Skip to main content

Handelinge 16:6-40 – Die kerk in Europa begin met die bekering van ’n vrou

Ons begin ons leeswerk van Paulus se laaste 7 briewe met die brief aan die Filippense.  Ek gee hier eers ‘n inleiding op die brief, voor ons die verhaal in Handelinge lees wat oor die stigting van die gemeente handel.  Môre lees ons dan verder aan sy brief aan die Filippense.  Jy kan ook vandag meer lees oor Paulus en oor sy 13 briewe.

Die brief aan Filippi

Hierdie intens-persoonlike brief aan die gemeente van Filippi is een van die briewe wat Paulus uit die gevangenis geskryf het (soos ook Kolossense, Efesiërs en Filemon).  Die oudste tradisie hieroor is dat Paulus die brief uit Rome skrywe, wat klop met die interne getuienis in die brief self: die “keiserlike wag” (1:13),  “die huis van die keiser” (4:22), en natuurlik dat hy uit die gevangenis skryf (1:7).   Dit beteken dat Paulus die brief waarskynlik in die vroeë sestigjarige van die eerste eeu geskryf het, so 10 jaar na die stigting van die gemeente.[1]

Die brief word aan die gemeente in Filippi gerig, die eerste gemeente op Europese bodem.  Die gemeente is tydens Paulus se tweede sendingreis gestig, ongeveer 50 nC.  Dit was die direkte gevolg van die gesig wat Paulus in Troas (Turkye) van die Masedoniese man gesien het wat hom gesmeek het om hulle te kom help (Hand 16:8-10).  Hy sou hulle later op sy derde sendingreis weer besoek, in die tyd van die Paasfees van 55-56 nC – die fees van die ongesuurde brode (Hand 20:6) – voor hy Jerusalem toe vertrek het.

Handelinge 16:6-40

Die Gees van Jesus tree as Ontwrigter op

Let op hoe die Gees van Jesus hier as Ontwrigter optree deur hulle te verhinder om hulle eie kop te volg, selfs terwyl hulle met die verkondiging van die evangelie besig is.  Deur die gesig van die Masedoniese man (’n Griek wat ironies genoeg hulpeloos is!) lei Hy hulle op die regte pad.  Let ook op hoe die band tussen die Gees en Jesus beklemtoon word: “die Gees van Jesus” (Hand 16:7).  Dit is steeds Jesus wat Sy werk voortsit om die koninkryk te laat kom (Lees Coenie Burger se boek Waar is Jesus nou? vir meer hieroor).

Lidia glo in die Here

Die godvresende Lidia het haar vroeër by die Joodse geloof geskaar.  Die Here maak haar ontvanklik vir Paulus se woorde en sy en haar huisgesin word gedoop, waarskynlik in die Gangites rivier.  Let op hoe sy bevestig word in haar geloofsoortuiging deurdat Paulus by haar tuisgaan.  Die Europese kerkgeskiedenis begin dus met die bekering van ’n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo!  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.  Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo.  Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.

Die Romeinse manier van lewe word ontwrig

Die geestelike beroering wat ontstaan het met die uitdrywing van die slavin se waarsêersgees – waardeur Christus se mag oor die geeste gedemonstreer is – ontlok regsoptrede deur haar eienaars wat Paulus-hulle by die owerheid aankla weens hulle vrees vir ‘n verlies aan inkomste (vers 19).  Dit raak baie gou ‘n oproer met die skare wat teen hulle gekant raak (waarskynlik opgesweep).  Op die koop toe lei dit tot ‘n baie onregverdige en publieke optrede van die stadsbestuur wat opdrag gee om Paulus en Silas te ontbloot (hulle klere word van hulle lyf afgeskeur), hulle hewiglik te slaan, en uiteindelik in die tronk te gooi onder streng bewaking (vers 22-23).  ‘n Mens wonder hoekom dieselfde lot nie vir Timoteus en Lukas tref nie, maar dit is duidelik dat almal in die stad nou geweet het van die boodskap van die evangelie.

 ‘n Bewaarder glo in God

Met die gebede en lofsange van Paulus en Silas in die tronk kom daar ‘n verdere stuk ontwrigting met die aardbewing wat die tronkdeure oopskud en die boeie laat losspring, wat tot die bewaarder van skrik wil laat selfmoord pleeg.  Die ontwrigting steek egter die lig in die lewe van die bewaarder aan – die bewaarder vra ‘n lig,en kry baie meer! – met die woord van redding wat aan hom verkondig word, en met sy geloofsverbintenis word hy en sy familie gedoop.  Let op hoe dié gebeure ook uitmond in ‘n ete, waardeur die gemeenskap wat nou tussen gelowiges uit verskillende agtergronde tot stand gekom het, gevier word.

In ‘n stukkie Goddelike ironie lei hierdie gebeure tot ‘n ontwrigting van die stadsbestuur en boemerang hulle onregverdige optrede op hulle.  Hulle beveel dat Paulus-hulle losgelaat word – ‘n mens wonder of dit in reaksie op die aardbewing en bekering was en of hulle dit self besluit het – maar Paulus weier op grond van sy Romeinse burgerskap.  Dit lei tot ‘n vernederende verskoning van die stadsbestuur wat Paulus en Silas tot hulle eie skande uit die tronk moet kom uitlei.  Paulus-hulle ignoreer ook aanvanklik hulle versoek dat hulle die stad sal verlaat en besoek en bemoedig eers die gelowiges voor hulle na Tessalonika vertrek.

God werk deur ontwrigting en bevestiging

Wat ons dus hieruit leer, is dat God op twee maniere aan die werk was.  Hy het aan die een kant oortuigings by gelowiges geskep deur die verkondiging van die evangelie, en hulle geloof in Hom bevestig.  Maar Hy was ook besig in die ontwrigtende gebeure deur die eienaars en die skare wat gesorg het dat die evangelie in die publieke ruimte ingedra is.  Selfs die ontwrigtende aardbewing het bygedra tot die impak van die evangelie op en in die lewens van mense.

 


[1] Die talle reise waarna die brief egter verwys, laat heelwat geleerdes dink dat hy nader aan Filippi was, wat gevangenskap in Sesarea of Efese die meer waarskynlike plek van skrywe maak.  Indien hy uit Efese geskrywe het, was dit tussen 52-55 nC.  Indien hy uit Sesarea geskrywe het, was dit in die later 50er jare van die eerste eeu (die keiserlike wag het hom toe alreeds begelei).

 


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Filippense


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda