Skip to main content

Weglatings in die 1983 Afrikaanse vertaling

Die stof wil maar net nie gaan lê rondom die gewaande “weglatings” in die 1983 Afrikaanse vertaling nie.  Hier is inligting wat jy kan gebruik om jouself tevrede te stel dat nie een van dié sogenaamde weglatings met verkeerde motiewe gedoen is nie.  Ek gee ’n lys aan die einde van hierdie bydrae van die “weglatings” met kommentaar daarop.  Jy sal daarin sien dat nie een van die weglatings fundamenteel of wesenlik van aard is nie.

Waarmee ek nie sê dat ek persoonlik gelukkig is met die 1983 Afrikaanse vertaling nie.  Ek dink dié dinamies-ekwivalente vertaling is net te ver van die grondteks af wat gebruik is.  Ek verkies daarom in Afrikaans óf die 1933/1953 vertaling of die nuutste Bybel Direkte Vertaling (BDV) se teks, ten minste dié wat beskikbaar is (kyk by nuwekerkbybel.co.za).

Continue reading

Profete vandag

Die profesie wat Angus Buchan onlangs gelewer het oor die droogte wat in die Kaap gebreek sal word teen Maart 2018 het gelowiges gaande. Sommige is positief daaroor. Ander negatief.

Ek wil my nie soseer uitspreek oor sy profesie nie. Tyd sal leer of hy dit van God af gekry het of nie. ‘n Profeet se integriteit word getoets aan die uitkoms daarvan (Deut. 18:21-22).

Ek wil wel iets sê oor die NT lering oor profete, want dit lyk my daar is verwarring daaroor.

Met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag het Joël se profesie in vervulling gegaan. Dit het ingesluit dat gelowige “seuns en dogters” as profete begin optree en die boodskap van Jesus begin verkondig het (Hand. 2:17-18; Joël 2:28). Profesie was dus ‘n teken van die nuwe bedeling wat met die Heilige Gees se koms aangebreek het.

Daarom was daar profete wat vanaf Jerusalem die evangelie begin verkondig het tot in Antiogië (Hand. 11:27). Van die name van profete in die NT is daarom ook aan ons bekend: Judas, Silas (Hand. 15:32) en Agabus (Hand. 21:10) van wie ook ‘n vervulde profesie opgeteken is.

In sommige gemeentes, bv. die gemeente in Antiogië, het die profete saam met die leraars diens in die gemeente gelewer (Hand. 13:1). Ook Filippus het vier dogters gehad wat as profetesse opgetree het (Hand. 21:9).

Meesal het hulle egter wyer gewerk. Paulus het bv. die profeet Silas gekies om saam met hom te werk (Hand. 15:40) en hom selfs ingesluit in die aanhef van sy briewe aan die Tessalonisense (1 Tes. 1:1; 2 Tes. 1:1 – Silvanus = Silas).

In die vroeë kerk was profete dus deel van die gawes wat God aan die kerk gegee het (1 Kor. 12:28-29; Ef. 4:11) en was daar reëlings vir hoe hulle in die gemeente moes optree (1 Kor. 14:29). Daarom word die kerk ook gewaarsku teen vals profete wat die boodskap van die Skrif verdraai (1 Joh. 4:1) waarvan Barjesus een was (Hand. 13:6) asook Isebel (Openb. 2:20).

Ek wil ook iets sê oor Calvyn se standpunt oor profete, omdat hy verkeerdelik aangehaal word asof hy geleer het dat profete net tot die NT tyd beperk was. Dit is nie korrek nie.

Gaan lees wat hy self geskryf het in sy Institusie. Op grond van Efesiërs 4 aanvaar hy daar dat profete steeds in sy tyd, d.w.s. in die verlengde ook vandag, kan optree. Hy sê bv.: “Die Here … wek hulle (profete) soms nog op namate die tydsgewrig dit vereis.” (Hfst. 3). Profete is wel volgens hom “minder opsigtelik” weens die buitengewone aard daarvan.

Laat ons verseker versigtig wees met die uitsprake van mense wat hulle as profete voordoen, soos die Skrif ons leer, maar nie die kind met die badwater uitgooi nie.  “Blus die Gees nie uit nie.  Verag die profesieë nie.  Beproef alle dinge.  Behou die goeie.” (1 Tess. 5:19-21 – OAV).

En laat ons ook onthou dat elke gelowige ingesluit is in die koninklike priesterdom wat die verlossingsdade van God aan hierdie wêreld moet verkondig (1 Pet. 2:9). Ons is Intersessors en Woordvoerders van God, soos Hy ons deur sy Woord en Gees lei, presies soos die profete dit nog altyd was (Profete in die OT).

Die wens van Moses, dat die hele volk profete sou wees (Numeri 11), het vir ons in Christus deur die kragtige werking van die Heilige Gees waar geword met Pinksterdag.

Waarom vier ons nie meer die sabbat soos dit in die wet gebied word nie?

Ek het reeds hieroor geskrywe vanuit die hoek van die historiese ontwikkeling daarvan. Ek wil dit nou uit die hoek van die Tien Gebooie en die NT hantering van die sabbatdag bekyk.

Die vierde gebod word Bybelsgesproke deur twee goed gemotiveer.

  • Israel moes die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat God alles goed gemaak het, soos Hy op die sewende dag gerus het na al sy werk aan die skepping (Eks. 20). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir alles wat Hy gemaak het.
  • Israel moes ook die sabbatdag vier, om hulle te herinner daaraan dat hulle God se volk is, soos God hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Deut. 5). Met die viering van die sabbatdag het hulle erkenning aan God gegee vir die verlossing wat hulle in die regte verhouding met God gebring het.

Die NT beskou die sabbatdag as ‘n skaduwee van wat sou kom. Die werklikheid is Christus. Dié wat dus in Christus is, vier hulle afhanklikheid van God (skepping) elke dag, nie net op een dag nie. Hulle vier ook hulle rus van die sonde (verlossing) elke dag, nie net op een dag nie. Hulle het dus nie meer nodig om een dag bó ‘n ander te vier nie, hoewel hulle welkom is om dit te doen, en dit ‘n gesonde ritme van rus en werk kan skep. Niemand mag Christene egter voorskryf daaroor nie.

Drie NT Skrifgedeeltes dra dié boodskap.

Continue reading

Die onderskeid tussen die kanonieke en apokriewe boeke

Die apokriewe of deuterokanonieke boeke

Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer lees oor kanonvorming by hierdie skakel.

Continue reading

Die uitverkiesing

Ek het ‘n navraag gekry oor die uitverkiesing en gee hier ‘n paar opmerkings daaroor.

Die beste is om die Dordtse Leerreëls te lees om uit die perd se bek die verklaring van die uitverkiesing te hoor.  Jy kan dit hier lees: Dortse Leerreëls en die res van die belydenisskrifte hier: Geloofsbelydenisse.

Die belangrikste plek om egter die diepte van die leerstuk van die uitverkiesing te ondersoek, is in die Bybel self.  Dit is in die lees van die Bybel  – connecting the dots – dat ‘n mens tot verstaan kom van hierdie diep vertroostende perspektief op God.

Ek dink die beste manier om God se soewereine keuse in die uitverkiesing en ons eie keuse vir God te versoen, is om in lyn met Romeine 9-11 te aanvaar dat jy nooit vir God sal kies as God jou nie eerste kies nie.  Dit is alleen uit genade, soos die Reformasie ons geleer het.  Soos Paulus sê: “Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.” (Rom. 9:13).

Continue reading

Onlangse kommentaar