Psalm 107:39-43
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Die Psalmis is egter ook in die sesde plek bewus van die feit dat mense, veral armes, dit soms hotagter het waar magtiges hulle verdruk, al het die armes geen skuld daaraan nie. Waar mense dus verminder en wegkwyn onder die druk van teëspoed en moeilikheid, daar bring die Here ook omkeer, beskerming en seën. Die Psalm eindig met die waarneming dat waar opregtes dié dinge sien – God se sorg in toegevalde situasies van ballingskap en gevangenisskap, op die see en die land – is hulle bly. Trouens, deur sy goedheid en getrouheid maak hy bose mense stom. Dit kan ons ter harte neem en ons aandag voluit vestig op wat Hy kan doen.
Bid die Psalm
“Wanneer hulle verminder en kwyn, deur verdrukking, onheil en verdriet, tref Hy hulle leiers met vernedering sodat hulle rondswerf in ’n woesteny sonder ’n pad. Maar die armes in nood beskerm Hy, en Hy maak hulle nageslag so talryk soos troppe vee. Die opregtes sal dit sien en bly wees, maar al die goddeloses sal stom word. Laat dié wat verstandig is dit ter harte neem, en hulle aandag vestig op die trou van die Here.” NLV
Boodskap en betekenis
God se getrouheid snoer die monde van die onregverdiges. Eugene Peterson vertaal: “Good people see this and are glad; bad people are speechless, stopped in their tracks.” (The Message). Opregtes is dus bly omdat die dade van God se getrouheid wys dat God in staat is om die onreg en verdrukking om te keer. Die punt is dat God se goedheid en getrouheid bose mense stilmaak. Daarom moet ons sonder ophou daaroor praat en God daarvoor loof. As jy dus vandag terugkyk op die hele Psalm – lees dit miskien weer as ‘n eenheid – kan jy let op hoe God se liefde in die middelste deel van die Psalm al die bekende ruimtes van dié tyd insluit: die ballingskap en die beloofde land, die aarde en die see, die magtiges en die armes. Let ook op hoe God se genade telkens kom waar daarvoor gebid en gesmeek word. God is goed. Hy is regtig goed. Aan sy getrouheid en liefde is daar geen einde nie. Hom kan jy vertrou. Loof die Here! Die wysheid wat die Psalmis daarom aan ons wil deurgee, word in vers 43 só opgesom: “Laat dié wat verstandig is dit ter harte neem, en hulle aandag vestig op die trou van die Here.” Daar gaan nog baie uitdagings wees, beide in terme van veiligheid en verhoring soos dit in die volgende twee Psalms aangeroer gaan word. Maar, die wyses, die verstandiges, fokus hierop. Hulle gee ag op die bewys van God se trou in die verlede as ‘n inspirasie en motivering om God vir die hede en die toekoms te vertrou. Geen wonder dat dié God geprys moet word nie, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar