1 Petrus 1 – Jubel oor God en leef uit die hoop
Petrus begin sy brief met ‘n helder trinitariese visie op God – 1 Pet. 1:1-2. Hy kies drie aspekte van God se verbintenis aan hulle uit om die gelowiges te bemoedig:
- God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af,
- die Heilige Gees se heiligmakende krag om hulle tot gehoorsaamheid aan God te begelei, en
- die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus wat nie net iets is wat met die doop gebeur het nie, maar inderdaad deur hulle hele lewe hulle reinig om voortdurend met God in verhouding te kan staan.
Dit volg hy op met ‘n verdere lofrede op God – 1 Pet. 1:3-5 – waarna hy van hulle op hulle beurt ‘n paar verbintenisse vra:
- Hy roep hulle op om oor hierdie God te jubel – 1 Pet. 1:6-12 – en
- uit die hoop wat God gee, te leef – 1 Pet. 1:13-25. Dit sluit in dat hulle hele persoonlike lewenswandel heilig moet word (13-21), en dat hulle mekaar in die geloofsgemeenskap innig met rein harte moet liefhê (22-25).
Dit sal opgevolg word met verdere oproepe in die volgende hoofstukke:
- om te fokus op geestelike groei binne die geloofsgemeenskap – “laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis” (1 Pet. 2:1-10),
- sowel as op ‘n lewe van respek in die publieke gemeenskap (1 Pet. 2:11-17),
- wat gewys moet word in arbeidsverhoudinge (1 Pet. 2:18-25),
- die huwelik (1 Pet. 3:1-7),
- en ‘n goeie leefwyse (1 Pet. 3:8-16).
Dit is immers wat dit beteken om Christus na te volg as mense wat deur God uitgekies is, en daarom as vreemdelinge in die wêreld lewe.
Indeling van die leeswerk
Onlangse kommentaar