Skip to main content

Psalm 38 – Moet my nie verlaat nie, help my gou, my Redder

Hierdie Psalm is baie persoonlik en beskryf die pyn en wroeging van siekte – dit bring afstand van God sowel as van jou vriendekring.  Dit word ’n Herinnering genoem in vers 1, wat kan beteken dat dit gebruik is as lering oor die verband tussen siekte, sonde en skuldbelydenis.

Die Psalm wentel dus om sonde met siekte – in meer as een sin.  Dit skets die worsteling en onsekerheid wat siekte as sodanig in ’n mens se lewe bring.  En dit trek ’n verband tussen sonde en siekte – ten minste in die ervaring van die sieke – met die besef van en behoefte aan skuldbelydenis in die verwagting van God se genade, vergifnis en genesing.

Continue reading

Psalm 39 – Ek wil sorgvuldig let op my lewe en op U

Die Psalm word in die eerste vers as ’n Belydenis beskryf.  Die woord word deur die meeste geleerdes as ’n eienaam verstaan, Jedútun (ook Ps 62:1; 77:1 – kyk in OAV), een van Dawid se musiekleiers, soos in 1 Kronieke 9:16; 16:38,41 vermeld word – soos dit ook die geval is met Asaf (Ps 50:1; 73:1; 78:1; 79:1; 82:1) en Heman (Ps 88:1 – kyk in NIV) wat ook só in die Psalms genoem word.

Die Psalm wys hoe uiters belangrik nadenke en gebed is vir iemand wat worstel met die impak wat slegte mense op hulle lewe het.  Om in direkte gesprekke met sulke mense te gaan, bring eerder meer konflik as wat dit oplossing bring.  Maar om jou wroeging en ontsteltenis nou net weer in te hou, en niks te sê nie, maak ’n mens weer siek van binne.

Continue reading

Psalm 40 – U woord is my hele lewe

Die Psalmis is in die nood, en bely dat hy homself nie kan help nie. Sy enigste hoop is dat die Here aan hom sal dink en hom sal red.  En sy versugting is dat Hy nie sal talm nie (vers 18).

Dit is waarom hy drie goed doen, waarmee ’n mens ook die boodskap van die Psalm kan opsom:

Continue reading

Psalm 41 – Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed

Vers 1-4

Die Psalm begin met ’n saligspreking: “Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke (of arme)”, waarmee Dawid implisiet daarop staatmaak dat dit van hom geld, hoewel hy dit nie in soveel woorde sê nie.  Dit was immers een van die hoofopdragte aan die koning om vir die armes en swakkes om te gee, en Dawid aanvaar dat dit bekend was van hom.

Só ’n persoon – iemand wat omgee vir ander in hulle nood – kan met reg na God gaan in sy eie tyd van nood, en om hulp smeek.  Omgee vir swakkes gee vrymoedigheid in gebed.

Continue reading

Psalm 1 (2de keer) – Die Here ken my

Blaai vandag deur jou joernaal en merk van die gedagtes wat jou deur die loop van ons lees van die Psalms getref het.  Sê vir die Here dankie vir wat jy van Hom ontvang het.

Lees dan Psalm 1 en fokus op wat dit vir jou sê in die lig van al die ander Psalms wat ons tot dusvêr gelees het.

Ek is getref deur die oorhoofse boodskap van die Psalms dat die mens sy doel en bestemming in die lewe saam met God vind, soos Psalm 1 reeds aangevoer het.  Die Psalms leer my hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof.  Dit help my om die emosies te verwoord wat ek oor die hele spektrum van die lewe ervaar.   Dit spreek nie net my intellek aan nie, maar help my ook om gehoorsaam te wees en emosioneel gesond voor God te lewe.

Die Psalms help my om van ‘n oor-God gesprek na ‘n met-God gesprek te beweeg.

Ek het geleer dat enigiets wat die kwaliteit en ervaring van my gemeenskap met God bedreig ’n bedreiging vir die lewe self is.  Die Psalms spoor my aan om met integriteit en vertroue te leef – om nougeset te let op hoe ek met God in verhouding leef, en Hom te vertrou, veral waar ek swaarkry of moedeloos is.  Selfs wanneer daar twyfel is, en die donker dele van die lewe in die oë gestaar moet word, leer die Psalms my dat sin gevind word in die nabye teenwoordigheid van God.

Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.  Soos Elwell dit stel, dit gaan goed met iemand wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.

Dit is waarom, om by Psalm 1 aan te sluit: die fokus van die regverdiges net op een ding kan wees: die woord van God.  Want, waar God se openbaring in my hart leef (Psalm 37:31), bepaal Hy my koers, trouens – soos Psalm 1:6 in die oorspronklike lui – ervaar ek dat “die Here die pad van die regverdiges ken”. En daar is niks wat my meer tot rus bring nie as dié ervaring, dat God my ken.

Sela

As jy weer wil lees wat ek geskryf het by die eerste bydrae oor Psalm 1, klik hier: Psalm 1 – Geseënd is dié wat hul vreugde in God vind

Onlangse kommentaar