Obadja – God straf verwaandheid en afsydigheid
Inleiding
Ons weet nie regtig wie die profeet Obadja is nie. Hy was waarskynlik ‘n tydgenoot van Jeremia en Habakuk, en tree op net voor die ballingskap. Dit sien ‘n mens onder andere in sy verwysing reg aan die begin van sy boek na die ooreenstemmende profesie van Jeremia 49 teen Edom. Vergelyk vers 1 in Obadja wat identies is met Jer. 49:14 behalwe dat Obadja die meervoud vir die eerste subjek gebruik:
“Ons (Obadja)/Ek (Jeremia) het ’n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is ’n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê: Kom bymekaar, trek teen Edom op, maak oorlog teen hom!”. Jy kan meer van Jeremias se boodskap lees in my bydrae: Jeremia 49 – ’n Boodskap aan Ammon, Edom, Damaskus, Kedar-Gasor, en Elam.
Die oordeel wat Obadja uitspreek teenoor Edom kan dus waarskynlik die beste met hulle optrede teenoor Juda in die tyd net voor die ballingskap verbind word toe Jerusalem in 586 v.C. ingeval is en die bevolking weggevoer is.
Een van die Psalmdigters verwys ondere andere na hierdie gebeure in Ps. 137:7: “Onthou die Edomiete, Here, dié dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou sê het: ‘Breek af, breek af die stad tot in sy fondamente.’” Vgl. ook Esegiël se verwysing daarna vanuit die ballingskapsituasie (Eseg. 25:12; 35:2,12,15) en Jeremia se beskuldiging in sy Klaagliedere (4:21-22 – “Wees gerus maar opgewek en bly, Edom … maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink …”).
Obadja se boek, vierde in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, verwoord dieselfde boodskap van oordeel as Amos, net dié keer gerig aan die Edomiete – Bybels gesproke die nageslag van Esau, broer van Jakob-Israel, vandag deel van Jordanië – vanweë hulle verwaandheid teenoor die Here en hulle afsydigheid teenoor Juda met die wegvoering in ballingskap.
Die maatstaf van die Godsverhouding wat ten alle koste in stand gehou moet word, sowel as dié van die handhawing van goeie menseverhoudinge – hier uitgespel in terme van die verhoudinge tussen nasies – word dus as die hoogste prioriteit uitgespel. ‘n Mens hoor die opsomming van die dubbele liefdesgebod, die liefde vir God en die liefde vir die naaste, hier helder weerklink!
Indeling
Dit is die kortste boek van die Twaalf Kleiner Profete en beslaan slegs een hoofstuk. Die eerste deel is ‘n profesie teen Edom waarin hulle verwaandheid en afsydigheid aangespreek word (vers 1-16) en die tweede ‘n boodskap van redding vir die Joodse volk (vers 17-21).
Obadja 1-16 – God straf verwaandheid en afsydigheid
Die problematiek van Edom wat hier aangespreek word is in die eerste plek hulle houding oor hulleself. Die Here het dit veral teen hulle verwaandheid en vermetelheid. Hulle maak staat op die veiligheid wat hulle bergagtige terrein aan hulle bied, en misreken hulle met die feit dat die Here by magte is om hulle daar te gaan uithaal.
Dit is wat die Here nou inderdaad gaan doen, sê Obadja. Hy gaan hulle as volk klein en onbenullig maak. Hulle sal gestroop word en hulle bondgenote sal hulle nie help nie – soos hulle dit natuurlik ook nie met die Jode gedoen het met die wegvoering in ballingskap nie. Daarom straf die Here vir Edom: “Jou eie vriende sal jou oorrompel, mense vir wie jy kos gegee het, sal vir jou strikke stel waar jy dit nie verwag nie.”
Die wyses en die dapperes in Edom sal dié oordeel nie kan afwend nie. Terloops: Teman was ’n kleinseun van Esau, Jakob se tweeling-broer, wie se naam ook aan ’n dorpie in Edom, die gebied van Esau, gegee is. Hulle was bekend vir ’n wysheidstradisie. Obadja sê egter, dié wysheid sal hulle nie help nie.
In die tweede plek gaan dit daaroor dat hulle teenoor Juda nie soos “broers” opgetree het nie, maar soos “vreemdelinge”, en hulle aan die kant van die vyand geskaar en saam met hulle geplunder het.
Die toedrag van sake is natuurlik iets wat ‘n lang geskiedenis gehad het. Jakob en Esau het ‘n voortdurende stryd met mekaar gehad. Die Edomiete wou die Israeliete met die Uittog uit Egipte nie deur hulle grondgebied laat trek nie (Num. 21). Tóg het die Here die Israeliete telkens gewaarsku om nie die Edomiete te verstoot nie, “want hy is jou bloedverwant.” (Deut. 23:7-8). Dieselfde sou uiteraard ook van Edom verwag kon word, maar dit is juis wat nie hier gebeur het nie.
Die Here lig agt: “julle moes nie’s” uit in vers 12-14 wat sy gramskap oor hulle laat ontvlam het. Hulle moes hulle nie:
- verlekker het oor Juda se dag aangebreek het nie,
- verbly het in Juda se leed nie,
- uit die hoogte oor Juda se ellende gepraat het nie,
- Jerusalem se poorte binnegegaan het om te plunder nie,
- verlekker het in Juda se ongeluk nie,
- Juda se besittings geroof het nie,
- Juda se vlugtelinge doodgemaak het nie,
- Juda se oorlewendes uitgelewer het nie.
Die ballingskap was al erg genoeg. Edom moes saam met hulle daaroor gehuil het en gehelp het waar hulle kon. Maar hulle het die ramp wat Juda getref het, nog swaarder gemaak.
Edom se dade sal op sy eie kop afkom. Hulle sal vir hulle verwaandheid en afsydigheid, hulle vermetelheid en liefdeloosheid gestraf word. En dit is ‘n straf wat alle nasies sal tref wat hulle aan God se volk vergryp.
Obadja 17-21 – God gee uitkoms ná die ballingskap
Daar is egter ‘n vierledige hoop vir die Godsvolk ná die ballingskap.
- Die Here beloof dat Jerusalem en Sionsberg weer ‘n veilige hawe vir die Godsvolk sal wees.
- God belowe dat Edom verwoes sal word.
- God belowe dat die hele Isralietiese koninkryk tot sy vorige glorie herstel sal word. Die volk van Jakob staan waarskynlik hier vir die suidryk en die volk van Josef vir die noordryk, hoewel die name, saam met die ander (Efraim, Samaria, Benjamin, Gilead, Kanaän ens.) eintlik net die herstel van hoe dinge was in herinnering roep. Ballinge sal terugkom, nie net van Babilon af nie, maar ook van ander plekke. Die Serafad wat hier genoem word, is waarskynlik Sardis (vandag Izmir in Turkye), een van die plekke (gemeentes) aan wie Johannes ‘n brief in Die Openbaring aan Johannes stuur (Openb. 3).
- God belowe dat Hy die alleen heerskappy sal oorneem. Let op dat dit nie soseer gaan oor die oorwinning van Juda oor Edom as sodanig nie, maar oor die alleen heerskappy van die Here wat gevestig word.
Boodskap
Obadja help ons verstaan dat vermetelheid en verwaandheid – die aartsonde van hoogmoed – die Godsverhouding beduiwel. Waar ‘n mens of ‘n groep mense op eie krag of vermoë of bronne staatmaak sonder die erkenning van God se voorsiening en heerskappy in die lewe nie, dáár beweeg ‘n mens op gevaarlike grond.
Obadja help ons ook verstaan hoe ‘n mens optree as iemand of ‘n groep mense in ellende kom. Dit maak nie regtig saak of dit deur hulle eie toedoen was of nie. In hierdie geval het Juda inderdaad hulle verdiende loon ontvang met die ballingskap, maar dieselfde perspektief sou geld as die rampe onverdiend sou wees. ‘n Mens is nie leedvermakerig en verlekker jou in die pyn van ander nie, selfs al is dit welverdiend, en selfs al doen jy dit agteraf of in die geheim nie. Veral nie as die mense “broers” en nie “vreemdelinge” is nie.
‘n Mens kan nie anders as om te dink aan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan waar Jesus die “vreemdeling” gebruik om die wetgeleerde te oortuig om sy naaste lief te hê soos homself (Luk. 10). Hoeveel te meer moet “broers en susters” dit nie vir mekaar doen nie.
View all posts in this series
- Obadja – God straf verwaandheid en afsydigheid - February 25, 2015
- Ek eis barmhartigheid, selfs wanneer ek oordeel - August 2, 2020