Skip to main content

Bid vir reën soos Elia van ouds

Die idee dat God reën gee en weerhou is helder ingebed in die OT.

http://paulbdyal.blogspot.co.za/2017/05/a-hand-rising-from-sea.html

Moses skrywe daaroor in sy tweede en derde preek net vóór die Intog in Kanaän en waarsku die volk dat God se seën aan gehoorsaamheid en sy straf aan ongehoorsaamheid verbind is (Deut 11; Deut 27; Deut 28).

Die Psalms verkondig dieselfde waarheid (Ps 3-4Ps 39) sowel as die profeet Esegiël (Eseg 25).

‘n Helder voorbeeld hiervan is die profeet Elia wat in opdrag van die Here droogte aankondig, vanweë die sonde van Agab, en drie jaar later weer die reën, nadat die mag van die Baälprofete gebreek is (1 Kon 17-18).

Hierdie helder Skrifgetuienis lê agter die oproep om hierdie God aan te roep as dit droog is en jou voor Hom te verootmoedig en uitkoms te vra. Trouens, dit is die enigste rede waarom ons op enige plek kan bymekaar kom om te bid. God belowe dat Hy gebede sal beantwoord.

Daarom is die Here se woord aan Salomo steeds geldig, maak nie saak wie voor Hom verskyn nie:

As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:13-14).

God sal luister na dié wat hulle voor Hom verootmoedig en van Hom vra. Dit glo ek met my hele hart. Hy luister self na vreemdelinge, soos Salomo in sy gebed onderstreep. God luister:

ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie … sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel” (2 Kron 7:32-33)!

Continue reading

VINCENT BRÜMMER – WHAT ARE WE DOING WHEN WE PRAY?

Ek het ‘n navraag gekry oor vas en gebed en hoe God ons gebede beantwoord.  Ek het onmiddellik gedink aan ‘n kort opsomming wat ek vroeër gemaak het van die boek van Vincent BrümmerWhat are we doing when we pray? Dit was in my evaluasie daarvan vir die Andrew-Murray-Desmond-Tutu prys, ‘n prys wat sy boek toe inderdaad ook in 2009 gewen het.  Dit bly ‘n uiters sinvolle en gewigtige hantering van die onderwerp van gebed.

Ek stel dit graag beskikbaar.  Vincent onderstreep daarin onder andere die geloofsfeit: “God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.” (Geach, God and the Soul).  Dit beteken nie dat gebed dus gebeure outomaties veroorsaak nie.  Dit is nie vanweë die gebed wat God antwoord nie, maar vanweë sy eie besluit om die gebed te beantwoord.

Daarom neem ek ook hierdie Woensdag, 24 Januarie 2018, deel aan die landwye gebed vir reën in die Wes- en Oos-Kaap, soos ons gemeente ook onafhanklik daarvan besluit het.  En roep ek almal op om môre om 13:00, waar jy jou ook al mag bevind, vir reën te bid.

God gee vir ons reën, nie net soos ons dit wil hê nie, maar omdat ons daarvoor vra.

Bespreking van die boek

What are we doing when we pray? is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe deur Ashgate in 2008 van die oorspronklike boek van die gebore Suid-Afrikaner, Vincent Brümmer (1984 – ook in Nederlands en Duits beskikbaar). Soos die subtitel aandui, fokus die boek On Prayer and the Nature of Faith waarvan die tweede deel van die titel ook die onderwerp van die uitbreiding verteenwoordig.  Drie nuwe hoofstukke is bygevoeg wat ‘n opmerking van GK Chesterton ontwikkel, wat sê, geloof: “is not a thing like a theory but a thing like a love affair.”

Vincent sluit aan by die gedagte van Gerard Ebeling dat gebed die sleutel is om die wese van God te verstaan.  Hy werk met ‘n oop perspektief op God, wat sommige “open theism” noem, omdat gebed nie eintlik met ‘n ander perspektief nog gebed genoem kan word nie.

Daarby voeg hy dat gebed ook gesien moet word as die “language game of faith” op voetspoor van Anthony Thiselton, wat ‘n gloeiende kommentaar op die agterblad geskrywe het: “Vincent Brümmer is a well-known world-class philosopher … I have always regarded What are we doing when we pray? as obligatory reading.

Hy is oortuig dat gebed nie van spiritualiteit en die geloofslewe geskei kan word deur dit bv. te beskou as terapeutiese meditasie nie omdat gebed fundamenteel eksistensieel en nie bloot intellektueel is nie.  “Prayer is a ‘school of seeing’” (John Drury).

Die boek is in twee dele geskryf: deel een oor gebed en deel twee oor die onderskeid tussen geloofsvertroue (faith) en godsdienstige geloof (belief).

Continue reading

Onlangse kommentaar