1 Petrus 4 – Bo alles moet julle mekaar innig liefhê

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasIn die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê.

Hy fokus daarom in die volgende twee hoofstukke op vyf sake wat hulle staande kan hou en laat volhard:

  • Laat julle lei deur die wil van God – 4:1-6
  • Bedien mekaar met julle genadegawes – 4:7-11
  • Verheerlik God in lyding en doen wat goed is – 4:12-19
  • Versorg die geloofsgemeenskap – 5:1-4
  • Volg die leierskap na en vertrou op die kragtige hand van God – 5:5-11

Dít is die dinge wat hulle standvastigheid in hulle geloofstryd in die wêreld sal gee. Ons lees vandag net hoofstuk 4 se drie dele en sal môre hoofstuk 5 se laaste twee lees.

4:1-6 – Laat julle lei deur die wil van God

As die Here dan ons gewete skoon gewas het en ons die versekering gegee het dat ons verhouding met Hom vasstaan op grond van die opstanding van die Here Jesus Christus (3:21-22), dan kan die Here van ons verwag om nie langer aan die “stroom losbandigheid” – “uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies, en verfoeilike afgodediens” – mee te doen van die wêreld nie, maar ons te laat lei “deur die wil van God”.

Dit is immers waarvoor Christus gely en gesterwe het, sodat ons, soos Hy, met die sonde kan klaarspeel. Ons hoef nou nie meer ons deur ons menslike begeertes te laat lei nie, maar kán nou doen wat God van ons vra. Die wil van God word hier gebruik in die sin van iets wat God deur my lewe tot stand wil bring. Dít is waarvoor ons onsself moet gee. Dít is ook die eerste ding wat ons staande sal hou in ons geloofstryd in hierdie wêreld.

Dat dít die wêreld sal verstom en hulle die geloofsgemeenskap sal laat belaster, mag die gelowiges nie afskrik nie. God sal immers van almal rekenskap eis. Die gelowiges kan reeds in dié lewe aan Hom rekenskap gee. Die ongelowiges sal dit hierná moet doen, en dit sal tot hulle skade wees.

Vers 6 het ek gister reeds uitgelê. Hoewel ‘n hele aantal geleerdes verkies om die frase: “hulle wat reeds dood is”, te interpreteer asof dit dui op mense wat nog lewe, maar geestelik dood is, maak dit vir my meer sin om dit te verklaar as bedoelende: “die geeste van gestorwe gelowiges – dié wat nie in hulle lewe die vervulling van die belofte van verlossing ontvang het waarna hulle uitgesien het nie (Hebr. 11:39-40) – aan wie die Here die evangelie, die goeie nuus, van verlossing gaan aankondig het, sodat hulle steeds die vreugde van verlossing kan beleef, dít waarna hulle uitgesien het, selfs al het hulle reeds die dood ervaar.

4:7-11 – Bedien mekaar met julle genadegawes

Die tweede aspek van hulle standvastigheid het te make met die wyse waarop hulle mekaar bedien met die genadegawes wat God hulle gee: “As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God moet julle mekaar bedien in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het.

Dit sluit in dat hulle selfbeheersd en nugter lewe, en veral baie tyd aan gebed spandeer. Dit sluit in dat hulle gasvry teenoor mekaar sal wees, “sonder om te mor”. Dit sluit in dat as iemand die gawe gebruik van woorde, hulle dit sal ontvang: “soos woorde van God.” Dit sluit in dat as iemand dien, hulle dit sal doen: “vanuit die krag wat God voorsien.

Bo alles moet julle mekaar innig liefhê.” Hoekom? Want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek, sê Petrus. Daarmee verwys Petrus waarskynlik na beide die wysheidstradisie se waarneming: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee,” (Spreuke 10:12) sowel as na Jesus se lering oor vergifnis.

Dit is immers Petrus wat die vraag aan Jesus gevra het oor hoeveel keer hy sy broer moet vergewe as hy iets verkeerds teen hom gedoen het: “Selfs sewe keer?” Jesus se antwoord: “maar selfs sewentig maal sewe keer,” het vergifnis eintlik onverhandelbaar deel van die etos van die koninkryk gemaak (Matt. 18:21-35; vgl. my bydrae: Matteus 18 – Jesus leer koninkrykskinders hoe hulle in verhouding met mekaar moet lewe).

Let op hoe hy dié aspek van sy lering afsluit met amen, dit sal so wees!

4:12-19 – Verheerlik God in lyding en doen wat goed is

Die derde aspek van hulle standvastigheid lê geleë in hulle insig in die redes vir en doel van lyding, sodat hulle dit nie as iets vreemds sal interpreteer nie, maar as iets waardeur God se seën op hulle rus. Die uitkoms van onregverdige lyding “ter wille van Christus se Naam,” óf doodgewoon die feit dat iemand ly “omdat hy ‘n Christen is,” dra by tot die verheerliking van God se Naam.

Die NAV het in vers 19 die lyding geïnterpreteer met die vertaling as dat dit gebeur: “omdat God dit wil“. Dit kan egter ook vertaal word as: “vanweë God se wil” of soos die BDV dit het: “in ooreenstemming met die wil van God.” Dit gee ‘n ander betekenis aan die lyding wat meer hoopvol is. Dit is nie dat God besluit dat ons moet ly nie. Petrus verwys hier na lyding omdat ons God se wil doen. Dit is waarom ons op sulke lyding nie met agressie en onbegrip moet reageer nie, maar steeds moet voortgaan om God se wil te doen, terwyl ons ons lewe aan God toevertrou en veral aanhou om goed te doen!

Weereens word dit ook begrond in die voorbeeld van die Here Jesus Christus. Ons het op dié manier deel aan sy lyding. En ons het die versekering en vreugde dat lyding op parakoksale manier bewys dat die Gees van heerlikheid, die Gees van God, op ons rus.

Dit is beter om in dié lewe deur die smeltkroes van lyding te gaan en in die proses al hoe nader aan God te kom, as om die lyding te probeer vermy deur aan God ongehoorsaam te word. Dán bly slegs die vrees vir die ewige dood.

Boodskap

Petrus draai nie doekies om nie. Om God se wil te doen en daarin te volhard is nie kinderspeletjies nie. Dit vra vashou en vasbyt. Wat ons bemoedig in dié uitdagende opdrag is die volgende:

  1. In die eerste plek die sekerheid van wat God wil. Waar ons seker is van ons roeping, help dit ons om gefokus te bly.
  2. In die tweede plek help dit dat ons mekaar nie net bedien met ons gawes nie – met woorde van God en vanuit die krag van God – maar mekaar ook só lief sal hê dat ons ‘n genadige ruimte vir mekaar skep om die Here te kan bly dien, selfs al struikel ons ook vele kere.
  3. In die derde plek inspireer die voorbeeld van Christus ons om aan God gehoorsaam te bly en nooit op te hou om goed te doen nie, selfs al ly ons juis omdat ons God se wil doen óf net omdat ons die naam Christen dra.

1 Petrus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: