Psalm 107:17-22
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
In ‘n voortsetting van die vorige beskrywing word gefokus op ‘n derde situasie waar mense in die dwaasheid van ‘n rebelse optrede teenoor God in die nood gekom het, maar tog steeds ervaar het dat toe hulle na Hom roep, Hy hulle daaruit gered het.
Bid die Psalm
“Sommige mense was dwaas in hulle opstand en het weens hulle eie sondes gely. Al hulle eetlus was weg, en die dood was naby. “Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered. Met ’n woord wat Hy gestuur het, het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk. Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir al sy wonderdade aan hulle. Laat hulle dankoffers bring en met vreugde van sy dade vertel.” NLV
Boodskap en betekenis
Rebellie teen God het nooit goeie gevolge nie. Soos die Psalmis metafories sê, dit kan jou selfs aan kos laat walg, só swaar is die ellende wat rebelle kan tref. Maar, die evangelie in die Psalm is, God hoor selfs rebelle se hulpgeroep en maak hulle met een woord gesond (moontlik ‘n verwysing na die boodskappe van hoop wat deur die profete oor Israel in ballingskap uitgespreek is). Interessant dat rebellie daarmee eintlik as ‘n soort siekte geteken word wat deur God se genesende hand verwyder word as Hy om hulp genader word! Laat ‘n mens met nuwe oë kyk na van die genesingsverhale in die NT waar Jesus ook telkens vergifnis aanbied saam met of selfs voor die genesing (Luk. 5:17-26).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar