Psalm 118:1-18
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Ons kom aan die einde van die tweede reeks Psalms – Psalm 110-118 – in die vyfde Psalmboek wat die geloofsgemeenskap gehelp het om te fokus op God se beloftes. Psalm 118 rond nou dié inleidende fokus op God se beloftes af met die gedagte dat daar aan God se liefde geen einde is nie, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het. Daarvan moet Israel getuig. Daarvoor moet Israel God loof. Die Psalm kan in twee dele opgedeel word aan die hand van die inhoud. Die eerste deel fokus op gebedsverhoring wat onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 1-18. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied vóór die tempel deur die koning of een of ander leier wat die geloofsgemeenskap se dank verwoord. Die tweede deel fokus op die lofprysing en danksegging wat onderstreep dat die Here lewe skenk, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 19-29. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied ín die tempel soos ons uit vers 19 aflei: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.”
Bid die Psalm
“Loof die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd. Laat Israel sê: “Sy goedheid duur vir altyd.” Laat die huis van Aäron sê: “Sy goedheid duur vir altyd.” Laat almal wat die Here dien, sê: “Sy goedheid duur vir altyd.” In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry. Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen? Die Here is by my, Hy help my. Ek sal neersien op my haters. Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense. Dit is beter om by die Here te skuil as om op vername mense te vertrou. Al die nasies het my omsingel; in die Naam van die Here het ek hulle afgeweer. Hulle het my inderdaad van alle kante omsingel, maar in die Naam van die Here het ek hulle afgeweer. Soos bye het hulle om my geswerm, maar soos brandende doringtakke is hulle geblus. In die Naam van die Here het ek hulle afgeweer. Hulle het probeer om my heeltemal om te stoot, maar die Here het my gehelp. Die Here is my sterkte en my beskerming; Hy het my redder geword. Vreugdeliedere van redding word gesing in die tente van die regverdiges. Die Here se regterhand het roemryke dinge gedoen. Die Here se regterhand is triomfantlik omhoog. Die Here se regterhand het roemryke dinge gedoen. Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel. Die Here het my swaar gestraf, maar nie aan die dood oorgegee nie.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalm begin met die belydenis dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie. Dít is iets wat die volk Israel sowel as sy geestelike leiers uit die huis van Aäron moet inspireer om te getuig. Trouens: Elkeen: “wat die Here dien” – vir Hom ontsag het – moet getuig daarvan dat sy liefde geen einde het nie. In die danklied vóór die tempel verwoord die koning of een of ander geestelike leier die dank wat hulle het omdat God hulle gebede verhoor. Soos in Psalm 23 bely hulle dat die Here by hulle is, en dat hulle daarom geen vrees het nie: “Wat kan ‘n mens aan my doen?” Die Here is die enigste skuilplek wat van waarde is. Geen fisiese skuilplek kan só help as die geestelike skuiling wat ‘n mens by die Here kan vind nie. Selfs toe nasies “soos bye” die volk omsingel het, kon hulle in die Naam van die Here die aanval afslaan. Die bye het: “soos doringtakke in ‘n vuur verdwyn.” Die vyande wou die volk platloop, maar het nie rekening gehou met die Here wat hulle uit die gevaar gered het nie.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar