Skip to main content

Ester 2:19-5:14 – Mordegai en Ester tree met groot wysheid en oorleg op in die gevaar wat Haman vir die Joodse volk inhou

Met Ester goed gevestig in haar rol as koningin, skuif die fokus na die antagonis Haman wat nie net ’n geswore vyand van Mordegai word nie, maar ook van die hele Joodse volk wat – onwetend vir hom op dié stadium – natuurlik vir Ester insluit.

Mordegai tree visioenêr op

Let op hoe die weldaad van Mordegai so half ongemerk en onopvallend ingesluit word in die verhaal wat ons voorberei vir die verrassing van die koning se beloning later wat die begin van die einde van Haman se planne sou wees.  Dit is immers hoe God te werk gaan, ongemerk, onopsigtelik, maar onkeerbaar.  Hy deursuur alles met sy teenwoordigheid.  Ons kan ook baie leer by Mordegai se manier van werk.  Hy het nie tonnelvisie nie, maar hou die breër prentjie die hele tyd in gedagte.  Sy fokus val dus nie net op Ester se lot in die paleis nie, maar ook op Ahasveros s’n, omdat hulle lot onlosmaaklik verweef is.  Net so dink hy nog breër ook deurentyd aan die lot van die volk, soos ons later sal sien.  Dit help hom om die regte ding op die regte tyd te doen om die grootste moontlike invloed uit te oefen.  Hy is ’n ware visioenêre leier.

Mordegai waarsku daarom die koning toe hy van Bigtan en Teres, die twee poortwagte, se verbittering en sameswering hoor om Ahasveros te vermoor. Let ook op hoe hy Ester se status in die oë van die koning verhoog deur haar in te span om Ahasveros daaroor in te lig.  Die feit dat dit in die annale opgeteken word in die teenwoordigheid van die koning berei ons ook voor vir wat met die koning se slaaploosheid later sal gebeur.

Haman die Agagiet
Haman word aan ons bekendgestel as ’n afstammeling van Agag uit die Amalekiete.  Dit laat onmiddellik die rooi ligte flikker.  Nie net was die Amalekiete die eerste vyand wat Israel op hulle tog na die Beloofde Land teengestaan het nie (Eks. 17 – selfs nog voor hulle by die berg Sinai uitgekom het!), maar die stam van Benjamin – die stam aan wie Mordegai en Ester behoort het – het onder leiding van die eerste koning van Israel, Saul, die Amalekiete die onderspit laat delf.  Toe Saul nie vir Agag wou doodmaak nie, het Samuel die taak op homself geneem: “en Agag in stukke gekap voor die Here in Gilgal” (1 Sam. 15:33).  ’n Wrede einde vir ’n wrede koning.

Wat veral opval in die verhaal in Eksodus is dat die skrywer ná die oorwinning oor Amalek hierdie verklaring opteken: “Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag.” (Eks. 17:16).  Die Here sê daarom later vir die volk met die Intog in Israel: “Jy moet onthou wat Amalek jou aangedoen het toe julle uit Egipte getrek het. Hy het jou van agter af aangeval toe jy moeg en uitgeput was, en hy het almal wat nie kon byhou nie, om die lewe gebring sonder om hom aan God te steur. Wanneer die Here jou God jou die oorwinning laat behaal het oor al jou vyande rondom jou en jy rustig woon in die land wat die Here jou God aan jou gee as jou eiendom en jy dit besit, moet jy die naam van Amalek van die aarde af uitwis. Jy mag nie vergeet om dit te doen nie.” (Deut 25:17-19).

Ons sien dus hier ’n verdere ontplooiing van dié werklikheid.  Die vete tussen die twee groepe kom dus van baie vêr af.  Om die waarheid te sê, die wortels van dié stryd lê eintlik nóg vêrder terug.  Amalek was ’n seun van Esau en een van die Edomitiese stamme. Ons kan dus verwag dat Haman met geen genade sal optree in die lig van die historiese agtergrond, soos dit inderdaad dan ook uitspeel in die verhaal.

Haman wil Mordegai en die Jode uitroei

Die koning se verering en bevordering van Haman bring hom in direkte konflik met Mordegai, want dié wil nie voor Haman buig nie.  Interessant genoeg maak Mordegai geen geheim van die feit van sy afkoms nie, anders as die raad wat hy vir Ester gegee het.  Haman se woede ken egter geen perke nie en beraam ’n plan om nie net vir Mordegai nie, maar ook sy hele volk uit te wis.

Die datum vir dié uitwissing word met die Pur – dit is met die lot – beslis, nogal op die dertiende van die laaste maand Adar.  Geen wonder die dertiende is nie ’n gewilde datum in die wêreld nie!

Haman bied 342 ton silwer aan sodat Ahasveros opdrag sal gee dat al die Jode voor die voet uitgeroei word.  Haman beplan letterlik ’n etniese suiwering wat alle Jode sal insluit: “klein en groot, kind en vrou, “ asook hulle besittings.  Die wreedheid en ondeurdagtheid hiervan word in ’n eenvoudige sin weergegee: “Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.” Haman se wreedheid ken geen perke nie, maar die koning se ondeurdagtheid ook nie.

Mordegai tree met groot wysheid op
Mordegai se reaksie is “spot-on”.  Hy gaan eerstens in ’n tydperk van rou en vas waarin ’n mens kan aanvaar dat geestelik van aard was – gegewe die skeur van sy klere, die aantrek van rouklere en die as op sy kop – en doen dit tweedens baie publiek deur deur die stad te loop en hard en bitterlik te kerm. Hy speel dus in op die beroering wat daar in die stad is, waarin daar waarskynlik baie was wat simpatie met die Jode gehad het.  Ten minste bereik dit die ander Jode wat steeds in die stad Susan gevestig was.

Dié proses word daarom in al die provinsies van die Persiese ryk deur die Jode gevolg.  Uiteraard kon Ester dus nie help om te hoor van alles wat gebeur nie en dit lei die volgende fase van Mordegai se reaksie in.  Hy vra haar derdens dat sy Ahasveros om genade moet smeek en só vir haar volk moet intree.

Haar huiwering om dit te doen, kom waarskynlik in die eerste plek omdat sy tot dusvêr aangeraai is om haar Joodse afkoms geheim te hou en dit nou die aap uit die mou sal laat.  Iemand soos Haman sal dit dan ook weet.  Maar in die tweede plek is haar huiwering te wyte aan haar wete dat sy haar lewe in gevaar sal stel deur onaangekondig by die koning aan te kom.

Mordegai se woorde aan haar weerklink tot vandag toe nog by elkeen wat voor só ’n groot keuse gestel word: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!

Ester tree met groot oorleg op

Dit motiveer Ester om op te tree en die impak van haar invloed te toets ten bate van haar volk.  Let op met hoeveel oorleg sy egter optree. Sy soek eerstens ’n inkoop en intrede by al die Jode wat in die stad Susan is.  Hulle moet ’n streng drie dae lange vas hou waarin hulle niks mag eet of drink nie (vgl. die kontras met Haman en Ahasveros se onbekommerde drinkery!).

Sy doen natuurlik ook self wat sy van die ander Jode vra, en sluit selfs haar kamerpersoneel in by die vas.   Met haar inkoms by die koning is daar weer die onsigbare hand van God merkbaar in die goue septer van Ahasveros wat na haar toe uitgesteek het omdat sy hom so bekoor.

Let op dat sy nie met die deur in die huis val nie, maar ’n atmosfeer wil skep waarin Ahasveros gemoedelik sal wees en Haman se manipulasie die minste effek kan hê en nooi hulle vir ’n ete.  Selfs by dié ete stel sy steeds die mededeling van haar versoek uit, deur hulle eers vir nog ’n ete die volgende dag uit te nooi.  Dit was waarskynlik om doodseker te maak dat sy regtig die aandag van beide Ahasveros en Haman sal hê, sodat die bom wat sy sal laat bars oor die impak wat hulle gesamentlike besluit op haar en haar volk sal hê, die maksimum effek op hulle kan hê.

Dit is kostelik hoe bly en opgeruimd Haman reageer, min wetende wat op hom wag.  Hy berei ook ironies genoeg die instrument vir sy eie ondergang voor met die bou van die galg vir Mordegai, soos sy vrou Seres by hom aanbeveel.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ester


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders