Inleiding op die briewe van Johannes
Ek het begin deur die evangelie van Johannes by www.Bybelskool.com te lees, dit opgevolg met die Openbaring aan Johannes en voltooi nou die fokus op die bydrae van die apostel Johannes met die briewe van Johannes.
Die skrywer Johannes
Vyf boeke/briewe in die NT word aan Johannes toegeskryf: die evangelie van Johannes, die drie briewe van Johannes en die Openbaring aan Johannes. Dié verbintenis aan Johannes is nie net omdat die historiese getuienis van die kerkvaders daarop dui nie (Irenaeus, Klemens), maar ook omdat daar groot onderlinge ooreenkomste in die vyf boeke se taal, styl en beelde aangetoon kan word.
Om die waarheid te sê, die drie briewe van Johannes kan die beste verklaar word wanneer dit saam met die evangelie van Johannes gelees word en uit daardie hoek verklaar word, bv. die klem op die Inkarnasie (vgl. Joh. 1 met 1 Joh. 1) en die liefde (vgl. Joh. 13 met 1 Joh. 3). Dieselfde geld die Openbaring aan Johannes waar unieke Johannese beelde gebruik word: Jesus as die Woord (Logos – Joh 1:1; Open 19:13), die Lam (Joh 1:29, 36; Open 5:6-13 en nog verskeie ander plekke), en die Herder (Joh 10:1; Open 7:17).
Hoewel daar dus ook verskille is (in die evangelie van Johannes word die woord amnos en in die Openbaring die woord arnion vir Lam gebruik) is die ooreenkomste genoeg dat dit waarskynlik is dat al vyf boeke uit die pen van dieselfde skrywer of ten minste redaksie-skool afkomstig is (Du Rand).
Ek aanvaar dus dat die apostel Johannes, een van die seuns van Sebedeus (Mark 1:16-20), die sogenaamde “seuns van die donder” (Mark 3:17), die skrywer van dié drie briewe is, hoewel sy naam nie as skrywer genoem word nie. Hy noem homself net die “oudste” of “ouderling”(presbuteros) in die tweede en derde brief. Die eerste brief het nie eers dié verbintenis nie, hoewel dit tegnies natuurlik ook nie eintlik ’n brief was nie, vandaar die weglating.
Die eerste “brief” van Johannes het nie ’n aanhef of slot nie, soos dit gebruiklik in ’n brief was nie, waarskynlik omdat dit gerig is aan die gemeenskappe waar hy direk leiding gegee het en dit nie nodig was om dit as ’n brief te verwoord nie. Die situasie was anders met die tweede en derde brief, omdat die tweede gerig was aan die leier (“uitverkore vrou”) van ’n gemeente of huiskerk en die derde aan Gaius, ’n vriend van Johannes. Die eerste brief van Johannes was dus waarskynlik meer soos ’n geskrewe preek as ’n brief.
Die boodskap van die eerste brief van Johannes
Die eerste brief van Johannes bemoedig die geloofsgemeenskap – waarskynlik in Efese, soos die tradisie dit aan ons voorhou – om getrou te bly aan die inhoud van hulle geloof, Jesus Christus, sowel as aan die tipe praktiese lewenstyl wat daaraan uitdrukking gee. Die impak daarvan word verhoog deurdat dié boodskap deur ’n bejaarde en geliefde leermeester, Johannes, aan hulle oorgedra word, iemand wat nie net persoonlik die pad van die begin af met die Leermeester, Jesus, gestap het, maar regdeur sy lewe daaraan getrou gebly het en uiteindelik self verbanning na die eiland Patmos ter wille van sy geloof sou moes verduur.
Johannes se primêre lering lê in drie foci – die Goddelike geheim van die Inkarnasie, die belang van die praktiese liefde vir mekaar en die oproep tot ’n volhardende nee-sê vir die sonde (gebaseer op Gordon Fee se ontleding):
- Hy wil hulle verbeelding stimuleer met die klem op die vleesgeworde Woord, die Goddelike geheim van die Inkarnasie van die Woord in Jesus Christus – veral hfst. 1 in aansluiting by sy evangelie se proloog (Joh. 1), maar ook in hfst. 2:20 vv in terme van die leiding van die Heilige Gees, en die laaste twee hoofstukke, 4-5, se Trinitariese begronding daarvan in die liefde.
- Hy wil hulle aanmoedig om hulle liefde vir God te laat oorspoel in ’n praktiese liefde vir mekaar as geloofsgemeenskap – veral hfst. 3-4 waar op reinheid, liefde vir mekaar en ’n goeie gewete voor God gefokus word, maar ook reeds in hfst. 2 waar die liefde vir mekaar aan die liefde vir God verbind word.
- Hy wil hulle aanmoedig om as kinders van God in gemeenskap met Jesus Christus te lewe sodat sy bloed hulle van elke sonde kan reinig – reeds hfst. 1, maar ook in hfst. 2-3 met die klem op die Voorspraak in Christus en die praktiese kant van die geloofslewe, en hfst. 5 oor die volhardende nee-sê vir die sonde.
Daarmee wil Johannes hulle help om aan God verbind te bly. Hy is na alles die geheim van die geestelike lewe. Hy wil hulle ook help om op ’n baie praktiese vlak by mekaar betrokke te raak. Dit is hoe die geestelike lewe ’n verskil maak in hierdie wêreld. Hy wil hulle ook help om sterk te staan teen die verleiding van die sonde. Deur die volhardende nee-sê vir die sonde word hulle van die houvas van die duiwel bewaar.
Dié boodskap was nodig weens die invloed van valse profete wat steeds ’n impak in die geloofsgemeenskap gehad het, al het hulle intussen die gemeente verlaat (“Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie … dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.” – 2:19). Die vals profete het wel aanspraak gemaak op inspirasie deur die Gees (4:1), maar kon getroef word deurdat elke kind van God deur die Gees van God gelei word (2:20), en die valsheid van hulle leringe dus uitgewys kon word deur elkeen wat hulle indringend ondersoek het (4:1-6).
Ons weet nie regtig wat dié leringe was nie, maar kan aflei uit die boodskap van die brief self, dat dit dinge moes insluit soos:
- die ontkenning van die Vleeswording van Jesus (Gnostiese dwaling),
- die ontkenning dat daar op ’n praktiese vlak uitgereik moet word na dié in nood en
- die ontkenning van die krag en invloed van sonde.
Gebruik ook direkte vertalings van die Bybel
Ek het nou al baie geskryf oor hoe ons die Bybel moet lees. Dit is God se Woord aan ons en ons moet sorg dat ons tot rus kom voor Hom (daily examen), die Bybel toelaat om ons lewe aan te raak deurdat ons dit “geestelik” lees (lectio divina) en prakties gaan doen wat die Woord van ons vra (practicing the presence of God).
Dit is egter ook belangrik watter vertaling ons gebruik om die Bybel te lees. Dit is goed om ’n verskeidenheid van vertalings te lees en ons kan baie leer uit die verskillende vertalings perspektiewe.
Maar, iets soos die Amplified Bible, of The Message van Peterson, of die N.A.V. wat op ’n dinamiese interpretasie van die grondteks berus, moet altyd aangevul word deur vertalings wat getrouer die grondteks weergee, sodat ’n mens meer met die teks self werk, as met die interpretasie van die vertalers – al is hulle ook hoe goed.
Ek gebruik daarom self toenemend die nuwe “Direkte Vertaling” van die Bybel waarvan volgende jaar in 2014 ’n eerste proefvertaling van die NT en die Psalms uitgegee gaan word. Ek sien baie uit na dié publikasie omdat dié vertaling nie net in keurige Afrikaans gedoen is nie, maar die Hebreeuse, Aramese en Griekse bronteks vir die gewone leser baie meer toeganklik gemaak word.
Een van die besondere waardes van dié vertaling vir die gewone leser is dat die vertaling se presiese woorde ook onderling in die Bybelboeke vergelyk kan word. As daar bv. in die Afrikaanse Bybelteks van Daniël “openbaring” staan, dan is dit vergelykbaar met elke ander plek in die Afrikaanse teks waar dié woorde voorkom, soos bv. in die evangelies of in die boek Openbaring. Dieselfde met konsepte soos “gelowige”. Oral waar jy dié woord in die Afrikaanse Bybelteks lees, kan jy maar weet, word dit op dieselfde manier in die bronteks aangebied. Dit is nie altyd moontlik met die meer indirekte of dinamiese vertalings nie.
Hierdie direkte aanpak bring ’n konsekwentheid in interpretasie wat regtig onontbeerlik is vir die gewone leser en dit help enige Bybelse teoloog om met baie meer integriteit die boodskap van die teks te interpreteer.
Ek wil dus voorstel dat jy in jou leeswerk van die briewe van Johannes ook na dié vertalings kyk. Hier is die skakels daarheen sodat jy dit kan aflaai en in jou leeswerk gebruik:
Wat is ’n direkte vertaling?
Hier is ’n bietjie meer inligting oor direkte vertalings wat jy by die webtuiste http://nuwekerkbybel.co.za kan kry waar ook al dié afgehandelde tekste te vinde en te lese is. Hulle skryf:
‘n “Direkte” vertaling is ‘n tegniese term wat ontleen is aan die begrip “direkte rede”. Wanneer ‘n spreker se woorde “direk” aangehaal word, impliseer dit die spreker se presiese woorde.
‘n Direkte vertaling streef daarna om die bronteks van die Bybel op so ‘n manier te vertaal asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se woorde “direk” aangehaal word, maar dan asof gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans gepraat/geskryf word.
So ‘n “direkte” vertaling staan teenoor ‘n “indirekte” vertaling wat geen aanspraak daarop maak dat die presiese woorde van ‘n spreker/skrywer aangehaal word nie.
Dit beteken nie dat vorige vertalings nie ook getrou aan die bronteks wou wees nie, maar die huidige vertaling streef daarna om alles wat kenmerkend is van die bronteks (styl, register, struktuur, metafore) in goeie Afrikaans weer te gee.
Indeling
Ons lees die 5 hoofstukke van die eerste brief van Johannes hierdie week, ’n hoofstuk ’n dag, en die ander 2 briewe, saam met die brief van Judas, op dieselfde wyse volgende week. Ons sluit dus volgende Woensdag vir die jaar. Volgende jaar begin ons met die evangelie van Matteus.
View all posts in this series
- Inleiding op die briewe van Johannes - November 17, 2013
- 1 Johannes 1 – Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde - November 18, 2013
- 1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld - November 19, 2013
- 1 Johannes 2:28-3:24 – Kinders van God doen wat reg is en het mekaar lief - November 20, 2013
- 1 Johannes 4 – Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle - November 21, 2013
- 1 Johannes 5 – Geloof is die getuienis van God se werk in ons lewe - November 22, 2013
- Geloofsekerheid - June 25, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Andre du Plessis
More , Ek wil net hulp he , ek is besig met die briewe van Johannes . In die inleiding van 17 Nov 2013 is daar verwys na n ander vertaaling wat beskikbaar is en dat dit afgelaai kan word .. Maar as ek ingaan dan kry ek net n Vodacom advertensie…… Wat doen ek verkeerd .. Help ASB …………….. Dankie Andre
Chris van Wyk
Hi André, miskien is dit maar net jou selfoon of router se Vodacom blad wat opkom. Probeer hierdie skakel wat jou direk na die vertalings neem: http://nuwekerkbybel.co.za/index.php/proefvertalings