Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 78:40-72

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In ’n verdere historiese relaas vertel die Psalmis die verhaal van Israel verder van Egipte tot in Kanaän (vers 40–64) en lê opeenvolgend klem op God se versorging (vers 40–55) met die magtige plae in Egipte (1ste plaag – water in bloed; 3de en 4de plaag – muggies en steekvlieë; 2de plaag – paddas; 8ste plaag – sprinkane; 7de plaag – hael en vuur; 5de en 6de plaag – pessiektes en swere; 10de plaag – die dood van die eersgeborenes – Eks. 7-12) waarvan hulle nie net beskerm is nie, maar waardeur hulle verlos is van die verdrukking van Egipte.  Hulle is soos ’n kudde skape veilig uitgelei terwyl hulle vyande deur die Rooi See oorweldig is en uiteindelik in ’n land ingebring is waar hulle vyande voor hulle uitgedryf is. Maar, hulle het weereens in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 56–58).  Hulle was so vals soos ’n onbetroubare wapen – ’n “slap boog” (2014 vertaling) – wat die Here vertoorn het. Daarom het Hy hulle gestraf (vers 59–64) deur hulle die onderspit te laat delf in die oorlog by Silo (in die tyd van Eli) en die ark (sy “krag” en sy “heerlikheid” sê die grondteks in vers 60 – vgl. 2 Sam. 4:22: “die eer van die Here is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”) in ballingskap te laat wegvoer (1 Sam. 4). Die toedrag van sake laat die Psalmis weereens diep nadink (vers 65–72).  En hy besef, dít is die verhaal uit die verlede wat regtig hoop kan bring.  Dit was asof die Here skielik uit ’n slaap wakker geword het – “die roes van wyn” sê die grondteks! – en besef het die oplossing lê in die keuse van ’n jong seun, Dawid, een met ’n “opregte hart” wat nie net sy volk met vaardigheid van hande (dink aan die slingervel wat Goliat neergevel het!) sal lei nie, maar die volk in ’n intieme verhouding met God sal oppas.

Bid die Psalm

“Hoe dikwels het hulle in die woestyn teen Hom in opstand gekom, en het hulle in die woesteny sy hart bedroef! Weer en weer het hulle God getart en die Heilige van Israel gepynig. Hulle het vergeet van sy mag, van die dag toe Hy hulle verlos het van die vyand, toe Hy sy tekens in Egipte getoon het, en sy wonders in die veld by Soan. Hy het hulle riviere in bloed verander sodat niemand uit hulle strome kon drink nie. Hy het muggies gestuur om hulle te byt, en paddas om hulle te verwoes. Hy het hulle oeste aan sprinkane gegee; hulle hele opbrengs is opgevreet. Hy het hulle wingerde met hael verwoes en hulle wildevyebome met ryp verniel. Hy het die vee aan hael oorgegee, hulle skape aan weerligstrale. Hy het sy toorn teen hulle losgelaat: woede, gramskap en ellende was vir U hulle boodskappers van onheil. Dit was ’n weg vir sy toorn: Hy het hulle lewens nie gespaar nie, maar hulle oorgegee aan die pes. Al die eersgeborenes in Egipte het Hy getref, al die oudste seuns in die wonings van Gam. Maar sy eie volk het Hy soos skape uitgelei, en soos ’n kudde skape hulle deur die woestyn gelei. Hy het hulle veilig gelei sodat hulle nie bang was nie, maar hulle vyande is deur die see oorweldig. Hy het hulle gebring na ’n gebied wat Hy afgesonder het, na die bergland wat Hy deur sy mag verower het. Hy het nasies voor hulle uit verdryf, die land as erfdeel aan hulle gegee, en die stamme van Israel in hulle woonplekke gevestig. Hulle het egter die Allerhoogste beproef, teen Hom in opstand gekom, en sy gebooie nie gehoorsaam nie. Hulle was afvallig en ontrou net soos hulle voorouers. Hulle was net so onbetroubaar soos ’n onbruikbare boog. Hulle het God ook kwaad gemaak met afgodsdiens op die hoogtes. Met hulle afgodsbeelde het hulle Hom uitgetart. Toe God dit hoor, was Hy kwaad. Hy het Israel heeltemal verwerp. Hy het die tabernakel in Silo verlaat. Dit was sy tentwoning onder mense. Hy het sy magtige ark prysgegee, sy glorie in die hande van vyande. Hy het sy volk uitgelewer aan die swaard, want vir sy besondere eiendom was Hy kwaad. Hulle jong manne is deur vuur verteer, vir hulle jong meisies is geen huwelikslied gesing nie. Hulle priesters het deur die swaard geval en hulle weduwees kon nie rou nie. Toe het die Here ontwaak soos iemand uit sy slaap, soos ’n sterk man ontwaak uit die bedwelming van wyn. Hy het sy vyande teruggedryf en vir altyd aan skande oorgegee. Hy het Josef se nageslag verwerp; die stam van Efraim het Hy nie gekies nie. Maar die stam van Juda het Hy gekies, vir Sionsberg, wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom baie hoog gebou, stewig vir altyd soos die aarde self. Hy het sy dienskneg Dawid gekies, hom van die skaapkrale af gaan haal. Van agter die lammerooie het Hy hom weggevat om sy volk Jakob te versorg, sy eie volk, Israel. Hy het hulle met ’n opregte hart versorg en hulle met bekwame hande gelei.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm het ’n verrassende oplossing vir die raaisel van onbestendigheid.  En ken ons dit nie self nie!  Daardie geneigdheid tot die verkeerde; daardie roep tot God as dit sleg gaan; die vergeet van God as dit goed gaan… dit lê in die oplossing wat God self bewerk, sy dienskneg Dawid wat sy volk met ‘n opregte hart sal versorg en hulle met bekwame hande gelei het. Dié geskiedenis, weet ons, loop uiteindelik op die koms van die Here Jesus Christus, die Seun van Dawid, wat geslaag het waar selfs Dawid gefaal het. Hy is die een wat ook aan ons opregtheid van hart skenk. Soos Dawid dit gebid het: “Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste.  Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet nie u heilige Gees van my wegneem nie. Laat my weer jubel oor u verlossing, laat ’n gewillige gees my ondersteun.” (Ps. 51:12-14). En Paulus dit geëggo het in Filippense 2:12-13: ”werk met vrees en bewing aan julle verlossing.  Dit is immers God wat in julle werksaam is, sodat julle gewillig is en optree soos Hý dit goedvind.” Dit doen die Here Jesus vir ons vandag.  Ons kan ons daarom ook toelê daarop om as verloste te leef, omdat God in ons werk en Hy die onbestendigheid kan wegneem en aan ons ’n rein hart kan skenk. Ek gaan dié dag tegemoet met Dawid se gebed in Psalm 51: “Skep ’n rein hart vir my, o God.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 78:13-39

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Asaf beweeg van die raaisel van onbestendigheid na ‘n erkenning dat vals bekerings niks verander nie. In ’n lang relaas van die gebeure in die woestyn (vers 12–32) vertel hy opeenvolgend van God se versorging (vers 12–16) met die wonderbaarlike trek deur die Rooi See, die voortdurende leiding deur ’n wolk bedags en die lig van vuur snags en die gawe van water in die woestyn. Maar in plaas daarvan dat hulle Hom geëer het daarvoor, het hulle in opstand gekom teen die Allerhoogste (vers 17–20), gevra vir vleis en brood na hulle smaak.  Dit het God se toorn teen hulle laat ontbrand “omdat hulle nie in God geglo het nie en nie op sy verlossing vertrou het nie” Daarom het God hulle gestraf (vers 21–32) met te veel brood en vleis.  Maar in hulle gulsigheid, wat eintlik geen perke geken het nie, het God se toorn hulle getref en “Hy het die sterkstes (dit kan ook met vetstes vertaal word) onder hulle om die lewe gebring en die jongmanne van Israel op hulle knieë gedwing”.  Die ergste was dat selfs dié straf hulle nie van gedagte laat verander nie.  Hulle het steeds nie aan sy wonders geglo nie: “sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie” (vers 32). Dit laat die Psalmis diep nadink (vers 33–39) oor die feit dat teenspoed blykbaar nie die gewenste uitwerking het in mense se lewe nie.  Daar is die aanvanklike terugkeer na die Here toe as daar ’n slagting is.  Maar só ’n bekering is te maklik vals.  Al is God genadig en al vergewe Hy, veral omdat Hy weet “dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie” (vers 39), baat dit die mense nie.  Hulle kry dit nie vanself reg om van binne af aan God verbind te bly nie.

Bid die Psalm

“Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur. In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters. Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom. Tog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, en in die woestyn in opstand gekom teen Hom, die Allerhoogste. Met opset het hulle God beproef, en kos geëis na eie smaak. Hulle het God uitgedaag en gesê: “Kan God kos gee in die woestyn? Toe Hy ’n rots geslaan het, het daar water uitgekom en strome het gevloei, maar kan Hy ook brood verskaf en vleis gee vir sy volk?” Toe die Here dit hoor, was Hy baie kwaad. ’n Vuur het teen Jakob ontbrand; sy toorn het teen Israel ontvlam, want hulle het God nie geglo nie, en nie op sy verlossing vertrou nie. Hy het die wolke daarbo beveel, die hemele se deure oopgemaak, Hy het manna op hulle laat reën om te eet, uit die hemel brood vir hulle gegee. Kos van engele het hulle geëet, kos in oorvloed het God gegee. Hy het die oostewind uit die hemel losgelaat, en deur sy groot krag die suidewind laat waai. Hy het vleis oor hulle soos sand laat reën, voëls soos die sand van die seestrand. Hy het dit in hulle kamp laat val, oral rondom hulle tente. Hulle het meer as genoeg geëet. Hy het gegee wat hulle gevra het. Maar hulle honger was nog nie gestil nie. Met die kos nog in hulle mond, het die toorn van God hulle getref. Hy het die sterkste manne neergevel, en die room van Israel neergeslaan. Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil. Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom. Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser. Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg. Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie. Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie. Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n Psalm wat ‘n mens tot stilstand ruk. Wat van Israel waar was, is baie keer vandag nog steeds waar van mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar aanhou sondig, selfs wanneer God hulle in sy genade nie heeltemal vernietig nie. Trouens, dit kan waar wees van jou eie lewe, wanneer jy self in sonde val en jou verbintenis aan die Here nie vars en lewend hou nie. As dit die geval is, is daar net een oplossing, en dit is om God se genade en vergifnis te soek en dan Hom te gehoorsaam en in sy wil te volhard.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 78:1-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie wysheid Psalm van Asaf fokus op verhale uit Israel se geskiedenis om die raaisel van onbestendigheid te verklaar. Dit is daarom lank, 72 verse lank. Net Psalm 119 is langer met 172 verse. Om ’n mens te help om sin van die geskiedenis te maak, kan ‘n mens die Psalm as volg indeel om die retoriese krag van die Psalmis se onderrig te kan waardeer:

  • Die raaisel van onbestendigheid: vers 1–12
  • Eerste Herinnering oor vals bekerings wat niks verander nie: vers 13-39
    • Gebeure in die woestyn: vers 13–32
      • Versorging: vers 13–16
      • Opstand: vers 17–20
      • Straf: vers 21–32
    • Nadenke: vers 33–39
  • Tweede herinnering oor God se keuse van Dawid, die een met die opregte hart: vers 40-72
    • Van Egipte tot Kanaän: vers 40–64
      • Versorging: vers 40–55
      • Opstand: vers 56–58
      • Straf: vers 59–64
    • Nadenke: vers 65–72

In die eerste deel van die Psalm word die afvalligheid van die Efraimiete as ‘n voorbeeld geneem. Dit is eerstens, omdat hulle talle kere deur die loop van die geskiedenis hulle van God se gebooie, en soms ook van die res van die volk afgeskei het. Dit sien ons alreeds met die verhale in Rigters, waar hulle die Kanaäniete nie uitgedryf het uit hulle gebied nie – Rigters 1:29 – in opstand gekom het teen  Gideon, omdat hulle nie met sy strategie teen die Midianiete saamgestem het nie – Rigters 7-8 – sowel as teen Jefta, toe hulle nie opgedaag  het vir die geveg teen die Ammoniete nie – Rigters 11-12 – en boonop afgodediens geakkommodeer het soos ons in Rigters 18 met die verhaal van Miga en sy afgode lees. (Die verwyt in die Psalm dat die Efraimiete nie geveg het nie verwys waarskynlik na die gebeure met Gideon en/of Jefta in die Rigterstyd.) Dit het later tot algehele verval gelei na die skeuring van die ryk in die tyd van Jerobeam waar hy ‘n alternatiewe heiligdomme in Bet-El en Dan geskep het (1 Kon. 12:29), en onder die oordeel van die Here gekom het met die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. Dit is tweedens, ook omdat daar in die Psalm self ‘n kontras met Juda in die laaste deel geskep word met Dawid wat die koning na God se hart was en van Juda afkomstig was (vgl. vers 67-72). Terloops: Soan (vers 12, 43) is die plek in die Nyldelta in Egipte waar die Israeliete tydens die 430 jaar van slawerny gebly het (vandag is dit Tanis). Dit is ook waarvandaan die Uittog in 1445 v.C. plaasgevind het. Anders as wat die patroon tot dusver was, gaan ons dus die Psalm in drie dele lees sodat ons die onderskeie dele as ‘n eenheid kan lees. Dit is dus beduidend langer as wat tot dusver die geval was.

Bid die Psalm

“’n Asafpsalm. O my volk, luister na my lering. Gee ag op wat ek sê, want ek wil julle onderrig met ’n psalm. Ek wil julle lesse leer uit die verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorgeslagte ons vertel het, verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here, van sy krag en van sy wonderdade. Hy het voorskrifte aan Jakob gegee, en sy gebooie aan Israel. Hy het ons voorouers beveel om dit aan hulle kinders te leer sodat die volgende geslag dit kan ken, en selfs die ongebore kinders weer húlle kinders kan leer. So sal hulle op God kan hoop, die werke van God nie vergeet nie, maar sy bevele gehoorsaam en nie soos hulle voorouers wees nie. Hulle is ’n ongehoorsame, opstandige geslag, wie se hart nie getrou was nie, wie se gees ontrou was aan God. Die Efraimiete was goed bewapen, met boogskutters in hulle leër. Maar op die dag van die geveg het hulle omgedraai. God se verbond het hulle nie gehou nie, en hulle het geweier om volgens sy voorskrifte te lewe. Hulle het sy dade vergeet, die wonders wat Hy hulle gewys het, en die wonders wat God gedoen het voor die oë van hulle voorouers in Egipte en in die vlaktes van Soan.” NLV

Boodskap en betekenis

Asaf onderrig met hierdie Psalm die volk met ‘n paar lesse uit die verlede. Daarmee sit hy die raaisel van onbestendigheid op die tafel, want God se openbaring was van altyd af bedoel om die volk te leer en is van geslag tot geslag oorgedra. Só sou hulle God en sy wonderwerke nie vergeet nie en Hom bly gehoorsaam. Tog, leer die geskiedenis mens dat ongehoorsaamheid en opstand meesal geseëvier het; dat die hart van die hele volk nie getrou was aan God nie. Daar was fout met hulle innerlike verbondenheid aan God. Omdat hulle daarom nie aan die verhouding met God verbonde gebly het nie, geweier het om te lewe soos Hy hulle geleer het en vergeet het van sy werke en wonderdade, het dit ’n uitwerking in hulle gemeenskapslewe gehad. Hulle was ook onbestendig teenoor mekaar, geïllustreer deur die voorbeeld van die Efraimiete. En dít is ’n raaisel. Dit behoort nie só te wees nie, nie met ’n volk wat op só ’n wonderlike wyse deur God begenadig is nie, vir wié Hy die perfekte plan gegee het en vir wie Hy op soveel wyses gesorg het deur dik en dun, soos die res van die Psalm gaan uitlê. Jesus gebruik hierdie Psalm om sy gebruik van gelykenisse te verduidelik. Hy haal vers 2 in Matteus 13:35 aan om te verduidelik dat die betekenis van God se openbaring verborge bly vir dié wat dit nie gehoorsaam nie. Daar was in sy tyd steeds die skares wat God se openbaring in Jesus gehoor het, maar dit steeds nie gehoorsaam het nie. Vandaar die gelykenisse as strategie vir die koninkryk. Vir die ongehoorsames was die boodskap daarvan verborge. Vir dié wat Jesus gehoorsaam het, was dit die lewegewende boodskap van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 77:12-21

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hoewel ons nie enigsins van ’n verandering in die situasie van Asaf lees nie, bly hy egter nie in hierdie verslaentheid en bevraagtekening van God nie. Hy beweeg weg van die fokus op sy eie ervaring en die gebruik van “ek”-taal na ‘n meer direkte gesprek met God oor sy teenwoordigheid in die geloofsgemeenskap.  Hy spreek God direk aan: “U is die God wat wonders doen…”  Hy fokus doelbewus sy gedagtes op die wonderlike dade van die Here in die geloofsgemeenskap uit die verlede, maar hierdie keer om God se lof direk te besing, want alles wat die Here doen, is eintlik heilig.  “O God, u weë is heilig”.  Die pad wat God met hulle stap, is heilig, want die Here is daar midde-in die onrus en nood en bring op sy tyd uitkoms.  Daarom kan ’n mens Hom vertrou. Dit wys tog onomwonde in die verhale van die Uittog uit Egipte, die tog deur die Rooi See en die begeleiding deur die woestyn.  God is vir sy mense ’n God wat wonders doen, wat hulle op kragtige wyse verlos, wat sy krag in die natuur kan demonstreer, maar ook in verhouding met sy mense hulle kan begelei.

Bid die Psalm

“Here, ek onthou wat U gedoen het, ja, ek onthou u wonderlike dade van destyds. U dade bly in my gedagtes. Al u werke wil ek bepeins. O God, u weë is heilig. Is daar enige god so magtig soos U? U is die God wat wonders doen! U het u mag aan die nasies getoon. Deur u mag het U u volk gered, die nageslag van Jakob en Josef. Sela Toe die waters U sien, o God, toe hulle U sien, het hulle gebewe, selfs die diepsee het gesidder. Die wolke het reën neergestort, die donderslae het gerammel, u weerligpyle het oral geblits. U donder het gebulder in die storm; weerligstrale het die wêreld verlig! Die aarde het gebewe en geskud. U pad loop deur die see, u weg was deur magtige waters, maar u spoor kon niemand sien nie. Soos ’n kudde het U u volk gelei; Moses en Aäron was hulle herders.” NLV

Betekenis en boodskap

Die omkeer in ons worsteling kom wanneer ons minder bekommerd raak oor wat ons ervaar en ons met God self besig raak, Hom aanspreek, Hom loof vir sy grootheid en heiligheid in die geloofsgemeenskap, ten spyte van ons persoonlike nood.  Dit is dan wat ons begin ervaar dat Hy al die tyd by ons is en dat ons ook persoonlik op sy begeleiding in elke situasie kan staatmaak, selfs al word die spesifieke nood nie presies opgelos soos ons dit wil hê nie. Terloops, Psalm 78 sal verder uitbrei op dié dade van God regdeur die woestyntyd tot en met Dawid, wat beteken die twee Psalms kan as ‘n eenheid gelees word. In vers 65 van Psalm 78 word God se ingrype geteken as ‘n held wat uit die slaap wakker word en optree om sy mense te verlos, wat eintlik as ’n antwoord op die bekommernis van Psalm 77:11 gesien kan word: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos voorheen gedoen het nie.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 77:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 77 worstel in die eerste deel (vers 1-11) met die vraag of God nog handel soos in die verlede.  Om die waarheid te sê, die worsteling is só erg dat Asaf persoonlik eintlik amper hoop opgegee het, soos die kernvers in vers 11 met hartseer uitdruk: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos voorheen gedoen het nie.” Hy roep immers na God om hulp, in die verwagting dat God sal hoor, maar daar gebeur niks nie.  Hy is onvermoeid besig om te bid, maar vind geen troos nie.  Sy denke aan God bring hom nie vreugde nie.  Om die waarheid te sê, sy gedagtes oor God laat hom kreun en kla, dit mergel hom uit. Dit is so erg vir hom dat hy wakker lê in die nag, trouens “U verhinder dat ek slaap”.  Weens sy ontsteltenis kan hy eintlik nie meer bid nie, hy is “sprakeloos”.  Al wat vir hom oorbly is om terug te dink en te peins oor wat in die verlede lê.  Hy probeer om die kloutjie by die oor te kry.  Wat kan ’n mens nog regtig van God verwag vandag?

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Asafpsalm. Ek roep hardop tot God. Ek roep hardop tot God om na my te luister! In my nood soek ek die Here. Ook in die nag strek ek onvermoeid my hande uit in gebed. Tog het ek geen troos gekry nie. Ek dink aan God, en ek sug, ek peins daaroor en is moedeloos. Sela U verhinder dat ek slaap; van ontsteltenis kan ek nie praat nie! Ek dink aan die dae van vroeër, aan jare van lank gelede, toe ek gesing het in die nag, nagedink het oor sake. Dan vra ek my af in my binneste: Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys? Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Sela Ek het gesê: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie.”” NLV

Betekenis en boodskap

Die worsteling van die Psalm is baie relevant vir ons vandag.  Dieselfde vrae oor God se betrokkenheid by ons lewens kom by ons op veral wanneer ons in die nood is.  Kan Hy vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy in die verlede gedoen het?  Om die waarheid te sê, soms as ons hoor van ander mense wat wonders ervaar, bring dit ons in twyfel nie óf God in ons lewens kan ingryp nie, maar of Hy dit wil doen.  Die Psalm worstel dus met die basiese belewenis van God se teenwoordigheid in die nood wat ’n mens in die lewe ervaar. In die proses sit die Psalmis met ses retoriese vrae drie baie belangrike aspekte van God se karakter en betrokkenheid by ons op die tafel: 1) Betroubaarheid: “Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys?” 3) Beloftes: Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? 3) Barmhartigheid: Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Dit is vrae waaroor ons ook in ons verhouding met God tot klaarheid en sekerheid moet kom.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar