Skip to main content

Ester 1-2:18 – Ester beïndruk almal om haar en vestig haarself as nuwe koningin

Die verhaal begin met koning Ahasveros (Xerxes) wat ’n onthaal gee vir al sy hoë amptenare en die ander in sy diens.  Sy ryk was groot en het 127 provinsies beslaan, van Indië af tot by Egipte.  Dit was nadat hy eers vir 6 maande lank sy rykdom ten toon gestel het.

Let op die prag en praal van die geleentheid en dat groot en klein die fees kon bywoon.  Ook koningin Vasti het die vrouens onthaal in Ahasveros se paleis.

Die vrolikheid voer die koning mee en hy werk deur sy sewe paleisbeamptes om koningin Vasti te laat haal om met haar skoonheid te kan spog.  Sy weier egter om soos ’n skouperd ten toon gestel te word voor ’n klomp mans onder die invloed van baie wyn.  Haar beginselvastheid skitter helder deur teenoor die onvastheid van die koning se optrede.

Die koning voel egter verneder en kry dan die raad van sy sewe paleisbeamptes om haar die trekpas as koningin te gee en iemand anders te vind wat haar beter sal gedra as Vasti.  Anders, sê hulle, sal vrouens nie meer ontsag vir hulle mans hê nie.  Sy bevel het daarom bepaal “dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.”

Daarmee het die skrywer alreeds ’n baie belangrike ding gedoen.  Die swakheid en vreesagtigheid van die mans wat die patriargie in stand wil hou, word geïroniseer terwyl die onhaalbaarheid daarvan ook ten toon gestel word.

Baie gou is koning Ahasveros spyt oor sy optrede en moet die sewe paleisbeamptes ’n nuwe plan beraam om vir hom ’n koningin te kry.  Ester kom só op die toneel.  Agter die skerms is God aan die werk om sy groter doel, die beskerming van sy mense te bewerk.  Ester se Hebreeuse naam was Hadassa.  Die naam kom van die mirteboom af wat ’n vyfpunt stervormige blaar het.  Haar Persiese naam Ester kom van die Persiese woord van ster af en kan moontlik verbind word met die godin Ishtar waarna die Perse haar vernoem het.  Onthou dat Daniël en sy drie vriende ook vreemde name gekry het wat met die Babiloniese gode verband gehou het.

Mordegai uit die stam Benjamin was waarskynlik die vierde geslag in Susan, aangesien hy die seun van Jaïr, die seun van Símeï, en die seun van Kis was wat reeds vroeg in ballingskap saam met koning Jojagin weggevoer is deur koning Nebukadnesar. Hy het nou ‘n eeu later as voog opgetree vir Ester, ‘n weeskind, die dogter van Abigajil wat al oorlede was. Let op hoe Ester beskryf word: “Dié meisie was mooi, sy was baie mooi.” Presies hoe die proses gewerk het en hoe Ester in die paleis beland het, word ons nie vertel nie, behalwe dat sy vir Hegai, die een wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, baie mooi was en hy van haar gehou het.

Die getal sewe speel weer ’n rol, want Hegai gee vir haar sewe van die bestes van die paleis se kamerpersoneel wat haar uitlig bó die ander kandidate wat weereens God se onsigbare verborge hand aan die werk demonstreer.

’n Baie belangrike stukkie inligting word dan vir ons gegee dat Ester nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak het nie.  Mordegai het haar belet om dit te doen waarskynlik om haar te beskerm. Hy het ook gesorg dat hy ’n ogie oor haar hou, al was dit van buite af.

Ester kry dit ná die voorbereidende tyd reg om nie net ‘n goeie indruk te maak op die paleis personeel nie, maar ook op die koning en hy maak haar sy koningin in die plek van Vasti.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Ester


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.