Psalm 114
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 114 is ‘n uitgelate jubeling oor die Uittog uit Egipte en die Intog in die Beloofde Land. ‘n Mens kan jou goed voorstel hoe dié Psalm responsories gesing is tussen bv. die priesters en die volk, of selfs deur ‘n familie by die Paasmaaltyd. Só is nie net die vreugde van die verlossing in die verlede in herinnering geroep nie, maar op ‘n speelse manier die wonder daarvan vir die kinders geleer. Nou, ná die ballingskap, het dit nuwe betekenis gekry. Die Uittog uit Babel het die herinnering aan die vorige Uittog uit Egipte lewend gehou, en nuwe bevestiging vir hulle gegee dat God dit goed bedoel met hulle. Let op die herhaling van vers 3-4 in vers 5-6 wat goed sou pas in ‘n gesprek tussen ouers en hulle kinders. Ek plaas dit hier in responsoriese vorm sodat jy die digterlike speelse manier om met hierdie groot gebeure om te gaan, kan waardeer (in my verbeelding ouers en hulle kinders).
Bid die Psalm
(Ouers) “Toe die Israeliete uit Egipte getrek het, die nageslag van Jakob uit die land met ’n vreemde taal, het Juda God se heiligdom geword en Israel sy koninkryk.”
(Kinders) “Die see het dit gesien en gevlug, die Jordaanrivier het teruggedraai. Berge het soos ramme rondgespring, die heuwels soos lammers.”
(Ouers) “Wat is verkeerd, see, dat jy vlug, Jordaanrivier, dat jy wegdraai, berge, dat julle soos ramme spring, en julle, heuwels, soos lammers?”
(Ouers en kinders) “Bewe, aarde, in die teenwoordigheid van die Here, in die teenwoordigheid van die God van Jakob, Hy wat die rots verander na poele water, die vaste rots na fonteine van water.” NLV
Boodskap en betekenis
Let op hoe die speelse verwysing na die reaksie van die see (Rietsee – Eks. 14)), die Jordaan (met die Intog), die berge, en die heuwels die boodskap dra van uitbundige en uitgelate “over-the-top” vreugde. Let ook op hoe die Psalm die manier is om oor hulle land as God se plek, sy heiligdom, te praat. Veral in die lig daarvan dat hulle ná die ballingskap eintlik ‘n tweede Uittog en Intog belewe het. Meer nog, hoe die wonderwerke in die woestyn ‘n boodskap aan die ganse aarde bring dat die God van Jakob die Heer eintlik van almal is. Die herhaling van die verhaal van die water uit die rots beklemtoon die grootsheid van die wonder. Dié Psalm is ‘n opgewekte speelse manier om met die groot dade van God in die geskiedenis om te gaan. Dit nooi jou eintlik uit om self oor die lewe wat God gee, te bokspring soos ramme of lammers. Dink daarom vandag terug aan die wonders van God in jou eie lewe, en stap die dag in met ‘n huppel in jou stap! Jou wêreld is ook God se heiligdom, want Hy woon in jou!
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar