Skip to main content

1 Petrus 3 – Wees mense wat seën, sodat julle seën as erfdeel kan verkry

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus voltooi die vyfde sirkel van sy lering oor geestelike groei in hierdie hoofstuk waarin hy uitspel hoe dit in die huwelikslewe tot sy reg sal kom deur in eerbied en begrip vir mekaar te lewe – vers 1-7. Ten slotte gee hy aandag aan ‘n paar algemene riglyne – ‘n mens kan dit ook as ‘n sesde sirkel van geestelike groei formuleer – vir hulle gedrag waarin hy op sekere temas uit die vyf sirkels van geestelike groei uitbrei – vers 8-22.

Regdeur is die voorbeeld van Christus steeds die maatstaf vir geestelike groei in al die verskillende dimensies van hulle verhoudinge met ander mense, uitgedruk met die algemene stelreël: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Aan die einde van die hoofstuk raak Petrus ook die impak van die evangelie aan op dié wat reeds dood is.

3:1-7 – Leef in eerbied en begrip vir mekaar in die huwelik

Petrus praat hier in vers 1-6 met getroude gelowige vroue en in vers 7 met getroude gelowige mans. Waarskynlik was daar in dié geloofsgemeenskappe méér gelowige vroue met “ongehoorsame” mans as andersom, vandaar die meer uitgebreide riglyne vir die getroude gelowige vroue.

Let op dat die veronderstelling hier is dat gelowiges met ander gelowiges moes trou, hoewel Petrus ook implisiet erken dat dit nie altyd só is of kán wees nie. Hy praat waarskynlik egter nie van uit en uit ongelowiges nie, eerder van “sommige (wat) aan die woord ongehoorsaam is”, hoewel sommige geleerdes die ongehoorsames as ongelowiges wil interpreteer.

Dit is ook interessant om die gelykluidende opdrag van eerbiedgerig aan die gelowige vroue – en respekgerig aan die gelowige mans – raak te sien.

  • In die geval van die vroue word dié eerbied uitgespel met die drie frases: “aan julle eie mans ondergeskik wees”, “saggeaarde en rustige gees”, en “aan hulle eie mans onderdanig wees”. Dit alles vorm deel van die “rein, eerbiedige leefwyse” waarmee hulle hul mans, selfs wanneer dié aan die woord ongehoorsaam is, moet wen vir die evangelie. Trouens, hulle sal “sonder ‘n woord gewen kan word deur die manier waaop julle leef.” Só het Petrus dit ook al uitgespel in die vorige hoofstuk dat: “God wil immers hê dat julle deur goed doen die onkunde van dwase mense stopsit.” (2:15).
  • In die geval van die mans word dié respek in twee frases uitgespel: “begrip toon as die swakker geslag” en “as mede-erfgename van die gawe van die lewe met respek behandel”. Die woorde wat as die swakker geslag vertaal is, kan ook letterlik as die swakker kruik of swakker vat vertaal word. Petrus verwys hier waarskynlik nie na enige inherente swakheid in vroue per se nie, maar na die wyse waarop die samelewing na vrouens gekyk het en hulle as minderwaardig teenoor mans, selfs as hulle besitting, beskou het. Petrus maan hulle dus om, selfs waar die samelewing steeds só ‘n beskouing oor vroue handhaaf, en/of waar sommige van hulle selfs nog só gedink het, hulle hul vroue steeds met respek sal behandel. Die impak van hierdie respekvolle lewe, word in ‘n groter vrymoedigheid in gebed ervaar: “sodat julle gebede deur niks belemmer kan word nie.

Let ook op dat die aanmoediging dat vroue nie hulle skoonheid in uiterlike dinge moet vind nie, maar in onverganklike innerlike dinge – ‘n “saggeaarde en rustige gees” – nie téén uiterlike skoonheid gemik is nie, maar teen ‘n misbruik of verheerliking daarvan ten koste van innerlike skoonheid.

Dit is ook interessant dat Petrus duidelik uitspel dat vroue nie deur hierdie eerbiedige leefwyse tot ‘n tweedeklas bestaan verdoem word nie, maar opgeroep word om goed te doen: “en julle nie deur enige dreigement te laat afskrik nie.” Dié eerbied en respek kom dus uit eie keuse in navolging van die voorbeeld van die Here Jesus Christus.

3:8-22 – Laat Jesus Christus die maatstaf vir julle gedrag wees

Petrus vervolg met ‘n hele aantal riglyne vir hulle gedrag in die geloofsgemeenskap sowel as in die breër publieke gemeenskap. Let op hoe hulle eensgesindheid, meelewendheid, onderlinge liefde, ontferming, nederigheid, vermyding van vergelding sowel as van skeldtaal, opgesom word in die stelreël: “inteendeel, wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

Hy begrond dié roeping in ‘n aanhaling uit Psalm 34:13-17 waar dit juis die dankbaarheid oor God se beskerming is wat ten grondslag lê van die motivering om kwaadpraat en bedrog te vermy, en te fokus op die doen van die goeie en die najaag van vrede (vgl. my bydrae: Psalm 34 – Dankbaarheid lei tot wysheid). “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke.” Inderdaad!

Petrus herhaal wat hy al voorheen gesê het dat lyding ter wille van wat reg is, geseënd is. Daarom moet die onkundiges en kwaadwilliges se intimidasie nie gevrees word nie of selfs daaroor ontsteld geraak word nie. Die regte manier van optrede in enige situasie van intimidasie of ontsteltenis is om in die eerste plek die Here Jesus Christus te eer en om sy wysheid en optrede te vra, terwyl die antagoniste in die tweede plek met beskeidenheid en respek hanteer word. In die derde plek moet rekenskap gegee word oor die hoop wat in ons leef en in die vierde plek steeds voortgegaan word om goed te doen, selfs al beteken dit lyding.

Petrus maak dus ‘n baie sterk saak uit daarvoor dat om ander te seën en aan te hou om goed te doen, maak nie saak wat die uitdagings of teenstand is wat ‘n mens ervaar nie, te alle tye die regte en aangewese ding is om te doen. Dit is ‘n baie sterk beklemtoning in sy brief, ‘n boodskap wat ons baie nodig het in ‘n tyd waarin selfgelding en selfverheerliking die botoon in die Westerse samelewing voer.

Dit is immers die voorbeeld van die Here Jesus Christus, soos Petrus al in die vorige hoofstuk uitgespel het, en nou weer doen. Die Christus het vir hulle (en ons) sondes gely: “Hy die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring.” Hierin eggo hy dele van Paulus se verkondiging van dieselfde teologie (Rom. 6:10) soos ons dit ook in Hebreërs aantref (Hebr. 10:10).

Hierdie boodskap word aan die een kant in ‘n amper sydelingse kommentaar geteken as iets wat nie net vir die gelowiges van Petrus se tyd betekenis gehad het nie, maar ook vir gelowiges uit die verlede. “Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig.

Die “geeste in die gevangenskap” word as “daardie geeste” uitgespel wat destyds ongehoorsaam was toe God in Noag se dae geduldig bly wag het terwyl die ark gebou is. Sommige geleerdes dink dat daarmee na gevalle engele verwys word óf na bose geeste, maar dit maak vir my meer sin dat daarmee na die gestorwe ongehoorsame mense van Noag se tyd verwys word, soos baie geleerdes dit deur die eeue uitgespel het. Hulle ongehoorsaamheid word immers in Petrus – sowel as in Genesis 6, waarop Petrus se interpretasie berus – spesifiek aan die bou van die ark verbind. Dit maak dit meer natuurlik om die “geeste in die gevangenskap” met die geeste van die gestorwe mense van daardie tyd te verbind.

Dié interpretasie korreleer dan ook met dié van Hebreërs 12:23 waar van die geeste van gestorwe gelowiges as “die geeste van die regverdiges wat vervolmaak is” gepraat word. ‘n Mens kan dus die “geeste van die regverdiges” in Hebreërs vergelyk met, maar ook onderskei van die “geeste in die gevangenskap” in Petrus.

Wat dié interpretasie verder ondersteun, is dat Petrus in die volgende hoofstuk nog ‘n keer sal verwys na die evangelie wat aan: “hulle wat reeds dood is” verkondig is (1 Pet. 4:6). Hy dink daar waarskynlik ook aan die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

Die prentjie wat ons dus uit beide Hebreërs en Petrus hiervan kry, is dat albei hierdie groepe uit die ou bedeling – die “geeste van die regverdiges” en die “geeste in die gevangenskap” – die evangelie ná hulle dood gehoor het. Die een groep ontvang dit as ‘n boodskap van redding, dié ander nie, op grond van hulle verbintenis en geloof in God terwyl hulle nog gelewe het. Daar is dus nie sprake van ‘n tweede kans wat ná die dood gegee is nie, net ‘n bevestiging van wat rééds vóór hulle dood van hulle waar was in die vooruitsien van wat God in Christus sou doen, hoe verskuild dié boodskap ook al was (vgl. Hebreërs 11 vir ‘n verdere uitleg daarvan: Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag).

Dié boodskap van Christus se lyding vir ons sondes het aan die ander kant egter ook ‘n direkte impak op die geloofsgemeenskap vir wie Petrus skryf. Die doop getuig van hierdie verlossende werk van Christus, en is in ‘n sekere sin die voertuig waardeur ons gered word, soos die ark dit destyds vir Noag en sy mense was.

Daarom kan Petrus dit in sterk taal stel: die doop “red ook julle nou.” Só kragtig is die boodskap van die doop. Daarom, sê Petrus, kan ‘n mens letterlik jou doop as ‘n “gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete” gebruik, “op grond van die opstanding van Jesus Christus.” Soos gelowiges reg deur die eeue gedoen het.

Alles is immers aan Hom onderworpe – engele, magte en kragte. Op Hom kan ons dus nie net vertrou nie, maar ons hele lewe bou, óók in onregverdige lyding.

Boodskap

Petrus verenig hier twee groot tradisies van die OT: God se seën en God se verlossing.

Aan die een kant spel Petrus die implikasies van God se seën uit: “Wees mense wat seën omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.” Soos God ons geseën het, moet ons ander ook seën, selfs wanneer ons met dwase en onkundige mense te doene het, selfs waar ons ly onder die boosheid van mense en sisteme. Die lyding wat ons só ervaar is in die groter prentjie van die lewe van minder belang as ‘n mens dit opweeg teen die ewige heerlikheid van die seën wat vir ons as erfdeel hierna wag.

Aan die ander kant spel Petrus die implikasies van God se verlossing uit: “Die doop dien … as ‘n gebedsversoek tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus.” Ons kan dus ook staatmaak op God se bevryding, soos Noag dit eenmaal ervaar het. God laat ons nooit alleen nie, en sal ons bevry, ook in hierdie lewe, en uiteraard volledig in die lewe wat kom.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms