Skip to main content

Ekskursus oor elemente van die verhaal van Jona

Die historisiteit van die verhaal

prayer-shawlDie probleem met die historiese plasing van die boek, is die afwesigheid van enige eksterne getuienis wat die historisiteit van die gebeure bevestig, anders as met baie ander dele van die Bybel. Ek noem net ses punte wat hier ter sake is:

1. Die Assiriese annale, uit die biblioteek van Assurbanipal (middel 7de eeu v C, 668-627) wat in 1853 opgegrawe is by Nineve in Irak, vermeld glad nie die gebeure wat met Jona se prediking geassosieer word nie. Die ruïnes van Nineve is oorkant die moderne stad Mosoel in Irak, die 2de grootste stad daar, dié een waar Christene nou onlangs in 2014 op só ‘n groot skaal deur ISIS (ook IS genoem) verdryf is.

In die biblioteek is daar baie ander gegewens oor die Assiriese ryk, ’n pes wat een keer daar uitgebreek het, interne konflik wat soms geheers het in die ryk, selfs ’n rare verslag van ‘n militêre nederlaag wat eenmaal gely is teen ’n ander moondheid. Maar daar word nie enigiets gesê oor die bekering van duisende mense, van die hele stad Nineve nie. En onthou, dit is ’n hele biblioteek wat opgegrawe is, tussen 20 000 en 30 000 kleitablette met spykerskrif wat opgegrawe is en wat meer as 1 200 volledige unieke tekste bevat.

Daar is wel in die kleitablette verhale wat met ander Bybelse gegewens ooreenstem, bv. die belangrike verhaal van Gilgamesj wat met die Noag sondvloed ooreenkom. Maar daar is niks wat oor ’n bekering in die stad gesê word nie. Inteendeel, ons weet uit die annale dat hulle tot met die val van die Assiriese ryk in 621 v C aanbidders van Isjtar, die vrugbaarheidsgodin, gebly het en hulle wreedhede tot in dié jaar voortgesit het.

Interessant is dat van die profeet Nahum, wat êrens vóór 612 v.C. sy profesie teen Nineve gelewer het, se gegewens ooreen stem met wat in werklikheid gebeur het in die Assiriese ryk. Hy vertel bv van die Egiptiese stad No-Amon (Thebes) wat deur Assurbanipal verwoes is (3:8), wat inderdaad ekstern bevestig kan word. En sý profesie van die vernietiging van die Assiriese ryk word vervul in 612 v.C. met die val van Nineve.

2. Nineve was in die 8ste eeu, die tyd van die historiese profeet Jona, nog nie die hoofstad van die Assiriese ryk nie, terwyl Jona sê dat die koning daar gebly het. Dit is natuurlik nie ‘n onoorkomelike probleem nie. Die koning kon óók ‘n huis daar gehad het, maar die gebrek aan feite skep onsekerheid by sommige.

3. Nineve was ook nooit so groot soos ons verhaal vertel nie. Selfs nie die berekeninge van die mees spitsvondige geleerdes wat die omringende dorpies insluit, se berekeninge kom enigsins by drie dagreise in deursnee nie. Herodotos, ’n Griekse geskiedskrywer uit die 5de eeu v C, het bereken dat ’n dagreis in dié tyd ongeveer 17 km was, d.w.s. Nineve moes volgens dié berekening min of meer 50 km in deursnit gewees het! Die grootste wat Nineve ooit was, was 10 km in omtrek!

Moet sê, daar is geleerdes wat die drie dagreise op ’n ander manier interpreteer (Stuart). Volgens die gebruik van die tyd, moes ’n profeet of ander boodskapper die belangrikste deel van sy boodskap in só ’n belangrike stad eers op die derde dag lewer. Dit plaas die mededeling van 3:3 in perspektief, en indien die interpretasie aanvaar word, verraai Jona se haastigheid met sy kort preek nog meer van sy onwilligheid om sy werk goed te doen, want hy lewer sy boodskap op die eerste dag. Maar die grootte van die stad kom nie naby 3 dagreise nie.

4. Die teks van Jona gebruik ook Hebreeuse woorde wat eers ná die sesde eeu in gebruik gekom het, terwyl hy reeds in die agste eeu gelewe het en sy boodskap gebring het. Die woord vir “beskik” in 1:17 of soos dit in die NAV vertaal word: “Toe stuur die Here ’n groot vis ..” en die woord vir “tienduisend” in 4:11 wat gebruik word om die getal van die mense aan te dui en die uitdrukking “God van die hemel” in 1:9 is almal latere Hebreeuse woorde.

5. Die ooreenkoms van Jona 3 en 4 se beskrywing van God wat sy straf herroep met Jeremia 18:7-8 laat ’n mens vra, wie was eerste: Jona of Jeremia. Jeremia het eintlik met dié beeld van God, as iemand wat genadig is en wat reageer op wat mense doen, ’n nuwe prentjie van God geskets, wat die Godskennis uitgebrei het. Dit is nagevolg deur Esegiël en van die latere skrywers.

Het die skrywer van Jona dit dan nie eerder by Jeremia geleen, as dat die prentjie van God by hom ontstaan het nie? Nou, moet ek ook sê, Moses het alreeds iets hiervan beleef in die woestyn (Eks. 32), so dit is nie ’n dodelike argument nie, maar nogtans.

6. Maar, sou iemand sê, Jesus verwys dan na Jona? Het Jesus dan nie daarmee bewys dat Jona se verhaal histories is nie?

As ’n mens die verwysings na Jona in die NT nagaan: Markus (8:11-12), Matteus (16:1-4) en Lukas (11:29-32), dan word die “teken” van Jona op twee maniere gebruik:

  • Jesus verwys na die drie dae en nagte wat Jona in die groot vis was om daarmee die boodskap van sy eie dood en opstanding te verkondig. Net soos Jona drie dae en drie nagte in die kake van die doderyk was en daaruit verlos is, só sou Jesus se eie dood en opstanding ’n verlossing uit die doderyk tot die lewe insluit. Jona se vis-episode is dus ’n voorafskaduwing van Jesus se kruis en opstandingsverhaal;
  • Jesus verklaar dat die bekering van Nineve as verswarende getuienis teen die Jode gebruik sou word in die oordeelsdag, want Nineve het hulle bekeer op die prediking van Jona, maar die Jode van Jesus se tyd het hulle aan een wat groter is as Jona, Jesus, nie gesteur nie. Jona se suksesvolle prediking word dus met Jesus se onsuksesvolle prediking gekontrasteer, met die duidelike boodskap dat die onus vir die ongeloof van die Jode van Jesus se tyd op hulle lê en dat die Nineviete teen die Jode sal getuig by die wederkoms.

Dié verwysings staan of val dus nie op die historisiteit van die verhaal nie. Dit is in elk geval waardevol as metafore vir die boodskap wat Jesus bring. Of Jona nou werklik die sending teen Nineve onderneem het of nie, ontkrag nie Jesus se gebruik daarvan in die evangelies nie.

Terloops: geleerdes verwys soms na ander verhale van Jona wat in Jesus se tyd in omloop was, in die sogenaamde Vitae Prophetarum, waar ook verhale van die ander profete opgeteken is. In dié boek word gepraat van ’n teken wat Jona sou gegee het dat as ’n klip in Jerusalem hard uitroep, die einde naby sou wees. Maar dit is nie regtig vir my oortuigend nie, so ek laat dit daar.

Die is wel belangrik dat ons verklaar, net soos Jesus, dat Jona werklik geleef het. Niemand ontken dat Jona geleef het nie. Dit sien ons tog duidelik in 2 Konings 14:25 in die ander verhaal van hom en daar is geen rede om daaraan te twyfel nie. Maar ’n verwysing na Jona in die Nuwe Testament, selfs deur Jesus, maak nie die verhaal meer of minder histories nie. Paulus verwys op ’n punt (1 Kor. 10:2-4) na die trek deur die woestyn en sê dat die volk gedoop is in die wolk en die see en dat hulle gedrink het uit die rots, dit is Christus. Hiermee vergeestelik hy die gegewens van die geskiedenis om ’n boodskap te kan gee, soos Jesus die gegewens oor Jona vergeestelik in terme van die boodskap oor sy dood. Die verwysing self maak nie die gegewens meer of minder histories nie.

En dit sal goed wees as ons nie ’n te direkte historiese lyn wil trek van Jona se drie dae en nagte in die vis na Jesus se drie dae en nagte in die graf, want Jesus was uiteindelik net twee nagte in die graf. Hosea se verwysing het veel meer waarde in terme van die kruis as Jona s’n (vgl. Hosea 5:8-7:16 – Julle getrouheid is soos ‘n môrewolk, soos dou wat vroeg verdwyn. Die punt is nie die letterlike ooreenkoms as sodanig nie, maar die ooreenkoms van die punt van die vergelyking: Jona was in die doderyk en Jesus sal ook in die doderyk wees.

Net so is die voorspelling dat die Nineviete in die oordeelsdag die absurditeit van die Jode se ongeloof aan die lig sal bring, dit was immers Jesus wat hulle verwerp het, nie ’n noodwendige historiese verwysing nie. As Openbaring praat van bome wat in die hiernamaals 12 keer ’n jaar vrugte lewer, gaan dit nie om ’n verandering van die normale plant, groei en oes tyd nie, maar oor ‘n beskrywing van die vrugbaarheid en volheid van die nuwe lewe.

Wat moet ons dus maak met die boek Jona?

Ons kan kreatief wees en sê, ja, maar:

  • Nie alle kleitablette van Nineve is gekry nie. Daar bestaan mos die moontlikheid dat die storie van hulle bekering net verlore geraak het.
  • En ’n mens sou verder kon sê, Nineve het wel tot bekering gekom, maar dit was net vir ’n tyd, soos Tobit en die Jerusalemse Talmoed beweer, toe het hulle weer met hulle afgodery aangegaan.
  • En die taal-probleem kan verklaar word uit oorskrywers van die boek uit ’n latere tyd wat die taal gebruik het wat vir hulle meer verstaanbaar was, amper soos ons vertalers van die Afrikaanse Bybel in 1983 ander woorde gebruik het as in 1933.
  • En die vis? Dit was ’n wonder.
  • En die grootte van Nineve? Ons aanvaar Stuart se verduideliking van die drie dae wat dit moes vat om ’n belangrike boodskap te bring.

Nou ’n mens kan dié weg volg en daar is baie mense wat dit doen, onder hulle ’n hele paar geleerdes. Dit is jou voorreg om die boek te hanteer soos jou oortuiging is.

My vraag is net of ’n mens dan nog met integriteit met die boek omgaan en of ’n mens nie te veel denkspronge moet maak om op te maak vir die gebrek aan eksterne gegewens. En die bron vir jou verklarings? Jou eie kreatiwiteit! En die probleem is dat jy dan nie meer die wêreld agter die teks ernstig kan neem nie – daar is ’n te groot diskrepansie tussen die teks se gegewens en die historiese omstandighede – en dit plaas ook ’n vraagteken oor jou hantering van die teks self, laat staan nog die konteks van die leser van vandag.

En die vraag bly of dit nie ’n ideologie verraai van ’n eensydige kykie na die Bybelse gegewens sodat alle ander gegewens teen wil en dank daarby moet inval nie – soos die idee dat die aarde ongeveer in 4000 v C geskape is deur doodgewoon die ouderdomme van die voorvaders in Genesis op te tel en te ekstrapoleer na vandag toe. Selfs Luther het dít gedink, sowel as Kepler, die sterrekundige! Sommige het navorsing gedoen om die presiese tyd vas te stel. Biskop Ussher het dit in 1650 vasgestel op 23 Oktober 4004 v C, onder andere omdat die vrugte in die tuin van Eden ryp was en geëet kon word, wat korrespondeer met die jaar wisseling in die herfs oestyd van die Noordelike Halfronde!

Deist suggereer dat ons die oplossing in die boek self moet soek. Die boek begin met ’n besondere woord, ’n “en” wat vertaal kan word met “Eendag”, soos dit inderdaad ook in Rigters 9 se fabel oor die bome wat ’n koning wou kies, gebruik word.

Daaruit lei hy af dat die boek Jona deel uitmaak van die onderwysende literatuur, ’n boek wat mense gebruik het om ’n spesifieke leerstuk op bevatlike wyse aan die volk oor te dra. Hy noem dit ’n voorbeeldvertelling, familie van ’n gelykenis, maar wat meer as een boodskap het.

En dit maak sin, want die boodskap van die boek is klaarblyklik gerig aan mense wat ’n sterk nasionalistiese gevoel gehad het. Mense wat gedink het dat God net vir die Jode bedoel was. Deur die verhaal van die profeet Jona in ’n ironiese sending na die aartsvyand Nineve te plaas, kon die ideologiese beskouinge van die Jode ontbloot word en die boodskap van deernis aan alle nasies geleer word. En alle nasionaliste regdeur die eeue sou dié boodskap kon hoor!

Een plek waar die nasionalistiese strewe juis ’n sterk impetus gekry het, was in die ballingskap in Babilonië in die 6de eeu v C (597 en 586 v C). Omdat die Jode in Babilonië geen koning, tempel of land gehad het om hulle identiteit te gee nie, het hulle buitengewoon klem begin lê op die wet en die besnydenis. Só wou hulle hulle eksklusiwiteit in die vreemde tussen die nasies probeer behou. Hulle was later meer Joods as die Jode in Israel. Soos sommige van ons volkie oorsee met hulle Ukasies en Kanasies!

Maar daarmee het die Jode hulle taak as getuies aan die wêreld, as mense wat die seën van Abraham, in wie al die volke van die aarde geseën wou word, moes uitdra, versaak, net soos Jona. En ontbloot die boek nie net hulle eie skeefgetrekte teologie nie, maar moedig dit hulle aan, om God se deernis met mense hulle eie te maak.

Die verhaal van Jona kon dus moontlik ontstaan het om dié onderwysende doel te dien, êrens ná die ballingskap. Dit was uiteraard gerig aan ’n opgevoede gehoor, wat vatbaar was vir die humor en ironie, die speelsheid en die literêre finesse. En die skrywer het die voorbeeld verhaal gekoppel aan ’n werklike profeet, omdat hy bekend was as ’n nasionalis. In sy opgetekende profesie aan Jerobeam het hy voorspel dat die hele grondgebied van Israel herower sou word: “van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei” (2 Kon 14:25), die ideale grense van die Dawidiese ryk.

Jona was dus iemand met ’n nasionale visie en ’n baie goeie hoofkarakter om as voorbeeld in die verhaal te gebruik.

Nineve is heel moontlik gekies omdat dit ’n skeldnaam geword het in Israel en Juda as gevolg van die eeue-lange wreedhede. Die Israelitiese konings Agab, Omri, Jehu en Hiskia (om maar net ’n paar te noem) moes die vernederings van oorheersing verduur. Jehu moes soos ’n slaaf in die grond kniel voor die Assiriese koning om sy belasting te oorhandig soos ’n mens vandag nog kan sien uit ’n reliëf wat in daardie tyd gemaak is. Hiskia moes sien hoe die tempel gestroop is van sy inhoud om die Assiriërs om te koop om weg te trek (2 Kon. 18:15-16).

En wat veral voorop in die Jode se geheue sou wees, was die gebeure van die eerste ballingskap toe die 10 stamme van die Noord-ryk weggevoer is in die 8ste eeu (722 v. C.), en ’n verstrooiing van die Joodse volk begin het, wat nooit weer volledig omgekeer is nie. En die 8ste eeu was ook die tyd van die profeet Jona. Die naam Nineve sou dus die bloed van die Jode laat kook het, lank ná die stad al verwoes is. Dink maar aan name soos Auschwitz of die Berlynse muur of die Boere-oorlog of Bloedrivier – dit het steeds betekenis lank na die gebeure.

Jy kan jou skaars ’n meer kragtige kontras voorstel: Jona en Nineve, die Jood en sy vyand – en die boodskap van vyandsliefde wat uiteindelik nog skerper deur die verhaal van die Barmhartige Samaritaan en uiteindelik deur die kruis verhaal van Golgota vertel sou word.

Deur dié verklaring te aanvaar wat met die interne gegewens van die boek werk en met ’n aanvaarbare teikengehoor te verbind, kan jy reg laat geskied aan beide die boodskap van die boek as aan die “redelike” verklaring van sy ontstaan. Jy kan dus glo in die boodskap sonder om jou intellek op te offer en jou bloot te stel dat jy met jou verklaring slegs spitsvondig kreatief optree. So behou jy jou integriteit as gelowige en as denkende mens.

Daarmee is egter nog nie alles gesê nie: die idee van ’n voorbeeldvertelling, hoe aantreklik ook al, wat gebruik is om die Jode se nasionalistiese idees uit te daag, is ’n idee wat maar ’n paar dekades oud is! Daar is geen getuienis uit die Ou Testamentiese getuienis dat enigiemand dit so opgestel of so bedoel het nie!

Dus – as jy Jona as ’n historiese verhaal wil neem – doen dit gerus. Laat ons mekaar net nie op grond van ons keuse verteken óf as liberaal óf as konserwatief nie, en ek bedoel dit nou in die negatiewe sin daarvan. Almal van ons is in elk geval albei in meerdere of mindere mate in die verskillende aspekte van ons komplekse lewens!

Wat wel baie duidelik is, is dat die boek gerig is aan mense wat ’n sterk nasionalistiese gevoel gehad het. En wat gedink het dat God net vir die Jode bedoel was. Deur die verhaal van die profeet Jona in ’n ironiese sending na die aartsvyand Nineve, word die ideologiese beskouinge van die Jode ontbloot. En die nasionalistiese strewe het juis ’n sterk impetus in die ballingskap gekry. Omdat die Jode in Babilonië geen koning, tempel of land gehad het om hulle identiteit te gee nie, het hulle buitengewoon klem begin lê op die wet en die besnydenis. Só wou hulle hulle eksklusiwiteit in die vreemde tussen die nasies probeer behou. Hulle was later meer Joods as die Jode in Israel. Soos sommige van ons Afrikaanses oorsee met hulle Ukasies en Kanasies!

Maar daarmee het die Jode hulle taak as getuies aan die wêreld, as mense wat die seën van Abraham, in wie al die volke van die aarde geseën wou word, moes uitdra, versaak, net soos Jona. En ontbloot die boek nie net hulle eie skeefgetrekte teologie nie, maar moedig dit hulle aan, om God se deernis met mense hulle eie te maak.

Andromeda en die vis Cetus

Daar is ’n hele paar “vis-en-mens” stories uit die Ou Nabye Ooste. Ek wil net na een kyk, die verhaal van Andromeda en die vis Cetus.

Perseus was die seun van Zeus by ‘n sterflike vrou Danaë. Haar pa, Acrisius, het haar en haar seun in ‘n houtkis gesit en in die see gegooi, want hy was bang dat ‘n profesie sou waar word dat Perseus hom sou doodmaak. Die kis het tot by Seriphos gedrywe. Daar het Polydectes, die koning van Seriphos, hulle in sy huis geneem. Toe Polydectes met haar wou trou, het Perseus teëgestribbel. Polydectes was so kwaad dat hy toe vir Perseus op ‘n onmoontlike sending gestuur, naamlik om die vrou Medusa dood te maak. Medusa was een van die drie Gorgon susters, wat so lelik was dat mense in klip verander het as hulle na dié susters kyk. Perseus het egter in die onmoontlike sending geslaag, deur agteruit te loop en met die susters se afbeelding in sy skild gereflekteer Medusa se kop af te kap. Met die dood van Medusa het die gevleuelde perd Pegasus by haar nek uitgespring.

Op sy terugvaart het Perseus op die vasgebinde Andromeda afgekom in Joppe, waar sy geoffer is vir die seemonster Cetus, waarvan die woord vir walvis afgelei is. Andromeda was vasgebind omdat haar ma Cassiopeia so met haar skoonheid gespog het dat sy gesê het dat Andromeda mooier was as die seenimfe. Poseidon, die god van die see, was só kwaad daaroor dat hy vloede vanuit die Rooi See gestuur het teen die land, Ethiopië, wat Cassiopeia met haar man Cepheus geregeer het. Die enigste manier om vir Poseidon te kalmeer was om vir Andromeda te offer aan Cetus, die seemonster.

Maar Perseus het op die laaste moment net voor Andromeda ingesluk sou word deur die seemonster opgedaag en die seemonster doodgemaak en vir Andromeda gered. Cassiopeia wou egter nie hê hy moet toe met Andromeda trou nie, maar Perseus het net die gesig van Medusa vir haar en haar man gewys en daar versteen hulle! Acrisius het dit ook nie gemaak nie, soos die profesie voorspel het, hoewel dit in ‘n ongeluk was met ‘n diskus wat Perseus, op ‘n begrafnis van alle dinge, geslinger het.

Interessant, Pegasus het later epos sagteware gemaak, uiteraard omdat hy kon vlieg, en Andromeda het Photoshop gemaak, uiteraard omdat sy beeldskoon was (grappie!).

Nou ‘n mens kan die storie maar net as ‘n mite afmaak, wat dit inderdaad is. Die interessante punt is egter dat Joppe as die plek genoem word waar dit alles afgespeel het … en dit is die plek waar Jona die skip na Tarsis geneem het. Toevallig? En wat doen dié mitologiese beskrywings aan die waarde wat ons heg aan die verhaal van Jona? Of is dit net te verskillend in detail? Maar Joppe?

Rabbynse uitleg

Maar dit is nie net die Griekse interpretasie van vis-en-mens stories wat vreemd opval uit die Ou Nabye Oosterse verhale skat nie.

Daar is ’n rabbynse uitleg oor die vis van Jona wat van belang is omdat dit ’n Joodse interpretasie is van die Bybelse verhaal van Jona.

Hulle vertel die volgende:

Die vis van Jona is aan die begin van die skepping geskape vir hierdie spesifieke doel: om vir Jona in te sluk. Die vis was so groot soos ‘n baie groot sinagoge. Dit het oë gehad so groot soos vensters en daar was lampe in sy ingewande vir lig. Daar was selfs ‘n groot pêrel in die ingewande van die vis waardeur Jona alles in die see kon sien. Die vis was egter self in die moeilikheid, want die Leviatan, ‘n ander groter seemonster, wou dié opeet. Jona het die vis egter gered van die Leviatan en in drie dae en nagte het die vis allerhande wonderlike dinge gewys: die pad van die Israeliete deur die Rooi See, die pilare waarop die aarde rus ens. Maar dan kom Jona nie so ver om te bid nie en God stuur ‘n ander vis, ‘n vroulike een, en ‘n bietjie kleiner, sodat dit meer ongemaklik is vir hom, om vir Jona in te sluk. En dan begin Jona bid. God luister en dan spoeg die vis vir Jona uit op droë grond.

Nou die hele beskrywing klink darem net te goed vir woorde. Dit sit ook ‘n hele paar gegewens by wat nie in die verhaal voorkom nie. Tog interessant dat die vis in vers 17 as manlik (die Hebreeuse woord dag) beskrywe word en in vers 1 as vroulik (die Hebreeuse woord daga) … Dit het moontlik ‘n rol gespeel in die interpretasie van die rabbis. Maar dan word die vis weer as manlik beskrywe in vers 11! So dit gaan nie regtig op nie.

’n Walvis?

Maar voor ons te gou daaroor oordeel, het ons beter gevaar deur die eeue?

In die Hebreeus staan daar letterlik net “’n groot vis” (dag gadol). In die Griekse Bybel is dit egter vertaal met ketos mega. In die Latynse Bybel is dit egter vertaal met cetus mega. En Cetus beteken walvis. Dit het gelei daartoe dat mense die vis met ’n walvis geïdentifiseer is. Dit moet natuurlik groot genoeg wees om vir Jona in te sluk. Daarom is dit veral met die sperm walvis geïdentifiseer. Ander het weer aan ’n witdood haai of ’n Orca, moordwalvis, gedink.

Maar help dít ons enigsins? Sal ons meer sekerheid oor die Bybelse verhaal hê as ons presies weet watter tipe vis dit was wat Jona ingesluk het of nie?

Moderne Jonas?

Daar is ook verskeie stories van mense wat deur walvisse ingesluk is, wat veral in die 19de eeu die rondte gedoen het, in reaksie op die modernisme se ontkenning van die bonatuurlike, om só as bewys te dien dat Jona regtig in die vis was. Ek het drie sulke stories opgespoor, maar elkeen van hulle is ongetoets.

Een storie is dié is van James Bartley wat in 1881 deur ’n sperm walvis ingesluk sou gewees het by die Falkland eilande. Die walvis is deur die skip, Star of the East, agtervolg, omtrent 36 uur later geharpoeneer en James is gevind, bewusteloos maar lewend in die maag van die walvis. ’n Ondersoek na die skeepsjoernaal en gesprekke met die kaptein het egter getoon dat daar nooit iemand soos James Bartley op die skip was nie en dat daar nooit iemand oorboord verloor is nie. Die storie is dus vals.

Die Probleem met die soek na bewyse

Die probleem is dat dié pogings om die moontlikheid dat die verhaal regtig gebeur het, te bewys, eintlik presies dieselfde tegnieke gebruik as die moderniste wat God probeer weg verklaar. Só ’n benadering soek historiese bewyse as verklaring van dít wat aan God toegeskryf word. Moderniste probeer daarmee bewys dat God nié daar is nie. Fundamentalistiese gelowiges soek gewoonlik bewyse dát God daar is.

God is egter nie vas te vang in ons bewyse nie. Die trek deur die Rooi See het nie plaasgevind omdat daar getuienisse gevind is van ’n baie sterk wind in daardie gebied wat die moontlikheid van só ’n gebeure rugsteun nie. Só ’n natuurlike verklaring doen eintlik afbreek aan die wonder van die Godsgebeure met die Uittog uit Egipte. Netso met die manna, en die plae in Egipte en al die ander wonderlike dinge wat in die Bybel beskrywe word.

Wat maak ons met al die vis stories?

Dit is dus ’n ope vraag hoekom ’n mens sulke hedendaagse stories moet hê om as getuienis te dien dat Jona in die vis was. Kon dit nie miskien maar net ’n wonder gewees het nie? Rand ons nie die hele gedagte aan wonderverhale, aan Godsverhale aan, as ons naarstiglik soek vir hedendaagse stories om die Bybelse verhale te rugsteun nie? Só asof God en die Bybel ons nodig het om hulle te verdedig.

En dan praat ek nie eers oor hoe ons die verhaal self neem nie, dws as ’n voorbeeld vertelling of as ’n ware historiese verhaal nie, en of ons keuse hieroor uiteindelik die deurslag gee of ons die verhaal ernstig kan neem of nie.

’n Fokus op die vis kan ons aandag aflei van die punt waarom dit in hoofstuk 2 gaan. Die funksie van die vis is net tweërlei:

  1. dit is die vervoermiddel van God vir Jona terug na Nineve, een van sy speelgoed soos Psalm 104 oor die ander seemonster die Leviatan praat ( vers 26: “Die Leviatan wat U gemaak het om mee te speel …”) en
  2. dit dien as ’n voorbeeld van gehoorsaamheid; die vis doen wat daarvan gevra word, terwyl Jona ongehoorsaam was. Selfs die visse is aan God gehoorsaam … en God se profeet nie!

Maar daar is meer in die teks as maar net die vis!

Ons moet dus aandag gee aan die wêreld agter die teks. Ons moet luister na die wêreld voor die teks. Maar ons moet dit met ’n goeie skoot suspisie hanteer. Nie alles sal so vergesog wees soos die Griekse mitologieë nie. Nie alle Joodse uitlegte is so legendaries soos dié oor Jona nie. Maar, dit moet die toets kan deurstaan van verantwoorde en getoetste getuienis.

En dit bring ons weer in dié geval terug na die wêreld in die teks, dit wat ons saam gaan lees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jona


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar