Skip to main content

Verassing

Ek het ‘n navraag gekry oor verassing. Hier is ‘n paar gedagtes daaroor.

Verassing was algemeen in die Griekse wêreld, maar nie in Israel en Egipte nie. Ook nie in die Christendom nie tot heel onlangs.

Die normale manier in Bybelse tye was om mense te begrawe in ’n graf, ’n grot of in die grond (Gen 23:19; 35:8; 2 Kron 16:14; Matt 27:60-66). Daar is selfs een verhaal van lyke of bene wat herbegrawe is (2 Sam 21:12-14).

In die Ou Testament is daar wel verhale van mense wat dood gebrand het, óf deur ’n vuur van die Here (Num 16:35), óf as gevolg van ’n plek wat afgebrand is (1 Kon 16:18), óf as deel van ’n offer (2 Kon 21:6). Daar is ook verhale van menslike bene wat gebrand is (1 Kon 13:2; 2 Kon 23:16-20), maar nie een van hierdie verhale is voorbeelde van verassing nie.

Die enigste plek waar van iets soos verassing gepraat word, is in Amos 6:10 waar Amos praat van “’n familielid of iemand wat die bene moet verbrand”, wat “hulle uit die huis kom dra.”  Dit is waarskynlik as gevolg van higiëniese redes. Verassing was dus raar, maar nie noodwendig per definisie verkeerd nie.

Volgens die Oxford Dictionary of the Christian Church (Cross, F.L. & Livingstone, E.A. eds., 2005) het die idee van die opstanding van die liggaam vroeë Christene teen verassing laat kies, soos die wydverspreide gebruik van katekombes as grafte getuig. Die Christelike invloed het trouens die gebruik van verassing uiteindelik bykans uitgewis regdeur die Romeinse ryk teen die 5de eeu nC.

Die idee van verassing het eers met die opkoms van meer liberale sieninge in die 19de eeu nC veld gewen. Hoewel die Rooms-Katolieke kerk dit vir eeue verbied het, het ook hulle in 1963 dit begin toelaat, soos dit in Protestantse kerke ook toenemend die geval was. Dit word egter steeds nie toegelaat in die Ortodokse kerk nie.

Mag ’n Christen dus veras word?

Daar is geen duidelike Skriftuurlike bevel daarteen nie. Uiteraard ook nie daarvoor nie. Volgens Amos 6:10 kan ’n mens wel argumenteer dat verassing in sommige gevalle verkieslik is.

Ons weet ook dat ons ’n “nuwe” liggaam met ons opstanding kry wat onverganklik sal wees (1 Kor 15:35-58; vgl 1 Tess 4:13-18). Dit sal aan die een kant herkenbaar wees (soos Jesus – Joh 20:19-31), maar aan die ander kant ook heeltemal anders wees, “geestelik” versus “natuurlik”, soos Paulus sê.

Ons opstandingsliggaam sal dus nie uit die presiese “stof” wat in die graf lê, óf deur verassing tot “stof” gereduseer is, opgebou wees nie. “Stof” is immers al wat na ’n paar 100 jaar in ’n graf oor is. En verassing bespoedig maar net die proses om die liggaam in “stof” om te sit.

Selfs waar ons die voorreg het om nog te lewe met die wederkoms, sal ons liggaam verander word in ‘n onverganklike een, soos dit ook die geval was met Jesus wat liggaamlik in die graf met ‘n onverganklike een opgestaan het.

Die vraag oor begrafnis of verassing is dus een waaroor elke Christen en familie self kan besluit binne hulle verhouding met die Here. God gee wysheid vir dié wat Hom daarvoor vra (Jakobus 1:5).

In my ervaring van begrafnisse is daar ’n geweldige stuk troos wat kom uit die ritueel van ’n begrafnis, veral wanneer die ter aarde bestelling vóór die erediens plaasvind. Maar ek was ook by talle verassings betrokke wat groot troos vir die familie en vriende gebring het. In albei gebruike gaan dit uiteindelik oor die vaste vertroue in die Here wat ons lewe in sy hand hou, hier en vir ewig, ook anderkant die dood.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar