Skip to main content

Jona 1:17-2:10 – God stuur ‘n groot vis, maar die Here red Jona na gebed

prayer-shawlWeereens moet ons kyk na die uitmuntende literêre karakter van hierdie Psalm van Jona. Daarin lê alreeds die diep dinge van God in opgesluit. Hierdie gebed van Jona openbaar nie net wie God is nie, maar veral ook wie Jona is, in die aannames wat opgesluit lê in sy pleitrede tot God. En in die antwoord van die “groot vis” lê ook weer nie net ‘n ware kykie in wie God is nie, maar ook wat sy plan is met die wêreld. Dit kan jou lewe verander deur dié teologiese visie op God te omarm!

Taal en simboliek

Om die taal en simboliek van Jona se gebed te verstaan, moet ons eers weer terug gaan na die wêreld agter die teks, spesifiek die wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste.

Die mense van die tyd het die wêreld gesien as bestaande uit drie verdiepings: die hemel, die aarde en die onderwêreld. In die hemel daarbo was daar ’n aantal pakkamers, stoorplekke, agter die uitspansel (Gen 1:7). Daar is sneeu en hael weggebêre (Job 38:22) en wind (Ps 135:7). Elke stoorplek het ’n sluis gehad waardeur die inhoud na die aarde toe kon kom (Gen 7:11-12). Die hemel self het op pilare gerus wat op die aarde gegrond was (Job 26:11), terwyl die aarde weer op pilare gerus het wat in die onderwêreld gegrond is (Job 9:6). Die onderwêreld het hoofsaaklik bestaan uit ’n watermassa wat baie diep is (Gen 7:11) en wat deur riviere gevoed is (Ps 24:2). Dit was na dié onderwêreld waarheen die dooies gegaan het en waar hulle in die vergetelheid geraak het. Soms is die onderwêreld sommer kortweg die “put” genoem.

In Jona se gebed word beelde uit dié voorstellingswêreld gebruik. Natuurlik is dit deels ‘n digterlike beskrywing en deels ‘n werklike beskrywing. Hy sien die fondamente van die berge, hy sak af in die diepte van die see, die watermassa het hom omring, die golwe het oor hom gespoel en die waters het hom toegevou. Hy was dus in die doderyk.

Maar, vertel hy, God het hom uit dié put opgetrek. Daarvandaan het God hom gaan haal. En om dit te kon doen, móés daar ’n vis wees om hom te gaan haal.

Interessant is dat daar ’n Sumeriese mite is waar die tyd wat dit neem om ná en ván die doderyk te reis ook drie dae en drie nagte is! Net soos die verhaal van Jona dit vertel.

Hoe dit ook sy, in dié proses van afdaal na die fondamente van die wêreld bid Jona. Hy hef ’n danklied (toda) aan.

Die opbou van sy gebed

Die gebed is baie kunstig opgebou:

  • Eerste strofe – Vers 2: Die gebed begin met ’n skets oor die omstandighede wat tot die gebed aanleiding gegee het; ’n bekende eerste element in ’n danklied.
  • Tweede strofe – Vers 3: Dit beskryf in pragtige taal die spesifieke nood waarin Jona verkeer het: sy nood in die see en die onderwêreld, golf na golf wat oor hom gaan.
  • Derde strofe – Vers 4: Maar nieteenstaande die nood is daar tog die versekering dat die Here sal red en dat Jona weer in die tempel sal kan aanbid, sy Joodse ideaal sal bevestig.       Daarin sien ’n mens alreeds weer sy eksklusiewe Joodse interpretasie van die gebeure.
  • Vierde strofe – Vers 5–6a: Die vierde strofe is parallel aan die tweede strofe (vers 3) en skilder weer sy noodsituasie in die onderwêreld. Hierdie strofe verdiep, inhoudelik sowel as metries, die gedagtegang van strofe twee. Volgens die laaste reël van hierdie strofe is alles verby, want die deur van die doderyk is agter hom gegrendel, en dit is die plek van waar af niemand terugkom nie.
  • Vyfde strofe – 6b–7: Maar dan breek die versekering van God se redding weer deur. Die inhoud van hierdie strofe is weer parallel aan strofe drie (vers 4) en verdiep weer eens die gedagtegang daarvan. Net soos strofe drie eindig dit met die woorde: u heilige tempel, wat weereens die ideaal van Jona dra, dat God se teenwoordigheid net in Israel bekend sal wees.
  • Sesde strofe – 8-9: Die laaste strofe sluit die psalm af met ’n belofte om God te dank deur ’n offer aan Hom te bring, en met ’n belydenis dat hulp net van die Here af kom. Heel ironies word ook verklaar dat die heidene op nuttelose afgode vertrou en Hom verlaat wat liefde aan hulle betoon. Is dit dan nie wat Jona self ook gedoen het nie, God verlaat het en sy wil versaak het nie?

Interpretasie van sy gebed

Bely Jona sy skuld?

Nou normaalweg sou ’n mens ’n toda aanhef as jy ’n skuldbelydenis gedoen het. Sou Jona sy skuld voor God bely het?

Sommige mense vertolk dit so en hulle verwys na die vroulike woord vir vis (daga) in vers 1 en wys op Jona wat sê dat hy uit die “skoot” van die doderyk terug gekom het, so amper ’n wedergeboorte.

Maar die gebed self vertel ’n ander verhaal.

Twee elemente van sy gebed staan uit:

  • Die fokus op die tempel in strofe drie en vyf (vers 4 en 7 wat parallel loop): Jona sê dat hy weer in die tempel vir God sal loof en dat dít ook die plek is waar God hom gehoor het, in sy heilige tempel, dws in Israel. Daaruit kom ’n mens agter, dat Jona dink God het op ’n manier sy sienswyse gesanksioneer, en dat dít die rede is waarom hy gered is en dat hy ná die Nineve episode sal kan terugkeer huis toe en dat alles dan weer normaal sal wees. Nineve is sy glorie, en Israel bevestig as volk van God!
  • Die vergelyking wat Jona tussen homself en ander tref in terme van hulle Godsdiens: ook in strofe vyf (vers 6b-7): Hy vergelyk hom met dié wat op nuttelose afgode (hevel – ydeles) vertrou en maak asof hy al die tyd op God vertrou het en nie soos hulle was nie. Hallo!       Het Jona só gou vergeet van die matrose wat tot bekering gekom het en hom in die skadu gestel het in die eerste hoofstuk! Dit is eintlik die toppunt van arrogansie en ’n hele waninterpretasie van die hele gebedsverhoring!

’n Belydenis? Blykbaar nie!

Jona, die groot heroïese held wat bereid was om te sterwe vir sy eksklusiewe siening van God, sy Hebreërtrots, word maar net baie klein wanneer die oomblik aanbreek dat hy moet sterf. Daarom bid hy. Maar die oomblik as God begin om sy gebed te verhoor, dan slaan sy eie idee van wat aan die gang is, en wat nie, maar weer deur!

Waarom red God dan vir Jona?

Waarom red God dan vir Jona? Oor sy gebed? Nie noodwendig nie. God red hom omdat Jona se lewe belangriker was vir die saak van God as die saak waarvoor Jona bereid was om te sterwe.

Jona dink dat sy redding uit die kake van die dood sanksie verleen aan sy eie skeefgetrekte ideale. En ons sal dié sluimerende idees nog ten volle geopenbaar sien wanneer Jona vir God kwaad raak omdat Hy sy oordeel afwend as die Nineviete tot bekering kom. Maar Jona maak ’n fout! Hy interpreteer sy redding as sanksie van sy idees, maar die verhaal sal nog die waarheid hieroor aan hom en ons openbaar. Gee maar net tyd!

God red dus vir Jona omdat dit inpas in Sý plan met Jona, en veral met Sy plán met Nineve.

Boodskap

1. Wat leer ons van God?

God sanksioneer nie ons ideale nie!

Dit is ontnugterend om dié boodskap te moet verteer! Ons dink baie keer dit is so eenvoudig om ons eie lewens en God se rol daarin te interpreteer. Ons pas alles soos ’n legkaart netjies in mekaar. As sekere goed gebeur, dink ons die Here het ons gebed verhoor om dié of daardie rede. En as dit beter met ons gaan as met ander, dan voel ons God kies ons uit bó en ten koste van ander. En ons voel dan dat God óns projekte of óns planne gesanksioneer het. Dit is só maklik om dan te dink dat God sy seël daarop geplaas het.

En niks is verder van die waarheid nie!

Dit is ook op ’n breë vlak waar. Só het my kerk, die NG Kerk, ook vir 40 jaar die beleid van apartheid gesanksioneer uit die Bybel. En uit die voorleggings van teoloë wat ons blindelings vertrou het – of miskien was dit nie so blindelings nie, dit het ons miskien net te goed gepas – en uit die voorspoed in ons land het ons afgelei dat God dit ook gesanksioneer het. En moes ons uiteindelik bely dat ons verkeerd was en die Bybel verkeerd gelees het. Tot groot skade van mense en tot groot skade van die evangeliese boodskap. Mense kon God nie so duidelik raaksien vanweë ons volksideale nie.

Dit pas ons om maar versigtig te wees met ons interpretasies. Om dit versigtig en met oorleg en in die gemeenskap van ander gelowiges en met in ag neming van die hele gemeenskap van gelowiges, ook dié van ander tradisies se interpretasies, en oor tyd te doen, dit wil sê in ’n voortgaande proses.

2. God voorsien volgens sy eie plan

Maar daar is ook ’n troos in God se voorsiening vir Jona opgesluit. Maar dit is nie ’n troos soos wat ons soms graag wil hê nie. Die troos is dat God altyd gebede sal beantwoord, soos dit sy plan pas!

En ek verwys julle na ’n paar gebede in die Bybel wat op dieselfde wyse beantwoord is:

  • Moses kon gedink het dat as hy net lank genoeg vra dat God hom die roeping moet spaar om die volk uit Egipte te lei, dat God iemand anders sou kies. Veral toe God vir Aäron gee om namens hom die praatwerk te doen. Maar van die roeping kon hy nie loskom nie.
  • Paulus het ’n doring in die vlees gehad, niemand weet presies wat nie, maar dit was ’n ernstige probleem vir hom. Die Here antwoord sy gebed, maar nie deur vir hom te gee wat hy gevra het nie. “My genade is vir jou genoeg”.       God gee nie wat hy vra nie, sodat hy nie in ’n situasie sou kom waar hy nie meer op God se genade sou vertrou nie.
  • En so kan ’n mens Jeremia opnoem (ek is te jonk) en Gideon (ek is te swak). God antwoord beide deur hulle te bemagtig om te doen wat Hy van hulle vra.

3. Hoekom red God dus vir Jona?

  • uit genade,
  • om hom te leer, en
  • om hom by sy roeping uit te bring.

Jona het geleer dat dit onmoontlik is om van God se opdrag af weg te vlug. Sy ongehoorsaamheid het byna in ’n tragedie geëindig waarin onskuldige mense hulle lewens kon verloor. Maar danksy God se almag oor die ganse skepping en die feit dat Hy ook hierdie mag aanwend tot die behoud van menselewens, is die matrose en Jona gered. Dit dra die boodskap aan ons dat God se mag oor die hele skepping geld en deur niks aan bande gelê kan word nie.

Juis daarom kan sy mag al ons noodsituasies in reddingsgebeure verander.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jona


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.