Skip to main content

Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012

In ‘n vorige rondte het ons Paulus se twee eskatologiese briewe gelees aan die gemeente in Tessalonika en sy vier leerstellige briewe aan die gemeentes in Galasië, Korinte en Rome.

Ons lees van 12 Januarie 2012 af Paulus se vier briewe wat hy uit die gevangenis in Rome skrywe aan die gemeentes in Filippi, Kolosse (ook bedoel vir Laodisea) en Efese, sowel as aan Filemon, en sluit af met sy drie pastorale briewe aan Timoteus en Titus[1].  Filemon was waarskynlik ‘n geestelike leier van Kollosse (Kol 4:9 – Onesimus, sy slaaf, is “een van hulle”).  Die vier gevangenis briewe is waarskynlik deur Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) en Onesimus (Kol 4:9 – Filemon se slaaf) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Die briewe aan die gemeentes in Filippi en Efese (Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle in Open 2:1-7) sal ook in die lig van die uitvoerige verhale oor die stigting van dié gemeentes gelees word soos Lukas ons in die boek Handelinge vertel.  Verfris jou geheue hier: Filippi, Efese.

Daar was, interessant genoeg, ook nog ander briewe van Paulus, bv dié een aan Laodisea (Kol 4:16 – Johannes het ook ‘n boodskap vir hulle: Open 3:14-22), wat ongelukkig verlore geraak het.  Hoe jammer!

Lees verder oor die Skedule van leeswerk, die byeenkomste in Somerstrand en die toekomstige beplanning van die Bybelskool.

Continue reading

Filemon – Versoening tussen werkgewers en werknemers

Paulus skryf hierdie persoonlike brief (weereens saam met Timoteus) aan Filemon, een van die geestelike leiers van die gemeente in Kolosse (Filemon 2; Kol 4:9).  Sy slaaf, Onesimus, het hom op een of ander manier benadeel en toe gevlug. Onesimus se pad het in Rome met Paulus in die gevangenis gekruis.  Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie, maar die resultaat van dié ontmoeting was dat Onesimus tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het.  Hoewel Onesimus van veel nut vir Paulus self kon wees, het Paulus egter besluit om hom eerder terug te stuur sodat hy met Filemon versoen kan word.  Vandaar dié brief in die vroeë sestiger jare nC waarin hy die situasie tussen die twee gelowiges wou uitsorteer tot almal se bevrediging.  Dit gee ons ‘n baie interessante perspektief op hoe verhoudinge tussen gelowige werkgewers en werknemers behoort te werk.

Continue reading

Onlangse kommentaar