervaring het as ek nie … maar dít laat ’n mens nogal dink! God se doel met my is dat ek in Hom sal glo en dat ek Hom sal erken. En ek sal nooit daarvan kan wegkom nie. Dit vul my met ontsag, en dit maak my gerus. Wanneer ek droogmaak, sal God ’n wind op die see gooi!

Kyk ook na die name vir God in die gedeelte.

  • In vers 1 word God Jahwe genoem, die persoonsnaam van God. Heel duidelik is dit hoe Jona vir God geken het. Dit is ook Jahwe wat die storm op die see gooi in vers 4. Die persoonlike God, Jahwe, is dus ook die God van die natuur.
  • Dan bid die matrose tot hulle eie gode, die normale algemene naam god word gebruik, Elohim. Dieselfde is waar van die kaptein as hy in vers 6 vir Jona vra dat dié tog ook moet bid tot sy god.
  • Dan, wanneer Jona ontbloot is as dié een waaroor die storm op die see is, trek hy die twee name bymekaar en sê: “Ek dien die Here (Jahwe), die God (Elohim) van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Vers 9.
  • En dan wanneer die matrose moeg geroei is en nie verder raad weet nie, bid hulle tot Jahwe, Jona se God, en erken hulle ontsag vir Hom. En wanneer die storm in antwoord op gebed bedaar, dan offer hulle vir Jahwe en lê geloftes af aan Hom. Hulle lewens het dus onherroeplik verander. God het vir hulle Jahwe geword, die persoonlike een, die een wat, soos hulle dit sê, “doen wat Hy wil”.

Kyk laastens na die woord wat vir Jona se slaap gebruik word, dis in Hebreeus: radam. Dit beteken ’n diep slaap, ’n slaap soos toe Adam ’n ribbebeen verloor het om vir Eva ryker te word! Die woord word beide in ’n goeie sin gebruik – Adam kry vir Eva – as in ’n slegte sin – Sisera kry ’n tentpen deur sy kop by Jael toe hy in ’n radam verval in haar tent, Saul kry die skrik van sy lewe in só ’n slaap toe Dawid sy kruik by sy kop kom wegsteel het, en Jesaja sê daar is profete wat hulle insig in ’n radam kan verloor (Jer. 29:10 – “Want die Here het oor julle uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë—die profete—toegesluit en julle hoofde—die sieners—toegebind.”). Daar skuil dus iets onheilspellends in Jona se diep slaap. Maar dit is nie God wat iets by hom wil kom wegneem nie! Jona self wil op dié manier die verantwoordelikheid vir die storm en die lewens van die matrose van hom afskud en só ook die verantwoordelikheid vir Nineve. Jona wil eintlik sy profeteroeping in sy diepe slaap, sy radam, verloor!

Dit is ’n baie diep ding wat in die woordjie binne sy konteks opgesluit lê. Hoeveel van die ongeluk op hierdie aarde van ons moet nie op die ou end op die rekening van ’n ontroue, voortvlugtende, ontwykende en selfs swygende kerk kom nie? Hoeveel van die lyding op aarde is nie maniere om ons uit ons slaap wakker te ruk nie?

Hoe anders is die matrose nie! Hulle gooi hulle vrag oorboord ter wille van Jona. Hulle spoor hom aan om te bid. As hulle met Jona praat is dit in die eerste plek oor sy roeping en in die laaste plek oor sy afkoms (vers 8), Jona daarenteen praat in die eerste plek oor sy afkoms (Ek is ’n Hebreër) en dán oor sy roeping (vers 9). Sy afkoms is belangriker as sy roeping en die mense rondom hom.

God se werk word dus in die wiele gery deur die profeet se politiek!

Maar, ironies, God laat dié radam, die diep slaap van Jona, nie toe om Sy doel met Jona en met die matrose en met Nineve in die wiele te ry nie! Jona word gedwing tot ’n belydenis van sy geloof voor die heidense matrose. En dit het ’n drastiese effek. Jona se skewe belydenis, gepolitiseer en ondeurdag, bring matrose tot geloof in God.

Wat moet ons met jou aanvang?” vra die matrose. “Vat my (tel my op)” – die eerste keer wat Jona “op” wil gaan soos God van hom gevra het, maar dan: “En gooi my in die see” – Jona wil op … om nog dieper af te kan gaan. Jona gaan oorboord ter wille van sy volk en mense!

Daar is iets heroïes in sy bloed-en-bodem teologie. Die punt is dat dit soms makliker is om ’n volksman te wees as ’n Godsman, Daarom speel ons ook soms eerder ’n Jona … as om ons eie groep te na te kom. Jona is so stylvol hierin, dat ’n mens amper dit as ’n voorbeeld van vasberadenheid wil aanprys!

Maar die see se stilte na die oorboord gooi, en die geloof by die matrose wys die interessante beweging in die teks: die regressie by Jona bring progressie by die matrose! Dit is wanneer die skeefgetrekte idees van die volksprofete uit die pad kom, dat God sy regmatige plek in mense se lewens kan inneem, dat God sigbaar kan word en nie meer verberg word agter ons volksteologie nie.

Boodskap

Kom ons probeer dink wat dit vir ons prakties beteken. Want ek kan verklaar, ek kan wys hoe ’n mens dit kan verstaan, maar die toeëiening van die boodskap van die teks is iets wat in jou eie lewe onder die werking van die Heilige Gees moet gebeur.

Hoe raak dié teks jou lewe, jou wêreld en veral jou verstaan van jou roeping?

En die beste manier om dit te doen, is om te vra:

  • 1) Watter voorbeelde of watter riglyne vir jou lewe of
  • 2) watter beloftes is daar vir jou in die eerste hoofstuk van Jona opgesluit?

Jona as voorbeeld en riglyn:

  • Hy wys hoe dinge nie gedoen moet word nie! ’n Mens kry eintlik lag vir jouself as jy Jona se doelgerigte dwarsheid gade slaan. En sy voorbeeld kan moontlik dinge in jou eie lewe ontbloot:
    • Dat jy miskien dink ’n roeping is iets wat aan en dan weer af geskakel kan word. Dat jy na gelang van die omstandighede as kind van die Here en as geroepene kan lewe of nie. Jona kon nie wegvlug van sy roeping nie. God was te sterk vir hom! ’n Afgeskakelde of uitgestelde roeping sal ’n kanker in jou word, ’n vuur wat in jou bene brand, soos Jeremia daaroor skrywe. Miskien is Jona se voorbeeld een wat jou waarsku en aanspoor om gehoorsaam te word. En dan moet jy luister! Of het ’n radam jou getref, en is jou oë toe in ’n diep slaap? Dan moet jy versigtig wees vir die wind …!
    • Dat jy miskien ’n bietjie te veel van jou eie mense dink en hulle belange stel voor ander s’n? Ons volksliefde (of soms die omgekeerde … ons gebrek daaraan) kan ons verblind vir wat God wil doen. Om die waarheid te sê, Jona se volksliefde het hom in opstand gebring teen God, omdat dié volgens hom te genadig was! Hy het letterlik oorboord gegaan ter wille van sy volk! God wil alle nasies intrek om Hom as die fokus en sentrum van hulle lewens te eer en dien.
    • Dat jy miskien neersien op mense wat nie glo soos jy nie? Dit is ongelooflik hoe baie keer ons onsself kan betrap dat ons neersien op mense wat nie in God glo nie. Jona wys egter hoe die kaptein en sy matrose meer “Christelikheid” in hulle “soutvelle” het, as wat Jona in sy hele wese het. En dit is ’n vraag hoe mense God kan begin raaksien as jy neersien op hulle? Is dit nie baie keer die probleem met ons getuienis teenoor mense uit die Moslem geloof nie? Dat ons hulle en hulle beskouings as minderwaardig beskou en uit die hoogte vir hulle wil reghelp? Erger nog, dat ons dink alle Moslems is soos die militantes van 9/11. En sou hulle nie baie meer geredelik in Jesus geglo het, as ons nie sulke lelike dinge oor hulle geglo en selfs kwytgeraak het nie?

Die beloftes in die eerste hoofstuk van Jona:

Die Here is God en Hy doen wat Hy wil

  • Dit is God en Hy alleen wat dinge beweeg in hierdie eerste hoofstuk. Jona kon in die eerste plek gehoorsaam het, dan het die eerste twee hoofstukke se moeilikheid nie gebeur nie en die verhaal sou begin by hoofstuk drie! Maar nou was hy ongehoorsaam. Maar dit sit nie vir God af nie. Hy bly aktief betrokke en werk sy wil uit in die lewe van Jona. Wat ons dus van God leer, is dat God nie afsien van die pad wat Hy met ons ingeslaan het nie. Ons kan staatmaak op sy onwrikbare doelgerigte deursien van sy plan. Dit kan ’n paar ompaaie insluit, dit kan ’n ander uitkoms hê, Nineve kom tot bekering, maar die boodskap sal gelewer word … en dit deur Jona! Selfs ’n radam keer God nie! Dit is ’n troos.
  • Wat ons verder van Hom leer, is dat Hy genadig is. Waar Hy beweeg, al is dit in ’n storm, kom mense tot ’n besef van wie Hy is en raak Hy ook hulle God! Dit is die belofte wat in die teks opgesluit lê. Dit is nie soseer ons getuienis wat mense beweeg nie, maar die God in die getuienis! Dit is ook ’n troos.

Jona


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: