’n Oorsig oor die evangelie van Johannes

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit sit jou verbeelding op loop en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self (Andrie du Toit).

Die Woord van God het mens geword sodat ons in Jesus Christus kan glo

Die hoof-fokus van die evangelie van Johannes is om die inkarnasie, die vleeswording van die Woord van God, te beskryf en die betekenis daarvan vir die lewe hier en nou, sowel as die lewe hierna, uit te spel.

Die verhaal kyk terug na die vleeswording vanuit die perspektief wat die opstanding van Jesus en die  gawe van die Heilige Gees daaraan verleen.  Die opstanding en die uitstorting van die Gees openbaar die eintlike betekenis van wat Jesus kom doen het en watter betekenis dit vir sy dissipels inhou (2:22; 12:26; 14:23-26; 16:12-15).

Johannes vertel dus die verhaal van Jesus, die mensgeworde God, met die oog daarop om die waarheid daarvan te bevestig, dit teologies te interpreteer, en lesers wat ná die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees lewe, tot geloof te beweeg – Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:30-31).

Reeds in die gesprek met Nikodemus is hierdie doelwit onomwonde uitgespel: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê … Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh 3:16-18).  Johannes draai nie doekies om nie, maak sy punt helder en duidelik– ’n keuse word van elkeen gevra wat hierdie boodskap hoor.  En tog, sê hy dit, sonder om jou te vervreem, want hy begrond sy appèl in die liefde en deernis van God.

Die stryd tussen lig en duisternis

Hierdie keuse wat van elkeen gevra word, hou verband met die stryd tussen lig en duisternis wat van die eerste verse aan die orde gestel word.  Dit vorm die konseptuele raamwerk waarmee Johannes die boodskap van Jesus vertel.  Jou keuse vir geloof in Jesus lei na lig en lewe.  Jou keuse teen geloof in Jesus lei na duisternis en dood (Du Rand).

Johannes druk hierdie dualisme ook uit met die beskrywing van God se wêreld as “van bo” (anothen – 1:51; 3:13,31) en ons wêreld as “van onder” (tôn katô – 8:23).  Jesus kom van God se wêreld na ons toe (3:16) en sal deur sy kruisdood, opstanding en verheerliking die gelowiges na Hom toe trek (12:32) terwyl die heerser van hierdie wêreld uitgedryf sal word (12:31).  So sal gelowiges deel van die ryk van lig word, en dié wat kies om nie te glo nie, steeds deel van die ryk van die duisternis bly.

%d bloggers like this: