Skip to main content

Jona 3:1-10 – God roep Jona weer na Nineve, maar God sien af van die ramp

prayer-shawlIn byna dieselfde taal as in hoofstuk 1 beskryf die skrywer hier in hoofstuk 3 die tweede of herhaling van die roeping van Jona. “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.

Daar is twee verskille in die verwoording van die roeping wat betekenisvol is:

  1. In 1:1 het die Here vir Jona gesê: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan …” Die frase “spreek hom aan” lui in Hebreeus: “roep TEEN hulle”. Maar in 3:1 sê die Here vir Jona in Hebreeus “roep TOT hulle”! In hoofstuk 1 word die woordjie ‘al gebruik, “teen”, en in hoofstuk 3 die woordjie ‘el, “tot”.
  2. In hoofstuk 1 word van die groot boosheid van die stad gepraat, maar in hoofstuk 3 kies die Here om niks daaroor te sê nie en spesifiseer net sy opdrag aan Jona: roep tot hulle “die woord/boodskap wat Ek jou sal gee.

Dit is betekenisvol omdat die eerste opdrag eintlik ’n blanko tjek was. Jona kon eintlik sê wat op sy hart was. Gelukkig het hy gekies om dit nie te doen nie! Die tweede is egter ’n duideliker opdrag wat aan God se woorde gekoppel is.

Radikale verskil tussen God en Jona

Uit die reaksie van die profeet in die eerste hoofstuk kon ’n mens immers sien dat daar ’n radikale verskil tussen God en sy profeet is. God het die Nineviete gesien as mense wat op die breë weg was, wat slegte dinge gedoen het en wat gewaarsku moet word dat die uiteinde daarvan hulle suur gaan bekom. Jona daarenteen het die Nineviete gesien as mense wat in sý pad was! God het dus medelye gehad met die stad se mense. Jona het hulle veroordeel!

Nou, ’n mens kan Jona se gevoel verstaan. Nineve was ’n “groot” stad, groot vir daardie tyd in oppervlakte en inwoners, maar ook groot in booshede. Gen 10:8-12 teken Nineve as die plek van oergeweld, enige tyd net so sleg as wat Babel was … en ons weet hoe Babel se storie met die spraakverwarring uitgedraai het!

Nineve was die plek van Nimrod, die geweldenaar, die maghebber, wat ’n groot jagter was maar ook ’n klomp stede gebou het en eintlik soort van as die vader van verstedeliking beskou kan word. Teenoor die ander seuns van Noag, Sem en Jafet, wie se nageslag beskryf word in terme van die nasies wat uit hulle voortgevloei het, word die nageslag van Gam, via Nimrod, beskryf in terme van die koninkryke wat hulle gevestig het en die stede wat hulle gebou het. Die stad teen die veld, die boosheid van die politiek teen die onskuld van die boere.

En Jona se mense het erg deurgeloop onder Nineve … vir eeue lank! Nineve en die Assiriese ryk het male sonder tal wreedhede begaan teenoor die Joodse volk en al die ander volke wat onder hulle imperialisme en hulle magswellus deurgeloop het.

Die Assiriese ryk het op sy hoogtepunt gestrek van die huidige Irak en Iran tot in Egipte. Hulle was vernuftige oorlogvoerders. Hulle het stormramme ontwikkel waarmee hulle stadspoorte kon platslaan. Hulle het die idee ontwikkel om met ’n korps ingenieurs tonnels onder stadsmure deur te grawe. En hulle soldate het opblaasbare velle gehad waarmee hulle riviere kon oorsteek. Gedugte teenstanders.

En dan was hulle ontsettend wreed met hulle slagoffers. Die oorwonne mense is lewend opgehang aan pale sodat die voëls aan hulle kon vreet totdat hulle dood is. Ander is as slawe weggevoer, soos twee keer op groot skaal gebeur het in Israel, eers in 722 v.C. van die noordryk van Israel na onder andere stede soos Nineve in die Assiriese ryk en die tweede keer in 586 v.C. van die suidryk, Juda, af na Babilonië, hoewel dié ballingskap onder die Babiloniërs gebeur het, met die Assiriese ryk en Nineve wat reeds in 612 v.C. ondergegaan het.

Maak geen fout nie, selfs die Here sien dit raak: “Ek weet hoe sleg Nineve is.” Maar Jona se veroordeling het baie dieper as dít gegaan. Dié volk was só boos dat hy hulle afgeskryf het. Net die vuur van die hemel, die vuur wat Sodom en Gomorra verteer het, was goed genoeg vir hulle. Die boosheid van Nineve het na sy gevoel net te lank en te wreed geduur.

Boosheid verblind vir Jona

Dit wil dus lyk asof die boosheid van Nineve vir Jona verblind het, sodat hy glad nie meer rekening gehou het met die moontlikheid van omkeer by Nineve nie. Hy lees ’n oop mandaat tot vuur uit die hemel in God se opdrag in plaas van ’n toegespitste mandaat: om te sê: “wat Ek vir jou sê.” Daarom bou Jona vir hom ’n skerm buite die stad waaronder hy gaan sit om te sien wat met die stad gaan gebeur. Hy verwag vuur, die vuur van vernietiging oor die boosheid van die stad.

Nou teoloë van die rewolusie en van bevryding werk baie keer met dié oop mandaat en hou nie rekening met die deernis van God nie, dié God wat maar te gewillig is om lief te hê! God wil die stad waarsku. God wil die stad keer van sy verkeerde pad. Maar hy wil die stad vir Homself wen, nie verloor nie. Vernietiging kóm as daar geen bekering is nie … maar God is maar te gewillig om met genade te reageer op enige sweem van omkeer by sondige mense. Genadiglik!

Voordat ons egter ons hande van tevredenheid saamslaan. Die omgekeerde is ook waar. Ons ander ly baie keer aan ’n soort teologie van gerusstelling, dat ons weer nie vir die reg van die hulpeloses, die verontregtes, die verdruktes, opkom nie. God het dit net so seer teen mense wat blind is vir onreg, wat verby kyk, verby gaan, soos die Leviet en die priester in die verhaal van die Barmhartige Samaritaan. Die vraag is of ons nie dan ook ’n profeet nodig het soos Jona, wat met skeefgetrekte teologie en al, vir ons kom aanspreek nie? En dit gaan daaroor dat God wil hê dat ons na dié Jona moet luister! Óf sal ons só ’n Jona aanspreek vir sy verkeerde teologie en in ons gerustheid voortleef?

Nineve is boos en Jona is verblind deur hulle boosheid.

Die vraag is dus:

  • Sal Nineve luister …. of ondergaan?
  • Sal Jona die evangelie verstaan … of ondergaan?

Opbou van die perikoop

Soos in hoofstuk een, is hier ook weer ’n pragtige simmetriese opbou in die teks, wat die punt waarom dit gaan duidelik uitlig (3:4-4:5):

  1. Jona gaan in Nineve in (vers 4a)
  2. Jona preek vir Nineve – 6 woorde (vers 4b)
  3. Nineve reageer, glo en begin vas (vers 5)

Die Koning kom tot bekering en roep almal tot inkeer (vers 7-9)

  1. God sien Nineve se geloof raak en sien af van die ramp (vers 10)
  2. Jona preek vir God – 42 woorde – en God antwoord (hfst. 4 vers 1-4)
  3. Jona gaan uit Nineve uit (vers 5)

Let op:

  • In A. en a. gaan Jona eers in Nineve in en dan weer uit Nineve uit. In A. preek hy en in a. wag hy om te sien wat met sy prediking gaan gebeur.
  • In B. en b. preek Jona onderskeidelik vir Nineve (6 woorde) en vir God (42 woorde). Jona het dus 7 keer meer te sê óór die bekering van Nineve as vóór hulle bekering!
  • In C. en c. reageer onderskeidelik Nineve op die prediking en dan God op die reaksie op die prediking en sien af van die ramp wat Hy beplan het teen Nineve.

Die hart van die perikoop is die reaksie van die koning wat tot bekering kom en almal in die stad, diere ingesluit, tot bekering oproep. En dit is betekenisvol, want geen ander heidense koning het só gereageer nie! Dink maar net aan die farao se reaksie op Moses se prediking! Jona was dus eintlik een van die mees suksesvolle profete ooit! En hy sit uiteindelik in sak en as daaroor! Verstommend!

Nineve kom op groot skaal tot bekering

Nineve kom dus op ’n groot skaal tot bekering. Interessant is dat dit ’n volksbeweging was voordat dit vanaf die koning na almal versprei het. En dit is ook interessant hoe die bekering drie elemente ingesluit het: ’n ritueel (vas en rou, amper soos ‘n liturgie), gebed (geestelik) en bekering (eties).

  • Op rituele wyse mag niemand eet nie en niemand drink nie, selfs nie eers die diere nie. En almal moet vasklere aan hê, selfs die diere.
  • In hulle gebed moet hulle ernstig tot die Here roep en
  • in hulle bekering moet hulle op praktiese en etiese wyse afsien van hulle bose dade en spesifiek berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het!

Dit is ook interessant dat hulle rekening hou met die feit dat dié dinge eintlik nog nie genoeg is nie, op verdienste sal hulle dit steeds nie maak nie. Hulle is aan God se genade uitgelewer. “Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie.

Ons leer daaruit dat rituele en selfs ons gebed met lewensverandering gepaard móét gaan. Maar … dán is God se reaksie nog steeds uit genade en nie uit verdienste nie! Jou vas en jou gebed en jou lewensverandering waarborg niks en dit verdien niks. Uitstekende diepsinnige en praktiese teologie!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jona


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…