1 Johannes 2:1-27 – Leef met en in God se liefde in hierdie wêreld

Johannes het nou sy teologiese onderbou gegee met hoofstuk een se fokus op die God-mens Jesus, en dit prakties toegepas in terme van die leef in die lig van God binne die gemeenskap van gelowiges. In hoofstuk twee werk hy nou die etiese implikasies hiervan verder uit.  Hy beklemtoon:

  • dat gelowiges nie moet sondig nie, al het ons Jesus Christus as Voorspraak – vers 1-2;
  • dat die liefde van Jesus in ons volmaak moet word deur elke medegelowige lief te hê – vers 3-11;
  • dat die liefde van God die Vader in ons moet bly eerder as die liefde vir die wêreld – vers 12-17;
  • dat die salwing van die Heilige (Gees) ons moet help om die antichristelike gees te onderskei – vers 18-27.

Jesus Christus is ons Voorspraak – vers 1-2

Hierdie twee verse hoort tegnies eintlik by die eerste hoofstuk, omdat dit ’n handige opsomming gee van wat Johannes van die gemeente vra.  Hulle moet as geloofsgemeenskap wandel in die lig van God en van elke sonde gereinig word.  Sy doel is dus om hulle aan te moedig om rein lewens te leef en as hulle dan tog wel in die sonde val, het hulle Jesus Christus as Voorspraak by God die Vader.  Jesus is die eerste Voorspraak by God die Vader.  Die Heilige Gees die tweede (Joh. 14:16, 26; 15:26; 16:7).  Let op dat Jesus ook die Regverdige genoem word, die een wat reg aan God en aan ons laat geskied.

Johannes beskryf Jesus vêrder as die soenoffer of versoening vir ons sondes, trouens, nie net vir ons sondes nie, maar vir dié van die hele wêreld.  Johannes gebruik die woord kosmos om die wêreld in sy afvalligheid te beskryf en bedoel hier dat Jesus se versoening die hele geskape wêreld, die heelal, in die oog het en dat sy offer genoegsaam is om vir alles versoening te doen.

Om elke medegelowige met die liefde van Jesus lief te hê – vers 3-11

Let op die Trinitariese karakter van hierdie volgende drie perikope.

  • Vers 3-11 sentreer om die liefde van Jesus.
  • Vers 12-17 sentreer om die liefde van God die Vader.
  • Vers 18-27 sentreer om die salwing van die Heilige Gees wat onderskeiding bring.

Om Jesus Christus te ken, is om sy liefde te ken, ’n liefde wat nie net vir jouself bedoel is nie, maar vir almal.  Dit beteken dat elke medegelowige met die liefde van die Here Jesus liefgehê moet word, soos Hy immers vir ons die voorbeeld gestel het. Indien jy dus aanspraak maak daarop dat jy God ken, móét jou lewe die liefde van God vertoon. Anders is dit ’n valse aanspraak.

Wanneer ons dus ons medegelowiges nie liefhet nie, is die liefde van Jesus nie in ons nie.  Wanneer ons wel elke ander medegelowige liefhet, het die liefde van die Here Jesus in ons volmaak geword.  Trouens, daaruit kom ’n geweldige versekering dat ons inderdaad Hom nie net ken nie, maar deel is van Hom.

Dit is wat dit beteken om in die lig te lewe.  Wie sy broer of suster liefhet, bly in die lig en het die belofte dat dit struikeling voorkom, ’n geweldige versekering wat die Here ons gee.  Dié wat egter hulle broer of suster haat, verloor rigting in die lewe, omdat hulle in die duisternis wandel.

Om in die liefde van God die Vader te bly eerder as in die liefde vir die wêreld – vers 12-17

Vers 12-14 is baie digterlik geskrywe, met twee beskrywings elk van die kinders, vaders en jongmense, hoewel by die herhaling van die beskrywing van die vaders daar moontlik iets uitgeval het.  Die ander beskrywings is almal byvoegings of uitbreidings.

Hierdie drie groepe kan volgens sommige verwys na vlakke van groei in die geestelike lewe.  Ander dink dat die term kinders eintlik op die hele gemeente dui en die vaders en jongmense op ouer en jonger gemeentelede.  Nóg ander dink dat ook dat die kinders op die hele gemeente dui, maar dat die vaders en jongmense op ouderlinge en diakens dui.  Ek is geneig om myself te vind in die tweede groep geleerdes se mening, dat die vaders en jongmense met ouderdom te make het.

Drie sake word hier in die beskrywings van die gemeente beklemtoon: hulle vergifnis, hulle oorwinning oor die duiwel deur die woord van God wat in hulle bly, en hulle lewegewende kennis van God.

Dit noop Johannes om hulle te vra om nog dieper aan die Here gehoorsaam te word deur in die liefde van die Vader te bly, sodat hulle nie deur die liefde vir die wêreld en die dinge van die wêreld – die liggaamlike begeertes (begeertes van die vlees), die begeertes van die oë en die gesteldheid op besit – van hulle verhouding met God verlei sou word nie.  Die dinge van die wêreld is verganklik en gaan verby.  Die dinge van God bly vir ewig en dié wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Johannes raak hier wêreldse versoekings aan wat regdeur die eeue ’n uitdaging vir die geloofsgemeenskap sou wees.  Soos dit deur sommige uitgedruk is: die versoekings van hoogmoed (pride) wellus (lust), en gierigheid (greed), dinge wat ’n mens in Johannes se woorde kan hoor. Hiervan moet die gemeente gereinig word, maar belangrik, deur ’n fokus op die liefde van God die Vader wat in hulle moes bly.  Deur sy wil te doen, sou hulle die suigkrag van die wêreld kon ontkom.

Om die antichristelike gees te onderskei deur die salwing van die Heilige Gees – vers 18-27

Hoewel Johannes nie die woord Heilige Gees hier in die oorspronklike teks gebruik nie, is dit duidelik dat die Heilige Gees hier bedoel word.  Letterlik staan daar: “En júlle het die salfolie vanaf die Heilige …” (vers 20).  Die Heilige is ook ’n titel wat vir die Here Jesus gebruik word (Joh. 6:69; Luk. 1:35; 4:34; Mrk. 1:24) en die salfolie ’n simbool van die Heilige Gees.  ’n Mens moet die teks dus só verstaan, dat die Here Jesus die gelowiges gesalf het met die Heilige Gees en dit is dié salwing wat hulle help om onderskeidend te kan optree.

Die Heilige Gees is dus die een wat die geloofsgemeenskap help om die gees van die antichris te kan onderskei.  Daar is ’n Antichris aan die kom – waaroor hy verder sou uitbrei in die Openbaring aan Johannes op Patmos – maar eintlik ook alreeds ’n hele paar antichriste wat mense was wat deel van die geloofsgemeenskap was, maar nie deel van hulle gebly het nie, omdat hulle die Here Jesus se Goddelikheid ontken het.

Soos die valse profete die menslikheid van Jesus ontken het (1ste hoofstuk), só ontken dié antichriste sy Goddelikheid (2de hoofstuk), wat beteken dat Hy nie die Christus, die Gesalfde, die Messias van God, vir hulle kan wees nie.

Omdat elke gelowige egter die Heilige Gees se salwing ontvang het, kan dié antichriste dit nie regkry om hulle te mislei nie.  Daarom kan hulle ook nie die besef van die ewige lewe van die kinders van God wegneem nie.  Deur die geloof in God se Seun, word hulle verseker van die ewige lewe.  Daarin, sê Johannes, moet hulle vasstaan.

1 Johannes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ek wonder altyd oor die herhaling van “medegelowige”; broer; suster in hierdie gedeelte…. wat liefgehê moet word. Dis baie maklik om ‘n toegewyde kind van die Here lief te hê want hulle is sagmoedig en nederig en selfloos; sonder oordeel en kritiek.
    Wat van “alle” mense?

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: