Skip to main content

Miga – God heers nou en vir altyd

Inleiding

prayer-shawlDie profeet Miga – jonger tydgenoot van Jesaja, en die eerste geslag ná die vroeëre profete Jona, Hosea en Amos – was van Moreset, 40 km suid-wes van Jerusalem. Hy was dus een van die Judese profete. Hy tree oor ‘n lang tydperk van ongeveer 50 jaar op in die tyd van drie van die Judese konings: Jotam (752-736 v.C.), Agas (736-716 v.C.) en Hiskia (715-686 v.C.), hoewel hy sowel die noordelike ryk (Samaria) as die suidelike ryk (Jerusalem) aanspreek (1:1). Sy boodskap het ook beslissende implikasies vir die nasies van die hele aarde (1:2; 4:1; 5:14).

Die boek Miga, sesde in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, verkondig die noodsaak om die genadige God – soos Jona dit verwoord – se heerskappy te erken, want dieselfde oordeel wat Jona oor Nineve uitgespreek het, sal ook oor Israel en Juda voltrek word, as hulle hul nie tot die Here bekeer nie. Wat vra die Here immers anders van hulle: “as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?” (Mig. 6:8). God verwag immers nie soseer getrouheid in die nakoming van godsdienstige rituele nie, maar getrouheid in ‘n gehoorsame lewenswyse.

Soos die boek Amos, veroordeel Miga sowel sosiale ongeregtigheid (oneerlike handelaars, leiers wat omkoopgeskenke verwag) as wanpraktyke op godsdienstige gebied (niksseggende godsdienstige rituele). Hy vat ook die vals profete aan sowel as die profete wat net op winsbejag uit is. Dit is ook duidelik dat die agtergrond van sy boodskap van oordeel en verlossing in die verbondsbeloftes van die strawwe en seën van Deuteronomium 28-30 begrond is.

Miga voorspel duidelik die val van Samaria en die noordelike ryk wat ‘n paar dekades na hy begin optree het – in 722 v.C. – plaasgevind het (1:6: “Daarom sal Ek van Samaria ‘n puinhoop maak, ‘n stuk veld vir die aanplant van wingerd. Ek sal haar klippe in die vallei laat afrol, haar fondamente blootlê.”) sowel as dié van Jerusalem en die suidelike ryk in 586 v.C., hoewel dit eers amper twee eeue later gebeur het (3:12: “Daarom, deur julle toedoen sal Sion ‘n omgeploegde veld word; Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg oorgroeide heuwels.”).

Tog skets Miga ook hoop vir die toekoms, selfs in ballingskap (4:10), met ‘n visie van ‘n nuwe koning (5:1 vv.) en ‘n terugkeer na God wat uiteindelik alle nasies sal insluit (4:1-7), ‘n visie wat dié van Jesaja 2 eggo. Geen wonder dat hy ‘n reuse rol gespeel het in die geskiedenis van Juda nie, soveel so dat toe ‘n profesie van hom aangehaal word om Jeremia se lewe te probeer spaar, koning Jojakim nie anders kon as om daaraan gehoor te gee nie. Vergelyk Miga 3:12 (hierbo aangehaal) wat die leiers van die land in Jeremia 26:17-19 aanhaal om die koning te oortuig. Lees meer in my bydrae oor Jeremia 26 – Jerusalem sal soos Silo verwoes word.

Miga het ook die onderskeiding dat die skrifgeleerdes in die tyd van Herodes uit Miga 5:1 aanhaal om te bevestig dat die Messias in Betlehem gebore sal word (Matt. 2:5-6). Sy profesieë het dus duidelike Messiaanse trekke bevat, reeds 7 eeu voor die Here Jesus Christus se geboorte.

Indeling

Die boek wissel tussen profesieë van oordeel en verlossing. Ons gaan dit as volg lees:

  • 1:1-3:12 – Die Here beplan ‘n ramp teen die volk en hulle leiers
  • 4:1-5:14 – Die Here bring verlossing vir die hele wêreld onder sy heerskappy
  • 6:1-7:20 – Die Here bring redding vir dié wat Hom vertrou

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Miga


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms