Skip to main content

Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012

In ‘n vorige rondte het ons Paulus se twee eskatologiese briewe gelees aan die gemeente in Tessalonika en sy vier leerstellige briewe aan die gemeentes in Galasië, Korinte en Rome.

Ons lees van 12 Januarie 2012 af Paulus se vier briewe wat hy uit die gevangenis in Rome skrywe aan die gemeentes in Filippi, Kolosse (ook bedoel vir Laodisea) en Efese, sowel as aan Filemon, en sluit af met sy drie pastorale briewe aan Timoteus en Titus[1].  Filemon was waarskynlik ‘n geestelike leier van Kollosse (Kol 4:9 – Onesimus, sy slaaf, is “een van hulle”).  Die vier gevangenis briewe is waarskynlik deur Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) en Onesimus (Kol 4:9 – Filemon se slaaf) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Die briewe aan die gemeentes in Filippi en Efese (Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle in Open 2:1-7) sal ook in die lig van die uitvoerige verhale oor die stigting van dié gemeentes gelees word soos Lukas ons in die boek Handelinge vertel.  Verfris jou geheue hier: Filippi, Efese.

Daar was, interessant genoeg, ook nog ander briewe van Paulus, bv dié een aan Laodisea (Kol 4:16 – Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle: Open 3:14-22), wat ongelukkig verlore geraak het.  Hoe jammer!

Lees verder oor die Skedule van leeswerk, die byeenkomste in Somerstrand en die toekomstige beplanning van die Bybelskool.

Continue reading

Handelinge 16:6-40 – Die kerk in Europa begin met die bekering van ’n vrou

Ons begin ons leeswerk van Paulus se laaste 7 briewe met die brief aan die Filippense.  Ek gee hier eers ‘n inleiding op die brief, voor ons die verhaal in Handelinge lees wat oor die stigting van die gemeente handel.  Môre lees ons dan verder aan sy brief aan die Filippense.  Jy kan ook vandag meer lees oor Paulus en oor sy 13 briewe.

Continue reading

Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem

Let op dat Timoteus ook as skrywer aangedui word in vers 1, en daarby saam – en op dieselfde vlak – met Paulus as dienaars (douloi – slawe) van Christus bekendgestel word.  Paulus kies dus om homself nie as apostel bekend te stel nie, maar as ’n dienaar, soos Timoteus.  Dit is betekenisvol.  Trouens dit is die eerste en enigste keer wat Paulus só skryf oor homself in samehang met iemand anders.  En dit word nie net gedoen omdat Timoteus vroeër in Filippi gewerk het, en nou weer op pad was daarheen nie (Fil 2:19), maar omdat Paulus daarmee iets van die selfontlediging illustreer wat in hoofstuk 2 aan die orde gestel sal word.

Continue reading

Filippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne

Dit tref my dat Paulus hulle adelphoi noem, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is.  Dit is ’n woord wat beide geslagte ingesluit het.  Hulle is ook die heiliges in Christus Jesus (1:1), die kinders (tekna) van God (2:15),  en die geliefdes (agapetoi) uit Paulus se perspektief, mense wat na aan sy hart lê (2:12), maar in terme van hulle onderlinge gemeenskap, familie van mekaar (1:12,14; 3:1,13,17; 4:1,8,17).  Hierdie verbintenis aan mekaar in die Here is belangriker as enige ander band wat mense aan mekaar bind.

Continue reading

Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld

Hierdie is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi.  Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog

Die lied in Fil 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11).  In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf.  Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis.  Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Continue reading

Onlangse kommentaar