Ester 8 – Die Jode kry die reg om hulle teen etniese suiwering te verdedig

Haman se vernedering duur selfs ná sy dood voort.  Sy eiendom word aan Ester gegee wat dit aan Mordegai toevertrou om te bestuur, nadat sy haar verwantskap met hom aan die koning verklaar het.  Die posisie wat Haman gehad het, word boonop aan sy vyand, Mordegai, gegee, verseël met die seëlring van die koning.

Met Haman so verneder en uit die weggeruim, was die probleme van die Jode egter nie op ’n einde nie.  Die bevel van die koning was steeds dat hulle op die dertiende van die maand Adar uitgewis sou moes word.  Dié bevel kon nie as sodanig verander word nie, al het Ester voor Ahasveros gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek.

Daarom stel Ester voor dat daar ander briewe geskrywe word, aan elke volk in hulle eie taal, dat die Jode die reg het om hulle te verdedig en die ramp wat hulle kon tref, só te kan afweer.  So 20 dae voor die voltrekking van die vorige gebod van Ahasveros rondom die uitwissing van die Jode, het boodskappers op resiesperde dié nuus versprei deur die hele ryk dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Trouens, die bevel was dat hulle enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet kon uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. ’n Radikale ommekeer in die koning se voorskrifte en een wat vandag nog weerklink in die manier waarop die Jode hulle teen die wêreld beveilig.

Die nuwe opdrag was dus net soos die vorige een, wreed, aggressief en ongenaakbaar, maar waarskynlik die enigste manier om só ’n groot gevaar, dié van etniese suiwering, te vermy.

Die bevel van die koning het tot groot vreugde in die stad Susan gelei en vir die Jode was daar weer “lig en vreugde en blydskap en ‘n gevoel van eiewaarde”. Hulle het maaltye gehou en feesgevier, iets wat uiteindelik oor sou gaan in die jaarlikse instelling van die Purimfees, soos ons in die volgende hoofstuk gaan lees. Interessant genoeg, sê die skrywer, het baie mense van ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode. Hoe wydverspreid dit was, sou ’n mens nie kon sê nie, maar die gemoedstemming van almal is gelig.

Hierdie gebeure in die Persiese ryk, waarin ’n dreigende uitwissing deur die Jode afgeweer is, gee ’n mens dus ’n beter begrip van die Joodse psige.  Dit is gevorm deur eeue lange ervarings van konflik met hulle buurvolke.  Diep in hulle volksgeheue was die ervaring van slawerny (Egipte), die bevryding daaruit (Eksodus), die heilige oorlog teen die ander nasies in Kanaän (Intog), die ballingskap weens hulle ongehoorsaamheid (Babel), die hervestiging in Israel (Terugkeer – waaroor ons in Esra en Nehemia gaan lees) ingebrand.  Op die koop toe was daar hierdie gevaar van etniese suiwering (Persiese ryk).

Só sou daar nog ’n paar groot gevare op hulle pad wees, die verwoesting onder Antiogos IV Epiphanes in die Makkabeërtyd van die 2de eeu v.C., die verwoesting onder die Romeine in 70 n.C., die ghetto’s van die Middeleeue in Europa, die Volkslagting onder die Nazi’s (Duitsland) en die vele oorloë om hulle reg op nasieskap en ’n grondgebied te verseker na 1948.  Dit is ’n uitmergelende geskiedenis van konflik en oorlog waarvan die einde nog nie in sig is nie.

Dit is daarom wel jammer dat hulle nie ander gun wat hulle hulleself gun nie, spesifiek die Palestyne in die voortslepende konflik in Israel vandag.  Maar ’n mens het tog begrip vir hulle aggressie, gegewe só ’n konflikterende geskiedenis, al sou ’n mens graag wou hê dat hulle vreedsame naasbestaan najaag.

Ester


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: