Skip to main content

Verassing

Ek het ‘n navraag gekry oor verassing. Hier is ‘n paar gedagtes daaroor.

Verassing was algemeen in die Griekse wêreld, maar nie in Israel en Egipte nie. Ook nie in die Christendom nie tot heel onlangs.

Die normale manier in Bybelse tye was om mense te begrawe in ’n graf, ’n grot of in die grond (Gen 23:19; 35:8; 2 Kron 16:14; Matt 27:60-66). Daar is selfs een verhaal van lyke of bene wat herbegrawe is (2 Sam 21:12-14).

In die Ou Testament is daar wel verhale van mense wat dood gebrand het, óf deur ’n vuur van die Here (Num 16:35), óf as gevolg van ’n plek wat afgebrand is (1 Kon 16:18), óf as deel van ’n offer (2 Kon 21:6). Daar is ook verhale van menslike bene wat gebrand is (1 Kon 13:2; 2 Kon 23:16-20), maar nie een van hierdie verhale is voorbeelde van verassing nie.

Die enigste plek waar van iets soos verassing gepraat word, is in Amos 6:10 waar Amos praat van “’n familielid of iemand wat die bene moet verbrand”, wat “hulle uit die huis kom dra.”  Dit is waarskynlik as gevolg van higiëniese redes. Verassing was dus raar, maar nie noodwendig per definisie verkeerd nie.

Volgens die Oxford Dictionary of the Christian Church (Cross, F.L. & Livingstone, E.A. eds., 2005) het die idee van die opstanding van die liggaam vroeë Christene teen verassing laat kies, soos die wydverspreide gebruik van katekombes as grafte getuig. Die Christelike invloed het trouens die gebruik van verassing uiteindelik bykans uitgewis regdeur die Romeinse ryk teen die 5de eeu nC.

Die idee van verassing het eers met die opkoms van meer liberale sieninge in die 19de eeu nC veld gewen. Hoewel die Rooms-Katolieke kerk dit vir eeue verbied het, het ook hulle in 1963 dit begin toelaat, soos dit in Protestantse kerke ook toenemend die geval was. Dit word egter steeds nie toegelaat in die Ortodokse kerk nie.

Mag ’n Christen dus veras word?

Daar is geen duidelike Skriftuurlike bevel daarteen nie. Uiteraard ook nie daarvoor nie. Volgens Amos 6:10 kan ’n mens wel argumenteer dat verassing in sommige gevalle verkieslik is.

Ons weet ook dat ons ’n “nuwe” liggaam met ons opstanding kry wat onverganklik sal wees (1 Kor 15:35-58; vgl 1 Tess 4:13-18). Dit sal aan die een kant herkenbaar wees (soos Jesus – Joh 20:19-31), maar aan die ander kant ook heeltemal anders wees, “geestelik” versus “natuurlik”, soos Paulus sê.

Ons opstandingsliggaam sal dus nie uit die presiese “stof” wat in die graf lê, óf deur verassing tot “stof” gereduseer is, opgebou wees nie. “Stof” is immers al wat na ’n paar 100 jaar in ’n graf oor is. En verassing bespoedig maar net die proses om die liggaam in “stof” om te sit.

Selfs waar ons die voorreg het om nog te lewe met die wederkoms, sal ons liggaam verander word in ‘n onverganklike een, soos dit ook die geval was met Jesus wat liggaamlik in die graf met ‘n onverganklike een opgestaan het.

Die vraag oor begrafnis of verassing is dus een waaroor elke Christen en familie self kan besluit binne hulle verhouding met die Here. God gee wysheid vir dié wat Hom daarvoor vra (Jakobus 1:5).

In my ervaring van begrafnisse is daar ’n geweldige stuk troos wat kom uit die ritueel van ’n begrafnis, veral wanneer die ter aarde bestelling vóór die erediens plaasvind. Maar ek was ook by talle verassings betrokke wat groot troos vir die familie en vriende gebring het. In albei gebruike gaan dit uiteindelik oor die vaste vertroue in die Here wat ons lewe in sy hand hou, hier en vir ewig, ook anderkant die dood.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda