Skip to main content

1 Petrus 4 – Bo alles moet julle mekaar innig liefhê

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasIn die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê.

Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op vyf sake wat hulle staande kan hou en laat volhard:

  • Laat julle lei deur die wil van God – 4:1-6
  • Bedien mekaar met julle genadegawes – 4:7-11
  • Verheerlik God in lyding en doen wat goed is – 4:12-19
  • Versorg die geloofsgemeenskap – 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 5:5-11

Dít is die dinge wat hulle standvastigheid in hulle geloofstryd in die wêreld sal gee. Ons lees vandag net hoofstuk 4 se drie dele en sal môre hoofstuk 5 se laaste twee lees.

4:1-6 – Laat julle lei deur die wil van God

As die Here dan ons gewete skoon gewas het en ons die versekering gegee het dat ons verhouding met Hom vasstaan op grond van die opstanding van die Here Jesus Christus (3:21-22), dan kan die Here van ons verwag om nie langer aan die “stroom losbandigheid” – “uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies, en verfoeilike afgodediens” – mee te doen van die wêreld nie, maar ons te laat lei “deur die wil van God”.

Dit is immers waarvoor Christus gely en gesterwe het, sodat ons, soos Hy, met die sonde kan klaarspeel. Ons hoef nou nie meer ons deur ons menslike begeertes te laat lei nie, maar kán nou doen wat God van ons vra. Die wil van God word hier gebruik in die sin van iets wat God deur my lewe tot stand wil bring. Dít is waarvoor ons onsself moet gee. Dít is ook die eerste ding wat ons staande sal hou in ons geloofstryd in hierdie wêreld.

Dat dít die wêreld sal verstom en hulle die geloofsgemeenskap sal laat belaster, mag die gelowiges nie afskrik nie. God sal immers van almal rekenskap eis. Die gelowiges kan reeds in dié lewe aan Hom rekenskap gee. Die ongelowiges sal dit hierná moet doen, en dit sal tot hulle skade wees.

Vers 6 het ek gister reeds uitgelê. Hoewel ‘n hele aantal geleerdes verkies om die frase: “hulle wat reeds dood is”, te interpreteer asof dit dui op mense wat nog lewe, maar geestelik dood is, maak dit vir my meer sin om dit te verklaar as bedoelende: “die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

4:7-11 – Bedien mekaar met julle genadegawes

Die tweede aspek van hulle standvastigheid het te make met die wyse waarop hulle mekaar bedien met die genadegawes wat God hulle gee: “As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God moet julle mekaar bedien in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het.

Dit sluit in dat hulle selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.

Bo alles moet julle mekaar innig liefhê.” Hoekom? Want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek, sê Petrus. Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee,” (Spreuke 10:12) sowel as na Jesus se lering oor vergifnis.

Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord: “maar selfs sewentig maal sewe keer,” het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak (Matt. 18:21-35; vgl. my bydrae: Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe).

Let op hoe hy dié aspek van sy lering afsluit met amen, dit sal so wees!

4:12-19 – Verheerlik God in lyding en doen wat goed is

Die derde aspek van hulle standvastigheid lê geleë in hulle insig in die redes vir en doel van lyding, sodat hulle dit nie as iets vreemds sal interpreteer nie, maar as iets waardeur God se seën op hulle rus. Die uitkoms van onregverdige lyding “ter wille van Christus se Naam,” óf doodgewoon die feit dat iemand ly “omdat hy ‘n Christen is,” dra by tot die verheerliking van God se Naam.

Die NAV het in vers 19 die lyding geïnterpreteer met die vertaling as dat dit gebeur: “omdat God dit wil“. Dit kan egter ook vertaal word as: “vanweë God se wil” of soos die BDV dit het: “in ooreenstemming met die wil van God.” Dit gee ‘n ander betekenis aan die lyding wat meer hoopvol is. Dit is nie dat God besluit dat ons moet ly nie. Petrus verwys hier na lyding omdat ons God se wil doen. Dit is waarom ons op sulke lyding nie met agressie en onbegrip moet reageer nie, maar steeds moet voortgaan om God se wil te doen, terwyl ons ons lewe aan God toevertrou en veral aanhou om goed te doen!

Weereens word dit ook begrond in die voorbeeld van die Here Jesus Christus. Ons het op dié manier deel aan sy lyding. En ons het die versekering en vreugde dat lyding op parakoksale manier bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op ons rus.

Dit is beter om in dié lewe deur die smeltkroes van lyding te gaan en in die proses al hoe nader aan God te kom, as om die lyding te probeer vermy deur aan God ongehoorsaam te word. Dán bly slegs die vrees vir die ewige dood.

Boodskap

Petrus draai nie doekies om nie. Om God se wil te doen en daarin te volhard is nie kinderspeletjies nie. Dit vra vashou en vasbyt. Wat ons bemoedig in dié uitdagende opdrag is die volgende:

  1. In die eerste plek die sekerheid van wat God wil. Waar ons seker is van ons roeping, help dit ons om gefokus te bly.
  2. In die tweede plek help dit dat ons mekaar nie net bedien met ons gawes nie – met woorde van God en vanuit die krag van God – maar mekaar ook só lief sal hê dat ons ‘n genadige ruimte vir mekaar skep om die Here te kan bly dien, selfs al struikel ons ook vele kere.
  3. In die derde plek inspireer die voorbeeld van Christus ons om aan God gehoorsaam te bly en nooit op te hou om goed te doen nie, selfs al ly ons juis omdat ons God se wil doen óf net omdat ons die naam Christen dra.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda