Skip to main content

Verhouding met die Sinoptiese evangelies

Johannes se evangelie kom wel op ’n hele paar sleutelpunte ooreen met die ander sinoptiese evangelies, maar vertoon ’n eie karakter en verskil ook beduidend op ’n hele paar ander sleutelpunte.

Ooreenkomste

Heelwat detail kom ooreen:

  • die bediening van Johannes die Doper (Joh 1:29 vv – Mark 1:2-11),
  • die doop van Jesus (Joh 1:32 – Mark 1:9),
  • die reiniging van die tempel (Joh 2:13-22 – Mark 11:15-17 – hoewel Johannes dit aan die begin van sy evangelie plaas en die Sinoptici in die laaste week van Jesus se lewe),
  • die loop op die water en die vermeerdering van die brood (Joh 6:1-40 – Mark 6:35-53) en
  • Jesus se salwing in Betanië (Joh 12:1-8 – Mark 14:3-9).

Verskille

Belangrike elemente van die sinoptiese evangelies se detail beskrywing van Jesus se lewe word weggelaat:

  • die versoeking in die woestyn (vgl wel 4:31-32 waar die dissipels Hom iets probeer gee om te eet, en Hy dit weier),
  • die verheerliking op die berg (vgl wel 12:20-36 waar van verheerliking sprake is),
  • die instelling van die nagmaal (vgl wel 13:1-38 waar Jesus sy dissipels se voete was en die verhaal van Judas se verraad vertel word).

Heelwat detail word egter heeltemal verskillend aangebied:

  • Johannes verskil in sy beskrywing van Johannes die Doper deur hom nie met Elia te vereenselwig nie (1:20-21) terwyl die ander evangelies dit eksplisiet doen (Mark 9:13; Matt 11:14; Luk 1:17).
  • Johannes beskryf veral Jesus se bediening in Jerusalem, teenoor die sinoptiese evangelies wat meer fokus op Jesus se bediening in die platteland in Galilea.
  • Jesus se identiteit as Messias is van die begin af Johannes se hooffokus, teenoor die sinoptiese evangelies wat baie maak van die Messiaanse geheim ter wille van die voortgang van die bediening.
  • Jesus reinig die tempel aan die begin van sy bediening, terwyl die sinoptiese evangelies dit aan die einde van sy bediening plaas.
  • Jesus se bediening duur waarskynlik 3 jaar weens die noem van 3 verskillende Paasfeeste waarvoor Hy na Jerusalem toe is (2:13; 6:4, 11:55 en moontlik selfs 5:1), terwyl die ander evangelies net van een reis na Jerusalem vertel, waaruit ’n mens kan aflei dat sy bediening net 1 jaar geduur het (Mark 10:32; Matt 16:21; Luk 9:51).
  • Jesus vertel geen gelykenisse nie, anders as die sinoptiese evangelies, hoewel die taal en beelde wat Hy gebruik, sowel as die wonderwerke wat Hy doen ryk aan betekenis is.
  • Jesus dryf geen duiwels uit in hierdie evangelie nie, terwyl dit ’n belangrike element in die sinoptiese evangelies is.
  • Johannes plaas die kruisigingsgebeure op die dag van die Paasmaaltyd  self (Joh 18:28 – die 14de Nissan [1ste maand] volgens die wet), anders as die ander 3 evangelies wat dit ná die Paasmaaltyd plaas (Mark 14:16; Matt 26:20; Luk 22:7 – die 15de Nissan).  Al vier evangelies is dit egter eens dat die kruisiging self op die Vrydag plaasgevind het, die dag voor die sabbat (Matt. 27:62; Mark. 15:42; Luk. 23:56; Joh. 19:31). Die verskil lê dus in die dag waarop die laaste paasmaaltyd geëet is.

Dié probleem het geleerdes baie besig gehou en daar is ’n magdom van verklarings beskikbaar.  Die verduideliking wat vir my die meeste sin maak, is die een van Morris:

“The most natural reading of the Synoptists shows the meal there to be the Passover.  The most natural reading of John shows Jesus as crucified at the very time the Passover victims were slain in the temple.  While it is undoubtedly possible so to interpret the evidence as to make both tell the same story it seems preferable to see them as following different calendars.  According to the calendar Jesus was following the meal was the Passover.  But the temple authorities followed another, according to which the sacrificial victims were slain the next day.  John appears to make use of this to bring out the truth that Christ was slain as our Passover.” (1971: 785).

Uit ’n teologiese hoek is Johannes se beskrywing dus uiters betekenisvol dat Jesus sterf op dieselfde dag as wat die paaslam geslag is – en die 4 evangelies kom ooreen in terme van die dag waarop dit gebeur het.

Die ooreenkomste en verskille kan die beste verklaar word uit ’n gemeenskaplike bron van mondelingse verhale en oorlewerings waaruit Johannes sommige op dieselfde manier as die ander sinoptiese evangelies aangebied het, maar ook baie daarvan volgens ’n eie unieke perspektief (Du Rand).

Die ooreenkomste moet nie ten koste van die verskille of andersom beklemtoon word nie.  Die historisiteit van die onafhanklike verhaal van die Samaritaanse vrou by die put word bv. gerugsteun deur die akkuraatheid van die beskrywing van hulle godsdiens en aanbiddingsplek (Joh 4).  Dieselfde geld die beskrywing van die bad van Betesda (Joh 5). Die beskrywing in die evangelie van Johannes word argeologies bevestig.  Ook die beskrywing van die feeste klop met wat ons uit ander bronne weet.

Daarby verskil die sinoptiese evangelies ook onderling van mekaar ten opsigte van sekere detail, wat eerder die betroubaarheid van ’n eie perspektief op gebeure bevestig as om daaraan afbreek te doen.  Die evangelie van Johannes het dus ’n unieke beskrywing van die verhaal van Jesus wat in hoofsaak ooreenkom met die hoof momente van Jesus se geboorte, lewe, bediening, lyding, kruisdood, en opstanding – maar ook verskil in ’n hele aantal ander detail sowel as in die interpretasie van die betekenis daarvan.

Indeling

Die evangelie het ’n proloog wat op Jesus as die gestuurde Woord van God fokus (1:1-18) en ‘n epiloog wat op die dissipels se uitsending fokus (21:1-25 – vgl 20:21) met die verhaal van Jesus wat in twee dele vertel word:
  1. Die publieke Joodse bediening van Jesus met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar binne die konteks van die Joodse feeste – 1:19-12:50.
  2. Die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se laaste Paasfees– 13:1-20:31.

Leesplan

Nuttige boeke

Beasley-Murray, GR 2002 John. Word Biblical Commentary. Vol 36. Word, Incorporated: Dallas.

du Rand, JA 1997 Johannine perspectives : Introduction to the Johannine writings – Part 1. Orion: Halfway House.

Fee, G & D Stuart 2002 How to Read the Bible book by book. A Guided Tour. Zondervan: Grand Rapids.

Groenewald, EP 1998 Die Evangelie van Johannes. Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente. NG Kerk Uitgewers: Kaapstad.

McFadyen, P 1998 Open Door on John: A gospel for our time. Triangle: London.

Morris, L 1971 The Gospel according to John.  Eerdmans: Grand Rapids.

WEEK 1: 1:1-3:36

Ons begin ons leeswerk in die evangelie van Johannes met die proloog waar Jesus as die Woord van God aan ons bekend gestel word.  Johannes die Doper en die eerste dissipels word ook aan ons bekendgestel as die eerste getuies daarvan.  Drie tonele uit Jesus se bediening word vir ons beskryf: die 1ste teken: water in wyn; die reiniging van die tempel; die gesprek met Nikodemus.  Daarmee word Jesus se heerlikheid as God-mens geïllustreer, sowel as sy passie vir die vestiging van die regte verhouding tussen mense en hulle God: gesamentlik EN individueel.

Daar is verskeie maniere waarop jy die evangelie van Johannes kan lees – lees meer daaroor in hierdie artikel van my: Kies ‘n manier van Bybellees.

Ek kies self om die eenvoudige luistersiklus te gebruik en sal my insette dan ook maak in die HOOR gedeelte van die luistersiklus:

RUS

  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.

HOOR

  • Lees die Skrifgedeelte hardop.
  • Dink na oor wat jou daarin tref.

LEEF

  • Wat lê die Here nou op jou hart?
  • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda