Jona 3:1-10 – God roep Jona weer na Nineve, maar God sien af van die ramp

prayer-shawlIn byna dieselfde taal as in hoofstuk 1 beskryf die skrywer hier in hoofstuk 3 die tweede of herhaling van die roeping van Jona. “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.

Daar is twee verskille in die verwoording van die roeping wat betekenisvol is:

  1. In 1:1 het die Here vir Jona gesê: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan …” Die frase “spreek hom aan” lui in Hebreeus: “roep TEEN hulle”. Maar in 3:1 sê die Here vir Jona in Hebreeus “roep TOT hulle”! In hoofstuk 1 word die woordjie ‘al gebruik, “teen”, en in hoofstuk 3 die woordjie ‘el, “tot”.
  2. In hoofstuk 1 word van die groot boosheid van die stad gepraat, maar in hoofstuk 3 kies die Here om niks daaroor te sê nie en spesifiseer net sy opdrag aan Jona: roep tot hulle “die woord/boodskap wat Ek jou sal gee.

Dit is betekenisvol omdat die eerste opdrag eintlik ’n blanko tjek was. Jona kon eintlik sê wat op sy hart was. Gelukkig het hy gekies om dit nie te doen nie! Die tweede is egter ’n duideliker opdrag wat aan God se woorde gekoppel is.

Radikale verskil tussen God en Jona

Uit die reaksie van die profeet in die eerste hoofstuk kon ’n mens immers sien dat daar ’n radikale verskil tussen God en sy profeet is. God het die Nineviete gesien as mense wat op die breë weg was, wat slegte dinge gedoen het en wat gewaarsku moet word dat die uiteinde daarvan hulle suur gaan bekom. Jona daarenteen het die Nineviete gesien as mense wat in sý pad was! God het dus medelye gehad met die stad se mense. Jona het hulle veroordeel!

Nou, ’n mens kan Jona se gevoel verstaan. Nineve was ’n “groot” stad, groot vir daardie tyd in oppervlakte en inwoners, maar ook groot in booshede. Gen 10:8-12 teken Nineve as die plek van oergeweld, enige tyd net so sleg as wat Babel was … en ons weet hoe Babel se storie met die spraakverwarring uitgedraai het!

Nineve was die plek van Nimrod, die geweldenaar, die maghebber, wat ’n groot jagter was maar ook ’n klomp stede gebou het en eintlik soort van as die vader van verstedeliking beskou kan word. Teenoor die ander seuns van Noag, Sem en Jafet, wie se nageslag beskryf word in terme van die nasies wat uit hulle voortgevloei het, word die nageslag van Gam, via Nimrod, beskryf in terme van die koninkryke wat hulle gevestig het en die stede wat hulle gebou het. Die stad teen die veld, die boosheid van die politiek teen die onskuld van die boere.

En Jona se mense het erg deurgeloop onder Nineve … vir eeue lank! Nineve en die Assiriese ryk het male sonder tal wreedhede begaan teenoor die Joodse volk en al die ander volke wat onder hulle imperialisme en hulle magswellus deurgeloop het.

Die Assiriese ryk het op sy hoogtepunt gestrek van die huidige Irak en Iran tot in Egipte. Hulle was vernuftige oorlogvoerders. Hulle het stormramme ontwikkel waarmee hulle stadspoorte kon platslaan. Hulle het die idee ontwikkel om met ’n korps ingenieurs tonnels onder stadsmure deur te grawe. En hulle soldate het opblaasbare velle gehad waarmee hulle riviere kon oorsteek. Gedugte teenstanders.

En dan was hulle ontsettend wreed met hulle slagoffers. Die oorwonne mense is lewend opgehang aan pale sodat die voëls aan hulle kon vreet totdat hulle dood is. Ander is as slawe weggevoer, soos twee keer op groot skaal gebeur het in Israel, eers in 722 v.C. van die noordryk van Israel na onder andere stede soos Nineve in die Assiriese ryk en die tweede keer in 586 v.C. van die suidryk, Juda, af na Babilonië, hoewel dié ballingskap onder die Babiloniërs gebeur het, met die Assiriese ryk en Nineve wat reeds in 612 v.C. ondergegaan het.

Maak geen fout nie, selfs die Here sien dit raak: “Ek weet hoe sleg Nineve is.” Maar Jona se veroordeling het baie dieper as dít gegaan. Dié volk was só boos dat hy hulle afgeskryf het. Net die vuur van die hemel, die vuur wat Sodom en Gomorra verteer het, was goed genoeg vir hulle. Die boosheid van Nineve het na sy gevoel net te lank en te wreed geduur.

Boosheid verblind vir Jona

Dit wil dus lyk asof die boosheid van Nineve vir Jona verblind het, sodat hy glad nie meer rekening gehou het met die moontlikheid van omkeer by Nineve nie. Hy lees ’n oop mandaat tot vuur uit die hemel in God se opdrag in plaas van ’n toegespitste mandaat: om te sê: “wat Ek vir jou sê.” Daarom bou Jona vir hom ’n skerm buite die stad waaronder hy gaan sit om te sien wat met die stad gaan gebeur. Hy verwag vuur, die vuur van vernietiging oor die boosheid van die stad.

Nou teoloë van die rewolusie en van bevryding werk baie keer met dié oop mandaat en hou nie rekening met die deernis van God nie, dié God wat maar te gewillig is om lief te hê! God wil die stad waarsku. God wil die stad keer van sy verkeerde pad. Maar hy wil die stad vir Homself wen, nie verloor nie. Vernietiging kóm as daar geen bekering is nie … maar God is maar te gewillig om met genade te reageer op enige sweem van omkeer by sondige mense. Genadiglik!

Voordat ons egter ons hande van tevredenheid saamslaan. Die omgekeerde is ook waar. Ons ander ly baie keer aan ’n soort teologie van gerusstelling, dat ons weer nie vir die reg van die hulpeloses, die verontregtes, die verdruktes, opkom nie. God het dit net so seer teen mense wat blind is vir onreg, wat verby kyk, verby gaan, soos die Leviet en die priester in die verhaal van die Barmhartige Samaritaan. Die vraag is of ons nie dan ook ’n profeet nodig het soos Jona, wat met skeefgetrekte teologie en al, vir ons kom aanspreek nie? En dit gaan daaroor dat God wil hê dat ons na dié Jona moet luister! Óf sal ons só ’n Jona aanspreek vir sy verkeerde teologie en in ons gerustheid voortleef?

Nineve is boos en Jona is verblind deur hulle boosheid.

Die vraag is dus:

  • Sal Nineve luister …. of ondergaan?
  • Sal Jona die evangelie verstaan … of ondergaan?

Opbou van die perikoop

Soos in hoofstuk een, is hier ook weer ’n pragtige simmetriese opbou in die teks, wat die punt waarom dit gaan duidelik uitlig (3:4-4:5):

  1. Jona gaan in Nineve in (vers 4a)
  2. Jona preek vir Nineve – 6 woorde (vers 4b)
  3. Nineve reageer, glo en begin vas (vers 5)

Die Koning kom tot bekering en roep almal tot inkeer (vers 7-9)

  1. God sien Nineve se geloof raak en sien af van die ramp (vers 10)
  2. Jona preek vir God – 42 woorde – en God antwoord (hfst. 4 vers 1-4)
  3. Jona gaan uit Nineve uit (vers 5)

Let op:

  • In A. en a. gaan Jona eers in Nineve in en dan weer uit Nineve uit. In A. preek hy en in a. wag hy om te sien wat met sy prediking gaan gebeur.
  • In B. en b. preek Jona onderskeidelik vir Nineve (6 woorde) en vir God (42 woorde). Jona het dus 7 keer meer te sê óór die bekering van Nineve as vóór hulle bekering!
  • In C. en c. reageer onderskeidelik Nineve op die prediking en dan God op die reaksie op die prediking en sien af van die ramp wat Hy beplan het teen Nineve.

Die hart van die perikoop is die reaksie van die koning wat tot bekering kom en almal in die stad, diere ingesluit, tot bekering oproep. En dit is betekenisvol, want geen ander heidense koning het só gereageer nie! Dink maar net aan die farao se reaksie op Moses se prediking! Jona was dus eintlik een van die mees suksesvolle profete ooit! En hy sit uiteindelik in sak en as daaroor! Verstommend!

Nineve kom op groot skaal tot bekering

Nineve kom dus op ’n groot skaal tot bekering. Interessant is dat dit ’n volksbeweging was voordat dit vanaf die koning na almal versprei het. En dit is ook interessant hoe die bekering drie elemente ingesluit het: ’n ritueel (vas en rou, amper soos ‘n liturgie), gebed (geestelik) en bekering (eties).

  • Op rituele wyse mag niemand eet nie en niemand drink nie, selfs nie eers die diere nie. En almal moet vasklere aan hê, selfs die diere.
  • In hulle gebed moet hulle ernstig tot die Here roep en
  • in hulle bekering moet hulle op praktiese en etiese wyse afsien van hulle bose dade en spesifiek berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het!

Dit is ook interessant dat hulle rekening hou met die feit dat dié dinge eintlik nog nie genoeg is nie, op verdienste sal hulle dit steeds nie maak nie. Hulle is aan God se genade uitgelewer. “Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie.

Ons leer daaruit dat rituele en selfs ons gebed met lewensverandering gepaard móét gaan. Maar … dán is God se reaksie nog steeds uit genade en nie uit verdienste nie! Jou vas en jou gebed en jou lewensverandering waarborg niks en dit verdien niks. Uitstekende diepsinnige en praktiese teologie!

Jona


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: