Skip to main content

1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld

Johannes het nou sy teologiese onderbou gegee met hoofstuk een se fokus op die God-mens Jesus, en dit prakties toegepas in terme van die leef in die lig van God binne die gemeenskap van gelowiges. In hoofstuk twee werk hy nou die etiese implikasies hiervan verder uit.  Hy beklemtoon:

  • dat gelowiges nie moet sondig nie, al het ons Jesus Christus as Voorspraak – vers 1-2;
  • dat die liefde van Jesus in ons volmaak moet word deur elke medegelowige lief te hê – vers 3-11;
  • dat die liefde van God die Vader in ons moet bly eerder as die liefde vir die wêreld – vers 12-17;
  • dat die salwing van die Heilige (Gees) ons moet help om die antichristelike gees te onderskei – vers 18-27.

Jesus Christus is ons Voorspraak – vers 1-2

Hierdie twee verse hoort tegnies eintlik by die eerste hoofstuk, omdat dit ’n handige opsomming gee van wat Johannes van die gemeente vra.  Hulle moet as geloofsgemeenskap wandel in die lig van God en van elke sonde gereinig word.  Sy doel is dus om hulle aan te moedig om rein lewens te leef en as hulle dan tog wel in die sonde val, het hulle Jesus Christus as Voorspraak by God die Vader.  Jesus is die eerste Voorspraak by God die Vader.  Die Heilige Gees die tweede (Joh. 14:16, 26; 15:26; 16:7).  Let op dat Jesus ook die Regverdige genoem word, die een wat reg aan God en aan ons laat geskied.

Johannes beskryf Jesus vêrder as die soenoffer of versoening vir ons sondes, trouens, nie net vir ons sondes nie, maar vir dié van die hele wêreld.  Johannes gebruik die woord kosmos om die wêreld in sy afvalligheid te beskryf en bedoel hier dat Jesus se versoening die hele geskape wêreld, die heelal, in die oog het en dat sy offer genoegsaam is om vir alles versoening te doen.

Om elke medegelowige met die liefde van Jesus lief te hê – vers 3-11

Let op die Trinitariese karakter van hierdie volgende drie perikope.

  • Vers 3-11 sentreer om die liefde van Jesus.
  • Vers 12-17 sentreer om die liefde van God die Vader.
  • Vers 18-27 sentreer om die salwing van die Heilige Gees wat onderskeiding bring.

Om Jesus Christus te ken, is om sy liefde te ken, ’n liefde wat nie net vir jouself bedoel is nie, maar vir almal.  Dit beteken dat elke medegelowige met die liefde van die Here Jesus liefgehê moet word, soos Hy immers vir ons die voorbeeld gestel het. Indien jy dus aanspraak maak daarop dat jy God ken, móét jou lewe die liefde van God vertoon. Anders is dit ’n valse aanspraak.

Wanneer ons dus ons medegelowiges nie liefhet nie, is die liefde van Jesus nie in ons nie.  Wanneer ons wel elke ander medegelowige liefhet, het die liefde van die Here Jesus in ons volmaak geword.  Trouens, daaruit kom ’n geweldige versekering dat ons inderdaad Hom nie net ken nie, maar deel is van Hom.

Dit is wat dit beteken om in die lig te lewe.  Wie sy broer of suster liefhet, bly in die lig en het die belofte dat dit struikeling voorkom, ’n geweldige versekering wat die Here ons gee.  Dié wat egter hulle broer of suster haat, verloor rigting in die lewe, omdat hulle in die duisternis wandel.

Om in die liefde van God die Vader te bly eerder as in die liefde vir die wêreld – vers 12-17

Vers 12-14 is baie digterlik geskrywe, met twee beskrywings elk van die kinders, vaders en jongmense, hoewel by die herhaling van die beskrywing van die vaders daar moontlik iets uitgeval het.  Die ander beskrywings is almal byvoegings of uitbreidings.

Hierdie drie groepe kan volgens sommige verwys na vlakke van groei in die geestelike lewe.  Ander dink dat die term kinders eintlik op die hele gemeente dui en die vaders en jongmense op ouer en jonger gemeentelede.  Nóg ander dink dat ook dat die kinders op die hele gemeente dui, maar dat die vaders en jongmense op ouderlinge en diakens dui.  Ek is geneig om myself te vind in die tweede groep geleerdes se mening, dat die vaders en jongmense met ouderdom te make het.

Drie sake word hier in die beskrywings van die gemeente beklemtoon: hulle vergifnis, hulle oorwinning oor die duiwel deur die woord van God wat in hulle bly, en hulle lewegewende kennis van God.

Dit noop Johannes om hulle te vra om nog dieper aan die Here gehoorsaam te word deur in die liefde van die Vader te bly, sodat hulle nie deur die liefde vir die wêreld en die dinge van die wêreld – die liggaamlike begeertes (begeertes van die vlees), die begeertes van die oë en die gesteldheid op besit – van hulle verhouding met God verlei sou word nie.  Die dinge van die wêreld is verganklik en gaan verby.  Die dinge van God bly vir ewig en dié wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Johannes raak hier wêreldse versoekings aan wat regdeur die eeue ’n uitdaging vir die geloofsgemeenskap sou wees.  Soos dit deur sommige uitgedruk is: die versoekings van hoogmoed (pride) wellus (lust), en gierigheid (greed), dinge wat ’n mens in Johannes se woorde kan hoor. Hiervan moet die gemeente gereinig word, maar belangrik, deur ’n fokus op die liefde van God die Vader wat in hulle moes bly.  Deur sy wil te doen, sou hulle die suigkrag van die wêreld kon ontkom.

Om die antichristelike gees te onderskei deur die salwing van die Heilige Gees – vers 18-27

Hoewel Johannes nie die woord Heilige Gees hier in die oorspronklike teks gebruik nie, is dit duidelik dat die Heilige Gees hier bedoel word.  Letterlik staan daar: “En júlle het die salfolie vanaf die Heilige …” (vers 20).  Die Heilige is ook ’n titel wat vir die Here Jesus gebruik word (Joh. 6:69; Luk. 1:35; 4:34; Mrk. 1:24) en die salfolie ’n simbool van die Heilige Gees.  ’n Mens moet die teks dus só verstaan, dat die Here Jesus die gelowiges gesalf het met die Heilige Gees en dit is dié salwing wat hulle help om onderskeidend te kan optree.

Die Heilige Gees is dus die een wat die geloofsgemeenskap help om die gees van die antichris te kan onderskei.  Daar is ’n Antichris aan die kom – waaroor hy verder sou uitbrei in die Openbaring aan Johannes op Patmos – maar eintlik ook alreeds ’n hele paar antichriste wat mense was wat deel van die geloofsgemeenskap was, maar nie deel van hulle gebly het nie, omdat hulle die Here Jesus se Goddelikheid ontken het.

Soos die valse profete die menslikheid van Jesus ontken het (1ste hoofstuk), só ontken dié antichriste sy Goddelikheid (2de hoofstuk), wat beteken dat Hy nie die Christus, die Gesalfde, die Messias van God, vir hulle kan wees nie.

Omdat elke gelowige egter die Heilige Gees se salwing ontvang het, kan dié antichriste dit nie regkry om hulle te mislei nie.  Daarom kan hulle ook nie die besef van die ewige lewe van die kinders van God wegneem nie.  Deur die geloof in God se Seun, word hulle verseker van die ewige lewe.  Daarin, sê Johannes, moet hulle vasstaan.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1 Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda