Skip to main content

Terugblik op die lees van die evangelie van Johannes

Ek  wil jou uitnooi om deur jou joernaal te blaai of deur die verskillende bydraes oor Johannes op die webtuiste en te kyk na temas wat jou aangespreek het.  En skryf vir ons by die webtuiste iets oor wat jou getref het.  Dit kan ’n nuwe insig wees wat jy gekry het.  Of ’n ervaring van God se nabyheid in die nadenke oor Johannes.

As ek terugdink, is daar ’n paar goed vir wat vir my uitstaan:

  • Die wyse waarop Jesus met metafore gewerk het, soos lig en brood en water, het vir my nuwe waardering en ook bewondering gegee vir sy boodskap.  Dat Jesus na die huttefees se ligte uitgedoof is, aankondig dat Hy die lig vir die wêreld is, is vir my indrukwekkend, en spreek my aan.
  • Dat ek persoonlik die pad kon stap om die dood van my pa te verwerk terwyl ek Johannes 11 lees oor die opstanding van Lasarus en daaroor skrywe, was vir my ’n besonderse aanraking deur die Here.  Hy is werklik die lewe, selfs in die aangesig van die dood.
  • Die kostelikheid van die dilemma van die bruidegom in Kana toe sy wyn opraak weens die groot getal mense wat daar was, het my laat glimlag.  En Jesus se voorsiening van ’n oorvloed van wyn teken vir my op ’n besondere manier God se karakter.  Hy is nie suinig nie!
  • Dat Petrus nie net ’n tweede kans gegun word nie, maar inderdaad deur Jesus ’n herder rol gegee word (soos wat Jesus gehad het), sê vir my dat Jesus beter verstaan wat in ons gebeur as ons voor versoekings en uitdagings kom, as wat ons dink.  En dat Hy nie in die blaming besigheid is nie, maar in die herstel besigheid.

Dankie vir die wonderlike reis saam met elkeen van julle.  Las sommer hieronder by Leave a Comment jou bydrae oor wat jou getref het en jou sal bybly.

Johannes – Lees, luister, leef – ePub

Die evangelie van Johannes fokus op Jesus as die gestuurde Woord van God wat volledig mens geword het. In hoofstuk 1-12 vertel Johannes van Jesus se publieke Joodse bediening met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar. In Jesus ervaar ons God se genade en waarheid. In hoofstuk 13-20 fokus Johannes op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld. In Jesus vind ons die model van dissipelskap waarin die liefde – soos God liefhet – die kern van alles is. Die evangelie eindig in hoofstuk 21 met die roerende verhaal van Petrus wat by hernuwing geroep word. Daarmee word die dissipels deur God gestuur om op dieselfde wyse as Jesus sy genade en waarheid aan die wêreld te bring, sodat die wêreld kan glo. Hierdie is die vierde boek in die reeks Lees, Luister, Leef gemik op Bybelstudiegroepe, Bybelskole en persoonlike stiltetyd. Klik hier om dit aan te skaf.

Buy this e-book on Lulu.
By Chris van Wyk

Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie

Jacob Jordaens, Diogenes Searching For An Honest Man, ca. 1642 (Gemaldgalerie Alte Meister, Dresden)

Diogenes, ‘n Griekse filosoof, was bekend daarvoor dat hy met ‘n lamp rondgeloop het op soek na ‘n eerlike mens, iemand wat op die waarheid fokus. Sy soektog was egter vrugteloos.

Sefanja gebruik ‘n soortgelyke beeld van God met ‘n lamp wat deur Jerusalem se strate beweeg. Sy missie is egter om die goddeloses uit te roei:

“En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” (Sef 1:12).

In sy gramskap het Hy die volk in ballingskap gestuur, ‘n teken van wat Hy uiteindelik met die hele aarde sal doen:

“want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.” (Sef 1:18).

Die goeie nuus in die NT is dat God uitkoms gee vir dié wat in Jesus Christus glo. God het die wêreld só lief gehad:

“dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16).

Die slegte nuus is egter, soos in Sefanja se tyd, dat ongelowiges die duisternis liewer het as die lig. Hoekom? Want hulle werke is boos. Hulle kan nie bekostig om in die lig te kom daarmee nie, sodat hulle werke nie bestraf kan word nie (Joh 3:19-20).

Watter tragiese keuse vir korttermyn voordele, maar langtermyn gevolge.

 

Johannes 15:12-17 – Wat ‘n Vriend het ons in Jesus

Afskeid is altyd swaar. Of jy nou lank voor die tyd geweet het daarvan. Of dit skielik gebeur. Afskeid is altyd swaar. Wat ons dra in ‘n tyd wat ons afskeid neem van ‘n geliefde, is dat daar ‘n ander geliefde is, ‘n Vriend, wat ons bystaan, wat ons uitnooi om in gebed na Hom toe te gaan.

Continue reading

Die Seun is die Woord van God

1:1-2 Johannes maak reg aan die begin van sy evangelie vier verklarings oor die wese van die Woord, die Logos.

  1. Dat die Logos van die begin af is.
  2. Dat die Logos die Woord van God is.
  3. Dat die Logos God self is.
  4. Dat die Logos van die begin af by God is.

1:3-5 Johannes volg dit op met vier verklarings oor die werk van die Woord van God.

  1. Alles het deur Hom ontstaan. Letterlik alles. Daar is niks wat nie deur Hom ontstaan het nie. Niks nie. Hy is dus die Een wat God gebruik het om te skep. Die Joodse lesers sou onmiddellik aan die skeppingstradisie gedink het in die OT dat God “deur die woord [dabar] van die Here” geskep het (Ps 33:6). Dat God aan die begin geskep het deur eenvoudig te praat: “God het gesê …” (Gen 1:3). Dit word nou hier van die Logos bely.
  2. Dit wat ontstaan het deur Hom, was lewe. Hy was en is die bron van lewe vir alles. Dit dui dus op meer as net dat alles wat lewe hulle ontstaan het deur Hom. Dit ook. Maar, wat Johannes hier sê, is dat die hele beginsel van lewe van die Woord af kom. Sonder Hom is daar geen lewe moontlik nie. Soos hy talle kere in sy evangelie sal herhaal. Die Grieke sou in hierdie gebruik van die woord iets gehoor het van wat die filosoof Heraklitus van Efese reeds in die 6de eeu vC geskryf het, dat die logos die beginsel is waardeur orde uit chaos geskep word. Dit is nou aan hierdie Logos verbind.
  3. Dit is waarom die lewe, die lewe in die Woord, die lig vir die mense kon wees, hulle die wil van God kon leer, as hulle net daarop sou ag slaan.
  4. Dit is egter ook van die begin af duidelik dat die lig in die duisternis geskyn het, en dat die duisternis die lig nie begryp het nie. Die Griekse woord katelaben wat met “begryp” vertaal word, het hier ‘n dubbele betekenis. Dit dra ook die betekenis dat die duisternis die lig nie kon “oorwin” of “bemeester” nie.  Daar is dus van die begin af ‘n skeiding tussen lig en duisternis, soos die skeppingsverhaal ook vertel (Gen 1:2). Aan die een kant kan die duisternis die lig nie begryp nie. Aan die ander kant kan die duisternis die lig ook nie oorwin nie. Een kers verdryf die donker, by wyse van spreke.

Die Woord bring lewe

Hiermee begrond Johannes die ander uitsprake oor Jesus in sy evangelie in die lewe wat die Woord skep. Jesus is immers die Lig vir die wêreld, die Brood van die lewe, die Lewende water, die Goeie Herder. Selfs iets soos die verandering van water in wyn in Kana dra hiermee die betekenis van oorvloedige lewe.

Dit is hierby wat Johannes ook in sy eerste brief aan Efese aansluit en ons uitnooi om gemeenskap met die Woord van die lewe te hê. Dit is die bron van ons blydskap:

“Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe — en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is — wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. En ons skrywe hierdie dinge aan julle, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (1 Joh 1:1-4).

Johannes sal later ook oor die ander kant van hierdie Lewegewende Een praat. In Openbaring word Christus ook as die Woord van God beskryf. Maar daar kom ‘n ander aspek van die Woord van God na vore, Die Woord van God is ook die Een van die finale oordeel, die Getroue en Betroubare Een, die Een met die swaard in die mond wat alle teenstand met die toorn van God tref (Open 19:13). Hy neem ook die lewe weg van dié wat dit verwerp.

1:6-8 Johannes die Doper, sê Johannes die apostel, het die opdrag gekry om van die lig te getuig wat hierdie Woord aan die wêreld bring. Hy was nie die lig nie, maar moes van die lig getuig, sodat almal deur hom sou glo.

1:9-11 Die ongemaklike realiteit was egter dat die wêreld, wat deur Hom tot stand gekom het, Hom nie herken het nie. Selfs van sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.

1:12-13 Dié wat Hom dus wel aanneem, dié wat van “bo-af” gebore is, soos Jesus vir Nikodemus net hierna sal leer (Joh 3), hulle het die reg ontvang om kinders van God te wees, dié wat in sy Naam glo. Hulle kindskap kom egter nie uit die regte afkoms (bloed), die regte begeertes (wil van die vlees) of die regte besluite (wil van ‘n man) nie. Hulle is uit God gebore.

Hierdie kinders van God is daarom van meet af aan in stryd met dié wat Hom nie aanneem nie.  Die vreugde van kindskap word dus getemper met die wete dat almal wat in die duisternis lewe, die lig verwerp en dit wil uitdoof. Al is die hoop ook daar dat die duisternis dit nie sal regkry nie, sê Johannes.

1:14 Die krag van hierdie openbaring lê in die feit dat Jesus se menswording in vers 14 met twee woorde beskrywe wat baie betekenisvol is. Hy het “vlees” geword (sarks) en “onder ons kom woon” (eskênôsen – tabernakel opgeslaan). Die eerste woord roep die skeppingsverhaal van Adam in herinnering en die tweede die tabernakel in die woestyn.

Daarmee sê Johannes dat Jesus volledig mens geword het. Hy het ons vlees aangetrek, en ’n menslike bestaan aanvaar. En let op dat dit iets is wat van hierdie punt af deel van Sy bestaan geword het.  Sy menslike natuur is nie iets wat Hy ooit weer gaan uittrek nie.  Hy IS nou ook mens.

Maar Hy IS ook God onder ons. Hy is die tabernakel van God onder ons. Hy is God self. Ons sien dus nou die heerlikheid van God in ’n mens van vlees en bloed.

Daarmee onderstreep Johannes die dubbele natuur van Jesus dat Hy ‘n menslike (vlees) en ‘n goddelike (tabernakel) natuur het. En dit is hierdie God-mens wat die krag het om die duisternis te oorwin.

1:15-18 Dit is waarom Jesus die gawe van die wet kan oortref, want in die vereniging van sy Godheid en mensheid sien ons die genade en die waarheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het. Kan ons deel in die werklikheid daarvan. Hy het God self aan ons kom openbaar. Dit is waarom sy bediening groter is as Johannes die Doper s’n. Johannes die Doper was die stem. Jesus was die Woord.

Jesus se genade gaan wys in die tekens van voorsiening (water in wyn, vermeerdering van brood) en verwondering (loop op water), van genesing (siek seun, siek man, en blinde man) en oorwinning (opwekking uit die dood), soos ons in die res van die evangelie van Johannes gaan sien. Hierdie sigbare genade gaan ons uitnooi om Hom te vertrou vir die genade wat ons ook in die lewe nodig het.

Jesus se waarheid gaan wys in die beskrywings van die verhouding met God wat beleef kan word in die feit dat die Gees ons “van-bo-af” wederbaar (Joh 3), wat vir ons lewende water gee wat in ons ‘n fontein van lewe word (Joh 4; Joh 7) en die Woord wat ons in God se waarheid heilig (Joh 17).

Daar was baie genade in die wet van Moses, maar dit kon nooit ‘n standhoudende fontein in ons word om ons te heilig voor God nie. Dit, sê Johannes, het nou moontlik geword in die Here Jesus Christus. Hy het vir ons die unieke en volkome openbaring van God self geword.

Betekenis en boodskap

Hierdie inleiding van Johannes is só diepsinnig. ‘n Mens wil elke woord daarvan in jou gedagtes omdraai en elke faset daarvan oordink. Dat Jesus groter is as wat ons ooit kan dink. Woord. Skepper. God. Dat Hy nader is as wat ons dink. Vlees. Tabernakel. Dat Hy dieper werk as wat ons dink. Lig. Lewe. Genade. Waarheid. Dat Hy ons visie op God kom herstel het. Dat ons kinders van God kan wees deur in Jesus te glo. Uit God gebore. Kies een van dié gedagtes om deeglik te deurdink en met die Here in gesprek te tree daaroor.

Onlangse kommentaar