Die instruksies vir die maak van die brandofferaltaar is in Eks. 27:1-8 gegee. Uiteraard was die brandofferaltaar bedoel vir die offers van die volk binne die voorhof waar hulle onder begeleiding van die priesters en Leviete toegelaat is. Dit het die betekenis gedra dat die volk gedurig deur geheilig moes word om die pad met God te kan stap. Sonder versoening deur die offers sou hulle sondeskuld ‘n net te groot verwydering tussen hulle en God gebring het. Die voortdurende offers sou die lewe met God moontlik maak.
Die maak van die priesters se klere – Eks. 39:1-31
Die instruksies vir die maak van die priesters se klere is in Eks. 28:1-43 gegee. Jy kan in my bydrae oor Eksodus 28 meer daaroor lees. Hulle klere het die boodskap van gesag en toewyding gedra. Daarom is dit uit dieselfde tipe kosbare materiaal gemaak wat voorgeskryf is vir die bou van die tabernakel. Die priesters se hele lewe sou immers gestempel word deur die heiligheid wat aan God se woonplek op aarde verbind word. Hulle gesag sou in God se roeping en in die toewyding aan sy instruksies vir die lewe lê. Lees meer in Eksodus 28 oor die simboliek van die agt kledingstukke en toebehore waaruit dit bestaan het.. Om op te som: hulle het die Here self by die volk verteenwoordig. “In sum, every article of the sacral vestments made the same point, each with its own specific accent: Yahweh is here, we are his, and we must both know this and show this.” (Durham, Exodus).
Die trio van die Trek, die Tora, en die Tabernakel word uiteindelik voltooi met die Here se teenwoordigheid wat die Tabernakel vul. As die gee van die Tora op Sinai die onderbou verskaf het vir die lewenswyse en gedrag van die volk, het die volmaak van die Tabernakel met die teenwoordigheid van die Here die ruimte verskaf vir die aanbidding van die volk. Etiek en liturgiek in volmaakte samehang, iets wat ‘n mens later in die Psalms gereflekteer sal sien (ek sal een of ander tyd iets daaroor publiseer na aanleiding van ‘n referaat wat ek by ‘n OT kongres gelewer het).
Daarmee skets die boek die volle prentjie van wat dit beteken om coram Deo, voor die Here, te lewe. Jou hele lewe word ingesluit in die moreel-etiese tipe lewe wat die Tora voorskrywe, veral begrond in die Tien Gebooie van Eksodus 20. Jou hele lewe vind ook sy betekenis in die tipe aanbidding wat moontlik is in die ruimte van die Tabernakel wat deur God se teenwoordigheid gevul word (later natuurlik in die Here Jesus Christus), onder andere begrond in die Twaalf Gebooie van Eksodus 34.
Die getalle in die woestyn verhale bly ‘n raaisel. Bybelskool lesers sal onthou dat ek in my bydraes oor Eksodus 12 die volgende geskryf het om die groot getalle weerbare mans te verklaar:
Die Hebreeuse woord ʾě·lěp̄ kan in die betekenis van “duisend” vertaal word, soos dit meesal in vers 37 vertaal word. Die woord kan egter ook in die betekenis van “afdelings” van óf ‘n stam (1 Sam. 10:19) óf ‘n gebied (1 Sam. 23:23) gebruik word. Indien ‘n mens die betekenis van “afdelings” hier sou kies, beteken dit dat die getal Israeliete wat die Trek meemaak dramaties verminder word.
Die dilemma is egter dat as jy hier in Eksodus 12 vir só ‘n betekenis kies, dan kom jy in ‘n probleem net ‘n entjie verder aan in Eksodus 38, soos Walter C Kaiser Jr in sy The Promise-Plan of God aantoon.
Ek het nog ‘n navraag gekry oor die tweede gebod. Ek het al daaroor geskryf, maar ek gee graag ‘n paar ekstra gedagtes, omdat dit só ‘n belangrike deel van die boodskap van die Tien Gebooie is.
Onverdeelde lojaliteit
Die eerste drie gebooie roep ons op tot ‘n onverdeelde lojaliteit aan God. Jy mag geen ander god langs God aanbid nie. Jy mag geen afbeelding van Hom of iets anders maak of aanbid nie, ook nie in jou hart nie. Jy mag sy Naam nie sonder respek hanteer nie.
God is regverdig in sy gedrag teenoor ons. Gehoorsaamheid aan hierdie gebooie sal geseën word. Ongehoorsaamheid sal gestraf word.
Die tweede gebod spel dus die uitwerking van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid in die geslagte van die verbondsgemeenskap uit.
“4 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. 5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; 6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”
Die Hebreeuse woord vir “besoek” is paqad. Dit kan vertaal word as “rekenskap vra” of selfs “ondersoek doen” waarvan laasgenoemde vir my eintlik die betekenis binne die konteks die beste oordra. In Engels kan dit met “dealing with” vertaal word. Dit beteken doodgewoon dat God ingryp in mense se lewens om hulle te seën of te straf na gelang van die verhouding wat hulle met Hom handhaaf of versaak. En dit het ‘n effek op die nageslag.
‘n Paar opmerkings is nodig om hierdie boodskap te kan toeëien.
Hierdie tweede gebod druk God se verwagting van onverdeelde lojaliteit aan Hom uit. Hy verwag dat mense Hom alleen sal dien soos die eerste gebod reeds geëis het. Daar is geen kompromie moontlik tussen Hom en ander gode nie. Enige kompromie lei onvermydelik tot ‘n verdeelde lojaliteit aan Hom.
Waar ‘n pa en ma dus hulle lojaliteit verbreek aan Hom, het dit ‘n onvermydelike effek op hulle kinders, want dit verbreek die verbondsverhouding. Soos Durham sê: “indifference to commitment is contagious, in a family or in a society.” Dit deurbreek die Godsverhouding en het ‘n destruktiewe effek op die komende geslagte. En ons moet dit op geen manier onderskat nie.
Die straf wat aan die tweede gebod verbonde is, is vir mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar wat op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle God verwerp of begin haat. God “besoek” of “ondersoek” die misdade van die ouers aan die kinders.
Dit beteken waarskynlik dat God hulle “straf” deur sy seën van hulle te onttrek en hulle aan hulle eie lot oor te laat. Dit is soortgelyk aan wat ons in Romeine 1 ook sien waar God die hele mensdom “oorgee” aan allerlei sondes, omdat hulle Hom nie as God geëer en gehoorsaam het nie. God besoek en bestraf dié wat kies om Hom te verwerp.
Dit wil lyk asof die Here hier rekening hou met die feit dat sonde baie maklik oordraagbaar raak binne families. Dat dit in patrone of praktyke ontwikkel wat deur die geslagte lewend gehou word, bv familievetes of kulturele gebruike wat God en sy wil vir die lewe nie eerbiedig nie.
God se straf is natuurlik altyd daarop gemik dat mense tot inkeer kom, soos Esegiël 18 in die OT dit mooi uitlê dat die Here elke individu op sy eie meriete beoordeel. God verwerp nooit iemand wat na Hom toe terugkeer nie. Dieselfde word in Romeine 3 vir ons vertel waar die oplossing vir die sonde van die mensdom in Christus, en die geloof in Hom, te vinde is. Almal het gesondig, maar hulle word in Christus vrygespreek enkel en alleen omdat hulle in Hom glo.
Die straf vir sonde is altyd persoonlik. So leer die wet (Deut 7:10; 24:16) en die profete (Eseg 18). Die verhaal van Korag se seuns is ‘n pertinente illustrasie daarvan. Korag sondig, maar sy seuns volg hom nie daarin na nie. Korag sterf dus vir sy sonde. Sy nageslag word egter nie net nie gestraf nie, omdat hulle gehoorsaam gebly het, maar besonderlik geseën en word die liturge van die volk (Num 16) soos ons uit die talle psalms wat aan hulle toegeskryf word, kan agterkom (Ps 42; 44-49; 84; 85; 87-88).
Die effek op vier geslagte moet veral in sy kontras met die seën vir duisende geslagte in die volgende vers gelees word. God is “vir altyd” (dit is in wese wat die “duisende” beteken!) goed vir dié wat aan Hom lojaal is en bly, dié wat sy wet/wil/woord/riglyn vir die lewe gehoorsaam. God gee besondere genade in geloofsgemeenskappe wat aan Hom getrou en gehoorsaam bly. God bewaar en beskerm dié wat kies om Hom te gehoorsaam van boosheid. Soos Psalm 118 sê: “aan sy liefde is daar geen einde nie.“
God word hier beskryf as regverdig in die wyse waarop hy gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid hanteer. Trouens, sy barmhartigheid is oneindig meer as sy besoeking. Dit is ‘n sterk motivering om lojaal aan Hom te bly en afgodery te versaak.
In kort sê die tweede gebod: God verwag lojaliteit van sy mense en Hy sal alles in sy vermoë doen om hulle daarmee te help. Dit sluit straf en seën in.
Eksodus 34
Eksodus 34 vat dié gedagtes van die tweede gebod nog verder. Ek haal uit die Bybelskool aan vir dié wat die tweede gebod in ‘n breër Bybelse konteks wil verstaan:
perfectly57edc75df4onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
sparklybc467b2e69onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
originalblizzard19aaa84c56onJosef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
Philip VermaakonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
Chris van WykonPsalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
perfectly57edc75df4onPsalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
Doreen SnydersonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
johannes buhrmannonPsalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
originalblizzard19aaa84c56onInleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
Francois Du ToitonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
Hannes.onHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
Onlangse kommentaar