Eksodus 33 – Onthou tog hierdie nasie is u volk
Die diepste impak van die destruktiewe gevolge van die sonde lê altyd in die afstand wat kom tussen God en die mens. Soos Jesaja eeue later sou verklaar: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jes. 59:1-2). Die rede vir die afstand lê nooit in God opgesluit nie, maar in die sonde en moedswilligheid van sy mense.
Daarom wil die Here nie saamtrek met die volk na Kanaän nie, al sou Hy steeds sy belofte om die beloofde land vir hulle te gee, uitvoer. Net sy engel sou saamtrek, anders sou Hy waarskynlik genoodsaak wees om die volk uit te wis weens hulle moedswilligheid – Eks 33:1-6. Moses slaan egter ‘n tydelike tent van ontmoeting op buite die kamp om as middelaar tussen God en die volk op te tree, sodat hulle as’t ware van ver af die interaksie wat hy met God het, kan gadeslaan en benut – Eks. 33:7-11. Uiteindelik gebruik hy dié tent van ontmoeting om die Here te oortuig om dié besluit om nie saam te trek nie, te heroorweeg – Eks. 33:12-23.
Onlangse kommentaar