Psalm 78:40-72
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
In ’n verdere historiese relaas vertel die Psalmis die verhaal van Israel verder van Egipte tot in Kanaän (vers 40–64) en lê opeenvolgend klem op God se versorging (vers 40–55) met die magtige plae in Egipte (1ste plaag – water in bloed; 3de en 4de plaag – muggies en steekvlieë; 2de plaag – paddas; 8ste plaag – sprinkane; 7de plaag – hael en vuur; 5de en 6de plaag – pessiektes en swere; 10de plaag – die dood van die eersgeborenes – Eks. 7-12) waarvan hulle nie net beskerm is nie, maar waardeur hulle verlos is van die verdrukking van Egipte. Hulle is soos ’n kudde skape veilig uitgelei terwyl hulle vyande deur die Rooi See oorweldig is en uiteindelik in ’n land ingebring is waar hulle vyande voor hulle uitgedryf is. Maar, hulle het weereens in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 56–58). Hulle was so vals soos ’n onbetroubare wapen – ’n “slap boog” (2014 vertaling) – wat die Here vertoorn het. Daarom het Hy hulle gestraf (vers 59–64) deur hulle die onderspit te laat delf in die oorlog by Silo (in die tyd van Eli) en die ark (sy “krag” en sy “heerlikheid” sê die grondteks in vers 60 – vgl. 2 Sam. 4:22: “die eer van die Here is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”) in ballingskap te laat wegvoer (1 Sam. 4). Die toedrag van sake laat die Psalmis weereens diep nadink (vers 65–72). En hy besef, dít is die verhaal uit die verlede wat regtig hoop kan bring. Dit was asof die Here skielik uit ’n slaap wakker geword het – “die roes van wyn” sê die grondteks! – en besef het die oplossing lê in die keuse van ’n jong seun, Dawid, een met ’n “opregte hart” wat nie net sy volk met vaardigheid van hande (dink aan die slingervel wat Goliat neergevel het!) sal lei nie, maar die volk in ’n intieme verhouding met God sal oppas.
Bid die Psalm
“Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand, toe Hy sy tekens in Egipte getoon het, en sy wonders in die veld by Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander sodat niemand uit hulle strome kon drink nie. Hy het muggies gestuur om hulle te byt, en paddas om hulle te verwoes. Hy het hulle oeste aan sprinkane gegee; hulle hele opbrengs is opgevreet. Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle wildevyebome met ryp verniel. Hy het die vee aan hael oorgegee, hulle skape aan weerligstrale. Hy het sy toorn teen hulle losgelaat: woede, gramskap en ellende was vir U hulle boodskappers van onheil. Dit was ’n weg vir sy toorn: Hy het hulle lewens nie gespaar nie, maar hulle oorgegee aan die pes. Al die eersgeborenes in Egipte het Hy getref, al die oudste seuns in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy soos skape uitgelei, en soos ’n kudde skape hulle deur die woestyn gelei. Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar hulle vyande is deur die see oorweldig. Hy het hulle gebring na ’n gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf, die land as erfdeel aan hulle gegee, en die stamme van Israel in hulle woonplekke gevestig. Hulle het egter die Allerhoogste beproef, teen Hom in opstand gekom, en sy gebooie nie gehoorsaam nie. Hulle was afvallig en ontrou net soos hulle voorouers. Hulle was net so onbetroubaar soos ’n onbruikbare boog. Hulle het God ook kwaad gemaak met afgodsdiens op die hoogtes. Met hulle afgodsbeelde het hulle Hom uitgetart. Toe God dit hoor, was Hy kwaad. Hy het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verlaat. Dit was sy tentwoning onder mense. Hy het sy magtige ark prysgegee, sy glorie in die hande van vyande. Hy het sy volk uitgelewer aan die swaard, want vir sy besondere eiendom was Hy kwaad. Hulle jong manne is deur vuur verteer, vir hulle jong meisies is geen huwelikslied gesing nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het die Here ontwaak soos iemand uit sy slaap, soos ’n sterk man ontwaak uit die bedwelming van wyn. Hy het sy vyande teruggedryf en vir altyd aan skande oorgegee. Hy het Josef se nageslag verwerp; die stam van Efraim het Hy nie gekies nie. Maar die stam van Juda het Hy gekies, vir Sionsberg, wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom baie hoog gebou, stewig vir altyd soos die aarde self. Hy het sy dienskneg Dawid gekies, hom van die skaapkrale af gaan haal. Van agter die lammerooie het Hy hom weggevat om sy volk Jakob te versorg, sy eie volk, Israel. Hy het hulle met ’n opregte hart versorg en hulle met bekwame hande gelei.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalm het ’n verrassende oplossing vir die raaisel van onbestendigheid. En ken ons dit nie self nie! Daardie geneigdheid tot die verkeerde; daardie roep tot God as dit sleg gaan; die vergeet van God as dit goed gaan… dit lê in die oplossing wat God self bewerk, sy dienskneg Dawid wat sy volk met ‘n opregte hart sal versorg en hulle met bekwame hande gelei het. Dié geskiedenis, weet ons, loop uiteindelik op die koms van die Here Jesus Christus, die Seun van Dawid, wat geslaag het waar selfs Dawid gefaal het. Hy is die een wat ook aan ons opregtheid van hart skenk. Soos Dawid dit gebid het: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet nie u heilige Gees van my wegneem nie. Laat my weer jubel oor u verlossing, laat ’n gewillige gees my ondersteun.” (Ps. 51:12-14). En Paulus dit geëggo het in Filippense 2:12-13: ”werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” Dit doen die Here Jesus vir ons vandag. Ons kan ons daarom ook toelê daarop om as verloste te leef, omdat God in ons werk en Hy die onbestendigheid kan wegneem en aan ons ’n rein hart kan skenk. Ek gaan dié dag tegemoet met Dawid se gebed in Psalm 51: “Skep ’n rein hart vir my, o God.”
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar