Skip to main content

Terugblik en vooruitskou

Ons het aan die einde van die vierde kwartaal se fokus op Galasiërs, Romeine en Rut gekom.  Ek moet sê, ek gaan die gereelde skrywery mis!  Dit bly immers een van die hoogtepunte van my dag om die Bybelskool teks te lees en iets daaroor op die web te publiseer.

Vir 2011 beplan ek om die boek Jesaja in die eerste kwartaal te behandel.  In die gemeente van Somerstrand sal dit gekombineer word met ‘n Bybelstudie- en preekreeks.  Lidmate sal dus in die week vooraf hulle óf by ‘n Bybelstudiegroep óf in die Bybelskool kan ingrawe in die teks vir die Sondag en bydraes maak, voor ons saam gaan luister na wat God vir die gemeente sê.

Ek is reeds besig om my te begin ingrawe in Jesaja.  Een van die insigte wat ek tot dusver geniet het, is dat daar ‘n hele paar geleerdes is (bv. Watts) wat wegbeweeg van die drie-boek interpretasie van Jesaja (Jesaja, Deutero-, en Trito-Jesaja) aan die hand van die tydperke wat die boek beslaan, na die hantering daarvan as een boek, onder andere omdat daar geen kopie van die onderskeie boeke ooit gevind is nie, en die onderskeie dele met mekaar verband hou.

Hy deel die boek daarom in twee dele: Deel 1: Die aankondiging van die verwoesting van die land (hfst 1-33) en Deel 2: Die hofsaak teen Israel met die belofte van ‘n nuwe bedeling (hfst 34-66).  Dit beteken dat hoofstuk 34-49 as ‘n literêre eenheid (laaste deel van Jesaja en die hele Deutero-Jesaja) hanteer word, wat interessante interpretasie moontlikhede oopmaak om die historiese gedeeltes met die heilsprofesieë te verbind.

Ek was nog altyd skepties oor die stelligheid waarmee geleerdes die drie-boek interpretasie op die tafel gesit het, waarmee hulle eintlik maar net hulle modernistiese interpretasie van die boek ten toon gestel het, dws dat ‘n profeet nie gebeure vooruit kan voorspel nie.  Hoewel ek natuurlik nog moet sien of ek my heeltemal in Watts se indeling gaan vind, hou ek van sy idee van Jesaja as ‘n boek, waarmee hy nie die modernistiese weg opgaan nie, maar ook nie vasval in die interpretasie van die boek as volledig die werk van die profeet Jesaja nie.

Maar, daaroor gaan ek verder lees en ons almal verder gesels volgende jaar!

Hoop julle het die Bybelskool hierdie jaar geniet – sal graag terugvoer van die gemeentes wat die Bybelskool aangebied het hier wil publiseer – en sal julle almal graag volgende jaar terug verwelkom!

Terloops – ek is ook besig om ‘n nuwe template te laai, ter wille van meer funksionaliteit – laat weet maar as daar iets is wat nie werk nie!

Bybelskool 4de kwartaal 2010

Ek beplan om weer die 7de Oktober met die Bybelskool bydraes te begin.  Ons gaan die twee briewe van Paulus aan die Galasiërs en Romeine lees, sowel as die boek Rut in die Ou Testament.  Hieronder is die indeling van die bydraes, met die datums van die byeenkomste in die gemeente Somerstrand.

Enigiemand is baie welkom om in te skakel.  Registreer aan die regterkant by Registrasie / intekening, en ek sal die bydraes per e-pos vir jou stuur.  Registrasie en inskakeling is gratis.  Onthou ook om kommentaar te lewer of jou vrae te vra.  Ek antwoord graag.

Jy kan ook enigeen van die vorige Bybelskool kursusse op jou eie tyd deurwerk: 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, Markus in vergelyking met die ander evangelies en 1 en 2 Tessalonisense en 1 en 2 Korintiërs.

Datum Byeenkoms Boek
7-13 Oktober 13 Oktober Inleiding
14-20 Oktober 20 Oktober Galasiërs 1-6
21-27 Oktober 27 Oktober Romeine 1-4
29 Oktober – 3 November 3 November Romeine 5-8
4-10 November 10 November Romeine 9-16
11-17 November 24 November Rut 1-4

Bybelskool: Paulus se briewe aan die Tessalonisense en die Korintiërs

Hierdie kwartaal fokus ons op Paulus se eerste vier briewe: 1 en 2 Tessalonisense en 1 en 2 Korintiërs.  Ek beplan om in die eerste sessie eers die verhaal van die twee gemeentes in Handelinge te hanteer, om uit daardie hoek dan weekliks na Paulus se briewe te kyk.  Dit laat ‘n mens die briewe met baie meer perspektief lees.  Soos altyd, sal ek weekliks ‘n bydrae by die webtuiste lewer.  KLIK HIER VIR DIE LEESPLAN EN AL DIE BYDRAES.

Onthou om te registreer.

Die voordeel is dat jy met registrasie ingeskryf word om die bydraes outomaties per e-pos te ontvang.

Onthou ook om elke keer in te teken as jy die webtuiste besoek. Dan kan jy kommentaar lewer sonder om weer al jou detail in te vul, en sal jou bydrae onmiddellik geplaas word.  Ek moet net die eerste kommentaar goedkeur.

Klik op hierdie skakel om te registreer.

Ek begin die 21ste Julie met die eerste bydraes.  Die eerste sessie sal Woensdag 28 Julie om 18:30 wees.  Vir die Somerstranders: ons het nie weer ‘n ete nie – Baie jammer!

Ek hoop dat jy die 4 briewe van Paulus saam met my gaan lees.  Ek sien uit daarna om saam met jou nuwe insigte in hierdie belangrike vestigingsfase van die kerk te kry.  En soos altyd, hoop ek dat die Here self ‘n pad met jou sal stap in jou refleksie daaroor, soos hy inderdaad dit ook met my doen.  KLIK HIER VIR DIE LEESPLAN EN AL DIE BYDRAES.

Ek kan nie wag om te begin nie!

Groete

Chris van Wyk
NGK Somerstrand
NGK Somerstrand Blog (vorige tuiste van die Bybelskool)

Didage

Ons begin die 4de Februarie met Didage op Woensdagaande.  Soos gewoonlik eet ons saam om 18:00 (R25 per persoon, bespreek vooruit by die kerkkantoor – Alta Hanekom gaan ons vergas met haar wonderlike resepte!).  Daarna begin ons met die Mid-Week aanbiedinge om 18:30.

Die aanbiedinge val in drie kategorieë – 1) ‘n fokus op Bybel en Teologie; 2) ‘n fokus op Geestelike Gewoontes; 3) Geloof in Aksie.  Ons beplan om dit mettertyd ook na toerusting in geestelike vaardighede uit te brei, maar dit is nog toekomsmusiek!

Hierdie kwartaal kan jy dus een van die volgende 6 aanbiedinge bywoon:

BYBELSKOOL – Chris van Wyk (Bybel & Teologie fokus)

Ons lees die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.  Geskrywe deur Lukas, die dokter, fokus die evangelie van Lukas op die redding wat Jesus bring vir alle Jode, van die platteland in Galilea tot in die stad Jerusalem.  Sy tweede boek, Handelinge, vertel die verhaal van die redding wat deur die werk van die Gees horisontaal versprei van die stad Jerusalem terug na die platteland, maar dan ook verder na Asië, Afrika, Europa en uiteindelik na die groot stad en magsentrum van daardie tyd, Rome.
Koste: R30 vir ‘n begeleiersgids – almal welkom

LECTIO DIVINA – Deon Loots (Geestelike Gewoontes fokus)

Lectio Divina – geestelike lees – is `n baie ou geestelike dissipline. Dit het ontstaan as `n manier van luister na die Woord van God in ‘n tyd van grootskaalse ongeletterdheid. Dit gaan dus oor die kuns om werklik te leer luister na die Woord en die relevansie daarvan vir jou eie lewe.
Tydens ons Lectio Divina sessies gaan ons met jou van die belangrikste beginsels rondom die benadering deel. Dit is alreeds lewensveranderend. Ons gaan dit daarom ook elke week prakties beoefen. Ons gaan dus leer deur dit self te doen en met mekaar te deel wat ons hoor.
Dit geskied in `n atmosfeer van stilte en luister. Ons sal ook gewyde musiek gebruik om onsself in te stem op God se teenwoordigheid.

GEESTELIKE GEWOONTES – Rethie van Niekerk (Geestelike Gewoontes fokus)

Die beoefening van geestelike gewoontes skep ‘n ruimte vir God om ons van binne af te verander.  En ons leer dié gewoontes die beste aan in ‘n kleingroep wat dit saam met ons doen.
Adele Calhoun het ‘n unieke boek Spiritual Disciplines Handbook – Practices that transform us geskryf om ons hiermee te help.  In plaas daarvan om haar boek net van hoek tot kant deur te lees, help sy mens om jou spesifieke behoefte aan God te verbind aan die geestelike gewoonte wat die beste daarby pas.  As jy byvoorbeeld ‘n behoefte het om met meer deernis met ander te praat, woorde wat eg, liefdevol en genesend is, stel sy oefeninge voor om die gewoonte om jou “tong te beheer” te beoefen!  As jy behoefte het om die teenwoordigheid van God in alles te kan raaksien, stel sy die gewoonte van kontemplasie voor.  En daar is 60 ander …!
Koste: R280 vir Adele Calhoun se boek  – net 20 persone

PROJEK EKSODUS – André Killian (Geestelike Gewoontes fokus)

André nooi 9 mense uit om saam met hom ‘n geestelike reis te onderneem aan die hand van die werkboek van John en Adrienne Carr Projek Eksodus (The Pilgrimage Project).  Die doel van die reis is om aan die hand van die lewenshoofstukke van ons eie verhale te ontdek wat God se plan met ons lewens is.  Hierin speel beide woestyntye sowel as braambostye ‘n belangrike rol.  Die reis word afgesluit met ‘n vooruitkyk na die volgende hoofstuk wat God in jou lewe gaan skryf.
Koste: R20 per persoon vir die werkboek

HUWELIKSVOORBEREIDING – Deon Binneman (Geloof in Aksie fokus)

Hierdie praktiese huwelikskursus gee vir elke getroude paartjie die hulpmiddels vir die bou van ‘n sterk en gesonde huwelik wat ‘n leeftyd hou. Oor 8 weke gesels egpare oor belangrike sake wat maklik in die gejaag van die daaglikse lewe nie aandag kry nie. Onderwerpe sluit in: sien mekaar se behoeftes raak; leer om effektief te kommunikeer; hanteer konflik; genees seerkry uit die verlede; weet hoe om mekaar geliefd te laat voel; ouers en skoonouers; goeie seks; maak tyd vir mekaar en hê pret saam.
Elke paartjie se privaatheid word gerespekteer. Daar is geen groepsbespreking nie en niemand hoef enigiets oor hul verhouding bekend te maak nie. Elke aand begin met ‘n kerslig-ete. Daar is ‘n video-praatjie, gevolg deur ‘n geleentheid om die onderwerp as paartjie te bespreek.

Koste: R100 per paartjie vir die werkboek en R25 weekliks per persoon vir die etes

OP PAD MET GOD – Mariette Rossouw (Geestelike Gewoontes fokus)

Die pad saam met God is uniek en vol verrassings. As jy werklik met God leer wandel het, beloon Hy jou met ’n lewe van vreugde en oorwinning.  Dan wil jy in toewyding voor Hom as jou Vader leef, en in troue navolging die voorbeeld van Jesus volg.

Op jou geestelike pad is daar verskillende seisoene waarin jou kommitment tot God sal verskil. Tog is dit juis hierdie kommitment wat die hoekpilaar vorm van ‘n lewe saam met God, waarin jy leer om:

  • by God tot stilstand te kom: daar by Hom te skuil en van Hom te leer;
  • tot God te nader: die dag saam met Hom te begin;
  • in God vertroue, troos, beskerming en rus te vind;
  • voor God te kom: met jou pyn, emosies en goeters;
  • met God te wandel: bewus van die krag van Sy Gees;
  • vir God te leef: mense bereik, te dien en te bedien, tot uitbreiding van Sy Koninkryk.

OP PAD MET GOD is “kringwees vir Christus” . Dit is vir jou as jy ‘n soeke na God het, of wil ervaar dat God met jou praat, ‘n nuwe geestelike tuiste of ‘n nuwe visie vir jou lewe soek, geestelike afplatting ervaar of gewoon net geestelik wil groei.

Koste: een foliogrootte hardebandboek vir jou joernaal (gespreksboek met God).  Bring ook jou Bybel saam.

Fokus op Geestelike Gewoontes – 1ste kwartaal 09

Hierdie kwartaal gaan ons saam op ‘n reis om meer ruimte te maak vir God in ons lewe.  Deur te fokus op GEESTELIKE GEWOONTES gaan ons die Heilige Gees kans gee om ons van binnekant af te verander.  Hy is die een wat ons daarmee die DRUPPELS genade gee VIR DIE DORS wat ons na God het – soos ons bemarkingspamflet sê.

Vir elke erediens word daar ‘n Joernaal ontwikkel wat fokus op die geestelike gewoontes wat jou dors na God kan les. Jy kan dit gebruik vir persoonlike nadenke, vir kleingroepbyeenkomste, vir gesprek met geestelike vriende en vir huisgodsdiens. Alles sal ook weekliks op die webtuiste verskyn sodat jy kan bybly waar jy ook al op die aardbol rondreis (www.ngkerksomerstrand.co.za).

Op die blog kan jy ook deelneem aan gesprekke oor die weeklikse temas.

Waarom fokus ons op Geestelike Gewoontes?

Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat ‘n mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê.
Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie.  Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.

Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk.  Een van die tydbeproefde maniere om ruimte vir God  te maak in ‘n mens se lewe, is om spesifieke geestelike gewoontes (of dissiplines) aan elkeen van hierdie begeertes na meer te verbind. Dit gee vir jou ‘n baie innoverende maar ook eg-persoonlike hulpmiddel vir geestelike groei.  En só word ‘n mens ingetrek in God se werk wat ons lewens transformeer.

Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week.  Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.

Ons nooi jou uit om jou ervarings en vrae deur die loop van dié kwartaal met ons te deel.

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…