Soos Jakob se vlug uit Kanaän deur engele begelei is, só gebeur dit ook nou met sy terugkeer. Waar die ervaring met die engele by Bet-El vir Jakob ‘n betroubare kontakpunt met die hemel gegee het met die eksplisiete belofte dat God by hom sal wees (Gen. 28), gee hierdie ervaring met die engele by Maganajim vir Jakob ‘n verdere vaste vertrekpunt vir sy stryd op die aarde met die implisiete belofte dat die “leër van God” by hom sal wees (Gen. 32).
Die naam Maganajim beteken: “twee kampe” wat waarskynlik dui op die werklikheid van God se betrokkenheid by sy mense. Hulle vorm as’t ware: “twee kampe”, in die stryd vir die vestiging van God se koninkryk op aarde – God se kamp van engele, en Jakob se kamp van mense en diere.
Waar Jakob die agterhoede gevorm het in die trek oor die Jakkobrivier, neem hy nou die voortou. Hy het verbygegaan tot heel voor, sy broer tegemoet. Die ervaring by die rivier het hom heeltemal verander. Esau het op sy beurt hom tegemoet gehardloop en omhels. Die wedersiens was ‘n emosionele katarsis vir beide.
Let op met hoeveel waardering Jakob oor sy vroue en kinders praat. Dit is die mense wat God in sy liefde aan hom gegee het. Dieselfde geld sy geskenke aan Esau, waarmee hy heel openlik en eerlik Esau se vriendskap probeer wen, waarskynlik veral in die lig van die bedrog waarmee hy hom vroeër hanteer het. Hy tref die vergelyking met die wyse waarop ‘n mens God se goedgesindheid probeer wen, só wil hy dit met Esau doen.
Dit is duidelik dat daar raakpunte is tussen dié verhaal van Dina en dié van beide Sara (Gen. 13; 20) en Rebekka (Gen. 26). Soos dit die geval was met Abraham en Isak wat hulle vrouens in gevaar stel deur voor te gee hulle is nie getroud met hulle half-susters nie, so stel Jakob vir Dina in gevaar deur toe te laat dat sy gaan kuier by die dogters van die omgewing van Sigem. Maar anders as Sara en Rebekka, ly Dina direk onder die gevaar van die sedelose Kanaänitiese omgewing.
Die feit dat sy haarself ook in gevaar stel deur by die dogters van die omgewing te gaan kuier – Genesis waarsku regdeur dat daar geen kontak met die dogters van die land moet wees nie (Abraham se verbod aan sy slaaf in Gen. 24:3,37; Isak en Rebekka se verbod aan Jakob in 27:46; 28:1,6,8) – verskoon egter nie die tragedie dat sy die slagoffer word van Sigem nie – nogal ‘n volksleier! – wat haar sien, haar gryp, en haar verkrag.
Dit illustreer egter die onversoenbaarheid van die waardes van die geloofsgemeenskap met dié van die omringende heidense omgewing.
Die aartsvaders het nou al verskillende altare gebou om hulle aanbiddingsplekke te merk. Hier lees ons van die eerste opdrag wat die Here self gee vir ‘n aartsvader om ‘n altaar te bou. In taal wat herinner aan ‘n pelgrimstog sê God vir Jakob: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar ’n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.”
Die opdrag was nie net om hom te herinner aan die belofte wat hy self gemaak het met sy reis na Haran nie, hoewel hy ook duidelik verbind aan: “die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.”
Hierdie hoofstuk bevat die vierde kort fase van die verbondsgeskiedenis (hoofstuk 12-50) soos dit telkens met die frase: “die familiegeskiedenis”, in Genesis aangedui word. Die eerste fase was dié van Tera waarin die verhaal van Abraham egter heeltemal oorheers het aangesien hy die volle pad tot in Kanaän aangedurf het. Die tweede fase was dié van Ismael wat net kort vertel is, aangesien hy nie in Kanaän bly woon het nie, maar in Arabië. Die derde fase was die verhaal van Isak waarin die verhaal van Jakob baie prominent was wat geëindig het met Jakob weer terug in die land ná sy omswerminge in Haran.
Hierdie vierde fase van die verbondsgeskiedenis word ook kort vertel en fokus op die nageslag van Esau wat uiteindelik ook nie in die land Kanaän agter gebly het nie, maar hulle eie grondgebied in Seïr betrek het, die gebied van die latere Edomiete. Die frase word hier twee keer gebruik, maar handel oor dieselfde nasie. Die volgende hoofstuk sal die vyfde en laaste fase van die verbondsgeskiedenis vertel, die verdere geskiedenis van Jakob waarin Josef ‘n prominente rol gaan speel.
Dit is duidelik dat die ontwikkeling van die families vir Genesis belangrik is, veral die families van die uitverkore geloofsgemeenskap van Israel. Daarom word die geslagsregisters van beide die “verkose” families en die “verwerpte” families aangegee, maar met die verskil dat die “verkose” families se verhale ook vertel word, maar net die geslagslyste van die “verwerpte” families aangegee word. Die verkose families raak dus daarmee deel van God se verhaal met hierdie wêreld.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar