Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 114

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 114 is ‘n uitgelate jubeling oor die Uittog uit Egipte en die Intog in die Beloofde Land. ‘n Mens kan jou goed voorstel hoe dié Psalm responsories gesing is tussen bv. die priesters en die volk, of selfs deur ‘n familie by die Paasmaaltyd. Só is nie net die vreugde van die verlossing in die verlede in herinnering geroep nie, maar op ‘n speelse manier die wonder daarvan vir die kinders geleer. Nou, ná die ballingskap, het dit nuwe betekenis gekry. Die Uittog uit Babel het die herinnering aan die vorige Uittog uit Egipte lewend gehou, en nuwe bevestiging vir hulle gegee dat God dit goed bedoel met hulle. Let op die herhaling van vers 3-4 in vers 5-6 wat goed sou pas in ‘n gesprek tussen ouers en hulle kinders. Ek plaas dit hier in responsoriese vorm sodat jy die digterlike speelse manier om met hierdie groot gebeure om te gaan, kan waardeer (in my verbeelding ouers en hulle kinders).

Bid die Psalm

(Ouers) “Toe die Israeliete uit Egipte getrek het, die nageslag van Jakob uit die land met ’n vreemde taal, het Juda God se heiligdom geword en Israel sy koninkryk.”

(Kinders) “Die see het dit gesien en gevlug, die Jordaanrivier het teruggedraai. Berge het soos ramme rondgespring, die heuwels soos lammers.”

(Ouers) “Wat is verkeerd, see, dat jy vlug, Jordaanrivier, dat jy wegdraai, berge, dat julle soos ramme spring, en julle, heuwels, soos lammers?”

(Ouers en kinders) “Bewe, aarde, in die teenwoordigheid van die Here, in die teenwoordigheid van die God van Jakob, Hy wat die rots verander na poele water, die vaste rots na fonteine van water.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die speelse verwysing na die reaksie van die see (Rietsee – Eks. 14)), die Jordaan (met die Intog), die berge, en die heuwels die boodskap dra van uitbundige en uitgelate “over-the-top” vreugde. Let ook op hoe die Psalm die manier is om oor hulle land as God se plek, sy heiligdom, te praat. Veral in die lig daarvan dat hulle ná die ballingskap eintlik ‘n tweede Uittog en Intog belewe het. Meer nog, hoe die wonderwerke in die woestyn ‘n boodskap aan die ganse aarde bring dat die God van Jakob die Heer eintlik van almal is. Die herhaling van die verhaal van die water uit die rots beklemtoon die grootsheid van die wonder. Dié Psalm is ‘n opgewekte speelse manier om met die groot dade van God in die geskiedenis om te gaan. Dit nooi jou eintlik uit om self oor die lewe wat God gee, te bokspring soos ramme of lammers. Dink daarom vandag terug aan die wonders van God in jou eie lewe, en stap die dag in met ‘n huppel in jou stap! Jou wêreld is ook God se heiligdom, want Hy woon in jou!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 113

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks
Psalm 113 is vir my: “Hanna se lied,” die onvrugbare vrou aan wie die Here vir Samuel gegee het (1 Sam. 2). Dit is ook die derde Hallelujalied (Ps. 111-113) wat die volk oproep om die Here in absolute uitbundigheid te loof. Die Psalm roep almal onder die son op om die Here te prys vir sy heerskappy en majesteit (Ps. 113:4-6). God illustreer dit immers in sy genade wat hulpeloses verhef (Ps. 113:7-8) en kinders aan ‘n kinderlose gee (Ps. 113:9). So maak Hy van haar huis ‘n tuiste, en maak van ‘n onvrugbare vrou: “’n gelukkige ma van kinders”! Daarom moet almal die Here prys: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” (Ps. 113:1-3). Dit is dan ook die drie dele van die Psalm.

Bid die Psalm

“Prys die Here! Ja, prys Hom, dienaars van die Here. Prys die Naam van die Here! Geseënd is die Naam van die Here, nou en vir altyd. Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here geprys word. Die Here is verhewe bo al die nasies; sy heerlikheid is hoër as die hemele. Wie is soos die Here ons God, Hy wat hoog woon? Hy verneder Homself om te kyk na die hemele en op die aarde. Hy verhef die armes uit die stof en die behoeftiges van die ashoop. Hy plaas hulle by die vernames, by vernames van sy eie volk! Die kinderlose vrou in ’n huis maak Hy ’n gelukkige moeder van kinders. Prys die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die hele wêreld word opgeroep om die Here te prys. Nie net in dié tyd nie, maar vir altyd. Nie net in dié land nie, maar: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” Nie net sy diensknegte nie, maar eintlik almal oor wie Hy heers. Want, die Here is hoog bo al die nasies, selfs hoog bó die hemel uit. Daar is niemand so majestueus soos Hy nie. Hy: “moet “afbuk om na die hemel en die aarde te kyk”! Dit is asof die ganse hemelruim en die aarde soos ‘n speelding vir die Here is wat Hy van hoek tot kant met een oogopslag kan raaksien. Dié Here is nie net groots en majestueus nie, maar Hy bekommer Hom oor hulpeloses en behoeftiges en laat hulle van die ashoop af opstaan en by die vooraanstaande mense van die volk sit. Hy hef hulpeloses en behoeftiges dus op vanuit hulle nederige “stof”-bestaan en maak van hulle mense van betekenis. Die Here bekommer Hom ook oor onvrugbare vroue en gee vir hulle kinders sodat hulle huise tuistes word. Só word elke onvrugbare vrou: “‘n gelukkige ma van kinders.” Die verhaal van Hanna is die inspirerende krag agter dié verwysing. Lees haar wonderlike lofgebed in 1 Samuel 2 nadat Eli vir haar gebid en die Here: “aan haar gedink” het en vir haar ‘n seun gegee het. Vgl. ook Jesaja 54:1 wat soos dié Psalm die Here loof vir sy voorsiening (William Carey se moderne sendingbeweging is uit dié profesie gebore!) en Maria se loflied wat verbind word aan Hanna se wonderlike lofgebed: Lukas 1:46–55. Wie weet wat kan met jou gebeur as jy hierdie Psalm bid!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 112

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 112 is soos 111 ‘n akrostiese Psalm. Elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet. Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 111 en 113 dit ook is. Soos ek gister gesê het, Psalm 112 en 111 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade, barmhartigheid, en voorsienigheid. In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf. In Psalm 112 word dit nou as die gelowige se karakter en werk beskryf. Elke opeenvolgende reël van die Psalm skets ‘n aspek van die gelowige se lewe voor God en voor die mense, soms in kombinasie met ‘n ander reël. Op grond van die beklemtoning van sy ontsag vir God se gebooie in vers 2 en die feit dat hy daarom vir slegte tyding nie bang is nie, kan die Psalm in twee dele gedeel word, maar dit is maar net om die boodskap op ‘n manier op te som: Ontsag vir God se gebooie bring vreugde (Ps. 112:2-6) en, Vertroue op God verdryf die vrees vir slegte tyding (Ps. 112:7-10).

Bid die Psalm

“Prys die Here! Geseënd is hy wat die Here dien, hy wat met groot vreugde sy gebooie onderhou. Sy kinders sal magtig wees op aarde; die nageslag van die opregte sal geseën wees. Oorvloed en rykdom vul sy huis, sy regverdigheid duur vir altyd. Vir die opregte skyn die lig te midde van die duisternis. Hy is genadig, barmhartig en getrou. Dit gaan goed met die mens wat vrygewig is en uitleen, wat sy sake in billikheid bedryf. Die regverdige sal nie struikel nie, en sal altyd onthou word. Vir slegte tyding is hy nie bang nie: hy is gerus, hy vertrou op die Here. Hy voel veilig en is sonder vrees en sien die neerlaag van sy vyand. Hy gee ruim vir hulle in nood. Sy goeie dade word altyd onthou. Hy sal aansien hê en eer ontvang. Die bose mens sal dit sien en woedend wees. Hy sal op die tande kners van woede. Maar die begeerte van die goddelose sal op niks uitloop.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 112 herhaal die belangrike paradigmatiese boodskap van Psalm 1: “Hoe gelukkig is die mens wat ontsag het vir die HERE, wat groot vreugde vind in sy gebooie.” En voeg daaraan by: “Sy nageslag sal magtig wees in die land — ‘n geslag opregtes wat geseën word.“ Dit is die beginsels van ‘n geseënde en gelukkige lewe, die “ABC” van ‘n gesonde geloofslewe. Dit is die basis vir die oorvloed wat ‘n mens selfs in die voorsiening van die Here kan beleef. Dit is ook die basis van ‘n lewe wat ‘n nalatenskap laat. Let op hoe wonderlik sulke mense vir hulle medemense is: “Hy skyn in die duisternis as ‘n lig vir die opregtes.” Hoekom? Want hy of sy is genadig, barmhartig, regverdig, goedhartig en eerlik. Jy kan op hom of haar staatmaak, want hulle wankel nooit nie. Hulle nalatenskap sal vir altyd in die herinnering bly. Omdat die gelowige ‘n ontsag vir God het, dryf dit die vrees vir slegte tyding uit. Sy hart kan standvastig bly, want Hy vertrou op die Here. Hy hoef nie bang te wees nie, want hy weet in die lig van God se grootsheid en betroubaarheid, hoef hy nie vir teenstanders bang te wees nie. Trouens, in sy goedhartigheid en regverdigheid, styg juis sy aansien en waardigheid. Goddelose mense sien dit raak, kners op hulle tande van woede, maar kan niks aan die aansien en waardigheid doen nie. Dit maak hulle moedeloos, want selfs al sou hulle slaag om iemand dood te maak, sal dit niks doen aan die “lig” wat uit hulle lewe skyn nie.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 111

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 111 en 112 is akrostiese Psalms. Dit beteken elke versreël begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Dit gee 22 reëls vir elke letter van die alfabet. Dit is ook ‘n Hallelujalied soos Psalm 112 en 113 dit ook is. Psalm 111 en 112 kom baie ooreen in inhoud met die fokus op bv. regverdigheid, genade, barmhartigheid, en voorsienigheid. In Psalm 111 word dit as God se karakter en werk beskryf. In Psalm 112 word dit as die gelowige se karakter en werk beskryf. In Psalm 111 sê die Psalmis dat God self sal sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. In Psalm 112 word dit van die gelowige gesê: “‘n Regverdige bly vir altyd in die herinnering.” In Psalm 111 is dit God wat voorsien. In Psalm 112 is dit die “goedhartige” wat uitleen en al sy sake reg bestuur. Die twee Psalms is dus keersye van mekaar. Wat van God in die een gesê word, word van die gelowiges in die ander gesê. Omdat die twee Psalms maklik gememoriseer kon word vanweë die alfabetiese begin, het dit dus as ‘n soort kortbegrip gefunksioneer om kinders nie net die alfabet te leer nie, maar die “ABC” van wie God is en wat Hy doen: “Groots is die werke van die Here, ‘n bron van nadenke vir almal wat vreugde daarin vind.” Die volgende Psalm het hulle die “ABC” van wie gelowiges is en hoe hulle lewe, geleer. Elke opeenvolgende reël van die Psalm skets ‘n aspek van God se werk in die lewe van die volk, soms in kombinasie met ‘n ander reël. Op grond van die beklemtoning van sy werk in vers 2 en 7 kan die Psalm in twee dele gedeel word: God se werk is Groots (Ps. 111:2-6) en, God se werk is Betroubaar (Ps. 111:7-10).

Bid die Psalm

“Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof in die vergadering van die gemeente, in die byeenkoms van die opregtes. Die dade van die Here is groot! Almal wat daaroor bly is, dink hieroor na. Heerlik en vol majesteit is sy werke. Sy geregtigheid hou vir altyd stand. Sy wonders sal altyd onthou word. Genadig en barmhartig is ons Here! Hy voed hulle wat Hom dien; Hy onthou altyd sy verbond. Hy het sy kragtige dade aan sy volk getoon deur die land van ander nasies aan hulle te gee. Alles wat Hy doen, is waar en reg, en al sy voorskrifte is betroubaar. Hulle is vir altyd geldig, en met trou en opregtheid moet dit gehoorsaam word. Hy het ’n losprys vir sy volk betaal, en sy verbond vir altyd gewaarborg. Heilig en ontsagwekkend is sy Naam! Eerbied vir die Here is die begin van wysheid. Dié wat sy voorskrifte navolg, het goeie insig. Hy sal vir altyd geprys word!” NLV

Boodskap en betekenis

Die eerste deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van sy voorsiening wat uitgemond het in die gawe van die Beloofde land. In die proses het die volk sy magtige dade ervaar, sy genade en barmhartigheid, en dat Hy sy verbond met hulle in stand gehou het. Daarom prys hulle die Here met hulle hele hart in die byeenkomste van die geloofsgemeenskap, terwyl hulle bely dat die Here self sal sorg dat sy majestueuse en luisterryke dade nie vergeet sal word nie. Onthou ook dat dié Psalm ‘n besondere betekenis vir die teruggekeerde ballinge in Jerusalem gehad het, waarin hulle eintlik op ‘n dubbele manier God se voorsiening kon vier. Hulle voorouers het die eerste Intog in Kanaän beleef, en hulle self die tweede een. Vers 4 word in Jakobus 5:11 aangehaal en met die verhaal van Job se volharding verbind. “Kyk, ons beskou hulle wat volhard as geseënd. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (BDV). Die tweede deel van die Psalm fokus op die werke van die Here in terme van die betroubaarheid van wat Hy doen, sowel as in sy opdragte. Die klem is op die feit dat ‘n mens nie net kan staatmaak op die werk van die Here, dat Hy genadig en barmhartig in sy voorsiening sal wees nie, maar dat jy ook kan staatmaak daarop dat dit regverdig en betroubaar sal wees. ‘n Mens kan op God staatmaak dat Hy sal optree. En jy kan staatmaak daarop dat dit die regte optrede sal wees. Dit is vir ewig so, sê die Psalm. Almal wat dus sy opdragte uitvoer, het goeie insig. God is ook betroubaar in die wyse waarop Hy ons begelei deur sy opdragte en voorskrifte. Daarom is die wyse manier van lewe: Leef met ontsag vir God se opdragte.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 110

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die volgende nege Psalms, Psalm 110-118, is bedoel om die geloofsgemeenskap te help om te fokus in gebed op God se beloftes van die vestiging van sy heerskappy. Dit word in Psalm 110 verwoord in die gebed vir die vestiging van die Dawidiese koningskap, waarskynlik met die aanwysing van Salomo as die nuwe koning (vgl. 1 Konings 1-2). Met die verwysing na Melgisedek is daar duidelik ook Messiaanse trekke, iets wat uiteindelik met die koms van Jesus in vervulling gegaan het. Daarom word Psalm 110 ‘n paar keer in die NT aangehaal. In ’n gesprek met die Fariseërs gebruik Jesus Psalm 110:1 om Sy goddelikheid te bevestig: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Matt. 22:41-45). Die Hebreërskrywer gebruik twee verse uit hierdie Psalm om Jesus se priesterlike koningskap te bevestig: Psalm 110:1 – “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” (Hebr. 1:13) en Psalm 110:4 – “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” (Hebr. 5:6). Die apostels het ook Jesus se hemelvaart verklaar as ’n aanvulling van die uitspraak in hierdie psalm (Hand. 2:34). Jesus se oorwinning aan die kruis is ook aan hierdie psalm verbind (Hand. 2:35).

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Die Here het vir my heer gesê: “Sit op die ereplek aan my regterkant totdat Ek jou vyande verneder het tot ’n voetbankie onder jou voete.” Uit Sion sal die Here u heerskappy uitbrei; u sal heers oor u vyande. U volk sal as vrywilligers diens doen op die dag van u magsbetoon. Op die heilige berg, wanneer die dag breek, kom u jong manne soos die dou. Die Here het ’n eed afgelê en sal dit nie herroep nie: “Jy is priester vir altyd, volgens die orde van Melgisedek.” Die Here staan aan u regterhand. Op die dag van sy toorn sal Hy konings verpletter. Hy sal die nasies oordeel en hulle dooies sal oral lê. Hy sal hulle leiers verpletter oor die hele aarde. Maar Hy sal Hom verkwik uit die spruite langs die pad, want Hy sal seëvierend wees.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie gebed is in NT konteks ‘n belangrike gebed om te bid. Dié Psalm herinner ons aan die Here Jesus wat alreeds koning is op grond van sy kruisdood, opstanding en hemelvaart, maar waarvan die volledige verwerkliking en erkenning daarvan nog in die toekoms by sy wederkoms lê. Ons vra dus in die taal van die Psalm met reikhalsende verlange na God se koninkryk: “Uit Sion sal die Here u heerskappy uitbrei; u sal heers oor u vyande. U volk sal as vrywilligers diens doen op die dag van u magsbetoon.” Ons wag vir die finale bekendmaking van God se heerskappy oral en oor almal. Dit is dieselfde gebed as wat die Gees en die bruid in Openb. 22 bid: “Kom! En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’” Bid dit dan vandag … en elke dag, totdat Hy weer kom.

Oor Melgisedek

Om jou gedagtes te verfris: in Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is. Hy het brood en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Abram se reaksie was betekenisvol. Hy het vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee. Daarmee is Melgisedek se voorrang bó die aartsvader Abraham bevestig. Die Hebreërskrywer lê die bestaande teks in Genesis 14 verder uit en verduidelik benewens die verklaring van sy naam as “Koning van Geregtigheid” ook sy naam as “Koning van Salem” dit is “Koning van Vrede”. Dit is egter die volgende aansprake oor hom wat ’n mens tot stilstand laat kom: “Hy was sonder vader, sonder moeder, sonder stamboom; sy lewe was sonder begin en sonder einde.” Dit is beskrywings wat net op ’n hemelse ongeskape wese van toepassing kan wees. Die toppunt van die Hebreërskrywer se aanspraak is dat Melgisedek daarbenewens: “soortgelyk aan die Seun van God” geteken word, d.w.s. dat hy ‘n voorafskaduwing van Jesus as Seun van God is. Dit is merkwaardig! Melgisedek as ‘n gestalte uit die OT het dus in die NT ‘n realiteit in Jesus geword. Die enigmatiese misterieuse hemelse figuur Melgisedek vind vervulling in Jesus as die Seun van God.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Onlangse kommentaar