Skip to main content

Die uitverkiesing

Ek het ‘n navraag gekry oor die uitverkiesing en gee hier ‘n paar opmerkings daaroor.

Die beste is om die Dordtse Leerreëls te lees om uit die perd se bek die verklaring van die uitverkiesing te hoor.  Jy kan dit hier lees: Dortse Leerreëls en die res van die belydenisskrifte hier: Geloofsbelydenisse.

Die belangrikste plek om egter die diepte van die leerstuk van die uitverkiesing te ondersoek, is in die Bybel self.  Dit is in die lees van die Bybel  – connecting the dots – dat ‘n mens tot verstaan kom van hierdie diep vertroostende perspektief op God.

Ek dink die beste manier om God se soewereine keuse in die uitverkiesing en ons eie keuse vir God te versoen, is om in lyn met Romeine 9-11 te aanvaar dat jy nooit vir God sal kies as God jou nie eerste kies nie.  Dit is alleen uit genade, soos die Reformasie ons geleer het.  Soos Paulus sê: “Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.” (Rom. 9:13).

Jou keuse vir God is dus die gevolg van God se werk in jou hart.  Jy moet van bo-af gebore word, om jou vertroue in God te plaas, om vir Hom te kies, soos Jesus in Johannes 3 sê.  Paulus eggo dit in sy brief aan Titus: “Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.” (Tit. 3:5).

Jou geloof kom dus van die uitverkiesing af, let wel, voor die grondlegging van die wêreld soos Paulus aan die Efesiërs skrywe: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” (Ef. 1:4).

‘n Mens kan dit met ‘n voorbeeld illustreer.

  • Arminius – die leier van die Remonstrante – sou sê jy word gered soos ‘n drenkeling met ‘n reddingsboei uit die see gered word.  Dit is God wat jou red, maar jy moet ook die reddingsboei gryp en daaraan vasklou.  Jy het dus ‘n aandeel aan jou redding.
  • Calvyn sou sê – want dit is op sy teologie wat die Dordtse Leerreëls gebaseer is as teenvoeter vir die Remonstrante – dat jy gered word soos iemand wat reeds verdrink het en onder die oppervlak van die water dryf en die Menseredder inspring en jou uithaal en deur kardiopulmonêre resussitasie (CPR) terugbring na die lewe toe.  Jy het dus geen aandeel in jou redding nie.

Die verskille in die teologie wat hieruit voorspruit, is dus pole uitmekaar:

  • In Armimius se teologie, het jy ‘n aandeel aan jou redding.  Jy kan ook nee sê vir God se redding.  Jou saligheid berus dus op jou eie keuse.  Jou sekerheid berus op jou eie geloof, en kan uit die aard van die saak wankel as die golwe van die lewe oor jou slaan.
  • In Calvyn se teologie, het jy geen aandeel in jou redding nie.  Jy ontvang bloot deur geloof wat God vir jou gee.  Jou saligheid berus dus op God se keuse.  Jou sekerheid berus op sy genade, en nie op die krag van jou geloof nie.  Daarom word jou sekerheid nie bedreig deur die golwe van die lewe nie.

Dit beteken egter nie dat jy uitgeskakel word in die lewe van geloof nie.  Daardie geloof wat in jou gewek word deur die wedergeboorte – wat kom deur die werk van die Gees as ons na die Woord luister (Rom. 10:9-10) – word ‘n krag tot heiligmaking waaraan jy meewerk.  Petrus beskryf daardie proses só mooi in sy tweede brief dat ek dit volledig aanhaal:

Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.  As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.” (2 Pet. 1:3-8).

Dit is die basis vir Paulus se oproep in Filippense: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fi. 2:12-13).

Ons is dus uitgeskakel in ons redding, maar volledig ingeskakel in die lewe van geloof wat God ons skenk.  Ons kan dus oor die uitverkiesing net in verwondering die Here aanbid dat Hy in sy goedheid en genade vir ons uitverkies het.

Ek het nou net op die uitverkiesing hierbo gefokus, maar daar is natuurlik meer hieraan verbonde, uitgedruk in die vyf sekerhede van Dordt waaroor jy hier kan lees: Vyf sekerhede.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.