Skip to main content

God se bekende en verborge wil

Photo by Aaron Burden on Unsplash

Daar is ten minste vier maniere waarop die Bybel oor God se wil praat, waarvan sommige dele aan ons bekend gemaak word en ander dele verborge bly.  Ek kan dit só opsom:

Continue reading

Oor die Tiende

Die Tiende is nie opgehef in die NT nie. Jesus sê aan die Fariseërs dat hulle wel tiendes gee, maar die belangrikste nalaat, geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Maar dan sê Hy die volgende: “Juis hierdie dinge moet ’n mens doen en die ander nie nalaat nie.” (Matt 23:23).

Daar is egter ‘n ekstra dimensie wat bykom, dit is die gedagte van ‘n dankoffer wat na vermoë gegee word.

Continue reading

Oor die Tien Gebooie

Jesus bevestig in die NT die geldigheid van die Tien Gebooie met sy opsomming daarvan in die twee liefdesgebooie:

“28 Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” 29 Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31 Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark 12:28-31).

Trouens Jesus verdiep die tweede gebod in Johannes 13:34 deur te sê dat ons nie net ons naaste SOOS ONSSELF moet liefhê nie, maar SOOS HY moet liefhê.

Jesus en Jahwe

Wie is Jesus in die Bybel?

Ek dink in die laaste tyd baie na oor Wie Jesus in terme van die Bybelse boodskap is. Wat is die prentjie wat die Bybel self gee van Jesus?  En hoe beïnvloed dié prentjie van Jesus my lewe?

Die rede daarvoor is aan die een kant omdat die navorsing van die afgelope paar eeue oor die historiese Jesus my ernstig frustreer.  Die poging van die historiese Jesus navorsers om agter die teks van die NT en OT in te kom en met historiese metodes ‘n rekonstruksie van die sogenaamde historiese Jesus te gee, het tot soveel diverse prentjies van Jesus aanleiding gegee, wat nie net onder navorsers tot ernstige konflik van opinies lei nie, maar ook in groot konflik is met die teks van die Bybel self.  Om daarvan sin te maak, is moeilik genoeg.  Om daarvan te leef, is onmoontlik.

Aan die ander kant word my belangstelling in die Bybelse boodskap geprikkel deur die resultate van die narratiewe benadering.  Die erns wat in dié benaderings met die teks van die Bybel self gemaak word, spreek net baie meer tot my.  Elke nuanse van die Bybelteks, elke beeld wat gebruik word, elke verbintenis wat in die teks gemaak word, en die betekenis daarvan in terme van die konteks beide van daardie tyd en vandag, word op só ‘n kreatiewe wyse in spel gebring dat dit vir my lei tot ‘n inspirerende besig-wees met die teks.  Die poging om sin te maak van die teks self, open vir my deure van luister en leef wat nie met historiese metodes moontlik is nie.

Continue reading

Salwing in die Bybel

Ek het ‘n navraag gekry oor die betekenis van salwing in die Bybel. Hier is ‘n kort verduideliking daarvan:
  1. Salwing met (olyf)olie is op verskillende wyses in ou Israel gebruik as simbool van toewyding vir voorwerpe (Eks 40:9–11 – die tabernakel, die altaar en ander voorwerpe), priesters (Lev 8:12, 30), en konings (1 Sam 10:1; 1 Kon 1:39). Die salwing met olie simboliseer in die OT dus veral die amptelike bevestiging of toewyding van iets of iemand aan die Here. Dit is nou benewens die gebruik van olie in die kosmaak proses (1 Kon 17:12), as medisyne en as salf vir sere (Jes 1:6; Mark 6:13; Luk 10:34) by die versorging van die liggaam (2 Sam 12:20; Ps 104:15) en as offer (Eks 29:40; Lev 8:26; Num 7:19) . Olie simboliseer ook voorspoed en oorvloed (Deut 33:24; Job 29:6; Eseg 16:13).
  2. Die OT praat ook van ‘n salwing met die Heilige Gees wat die ontvanger bemagtig en toerus vir sy werk en roeping (Jes 61:1). Dit is ook wat gebeur het met die kerk in die NT toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand 2). Só is gelowiges gesalf/bemagtig vir die taak wat God vir hulle in sy koninkryk gehad het (1 Joh 2:22 – “Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle almal ken die waarheid” -vgl ook vers 27).
  3. Jesus word natuurlik by uitstek in die NT die Gesalfde genoem (Luk 2:26), wat in Aramees met Messias en in Grieks met Christus weergegee word. Al drie hierdie name: Gesalfde, Messias en Christus, beteken dus dieselfde, dat Jesus deur God as Verlosser van die wêreld gesalf en bemagtig is (Luk 4:18-19; Hand 10:38). Dit is wat Petrus ook van Jesus bely: “U is die Christus” (Mark 8:29).
  4. Die NT noem gelowiges natuurlik ook gesalfdes, omdat ons volgelinge van Christus is (2 Kor 1:21). Die Heidelbergse Kategismus vra in Vraag en Antwoord 32: “Waarom word jy ’n Christen genoem ?”, en antwoord: “Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het, sodat ek sy naam kan bely, myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.” Christen beteken dus beide om ‘n volgeling van Christus en ‘n gesalfde van Christus te wees.
  5. Salwing met olie is ook deur die dissipels gebruik in die proses om siekes gesond te maak, dit waarvoor die Here hulle uitgestuur en bemagtig het (Mark 6:13). Hierdie salwing met olie was aan die een kant die benutting van ‘n bekende geneesmiddel, maar ook ‘n simbool van die genesing wat God deur Sy Gees gee.
  6. Dit is waarskynlik ook waarom salwing met olie gebruik is as deel van die gebed om genesing deur ouderlinge (Jak 5:14). Omdat olie as  ‘n geneesmiddel geag was, was dit ook ‘n kragtige simbool om te benut in die gebed om genesing.

Salwing het dus ‘n geestelike betekenis waar dit aan die werk van die Heilige Gees verbind word, en as deel van ‘n gebedsaksie gebruik word. Die krag lê natuurlik nie in die olie nie, maar in die Heilige Gees en in die gebed. Gebed sonder olie is daarby net so kragtig, soos vele plekke in die Bybel dit vir ons uitspel (bv Jak 5:16).  Salwing (met olie) kan ook in terme van die OT gebruik as ‘n simbool van toewyding benut word, hoewel hande oplê ook dié simboliese funksie kan verrig.

Onlangse kommentaar