Jona 4:1-11 – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade
Toe Jona die stad verlaat, gryp God in. Maar waar God vantevore met ’n groot storm en ’n sterk wind ingegryp het, doen Hy die hierdie keer met ’n klein struikie. Wat opvallend is, is nie net dat dit ’n wonderstruikie is wat oornag opskiet nie, maar dat dit so klein is.
Mense raai al eeu lank watter soort struik of bossie dit kon wees. Luther het gedink dat dit ’n soort pampoenrank was. Ander het gedink dat dit ivy kon wees of ’n wingerdrank of ’n kasterolie plant. Die Afrikaanse vertaling stel voor dat dit ’n komkommerplant was. Maar soos in die geval met die vis is dit nie so belangrik om te weet wat dit was nie. Die eintlike kontras is tussen die groot vis en die klein struikie of bossie.
In Hebreeus word die woord eintlik met twee verkleiningsvorme geskrywe: qîq-aj-ôn: d.w.s. struik-ie-tjie! Rondom dié piepklein struikietjie word die groot dinge van die verhaal nou opgestel: die groot woede van Jona, sy groot blydskap en die lot van die groot stad Nineve.
Fyn humor!
Simmetrie in die hoofstuk
- A – God beskik ’n struikietjie (vers 6a)
- B – Jona is bly oor die struikietjie (vers 6b)
- C – God beskik ’n wurm (vers 7)
- D – God beskik ’n wind (vers 8a)
- Jona wens dat hy kon sterf (vers 8b)
- d – Jona in selfgesprek (8c)
- D – God beskik ’n wind (vers 8a)
- c – God in gesprek met Jona (vers 9a)
- C – God beskik ’n wurm (vers 7)
- b – Jona in gesprek met God (vers 9b)
- B – Jona is bly oor die struikietjie (vers 6b)
- a – God in gesprek met Jona (vers 10-11)
Die kontras lê hier in die stilte van die eerste deel van die verhaal (A-D) teenoor die tweede deel (a-d) wat net uit woorde bestaan. Elke element van stilte word gekontrasteer met ’n uitspraak in die woordryke gedeelte.
En dít alles draai om die middelste wens van Jona om tog maar net te sterf!
Kontras met die ander twee simmetriese patrone in hoofstuk 1 en 3
En as ’n mens nou dié sentrale tema: die wens van Jona om te sterf, kontrasteer met die ander twee simmetriese patrone in hoofstuk 1 en 3, dan sien ’n mens ’n interessante en ontstellende verbintenis tussen dié wens om te sterwe en die twee ander simmetriese patrone se temas in hoofstuk 1 en 3.
Jona se sterwenswens in hoofstuk 4 hang saam met sy geloofsbelydenis in hoofstuk 1: Ek dien die Here God wat ook die Skeppergod is … en die koning se geloofsbelydenis in hoofstuk 3, waar hy opdrag gee dat almal hulle tot dié God van Jona moet bekeer. Waarop Jona in die laaste hoofstuk met ’n sterwenswens reageer.
Hiermee word die tragedie van God se profeet finaal ontbloot. Jona glo in God, Nineve glo in God, maar Jona wil daaroor sterf!
Jona weier om met God te praat
Soos in hoofstuk 1 weier Jona aanvanklik om met God te praat. Hy kry eers sy tong terug as hy flou word van die son se hitte. Soos in hoofstuk 1 moet God eers iets dóén om sy aandag te trek.
God doen dit met ’n wonder-struikietjie. En dié struikietjie maak nie net skaduwee soos dit oor die skermpie van Jona rank nie. Dit genees hom ook van sy groot woede!
Dit is darem vernuftig hoe God vir Jona met die groot dinge van die skepping konfronteer in die eerste twee hoofstukke, die groot wind en die groot storm en die groot vis en nou hier met die klein struikietjie. En beide die groot goed as die klein goed word deur God gebruik om Jona iets van sy nietigheid te laat verstaan.
Deist haal vir Pascal, die wiskundige en teoloog, aan uit sy bekende Pensées: “Wat is die mens in die natuur? ’n Niks in vergelyking met die oneindige, ’n geheel in vergelyking met die niks, ’n middelpunt tussen alles en niks … Ewe min kan hy die niks waaruit hy opkom en die oneindige waarin hy opgesluk is, verstaan.”
So staan Jona tussen die groot storm en die klein struikietjie. En hy dink dat Hy die God wat altwee uiterstes in sy hand hou, tot orde kan roep. Jona wat bly is oor die struikietjie wat hom afkoel, maar woedend is oor God se woede wat afkoel in sy deernis met die bekeerde Nineviete.
Daarom wil Jona nou maar net in stilte sterf!
God is geduldig met Jona en wil hom verander
Maar dan doen God nog twee dinge:
- God beskik ook ’n wurm om die struikietjie te vernietig. Maar Jona val nie daarvoor nie. In stilte wil hy liewer sterf!
- En dan beskik God ’n wind, die skroeiende warm Sirocco wat in daardie dele waai. Maar Jona val ook nie daarvoor nie.
Dit is tragies om te sien hoe hy al hoe meer in homself gekeer raak, dat hy die wens om te sterwe nie aan God rig nie, maar aan homself. Vers 9: “Hy het sy lewe gevra om te sterwe.”
Hoekom doen God dit? Omdat God hoop dat Jona sal raaksien dat sy Godsbeeld verkeerd is, dat hy soos die koning van Nineve tot bekering sal kom. Jona is vir Hom net so belangrik as die heidene. Om die waarheid te sê, die hele verhaal deur is God eintlik met Jona besig. Hy doen, op die keper beskou, eintlik baie meer moeite om sy profeet se lewe te verander, as wat hy met die hele stad Nineve doen! Hoekom? Want hoewel God ten spyte van Jona met Sy sending na Nineve slaag, weier die Here steeds om dit sonder Jona te doen! Watter genade!
Jona sien net die dood van sy Godsbeeld
Maar Jona sien net die dood van sy Godsbeeld. Vir hom is God so goed as dood, omdat dié God onveranderlik is in sy liefde … vir Jona se vyande. En ons sien dié perspektief van Jona duidelik geïllustreer in sy woede oor die struikietjie. Jona is nie soseer kwaad oor die struikietjie doodgegaan het nie, maar omdat die struikietjie van hóm af weggeneem is! Hy is dus vir God kwaad omdat God sy genade ook aan mense buite Israel gee. Hy kan God se oor-grens genade nie verwerk nie en wil eerder sterf as om dit gade te slaan. Anders as Elia, wat sy lewe wil prysgee omdat hy voel dat hy geen sukses behaal het nie, wil Jona sy lewe prysgee omdat hy gans te suksesvol met die heidene was!
’n Mens verval so maklik in dié gedagte dat God net aan jou kant is. En dan word jy so maklik bly oor die geringste teken van sanksie oor jou denke en lewenshouding. Dit is daarom baie veiliger om met elke ongeluk en met elke geleentheid bestek op te neem en te vra: wat is God besig om te doen? Ons dink te maklik as dit swaar gaan, dat God besig is om óns en ons uithouvermoë te toets, of ons vas sal bly staan by ons beginsels, eerder as dat God besig is om ons beginsels sélf te toets! En as dit goed gaan, beter as met ander, dan dink ons te maklik dat Hy in ons guns teenoor ander beslis het, omdat ons vas by ons beginsels gebly het, eerder as dat ons maar net dankbaar is vir sy genade.
Jona wens om te sterwe omdat hy eerder sal sterwe as om deernis te moet betoon. Hy sal vir homself en vir sy volk sterwe, maar nie aan homself en vir God se saak nie.
God se deernis wil Jona steeds saamneem met Hom
Dit is waarom God ’n laaste beroep op Jona doen: dink aan die meer as 120 000 kindertjies in die stad – wat nie hulle linker- van hulle regterhand kan onderskei nie – en al die diere … En onthou, God het – midde in die ironie en die humor van die groot vis en die groot wind en die klein struikietjie – al wêrelde versit vir Jona … as Jona maar net saam wil verander!
Maar Jona antwoord nie. God se vraag bly in die lug hang … en daarmee eindig die verhaal … en word die vraag ’n vraag aan jou en aan my wat die verhaal hoor. En die vraag is: Kies jy Jona se absurditeit: om oor ander te oordeel … óf kies jy God se absurditeit: om vir ander te kies … en soos Jesus uiteindelik gedoen het …. vir ander te sterf?
Die Grieke het gesê dit is dwaas en die Jode het dié idee as ’n struikelblok geag in hulle oordeel oor Jesus. Maar dít bly die waardes van die absurde evangelie wat ongelukkig deur min mense geglo word, selfs deur kerkmense soos Jona.
Jy kan nie jouself lief hê en steeds die evangelie navolg nie
Kom ons plaas dit in ’n groter prentjie.
God wou Jona tot ware deernis bring. Jona het dit beskou as ’n uitverkoop van sy volk. Hy kies om oorboord te gaan en liewer te sterf as wat hy dié moet liefhê wat hy nog altyd gehaat het. Liewer volksman as Godsman.
Maar wat van ons?
Dit is bitter moeilik om jou self lief te hê én gehoorsaam te wees aan die evangelie. Jesus sê immers: “As iemand na My toe kom, kan hy my dissipel nie wees nie tensy hy afstand doen van sy vader en sy moeder en sy vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe” (Luk. 14:26). En Jesus het dié boodskap gelééf! Paulus skryf in Filippense 2:6-8: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”
Hoeveel van ons sien regtig kans om soos Jesus te sterf? Hoeveel van ons sien regtig kans om die ander eerste te stel?
U sien, die vraag is nie of heidene oortuig kan word om in God te glo nie. Die vraag is of gelowiges hulle eie geloofsbelydenis sal glo, dat God die God van die hele aarde is.
God en sy profeet se reaksies op bekering
‘n Mens kan baie leer uit die onderskeie reaksies van God en sy profeet, Jona, op die verrassende uitkoms van gebed en bekering by mense wat eintlik tot die vergetelheid verdoem is.
God se reaksie?
God sien dat Nineve wegdraai van die kwaad … en Hy draai ook weg van die kwaad wat Hy hulle wou aandoen. Hy het die ramp toe nie gestuur nie.
Jona is egter kwaad!
Vir hom was daar net een opsie: vuur uit die hemel, soos voorheen met Gomorra. Die vuur van Pinkster, wat mense transformeer, is vir hom vreemd! Vreemd, soos dit ook voor Pinkster vreemd was vir die dissipels wat een keer gevra het dat vuur uit die hemel moet neerdaal op ’n Samaritaanse dorpie wat Jesus nie verblyf wou gee nie (Luk. 9:51-56). Jesus het toe vir Jakobus en Johannes skerp tereggewys en volgens sommige manuskripte bygevoeg: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie … Die Seun van die mens het immers nie gekom om die lewens van mense te verdelg nie, maar om te red.”
Dit is eintlik ongelooflik hoe Jona sy afgryse verwoord. Hy noem al die eienskappe van God wat vir hom as Hebreër dierbaar is, dat God genadig is, dat God barmhartig is, dat God lankmoedig en vol liefde is en maklik afsien van die straf wat Hy aankondig. Hoeveel keer was dit juis die dinge waarop hy en sy volk staatgemaak het om hulle uit die penaries te red waarin hulle deur hulle eie afvalligheid beland het!
Maar … Hy verkwalik God dat God die grens oorsteek na Jona en sy volk se vyande toe, dat God God bly oor grense heen! En hy verwoord vir die eerste keer die rede vir sy aanvanklike vlug na Tarsis, asof hy van dié kennis van God af weggevlug het! Hy wou God aan sy kant hou en nie sy wese deel met Nineve nie.
Die vraag is daarom akuut ook aan ons: Hoe gaan ons met God se genade om? Is God se genade vir almal beskikbaar? Regtig?
Hoekom verander God van plan?
Hoekom reageer God op Nineve se bekering?
Wel, Jona gee reeds die kern daarvan in sy preek vir God weer – kan jy nou meer. God reageer op Nineve se bekering, omdat God genadig is, barmhartig, lankmoedig en vol liefde. Hy sien maklik af van die straf wat Hy aankondig!
Jona verkondig daarmee dat God se liefde groter is as sy oordeel! Hy is veranderlik in sy oordeel. Maar Hy is onveranderlik in sy liefde! Dit leer ons al by Moses in sy gebed vir die volk met die goue kalf (Eks 32). Ons leer dit ook by sy 8ste eeu v.C. tydgenoot Hosea (hfst. 11) sowel as by Joël (hfst. 2), en veral by Jeremia (hfste. 18 en 26), die twee 6de eeuse profete. Hulle het dieselfde boodskap.
Jeremia (18:7-8) verwoord bv. God se hart as volg: “In een oomblik sal Ek spreek oor ’n nasie en oor ’n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig; maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen.”
Jona onderstreep dus: God is nie ’n noodlot nie wat jou onafwendbaar tref nie! En met die genade wat God aan Nineve bewys, trek God ’n streep deur enige poging van Jona of van Sy kinders deur die eeue om sy genade te beperk op enige manier. God se oordeel is werklik, maar veranderlik. God se liefde is werklik en onveranderlik!
Hoe verander God se deernis met Nineve ons perspektief op mense rondom ons?
Eerstens: God werk met mense op grond van sy genade.
Hy is onveranderlik in sy liefde, en veranderlik in sy oordeel. Ons kan op geen ander manier met mense werk nie. Ons moet soos God ook onveranderlik in ons liefde wees en veranderlik in ons oordeel. Soos God moet daar by die geringste teken van ’n omkeer die bereidheid wees om te vergewe en in te sluit.
Tweedens: God haat onreg in elke vorm waarin dit kom.
Of dit nou die onreg van die Nineviete is wat met geweld die aarde onderwerp of dit die onreg is van die Jode wat die genade toesluit vir hulle onderdrukkers. Nineve is uiteindelik vernietig in 612 v.C. Hierdie groot, trotse stad, met ’n naam wat ’n verskrikking vir die volke van die Ou Nabye Ooste was, is nou ’n puinveld regoor Mosoel, aan die linkeroewer van die Tigris rivier.
Die puinheuwel word Koejoendsjik (Skapiesheuwel) genoem, en meer na die suide lê die heuwel Nebi Joenoes. Die heuwel is interessant genoeg vernoem na Jona (Joenoes)! Die Moslems het hier ’n moskee tot sy nagedagtenis oor sy vermeende graf gebou. In die heuwel Koejoendsjik is tydens opgrawings die indrukwekkende paleise van Sánherib en Esar-Háddon gevind, sowel as die beroemde biblioteek van Assurbanipal, gevind. Maar alles is uiteindelik in puin gelê.
Derdens: ons versaak te maklik die Goddelike waardes van omgee en gemeenskap.
Die rede daarvoor is baie keer omdat dit vir ons onprakties lyk in die wêreld. Ons veroordeel liewer en handhaaf ’n etos van eie geregtigheid en selfregverdiging. Dit terwyl ons die wêreld moet oorrompel met ons deernis. En ek praat nie nou van ’n deernis wat onreg toesmeer nie. Daar is egter ’n deernisvolle grasie moontlik in ’n mens se betrokkenheid by die regstel van onreg, wat dit moontlik maak vir die onregverdige om sy/haar onreg reg te stel.
Waar is die Here in dit alles? Ek dink Hy sê vir ons dat ons:
- reaksies sal temper met genade,
- seker sal maak dat onreg in watter vorm ook al, nie net dié wat ons tref nie, aangespreek word. Maar om nie in die proses teenoor mense te gaan staan nie, maar by hulle, saam met hulle en tot hulle te praat en nie teen hulle nie. Ons is nie in die straf besigheid nie, maar in die genade besigheid;
- mense sal waarsku oor die pad wat hulle loop en nie net maak asof hulle in ons pad is nie en
- die vuur van die Pinkster Gees in ons sal laat brand wat ons moed sal gee om te doen wat ons kan en altyd rekening te hou met ’n God wat mense se lewens kan verander.
Gebed is om na God te luister
‘n Laaste perspektief uit die boek, plaas die soeklig op ons eie gebedslewe.
Gesprekke met (gebede tot) God vind ten minste 9 keer plaas volgens die boek:
- Die eerste opdrag aan Jona (1:1-2).
- Die eerste gebed van die matrose aan hulle eie gode (1:5).
- Die tweede gebed van die matrose aan Jahwe (1:14).
- Die eerste gebed van Jona (2:1-9).
- Die tweede opdrag aan Jona (3:1-2).
- Die reaksie (roep tot God!) van die mense in Nineve (3:5-9).
- Die tweede gebed van Jona en God se antwoord (4:2-4).
- Die derde gebed van Jona in antwoord op God se vraag (4:9).
- Die onbeantwoorde vraag van God aan Jona … en ons (4:10-11).
Ek leer twee belangrike dinge uit ’n vergelyking van dié gebede en God se antwoorde daarop:
- God is maar te gewillig om te antwoord op die noodkrete van mense – die matrose in die stormsee, die profeet in die maag van die groot vis, die koning en sy mense in die nood in Nineve.
- Dit is baie belangriker dat na God geluister moet word as dat noodwendig met Hom gepraat moet word. On sien dit op twee maniere:
- In die tweede opdrag aan Jona waar God sy intensie met Nineve baie beter uitspel as in die eerste opdrag (praat tot hulle eerder as teen hulle) … as Jona maar net ore gehad het om te hoor.
- Die vraag wat God aan Jona stel om daardeur ’n deernis ook in sy hart te laat ontvlam teenoor mense wat God nie ken nie … weereens as Jona maar net wou luister.
Ons hoor God in die Woord en in die lewe
Hoe luister ons? Wel ook op twee maniere:
- deur die Woord met begrip te lees … gemik op verklaring en verstaan;
- én te luister na ons lewe, elke groot en elke klein detail daarvan, om die voetspore van God daarin te herken. Dit sien ons ook in Jona. God praat deur:
- die groot stormwind (1:4)
- die lot wat gewerp word (1:7)
- die stilte oor die see (1:15)
- die groot vis (1:17)
- die uitspoeg op die land (2:10)
- die wonderlike struikietjie (4:6)
- die wurm (4:7)
- die skroeiende sterk wind uit die ooste (4:8)
Dit is waarom die daily examen so belangrik is in ons lewens, om daagliks in gebed te luister na die dinge waaroor jy dankbaar is én die dinge waaroor jy nie so dankbaar is nie!
Die Heilige Gees van God is besig deur sy Woord en besig deur die gang van jou lewe – in die grootste en die kleinste gebeure, die breë patrone van die jare en die fynste detail van elke dag – om met jou te werk. En as jy uit Jona net dít geleer het, om fyner te luister na die Woord en fyner te luister na hoe dit jou lewe impakteer, dan het jy ’n entjie verder gevorder in die pad wat jy met God saamloop.
View all posts in this series
- Jona – God ontferm Hom oor Nineve - February 25, 2015
- Ekskursus oor elemente van die verhaal van Jona
- Jona 1:1-16 – God roep Jona na Nineve, maar Jona vlug weg - February 26, 2015
- Jona 1:17-2:10 – God stuur ‘n groot vis, maar die Here red Jona na gebed - February 27, 2015
- Jona 3:1-10 – God roep Jona weer na Nineve, maar God sien af van die ramp - March 2, 2015
- Jona 4:1-11 – Jona is ontevrede, maar die Here bevestig sy genade - March 3, 2015
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Andre Kritzinger
Bravo. Ek wens ek kan elke sinnetjie onthou en internaliseer. Miskien moet ek ‘n week afvat en Jona deeglik herkou.
Chris van Wyk
Ek dink regtig dié boek is die boek vir dié jaar, indien nie vir hierdie tydvak in die geskiedenis van ons kerk en die land nie. Dít is hoe ons oor God mág en móét dink, en dít is hoe ons oor mense mág en móét dink. Dit is regtig fundamenteel vir my geloof. Dankie, André.