Johannes se prentjie van Jesus

Die prentjie wat Johannes van Jesus teken in sy evangelie is uniek, en veelvlakkig, as ’n mens dit met die sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas se prentjie vergelyk.  Johannes beskryf Jesus in 5 tydperke (Du Rand):
  1. in sy pre-historiese bestaan as die Woord van God (1:1);
  2. in die historiese verlede soos dit in die geskrifte van Moses en die profete ’n neerslag gekry het (1:45; 5:46 – vgl 12:41 wat na Jesaja 6:10 verwys);
  3. in die narratiewe hede van sy geboorte, lewe, bediening, lyding, kruisdood en opstanding;
  4. in die historiese toekoms waar Hy sy mense begelei en bystaan deur sy Gees (14:16);
  5. in die eskatologiese toekoms vanwaar Hy sal kom om die dooies op te wek, sommige tot die ewige lewe (wat reeds nou ’n aanvang neem) en ander tot veroordeling (5:24-29).

Johannes teken Jesus as Een met die Vader (10:30), wat weet wat die Vader weet (10:38).  Johannes vertel ons ook nie, soos in die sinoptiese evangelies (Mark 14:36), dat Jesus bid dat die lydensbeker van Hom weggeneem word nie, maar juis dat Hy bid dat God se Naam daardeur verheerlik sal word, ten spyte van Sy ontsteltenis (12:27-28).  Die klem val dus in sy vertelling op Jesus se Goddelike aanvaarding van die lydensweg, eerder as op die eg-menslike worsteling wat Hy tereg ook deurgemaak het.

Jesus se Ek is-uitsprake

Met die 8 Ek-is uitsprake van Jesus word die prentjie van Jesus in terme van sy Goddelike betekenis vir mense uitgespel.  Hy maak God bekend aan die wêreld, in terme wat ryk aan Ou Testamentiese betekenis is:
  1. “Ek is wat Ek is” – 8:24,58 – vgl Eks 3:14, waar dieselfde van God self gesê word;
  2. “Ek is die brood wat lewe gee” – 6:35,48 – vgl Eks 16:4, waar God deur die manna voorsien het;
  3. “Ek is die lig vir die wêreld” – 8:12 – vgl Jes 49:6 waar dit van die dienaar van die Here voorspel word;
  4. “Ek is die ingang vir die skape” – 10:7, 9 – vgl Eseg 41 waar die ingang na die hemelse tempel en God se ewige teenwoordigheid beskrywe word;
  5. “Ek is die goeie herder” – 10:11,14 – vgl Eseg 34 waar God self as herder optree en sy dienaar Dawid daarvoor aanstel;
  6. “Ek is die opstanding en die lewe” – 11:25 – vgl Jes 53:7-12 waar die dienaar van die Here se dood en opstanding beskrywe word wat lewe vir baie sal gee;
  7. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” – 14:6 – vgl Jes 30:20-21 waar God as die Een beskryf word wat sy volk leer en op die regte koers hou;
  8. “Ek is die wingerdstok” – 15:5 – vgl Jes 5 waar Israel die wingerd van die Here is, maar in hulle roeping gefaal het.

Jesus word egter ook as ’n man van vlees en bloed geteken – hy raak moeg (4:6) en dors (19:28), huil oor Lasarus (11:35), en bloei aan die kruis (19:34).  Daarmee bevestig Johannes die menslikheid van Jesus teenoor die valse profete van sy tyd wat net op Jesus se goddelikheid klem gelê het.

Wonderwerke is tekens van God se werk

Anders as die ander evangelies vertel Johannes net van 7 wonderwerke of wondertekens (hy gebruik die woord semeia eerder as dunamis wat die Sinoptici gebruik) , wat Jesus voor sy kruisdood gedoen het, waarvan een, die water wat te Kana in wyn verander is, net deur Johannes vertel word:
  1. Die wonder van die water wat in wyn verander is by Kana – 2:1–11;
  2. Die genesing van die seun van die regeringsamptenaar – 4:43–54;
  3. Die genesing van die siek man by die bad van Betesda – 5:2–9;
  4. Die vermeerdering van die brood – 6:1–14;
  5. Jesus wat loop op die water – 6:16–21;
  6. Die genesing van die man wat blind gebore is – 9:1–7;
  7. Die opwekking van Lasarus – 11:1–44.

Die wonderwerke is vir Johannes tekens van God se werk wat in Jesus sigbaar raak.  Hy doen die werke van sy Vader (9:3) waardeur Hy sy heerlikheid demonstreer (2:11) en mense tot geloof uitnooi (20:31), hoewel die ware betekenis daarvan eers na die opstanding helder begryp sou kon word (2:22).  Die geloof (regeringsamptenaar – 4:53) en ongeloof (Fariseërs – 11:47) van mense blyk daarom ook uit hulle reaksie op die tekens, waartoe daar ook nog ’n kategorie van ’n wondergeloof bygevoeg kan word (skare by die Paasfees – 2:23-25; Galileërs – 3:2-3; Jesus se broers – 7:3-7), waarop Jesus nie peil getrek het nie.

Johannes verbind dié wondertekens aan ’n hele aantal toesprake van Jesus waarin die betekenis daarvan dieper uitgespel word:

  1. Die betekenis van die water wat in wyn verander (2:1-11) word opgevolg deur die gesprek oor die nuwe lewe wat in Jesus moontlik raak (3:1-21).
  2. Die gesprek met die Samaritaanse vrou oor die lewende water (4:7-26), die genesing van die siek man by die bad van Betesda (5:1-17) en Jesus wat op die see loop (6:16-21), mond uit in die gesprek oor die Heilige Gees wat strome van lewende water word in ons binneste (7:1-49).
  3. Die genesing van die regeringsamptenaar se seun (4:43-54) hou verband met die gesprek oor Jesus, die Seun van God, wat lewe gee (5:18-47).
  4. Die vermeerdering van die brood (6:1-15) hou verband met Jesus se gesprek oor Homself as die brood van die lewe (6:22-65).
  5. Die genesing van die man wat blind gebore is (9:1-12) hou verband met Jesus wat die lig vir die wêreld is (8:12-59; 9:5).
  6. Die opwekking van Lasarus uit die dood (11:1-44) hou verband met Jesus, die Goeie Herder, wat lewe gee in oorvloed (10:1-42).

Na sy kruisdood is daar nog ’n paar wonderwerke: die opstanding en die leë graf (20:1-10), Jesus se wonderverskynings (20:14, 19, 26; 21:1) en die wonderlike visvang (21:1-14).  Met hierdie laaste wonderwerk word die groterwordende betekenis van Jesus vir hierdie wêreld antisipeer, wat die hernuwing van die opdrag aan Petrus om Hom te volg so noodsaaklik maak.

%d bloggers like this: