Bybelskool

Josua

Komplekse literêre geskiedenis

http://www.freebibleimages.org/illustrations/joshua-jordan/

Josua, net soos die meeste ander Bybelboeke, het op ‘n komplekse wyse tot stand gekom.

Dit het begin as ‘n aantal verhale wat gelowiges vertel het oor hulle ervaringe met die intog uit die woestyn in die beloofde land in.  Hierdie verhale het hulle met God se teenwoordigheid en optrede in die geskiedenis verbind. Die verhale was in verskeie vorme: verkenner verhale, (heilige) oorlogsverhale, godsdiensonderrig verhale, goddelike roepingsverhale, stam verhale en erfgrond verhale.

Hierdie verhale van Goddelike ingrype is met oorgawe gevier by hulle kultiese feeste, in Josua se geval veral by Gilgal, en het die kern uitgemaak van hulle godsdienstige onderrig.

Soos die verhale oorvertel is aan opkomende geslagte, is dit mettertyd op skrif gestel, waarna die verhale ook aangepas en uitgebrei en geredigeer is tot die vorm wat ons dit vandag het.

Hierdie verhale het via hierdie liturgiese aanwending en interpretasie  die literatuur geword wat die identiteit van die volk Israel gevorm en uitgedruk het.  En elke nuwe geslag het hierna geluister, dit nuut toegepas op hulle situasies, en hulle eie reaksies daarop, en verwoording daarvan deel van die groeiende korpus van verhale gemaak wat uiteindelik in die kanon in sy huidige vorm ingesluit is.

Die boek Josua

So het die boek Josua die eerste een van die Vroeë Profete in die Ou Testament (Josua, Rigters, 1-2 Samuel, 1-2 Konings) geword.

Dit word profeties genoem omdat die doel van dié beskrywing van die verhale van Israel is om vanuit ‘n teologiese en Goddelike perspektief te beskrywe wat en hoe dinge gebeur het sodat dit as geestelike onderrig vir die volk kan dien.  In Josua handel die profetiese onderrig oor die inname en verdeling van die land Kanaän, veral uit die hoek van die suksesse wat onder die leiding van Josua behaal is.

Die skrywers word nie geïdentifiseer nie, maar uit die ooreenkomste met die taal en inhoud van die boek Deuteronomium, noem geleerdes hulle gewoonlik Deuteronomiste.  Vir ooreenkomste kan die taalgebruik in Josua se afskeidstoespraak  (hfst. 23) met Moses s’n (Deut. 7) vergelyk word.  Josua praat ook van die wetboek van Moses (Jos. 8:31), ‘n frase wat ooreenkom met die gebruik in Deuteronomium (Deut. 28:61;30:9;31:26) en 2 Konings (14:6;22:8,11).

Interessant is dat die skrifstelling, wat deur Moses begin is (Eks. 24:4), deur die Leviete bewaar is (Deut 31:9), deur hulle en die leiers bestudeer is, en die boek raak wat Josua sy eie maak (Jos 1:7) ook later deur Josua aangevul is (Jos 24:26).  Die sogenaamde Josua-woorde vul dus die Moses-woorde aan.  Dan is daar ook nog die Boek van die Opregte (Jos. 10:13) wat die verhaal van die stilstand van die son en maan vertel (vgl. ook 2 Sam 1:18 wat vertel dat ‘n lied van Dawid daarin opgeteken is).

Ons sien dus hier die begin van ‘n kern-kanon (kanon beteken maatstaf), die begin van die Bybel, wat met die berg Sinai verbind word.  Later sou Samuel ook regsvoorskrifte, veral ten opsigte van die koning se verantwoordelikhede, byvoeg (1 Sam 10:25) en saam met Moses en Josua se geskrifte in die heiligdom bewaar.  Van tyd tot tyd is die verhale van Josua opgedateer (van die stede in Jos. 15 het moontlik eers in die 8ste eeu v.C. tot stand gekom) om die relevansie daarvan vir die kultiese gebruik by hulle feeste te behou.

Die leier Josua

Josua is uiteraard die hoofkarakter.  Hy was die seun van Nun, en oorspronklik Hosea (“verlossing”) genoem. Moses het egter sy naam op betekenisvolle wyse verander na Josua (“die Here is verlossing”)!  Hy is deur Moses uitgekies om die aanvoerder te wees in die geveg teen die Amalekiete (Eks. 17), waar hy dan ook die oorwinning behaal.  Hy het saam met Moses op die berg van God geklim (Eks. 24) en het weer saam met hom na 40 dae en nagte afgeklim (Eks. 32).

Interessant, in Eks. 33:11 word gesê dat hy hom nie uit die tent, waar God Hom aan Moses geopenbaar het, verwyder het nie. Hy wou meer hoor en moontlik sien van hoe God aan Moses verskyn en met hom gepraat het.  Die Here laat hom egter nie toe om iets meer te sien nie, waarskynlik omdat Hy hom aan die skriftelike boodskap soos dit tot stand begin kom het, wou bind (Jos. 1).

Uit Num. 11:28 blyk dat hy van sy jeug af Moses se dienaar was.  Hy was een van die verkenners van Kanaän (Num. 13) en saam met Kaleb het hy, anders as die 10 ander verspieders, aanbeveel dat hulle die land binnetrek.  Hulle was dan ook die enigste 2 van die volk wat uiteindelik die land kon intrek by hulle tweede aankoms na ongeveer 40 jaar by die land Kanaän.

Josua is deur die Here aangewys as die opvolger van Moses, en deur Moses aangestel, d.m.v. ’n handoplegging (Num. 27:12–23; Deut. 3:28; 31:7, 8, 23). Reeds in Num. 34:17 is hy saam met die priester Eleásar deur die Here benoem om die land te help verdeel.

Die hoëpriester Eleasar

Eleasar is die ander hoofkarakter.  Interessant is dat sy naam in Grieks Lasarus is.  Hy was die 3de seun van Aäron (Eks. 6:22), en is saam met sy pa en sy 3 broers tot priesters gewy (Eks. 28:1).  Sy twee ouer broers, Nadab en Abihu het gesondig teen die Here en is deur Hom doodgemaak ( Lev. 10:1–7).  Daarom is Eleasar aangewys om sy pa as hoëpriester op te volg (Num. 20:25–28).  Hy help veral vir Josua met die verdeling van die land Kanaän onder die 12 stamme (Jos. 14:1; 17:4; 19:51; 21:1).

Die waarde van argeologiese en historiese getuienis

Ons aanpak in die Bybelskool is om met die verhale te werk soos ons dit in die Bybel het, want dit is in dié teks wat gelowiges deur die eeue God se woord gehoor het.  En ons wil hulle navolg en in ons refleksie en nadenke oor die teks God se woord vir ons lewe hoor.

Dit beteken natuurlik nie dat ons oogklappe aansit vir die navorsing wat oor die eeue gedoen is, en die resultate wat onder andere uit die argeologiese en historiese navorsing na vore gekom het nie.

Insig in kultuur, taal, godsdiens en lewe

Argeologie is ‘n wetenskap wat sin probeer uitmaak uit die artefakte wat deur opgrawings opgediep word.  Ontdekkings by Amarna (oor die stadstate kultuur in Kanaän), Mari (oor die nomadiese lewenswyse van die aartsvaders), Nuzi (oor gebruike soos dié waar ‘n slavin as vrou vir ‘n man gegee kan word as die vrou nie self kinders kan hê nie) en Ugarit (oor die Kanaänitiese afgodediens), om net ‘n paar te noem, gee ‘n mens ‘n insiggewende kykie in die kultuur, taal, godsdiens en lewe van die verskillende volke in Kanaän.

Die Amarnabriewe bevat bv. verskeie briewe wat vanuit Kanaän aan die konings van Egipte gestuur is, in Babilonies, wat moontlik die diplomatieke taal van daardie tyd was.  Die briewe skets ‘n prentjie van ‘n land met stadstate waarvan die plaaslike vorste onderling óf in vyandskap óf in vrede met mekaar gelewe het.  Soms was hulle dus in koalisies met mekaar verbind, soos ons uit Josua ook kan aflei.  Van die Kanaänitiese woorde wat in die briewe ingevoeg is, kom ook ooreen met van die Hebreeuse woorde in die Ou Testament.

In sommige van die briewe is daar ‘n woord habiru wat met die Israeliete verbind kan word, veral in die begin stadium met die intog, hoewel met tyd  daar ook ‘n onderskeid tussen die Israeliete en die “Hebreërs”  gemaak is (1 Sam 14:21).

Die spykerskriftablette van Ugarit het ons kennis van die Baäl godsdiens verdiep sowel as die wyse waarop die offerkultus gewerk het.  In die een epos van Baäl blyk dit dat die Baälgodsdiens met ‘n panteon (godevergadering) gewerk het, waarin Baäl as ‘n kragtige strydgod geteken word.  Hy was ook die vrugbaarheidsgod wat verantwoordelik was vir die seisoene en die groei van die oes.

Die verskil met die God van Israel is duidelik: Baäl is die verpersoonliking van die natuurmagte, hy is die reën, die weerligstraal, die vrugbaarheid self.  Die God van Israel staan egter bo die natuurkragte en veroorsaak die reën, die weerlig en vrugbaarheid.  Daarby gaan Baäl op sikliese wyse dood (om weer op te staan) terwyl God as die God van die doderyk geteken word, wat die dood kan gee en die dood kan neem.  Uit hierdie beskrywing blyk al reeds duidelik hoe radikaal die Baälgodsdiens teenoor die aanbidding van die God van Israel gestaan het.

‘n Hele aantal kontrakte in Ugarities is ook opgediep wat wys hoe die regstelsel van daardie tyd gelyk het.

Onvolledige historiese antwoorde

Maar die argeologiese resultate word egter toenemend van verskillende kante af bevraagteken, veral wanneer dit met historiese gegewens vergelyk word.  Baie keer is die antwoorde wat dit op historiese vrae gee baie onvolledig en voorlopig en selfs aanvegbaar.

Om sinvolle opmerkings oor die geskiedenis te maak op grond van die argeologie alleen, is dus baie moeilik en soms eintlik onmoontlik.  Baie selde kan ‘n opgrawing presies met ‘n historiese stad se skriftelike storie verbind word, wat beteken dat jy nie eintlik vergelykende getuienisse het nie.

‘n Mens sien hierdie problematiek bv. in die feit dat geleerdes in die loop van die twintigste eeu redelik dramaties verskil het oor die datering van die intog van Israel in Kanaän, meesal op grond van verskillende interpretasies van die argeologiese fondse.   Die verskille het veral te make met die wyse waarop die artefakte (bv. kleipotskerwe)  vir datering gebruik is.

Desnieteenstaande is daar tans egter min verskil oor die oorhoofse feit dat daar uit die opgrawings blyk dat ‘n aantal stede in Kanaän in die tweede helfte van die tweede millennium v. C.  deur een of ander gewelddadige menslike proses verwoes is (en nie deur iets soos aardbewings of ‘n ander natuurlike ramp nie) soos veral uit die werk van Weippert  en Yadin  blyk (wat die vroere werk van Albright en Bright bevestig).  Van hierdie stede is herbou, soms op dieselfde plek, soms op ‘n naasliggende plek, en vertoon ‘n beduidend ander kultuur en argitektuur.

Maar om meer as dit histories te sê, waaruit ‘n meer objektiewe historiese prentjie van die Intog in Kanaän gevorm kan word, blyk eintlik onmoontlik te wees.  Dit hang saam met die komplekse saak om die Bybelse gegewens intern te harmonieer en ekstern histories te verifieer.

Intern is daar bv. die verskillende perspektiewe van Jos. 11:23 en 21:43–45, wat stellig verklaar dat die hele land ingeneem is, teenoor Jos. 13:1–7, 15:63, 16:10 en 17:12–13 wat van ‘n onvolledige inname praat.  Dieselfde geld die verskillende perspektiewe oor die volledige verwoesting van Hebron (deur Kaleb) Jos. 10:36–39 wat blyk in Rigt. 1:10–15 onvolledig te wees.

Kaufmann, ‘n Joodse geleerde, harmonieer dit deur van ‘n eerste “platvee” veldtog onder leiding van Josua te praat (Josua), wat daarna deur ‘n “skoonmaak” veldtog opgevolg is (Rigters), maar dit bly ‘n tergende probleem.

Ekstern is daar probleme met die verhale van Jerigo (geen artefakte uit die 13de eeu v.C.), Ai (moontlik net bewoon tot die 21ste eeu v. C. volgens Marquet-Krause) en Gibeon (ook min artefakte uit die 13de eeu v.C.).  Om die verwoestings van dié drie stede daarom in een eeu te dateer, blyk problematies te wees, selfs al neem ‘n mens in ag dat die argeologiese gegewens op verskillende maniere geïnterpreteer word.  Dit kan wees dat van die getuienisse deur erosie verwyder is, maar dit blyk ‘n ingewikkelde probleem te wees.

En die uiteenlopende pogings in die vorige eeu om die Bybelse weergawes van die intog met buite-Bybelse gegewens te harmonieer, help ons ook nie juis verder nie.  Dit het gewissel tussen die volgende voorstelle: 1) ‘n intog met oorloë, wat egter deur die tradisie vergroot is (Albright, Woudstra, Bimson), 2) ‘n hoofsaaklik vreedsame intog sonder grootskaalse oorloë (Alt, Noth), en ‘n kleinboer opstand teen die Kanaänitiese landhere (Mendenhall, Gottwald).

Nie een van hierdie geleerde voorstelle kan aanspraak maak op ‘n groeiende konsensus in die teologiese wêreld nie.

Wat wel seker is, is dat die storie van ‘n intog deur die volk Israel ‘n historiese basis het.  Argeologiese gegewens te same met ander buite-Bybelse historiese gegewens bevestig dit (bv. die voorkoms van die naam Israel op die Merneptah stele van ongeveer 1220 v.C. sowel as die onlangse fonds van ‘n standbeeld waarop die naam van Israel ook voorkom wat uit die 15de eeu v.C. dateer) onomwonde.

Net so seker is die feit dat die Bybelse skriftelike tradisies rondom Moses en Josua en die uittog en intog van Israel deur verskillende priesterlike en later profetiese groepe neergepen is en van teologiese en redaksionele interpretasies voorsien is wat gelei het tot die Skrif soos ons dit voor ons het.

Maar hulle metodiek was eerder episodies as histories, d.w.s. die verhale is as verhale opgeteken sonder om dit noodwendig in ‘n liniêre historiese verloop te plaas.  Eers in 1 en 2 Samuel begin die skrywers meer kronologies werk wat meer met ons moderne verstaan van geskiedskrywing ooreenkom.

En dit is uiteindelik die dokument waarmee ons werk, omdat ons, net soos al die ander gelowiges voor ons, God se stem daarin hoor, al kan ons nie elke detail van die teks intern of ekstern verifieer nie.

Die land Kanaän

Die land Kanaän word beskrywe as die land van die Kanaäniete, Hetiete (van wie Abraham die grot Magpéla as graf vir sy vrou Sara gekoop het), Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, almal nasate van Gam, die middelste seun van Noag (Gen. 10 – vgl. Eks. 3:7 se belofte).

In terme van huidige politiese grense, het Kanaän ‘n gebied beslaan wat die hele moderne staat van Israel, die hele gebied van Jordanië, ‘n groot deel van Saudi-Arabië, die helfte van Irak, die hele Libanon, ‘n deel van Sirië, en die hele Koeweit beslaan.

Die verlies van die land Kanaän (Gam se seun was Kanaän – Gen. 10) deur die volke (almal nasate van Kanaän) wat deur Israel verslaan is, word teologies geregverdig as te wyte aan hulle afgodediens en onsedelikheid (Gen. 15:16; Lev. 18:24-30: “Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het.”).  Reeds met die verhale van die aartsvaders is huwelike met Kanaäniete verbied (Isak bv. in Gen. 24).

Die Intog gebeur waarskynlik in die 15de eeu (1446 v. C.) op die basis van 1 Konings 6:1.  Daar word die uittog uit Egipte 480 jaar geplaas voor die aanvang van die tempelbouprojek deur Salomo, wat in sy vierde regeringsjaar begin is (967 v.C.).  Vir meer inligting kan jy my bydrae oor Eksodus by die Bybelskool.com raadpleeg.

Die Egiptiese ryk se invloed was gelukkig aan die taan, sodat die stadstate in Kanaän meer onafhanklik kon bestaan, en die Israeliete nie met ‘n super-moondheid moes rekening hou met hulle inname van die land nie.

Perspektiewe op die inname van die land

Die inname van die land moet uit twee hoeke beskou word, wat soos twee kante van ‘n munt beskou moet word.

Aan die een kant word die inname van die land beskrywe uit die hoek van die volk Israel wat die land in besit neem deur oorlog teen die ander volke wat daar woon, te maak.  Dit kan as die historiese perspektief beskrywe word wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (soms met die Gilgal heiligdom verbind vanwaar die onderskeie veldslae van die aanvanklike inname geskied het).

Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype.  Daarmee word God ook as die God van die geskiedenis beskrywe, anders as die Kanaänitiese gode wat as natuurgode of geografiese gode beskrywe is. (God word ook as Skepper geteken – vgl. 2:11; 4:24.)

Soos Sagaria dit veel later sou verwoord in sy profetiese woord aan Serubbabel, kleinseun van Jojagin en goewerneur in Jerusalem na die terugkeer uit Babilon in 520 v.C., maar steeds onder Persiese heerskappy, met die herbou van die tempel (Sag. 3:6): “Nie deur mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.

Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev. 25:23).  Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (soms met die Sigem heiligdom verbind waar Josua sy afskeidsboodskap lewer, hoewel Silo ook ‘n rol gespeel het).  ‘n Belangrike verskil met die Kanaänitiese Baäl godsdiens kom hiermee na vore, deurdat God nie net as die baäl (heerser) van die land beskrywe word nie, maar as die besitter daarvan.

Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel.  Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het.

Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie.  Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word.  Die land is dus nie in ‘n hieros gamos (‘n heilige huwelik) aan Israel verbind nie, soos wel in ander godsdienste die geval was nie.

In Josua word hierdie gehoorsaamheid veral beskrywe in terme van hulle verhouding met die land.  Waar hulle gehoorsaam is aan God, neem hulle die land in besit deur hulle oorwinnings.  Waar hulle ongehoorsaam is aan God, bly die ander volke in besit van die land en verloor hulle die oorlog.

Die land het dus ‘n besondere plek in Israel se verhouding met die Here.

Dit is aan die een kant die sigbare simbool van hulle verhouding met die Here.  Die besit van die land word as ‘n gawe van God gesien en is daarom afhanklik van hulle gehoorsaamheid in hulle verhouding met Hom.

Aan die ander kant maak die land ‘n integrale deel uit van hulle identiteit as volk.  Die belofte van die land het aan hulle ‘n gemeenskaplikheid gegee en aan mekaar as stamme verbind.  Hulle identiteit as volk was dus gebou op die belofte en besit van die land.

Geen wonder dat die verlies van die land met die onderskeie ballingskappe daarom ‘n teologiese krisis (Is God nog ons God?) sowel as ‘n identiteitskrisis (Is ons nog ‘n volk?) was nie.

Besit deur families

Die verskillende lyste wat ons in die boek Josua aantref kan in twee tipes verdeel word: dorpe en stamgebiede, wat deur die redakteur saamgevoeg is om die land-inname en -verdeling te beskryf (vgl. bv. Jos. 15).

Hierdie gebiede is onder die 12 stamme (matteh) verdeel in uitgebreide familie-groepe (miš∙pā∙ā soms clans genoem – bv. Jos. 13:15 [NAV: geslagte]) en kleiner familie-eenhede (bǎ∙yi  ʾāhuis van vader– bv. Rigt. 6:15) wat die belangrikste kleiner eenheid in die volk was en saamgestel is uit al die nasate van ‘n lewende voorvader.  Levi het net ‘n paar stede in van die stamgebiede gekry het in lyn met die opdrag van die Here rondom hulle diens as priesters.

Levitikus 25:23 was die teologiese rasionaal wat die besit gereël het: “Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My.  Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My”.

Dit het die kultiese perspektief bevestig, die land is God se land, maar aan die ander kant ook die ekonomiese voortbestaan van die families beskerm, deurdat daar voorsiening gemaak is dat families wat hulle land verloor of verkoop weens watter redes ook al, dit weer kon terugkry.  Die verhaal van Rut is ‘n voorbeeld daarvan.

Indeling van die boek

Ons gaan die boek lees in sy 4 hoofdele:

  • Israel trek die land Kanaän binne (1:1-5:12)
  • Israel neem die land in besit (5:13-12:24)
  • Die land word verdeel onder die 12 stamme (13:1-21:45)
  • Die volk hernuwe hulle verbond met die Here (22-24)

Oorsig van die boek

Die Intog in die land Kanaän is ‘n draaipunt in die geskiedenis van Israel.  Die gebreke van die verlede word nou as verhale vir onderrig gebruik, en nie meer as veroordeling nie.  Die belofte van die land gaan oor in die vervulling daarvan in terme van die besit van die land.  Die belofte van God se teenwoordigheid bly egter die stimulus vir die volharding in ‘n gehoorsame verhouding met Hom.

Die leierskap van Josua word beklemtoon.  Veral dat hy ‘n leier soos Moses was.  En daar is opvallende ooreenkomste tussen hulle optredes.  Die water van die Jordaan word bv. geskei net soos met die Rietsee by die Uittog uit Egipte, in Moses se geval met die simbool van die uitgestrekte kierie, en in Josua se geval deur die simbool van die ark, gedra deur  die priesters.

Die opdrag aan Josua om die wetboek te bestudeer en daaroor na te dink, is ook ‘n draaipunt in die kommunikasie tussen God en sy mense, veral ten opsigte van die kennis en begrip van God se wil.  Waar drome en visioene, engele en profete tot hier die vernaamste maniere was waarop God Homself en sy wil aan sy mense bekend gemaak het, begin dit beduidend skuif na ‘n fokus op die geskrewe openbaring van God se wil.

Die gebied wat die Here aan die volk belowe word beskrywe as: “van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste” (1:4).  Interessant is dat Israel nooit die volle gebied ingeneem of besit het nie.  Die Arabiere en ‘n paar ander kleiner volke het die res besit.  En tot vandag toe nog is dit veral die twee afstammelinge van Abraham, Isak (Israel) en Ismael (Arabiere), wat die gebied merendeels bewoon.

Die veldtog verloop as volg:

  1. Dit begin by Sittim – 12 km oos van die Jordaanrivier.
  2. Die Jordaanrivier word oorgesteek by Gilgal om in Kanaän in te gaan. Dit was in April (4:19) toe die rivier vol was.
  3. Gilgal was sowat 2 km noordoos van Jerigo. Die Israeliete het hulle daar aan God toegewy en ‘n klipaltaar gebou.  Ook die paasfees is daar gevier.  Dit het ‘n heilige plek geword waar Saul ook later gekroon is (1 Sam. 11).  Verskeie van die veldslae is van hier af gevoer.  En geleerdes verbind die totstandkoming van die boek Josua tot ‘n groot mate aan die kultus van Gilgal (Butler).
  4. Jerigo was die eerste stad wat geval het, een van die oudste stede ter wêreld met hoë amper ondeurdringbare mure.
  5. Die volgende veldslag was teen Ai, waar hulle aanvanklik verloor het, omdat hulle nie die Here se opdrag gehoorsaam het nie, maar ook weens die hulp van die mense van Bet-El. Met die tweede veldslag het hulle oorwin.
  6. Josua het ná die neerlaag by Ai ’n altaar op die Ebalberg gebou. Die volk het in twee verdeel—die een helfte het by die voet van Ebalberg en die ander helfte by die voet van Gerisimberg gestaan, wat veral vir die latere Samaritane ‘n heilige plek geword het. Die priesters het met die ark tussen die twee berge gestaan en Josua het die wet van God vir die volk gelees (8:35).
  7. Die inwoners van Gibeon, Hewiete uit vier dorpies sowat 12 km noord van Jerusalem en 10 km suid van Bet-El en Ai, het onder valse voorwendsels ’n vredesverdrag met Israel gesluit, terwyl hulle weer by Gilgal laer opgeslaan het, maar uiteindelik slawe van Israel geword.
  8. Van Gilgal af het Josua ‘n groot veldslag teen ‘n suidelike koalisie van vyf van die konings in die Suide gevoer op aandrang van die Gibeoniete. Die geveg het suidwaarts van Gibeon af na die Ajalonlaagte verskuif.  Dit was hier waar Josua die Here gevra het om die son en die maan te laat stilstaan sodat hulle die vyand kon verslaan.
  9. Na ‘n klomp van die suidelike stede ingeneem is, het Josua ook Hasor, ’n belangrike stad tussen die Hulemeer en die See van Galilea, ingeneem. Koning Jabin van Hasor het die leërs van omliggende stede gevra om hom te help, maar die Here het die Israeliete bygestaan om hierdie noordelike koalisie te verslaan. Dit het aan hulle toegang verleen tot die ander gebiede in die noorde van Israel.
  10. Josua-hulle het daarna by Silo bymekaargekom, noord van Bet-el (Jakob), om die tent van ontmoeting daar op te rig, die plek waar Eli en Samuel later diens gedoen het.   En van daar af is die res van die land onder die stamme verdeel (hfst. 18).  Die land word verdeel deur Josua en Eleasar onder die 12 stamme, met spesiale reëlings vir die Leviete, soos die Here dit uitgewys en sommige dit versoek het.
  11. Aan die einde van Josua se lewe, bring hy die hele volk by Sigem bymekaar en herinner hulle daaraan dat God die land aan hulle gegee het. Hulle sou dit dus slegs met sy hulp kon behou. Die volk het belowe om na aan Hom te leef en vir die res van Josua se lewe was daar vrede en het die Israeliete nie weer by enige oorlog betrokke geraak nie (hfst. 24).

Die groot vraag wat egter ontstaan na die inname en verdeling van die land, is, sal die volk getrou bly aan die Here? En die hele verhaal van Israel wat hierna ontvou deur die Deuteronomistiese geskiedwerk en die profetiese optredes, word aan hulle getrouheid aan God al dan nie beoordeel.

Riglyne vir die lees

Terwyl julle die boek deurlees, let op die volgende temas:

  • Die land word as ‘n Gawe van God beskrywe wat aan Israel as vervulling van die belofte aan die aartsvaders gegee word deur ‘n Heilige Oorlog wat God namens en deur hulle voer.
  • God word geteken as Skepper (2:11; 4:24) en as Verlosser (volk uit Egipte uitgelei – 2:10; 4:23; 9:9–10; 24:1–10, 17) wat sy beloftes hou (10:40; 11:23; 21:43–45; 23:3, 9, 14; 24:11–13, 18) en gehoorsaamheid aan Homself deur die nakoming van die wet eis (1:7–8; 22:5; 23:6–8, 11, 16) en beloon (veral ten opsigte van die leier, Josua: 1:5, 9, 17; 3:7, 10).
  • Die voortdurende gehoorsaamheid van die leier Josua (met die  bou van die altaar by die Jordaan – 4:9; met die besnydenis van die volk– 5:7; deur Ragab te laat lewe – 6:25; deur net die vee en buit te vat, maar die stad Ai te verbrand  – 8:27; deur die Gibeoniete, ten spyte van hulle slinksheid, te beskerm – 9: 22–27; deur die perde en strydwaens te vernietig – 11:9; deur die hele land in te neem – 11:16) en die gebrekkige gehoorsaamheid van die volk aan die Verbondsgod (storie van Ai – 7:1; deur die Gibeoniete te wil uitmoor – 9:16) word daarom sterk beklemtoon.
  • Dit wys ook onomwonde watter tipe leierskap God wil hê vir sy volk. Die leier moet gehoorsaam wees, soos Moses, en spesifiek die wetboek van Moses as sy rigsnoer neem.  Die hele verdere beoordeling van die leiers in die verhale van die Rigters- en die Koningstyd daarna, kan vanuit hierdie voorbeeld van die verhaal van Josua gedoen word, wat ‘n leier soos Moses was, en gehoorsaam was aan wat God beveel het.  Die militêre vermoë van leiers word dus as ondergeskik gestel aan hulle persoonlike geestelike verhouding met en gehoorsaamheid aan God.
  • Die Intog word ook in terme van politieke konflik Gibeon en die twee koalisies in die land, van die suidelike en noordelike konings van die stadstate neem elkeen op sy eie manier stappe om die inkomende volk van Israel die hoof te bied: Gibeon deur ‘n slinkse ooreenkoms en die koalisies deur veldslae.
  • Die Priesterlike hand (Gilgal) in die redaksie van die verhale is regdeur sigbaar met opmerkings soos: “dit is vandag nog daar” (4:9; 5:9; 6:25; 7:26; 8:28; 9:27) en die fokus nie net op die militêre oorwinnings nie , maar ook op die gevolglike besit, verdeling en beheer van die land.

Beplanning

Ek beplan om Josua in die vierde kwartaal 2017 hoofstuk vir hoofstuk deur te lees. Ek begin DV 1 November 2017.

     

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Jan Louw

    |

    Ek wil ook my waardering uitspreek vir hierdie werk Chris. Die “TULIP verskraling” is vir my ‘n verhelderende opmerking.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie! Ek put persoonlike vreugde uit dié belydenis, veral ook as ‘n mens nie vassteek by die TULIP verskraling nie – dit help wel as ‘n opsomming – maar deurdruk en dit deur ‘n deeglike lees jou eie maak.

  • Avatar

    Quintus

    |

    Chris
    Dankie vir die een oor Dordt. Dit is duidelik verstaanbaar en verhelderend . Ek het jare terug my MTH skripsie oor die Dordse Leerreels en Evangelisasie gedoen . Dit is ‘n baie ryke dokument wat ons te min uithaal . Jy doen dit uitstekend!!!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit is ‘n spreekwoord wat gewoonlik uitgelê word dat as hierdie oordeel die onskuldige Jesus tref (groen hout), hoeveel swaarder sal die oordeel nie wees oor die Joodse volk (droë hout) nie, soos dit in 70 n.C. gebeur het met die Romeinse vernietiging van Jerusalem deur Titus.

  • Avatar

    Minnie Louw

    |

    Goeiemôre,
    Kan u asb vir my Luk 23:31 verduidelik.
    Baie dankie.
    Minnie Louw

  • Avatar

    Petro Maloney

    |

    Dr Chris – Ek was so dankbaar toe die Heilige Gees my na u webtuiste toe lei. Ek soek al ‘n geruime tyd so ‘n webtuiste waar elke Bybelboek opgesom kan word of die kruks van die teksverse verduidelik kan word.

    Mag die Vader U ryklik seen met die werk.

    Groete
    Petro

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ja, Petrus sê: “Hy is geduldig met julle (gemeente), omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9). God se wens is dus bekering van almal wat deel is van die geloofsgemeenskap en dat dit nie uiteindelik blyk dat sommige die pad byster geraak het omdat hulle hulle nie in geloof en bekering aan God verbind het nie.

  • Avatar

    anna makwatie

    |

    Baie dankie vir die brood wat my siel voed, soos dit in Ps 23 staan. God wil ook nie he dat een mens(Sy beeld) verlore moet gaan nie. Die bybel getuig van Sy liefde vir die mensdom, soos dit staan in Miga 6 vers 8. Nogmaals dankie!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Jesus het ons geleer dat mense óf gered word om in die koninkryk van God in te gaan óf in die hel (gehenna) gegooi te word (Matt. 10:28; Luk. 13:28). Op soortgelyke wyse verkondig Hy aan die ongelowiges in Kapernaum dat hulle tot die doderyk (hades) verdoem sal word. Dieselfde geld mense wat in hulle sonde bly (Matt. 5:22, 29-30; 23:31-33). Hy beskryf hierdie plek weg van God se aangesig as ‘n ewige vuur (Matt. 25:41), ‘n plek van donkerte (Matt. 8:8-12), ‘n bodemlose afgrond (Luk. 8:31), waar mense in pyn verkeer weens die vuur van die doderyk (Luk. 16:23). Die vuur word nooit geblus nie en die wurm hou nooit op met vreet nie (Mar. 9:48).

    Paulus praat minder oor die hel en die doderyk, maar kontrasteer steeds die wonder van die koninkryk van God met die afgryse van die dood (2 Kor. 7:10) en die ewige verdoemenis waar God die mense wat nie vir Hom ken nie, sal straf (2 Tess. 1:6-10). Dit sluit dus alle mense in wat nie in Jesus glo nie, maak nie saak in watter godsdiens hulle hulle bevind nie.

    Dit wil voorkom of die vuur daar alreeds brand, want daar is alreeds engele wat daarheen verdoem is (2 Pet. 2:1-10). Dit is ‘n plek van gloeiende vuur waarin al die vyande van God uiteindelik gegooi sal word (Hebr. 10:26-27).

    Sommige interpreteer al bogenoemde beskrywings as metaforiese beskrywings. Ander interpreteer dit letterlik. Dit maak in wese nie saak watter roete ‘n mens met die interpretasie gaan nie, want selfs metafore het werklike referente. Die hel is dus ‘n plek waar God in sy toorn aanwesig is, en in sy genade afwesig. Dit is ‘n werklikheid van onbedenkbare leed.

    Johannes brei op dié temas uit in sy Openbaring en voeg nog twee belangrike elemente by. Een, dit is Jesus wat die mag het oor die doderyk (Openb. 1:18). Hy sluit dit oop vir die ongelowiges en Hy sluit dit toe vir die gelowiges. Twee, die doderyk (hades) word as sodanig uiteindelik in ‘n vuurpoel gegooi wat bedoel is vir almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie (Openb. 20:13-14). Die hel/doderyk beland dus uiteindelik in hierdie finale vuurpoel. Dit is ook die plek waar die duiwel vir ewig sal brand (Openb. 20:20) saam met al die ongelowiges.

  • Avatar

    Sonja Slater

    |

    Maw Jode, Moslems en ander gaan almal hel toe?

%d bloggers like this: