1 Johannes 4 – Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle

Johannes vervolg in hierdie hoofstuk met:

  • ’n diepsinnige verduideliking van die werk van die Heilige Gees om ons van Jesus se God-mens natuur te oortuig, ’n tema wat hy reeds in die laaste vers van hoofstuk 3 aangeraak het, wat ons help om te onderskei tussen die waarheid en die dwaling – vers 1-6.
  • Dan keer hy terug na die tema van die liefde, nie net omdat dit deel van die onderskeidingsproses van dié dinge waarop dit regtig aankom in die lewe is nie, maar omdat hy die geloofsgemeenskap ook dieper in die waarheid van God se inwoning in ons wil inlei – vers 7-21.

Die oortuiging dat Jesus God-mens is, help ons onderskei tussen die waarheid en die dwaling – vers 1-6

Johannes wil verseker dat elke kind van God kan onderskei dié dinge waarop dit regtig aankom.  Veral met die invloed wat die leringe van valse profete in die gemeente kan hê.  Hy gee dus ’n maatstaf aan die hand waarvan tussen die waarheid en die dwaling onderskei kan word: dit is hoe mense oor Jesus dink.  Waar mense Jesus se Goddelike natuur saam met sy menslike natuur erken, kan ’n mens die gees van die waarheid herken.  Waar enige een van dié twee nature ontken word, kan ’n mens die gees van die dwaling herken.

Daarom moedig hy gelowiges aan om nie maar net enigeen se “evangelie” op sigwaarde te aanvaar nie, maar dit te toets aan dié sentrale maatstaf: hoe oor die God-mens Jesus gedink word.  Elkeen wat bely dat Jesus Christus as mens gekom het, is uit God. Elkeen wat dit nie doen nie, adem die gees van die antichris.

Daarom hoef gelowiges ook nie vreesagtig te wees oor verkeerde leringe hieroor nie, want “Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is.”  Uit die oortuigings oor Jesus kan gelowiges ook agterkom wie saam met hulle “uit God” is en wie nie.  Dit bring sekerheid en oortuiging.

Dit laat ’n mens besef dat die onderskeid tussen die waarheid en die dwaling nie in ons perspektiewe oor randkwessies lê nie – hoe ons oor allerlei dinge in die kerk of die wêreld dink nie.  Die spilpunt waarom alles draai, is die oortuigings oor Jesus, nie eers in die eerste plek oor die Vader of die Heilige Gees nie, maar oor Jesus.  Hy is óf die Een wat God en mens bymekaarbring, óf nie.  Alles hang af van wat ons daaroor dink.  Hy bring ons in kontak met God die Vader.  Hy gee ons die salwing van die Heilige Gees.  Hy moet dus ook die fokus van ons geestelike lewe wees.

Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle – vers 7-21

Dat Jesus Christus die geheim van die geestelike lewe is – beide in terme van die onderskeiding tussen ware en valse leringe as in terme van die gemeenskap met God die Vader en die Heilige Gees – word nou nog dieper uitgespel as iets wat in die liefde gestalte kry.

Hoe Johannes hier te werk gaan, is baie diepsinnig.  ’n Mens kan die fokus op Jesus (vers 1-6) eintlik vertaal en verstaan as ’n fokus op die liefde (vers 7-21), want die liefde is uit God, soos Jesus ook uit God is.  Die diepste motivering vir ons liefde vir mekaar, kom dus ook van hierdie punt af.  Dit is omdat Jesus die liefde “uit God” is, dat ons ander kan liefhê.  Soos ons al hoe meer in God bly en diep van God se liefde in Jesus bewus word, bly ons nie net in die liefde nie, maar raak dit ook al hoe meer ‘n werklikheid dat dié liefde in ons bly.  Soos ons dus die fokus is van God se liefde, soos Jesus God se gawe aan ons is, só word medegelowiges die fokus van ons liefde en word ons God se gawe aan hulle.

Ons ken God dus eintlik ook net in dié mate wat ons die liefde ken.  Dit gaan nie net in ons teologie – ons Godskennis – oor die inhoud daarvan nie, hoe belangrik dit ook al is, maar ook oor die verhouding wat met Hom en mekaar tot stand kom.  Ons groei in kennis is dus nie net inhoudelik van aard nie, maar ook relasioneel.  Ons groei in Godskennis as ons groei in die liefde en omgekeerd.  Soos ons groei in die liefde, só groei ons in ons kennis van God.

Hierdie liefde van God is op sy beste geopenbaar in die gawe van God se “eniggebore Seun” sodat ons deur Hom kan lewe.  Dit is daarom ook nie óns liefde vir God wat die deurslag gee in ons verhouding met Hom nie, maar Sý liefde vir ons.  Dié liefde het ’n plan gemaak met ons sonde, deurdat Jesus die soenoffer daarvoor was en ons in ’n verhouding met God gebring het.

As God dus dít vir ons gedoen het, het ons ’n onvervreembare roeping om op dieselfde wyse ons medegelowiges lief te hê.  So raak God se liefde nie net volmaak in ons nie, maar raak God sigbaar vir mense rondom ons, want wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle.  So eenvoudig maar ook so diep as dit is die geestelike lewe.

Hierdie groei in die liefde gee ons ‘n dieper besef van die Gees se werking in ons.  Hierdie groei in die liefde gee ons die vrymoedigheid vir die oordeelsdag.  Dit laat ons sonder vrees en huiwering lewe.  Dit laat ons liefhê sonder enige terughouding.

Johannes sluit af met die herhaling van sy waarskuwing: as jy nie jou medegelowiges liefhet nie, dan bewys jy daarmee dat jy God ook nie liefhet nie.  Jy kan nie die onsigbare God liefhê, as jy nie jou sigbare medegelowige lief het nie.  “Wie God liefhet, moet ook sy broer en suster liefhê.”

1 Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: