Skip to main content

Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword

Lukas plaas in Handelinge net vier van die apostels en ander leiers se toesprake inhoudelik: Petrus, Stefanus, Jakobus en Paulus, interessant genoeg nie een van Barnabas nie, hoewel dit duidelik is dat hy ook verskeie kere aan die woord gekom het.

Hier word Paulus se toespraak redelik volledig weergegee omdat hierdie tipe boodskap ’n sleutelrol gespeel het in die verspreiding van die evangelie deur die hele bekende wêreld van daardie tyd.  Natuurlik het die getuienis oor Jesus op baie ander wyses ook versprei, waarin veral gewone gelowiges se vrymoedige verkondiging van Jesus ’n belangrike rol gespeel het.  Maar die toesprake van Paulus en ander het die verbeelding van hele stede aangegryp en baie bygedra tot die bekendstelling van Jesus as Verlosser aan alle nasies. Dit wys net vir my hoe beide die private ruimtes – een-tot-een getuienisse – en die publieke ruimtes – groot byeenkomste – deur die Here ingespan word om die evangelie by mense uit te kry.

Continue reading

Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop

Ikonium

Die Jode wat “nie die boodskap wou aanneem nie”, word letterlik deur Lukas as “ongehoorsaam” beskryf, waarmee hy ‘n verband lê met die ongehoorsaamheid ook van hulle voorvaders. Teenstand kom dus nie net van mense af wat nie die evangelie begryp nie, maar juis ook van dié wat maar alte goed begryp wat die implikasies daarvan is, maar nie hulle lewenstyl wil laat vaar nie. En hulle wil ook keer dat ander dit doen, om te keer dat hulle ongehoorsaamheid aan die kaak gestel word.

Let op hoe God weereens die boodskap bevestig deur tekens en wonders.  Uiteindelik word die bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra waar hulle hulle werk voortsit. Let op dat Paulus en Barnabas albei as apostels aangedui word, ’n benaming wat Lukas voor hierdie verwysing net vir die twaalf gebruik het.

Continue reading

Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille

Dit tref my net weereens hoe groot die teenstand teen die evangelie van Jesus Christus is.  Wat wel nuut was van die teenstand wat nou opgebou het, was dat uit eie geledere ontwikkel het.  En dit gaan oor die lewenstyl vir die hede en toekoms sowel as respek vir die tradisie, in hierdie geval die besnydenis.  Wat dit uiters problematies gemaak het, was dat die voorstanders van die besnydenis dit aan gelowiges se redding verbind het.  Paulus en Barnabas het hulle onmiddellik daarteen verset, omdat enigiets wat as noodsaaklik verkondig word, naas geloof in Jesus Christus, per definisie eintlik verkeerd is en die dood in die pot vir gemeenskap.

Maar, teenstand het ook altyd ’n positiewe gevolg, in hierdie geval, dat die geloofsgemeenskap fundamenteel moes dink oor wat kan hulle van mekaar verwag in die uitleef van hulle geloof, en dat in die proses van geloofsonderskeiding, hulle ons ook wys hoe ’n mens besluitneming in die geloofsgemeenskap moet hanteer sodat dreigende verskille oorbrug kan word.

Continue reading

Handelinge 15:36-16:5 – ‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars

Die besluit oor die besnydenis het verreikende gevolge vir die ontwikkeling van die Christelike kerk gehad.  Aan die een kant het dit die kernwaarhede van die Christelike godsdiens bevestig, dat dit oor Jesus, die Seun van God, en Sy verlossende boodskap, wat vir die wêreld bedoel is, gaan, en dat alles daaraan gemeet moet word.  Aan die ander kant het die besluit oor die besnydenis ‘n baie duidelike breuk gebring met die Joodse godsdiens veral in sy wettiese karakter (of wettiese interpretasie daarvan).

Dit laat my net weereens besef, die Christelike godsdiens gaan oor ‘n verhouding met die lewende God deur die bemiddelende werk van Jesus en die Gees, en nie oor die nakom van ‘n stel reëls nie.  En ons sal goed doen om hierdie boodskap ter harte te neem.  In die voortslepende gesprek oor die doop (deur die eeue) en die nagmaal (versus die Roomse mis) – om maar net twee voorbeelde te noem – moet die sentrale figuur van Christus raakgesien word.  Ons eenheid lê in Hom en nie in die verskillende praktyke wat  in ons kerklike sisteme vir ons belangrik geword het nie.  En ons moet mekaar nie so aanvat oor ons verskille dat die eenheid in Christus nie meer raakgesien word nie.

Continue reading

WEEK 9: Handelinge 16:6-19:20

Soos die goeie nuus met die vorige sendingreis na Asië versprei het, stuur die Gees vir Paulus nou oor die grens na Europa deur twee verdere sendingreise.  Die resultaat is dat die kerk al hoe meer uit gelowiges uit die heidense volkere bestaan, die begin van die langtermyn kerstening van die Weste wat in die 4de eeu tot die verheffing van die Christendom as amptelike godsdiens van die Romeinse ryk.

Let op dat die evangelie God se saak is, dat Hy die toon aangee, en dat geen teenstand dit kan verhinder nie.  Soos dit die geval was met die Joodse leiers (5:39), en die ongelowige Jode (9:1), en die kerk in Jerusalem (11:17), en die sekulêre politieke leiers (12:23), en die Judaïseerders in die kerk (15:10), so kan nou ook die godsdienstige en politieke teenstand van die Grieke (hfst. 16 in Filippi, en hfst. 19 in Efese) God se redding nie keer nie.  Hy skep vir Hom uit alle tale en nasies ’n volk om aan Hom te behoort.

Let ook op dat Lukas nou weer saamreis, soos die “ons” in 16:10-17 (Troas) aandui.  Dit sal weer die geval wees in 20:5 (Troas) tot in 21:19 (Jerusalem) en dan weer by 27:1-28:16 (van Sesarea tot in Rome).  Lukas skryf hierdie deel as ooggetuie en die detail is volop en lewendig (moontlik het hy ‘n joernaal gebruik).

Onlangse kommentaar