Skip to main content

Tag: Samuel

2 Samuel 5 – ons is tog almal u eie mense

God se keuse van Dawid as koning word nou ook deur die hele volk erken:

“Ons is tog almal u eie mense.”

Let op hoe Dawid se koningskap verbind word aan herderskap en charismatiese leierskap (die woordjie nagid word gebruik wat hier met heerser vertaal word).  Dit bly twee belangrike aspekte van leierskap:

  1. om om te gee soos ‘n herder vir mense,
  2. en deur die Gees en sy gawes leiding te gee.

Ook al die leiers van Israel sluit met hom voor die Here ‘n verdrag.  Die lang en stormagtige pad na die troon is voltooi.

Vers 8 is moeilik om te verstaan.  Die verwysing na die watertonnel kan beteken dat Dawid dit gebruik het om in die stad in te kom.  Die verwysing na die blindes en kreupeles word moontlik sarkasties gebruik.

Die keuse van Jerusalem was briljant.  Nie net was dit neutrale grond tussen Juda en Benjamin nie, maar dit was ook ‘n strategiese plek wat maklik verdedig kon word.  Geen wonder dat dit steeds vandag die hoofstad van Israel is nie.

Daarmee het Dawid polities die volk verenig, sodat daar nie ‘n stryd kon wees oor watter stam belangriker as ander sou wees nie.

Die stryd teen die Filistyn verhewig, met die gevolglike oorlog wat tot hulle ondergang lei.  Let weereens op hoe Dawid die Here raadpleeg voor enigiets wat hy doen, en hoe die raad van die Here telkens by die situasie aanpas.  Dit bly die Here se oorlog wat Dawid aanvoer:

“Wanneer jy ‘n geritsel in die toppe van die melkbosse hoor, moet jy blitsvinnig aanval, want dan trek die Here voor jou uit om die kamp van die Filistyne te tref.”

My gebed is om ook meer te wag op wat God doen.

2 Samuel 3-4 – die pad na die troon is morsig

Die lys seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is (die lys word in 1 Kron 3 aangevul) is nie om dowe neute hier geplaas nie.  Drie van die ses seuns sou Dawid in die skande steek.  Amnon, die oudste, sou sy suster Tamar verkrag.  Absalom, die derde seun, sou nie net vir Amnon doodmaak daaroor nie, maar Dawid uitdaag vir die koningskap.  En Adonia, die vierde seun, sou Salomo uitdaag vir die koningskap, en deur Salomo doodgemaak word.

Dawid het dus onderliggend dieselfde probleme met sy seuns as wat Eli en Samuel met hulle s’n gehad het.  Ironies dat dit juis Salomo is, gebore na Dawid se donkerste uur, wat die patroon deurbreek, en so die eerste word wat met onderskeiding die koningskap erf.  Let ook op dat Absalom se ma ‘n Aramese prinses was, ‘n dogter van koning Talmai van Gesur, ‘n stadstaat net noord van Galilea.  Laat ‘n mens wonder oor die wysheid van sulke politiese huwelike gegewe Absalom se geskiedenis.  Hierdie tipe verbintenisse word eintlik deurgaans afgekeur (1 Kon 11:4).

Die gevolge van Abner se keuse vir Is-Boset, Saul se seun, in hoofstuk 2, het hier ‘n ironiese en tragiese nadraai.  Deur ‘n verbintenis met Rispa, die byvrou van Saul, van wie ons later weer gaan hoor (2 Sam 21), maak Abner eintlik ‘n aanspraak op die troon, soos Absalom ook later sou doen.  Die gevolglike breukspul tussen hom en Is-Boset verenig ironies genoeg die Benjaminiete en die res van Israel onder Dawid se koningskap, maar lei op tragiese wyse tot Abner se dood aan Joab se hand uit weerwraak vir sy broer Asael se dood.  Is-Boset word ook wreed deur twee bendeleiers vermoor.  Let op hoeveel detail die skrywer oor Dawid se onskuld en smart oor albei gebeure gee.  Dit is die enigste optrede wat kan sorg dat die brose verenigingsproses nie uitmekaar val, voor dit nog behoorlik gebeur het nie.

Twee goed tref my:

  • die smart van Palti oor sy vrou Mikal wat deur Dawid teruggeneem word.  Midde-in die groter politiese spel, kry doodgewone mense seer, en dit roer my hart.
  • die inkonsekwentheid van Dawid in 1) sy vrees vir sy susterskinders, die seuns van Seruja, “Hulle is vir my te hard”, wat lei tot ‘n “hands-off” benadering teenoor Joab, teenoor 2) sy onmiddelike teregstelling van die twee bendeleiers.  ‘n Mens kan nie help om te dink aan die feit dat Dawid deurgaans militêre, politiese en strategiese voordeel uit dié wrede leiers se optredes sou trek nie.  Eers aan die einde van Dawid se lewe sou hy vir Joab terugkry deur Salomo opdrag te gee om Joab vir sy wandade te vergeld.  Dit bly ‘n uitdaging om konsekwent die regte ding te doen, veral as ‘n mens voordeel kan trek daaruit om sekere dinge oor te sien.

2 Samuel 2 – daar was ‘n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid

Drie goed tref my in die gedeelte:

  1. Dawid doen niks sonder dat hy die Here raadpleeg nie.  En hy is baie spesifiek in sy vrae: 1) moet ek na Juda gaan, en nadat die Here positief gereageer het, 2) na watter stad in Juda moet ek gaan, waarop die Here Hebron antwoord.  Dit bly die sleutel kenmerk van Dawid wat hom onderskei van Saul.
  2. Hebron is natuurlik ‘n baie betekenisvolle plek.  Dit is waar Abraham en Sara begrawe is (Gen 23, 25), die enigste deel van die beloofde land wat Abraham ooit besit het.  Dit is nou ook die plek waar die koningskap van Dawid sy aanvang neem.  Dit laat ‘n mens dink aan die belofte aan Abraham en Sara: “en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom” (Gen 17:16).
  3. Dit tref my hoe ernstig die konflik tussen Saul en Dawid was.  En hoe dit alle mense in Israel en Juda raak.  Dawid word egter, anders as Saul en sy nageslag, deurgaans geteken as beginselvas: hy slaan nie sy hand aan Saul en sy nageslag se lewens nie.  Hy is ook vrygewig: hy betoon simpatie met die familie van Saul.  Dit oortuig aanvanklik egter nie vir Abner die hoof van Saul se leër nie, en ‘n hewige geveg breek uit tussen Israel en Juda, wat, soos Samuel, Dawid as koning gesalf het.  En hierdie konflik sou regdeur Dawid se lewe onderliggend bly en van tyd tot tyd na die oppervlak kom.

WEEK 5: 2 Samuel 1 – hoe het die helde geval

Dit tref my dat Dawid so geroer is deur die dood van Saul.  Oor Jonatan sou ek dit nog kon verstaan, maar oor Saul, die een wat verantwoordelik was vir soveel van Dawid se ontberinge?  Dawid teken egter weereens vir Saul as die gesalfde van die Here.  Sy respek vir die amp van Saul is dus ten diepste respek vir die Here.  En dié grens sou hy nooit oorsteek nie, om die reg in eie hande te neem, die gesalfde van die Here te vernietig, selfs al bedreig hy Dawid se lewe.

Die Amalekiet se weergawe van hoe Saul dood is, verskil van die gegewens in 1 Samuel 31.  Moontlik wou die Amalekiet sy eie aandeel in die dood van Saul vergroot ter wille van een of ander beloning, daarom dat hy sê dat hy Saul doodgemaak het.  Dat die Amalekiet dit, anders as wat hy verwag het, moet ontgeld, is grusaam, maar tekenend van Dawid se integriteit en lojaliteit.  Onthou ook dat dit die Amalekiete was wat net tevore Dawid se mense in Siklag ontvoer het.  En dit was teen die Amalekiete wat Saul die bevel van die Here oortree het en sy koningskap verloor het (1 Samuel 15).  Hier is dit dan ‘n Amalekiet wat sê dat hy Saul om die lewe gebring het.  Veel later sou dit die nageslag van Agag, ook ‘n Amalekiet, wees wat in die persoon van Haman (verhaal van Ester) die Israeliete sou bedreig.

Niemand mag egter, in die oë van Dawid, hulle hand aan die lewe van die gesalfde van die Here slaan nie.  Selfs nie aan sy familie nie, sal ons later in hoofstuk 4 lees.  Dawid neem ook later Mefiboset, seun van Jonatan in sy sorg (hoofstuk 9), hoewel daar egter ook nog die grusame verhaal van die seuns van Rispa en Merab sou kom (hoofstuk 21).

Dawid treur in sy treffende klaaglied roerend oor die verwoesting van die trots van Israel, Saul en Jonatan.  Drie keer verwoord hy sy pyn met die frase: hoe het die helde geval.  Veral oor Jonatan, die een na aan Dawid se hart, is sy hartseer groot.  Dawid sing dié lied dus met ‘n waarderende gesindheid.  Hy verlekker hom nie in die ongeluk wat Saul oor sy swakhede en booshede getref het nie, maar laat die volk die goeie oor Saul en Jonatan onthou.  Interessant dat die lied in die Boek van die Opregte opgeteken is (vgl ook Jos 10:13) en aan die volk geleer is.

1 Samuel 30-31 – God bewaar ons nie VAN gevaar nie, maar IN gevaar

Dawid se stryd verdiep.  Dit is nie net Saul wat hom agtervolg nie, ook nie net die Filistyne wat hom wantrou nie, sy eie volgelinge draai teen hom met die gebeure in Siklag, waar die dorpie geplunder is en hulle vrouens en kinders weggevoer is.

Ek dink die Godsbeeld wat dit vir ons teken, is ‘n baie belangrike een.  God bewaar Dawid nie van die agtervolging, wantroue en plundering nie.  Maar Hy laat Hom ken as die een wat BINNE die krisis bereikbaar is, en uitkoms gee.

Let op hoe Dawid nie eers dink daaraan om die Here te verkwalik vir die slegte goed wat met hom en sy mense gebeur nie.  Terwyl die manne dink daaraan om hom met klippe dood te gooi, raadpleeg hy die Here deur Abjatar en doen wat hy hoor.

Op pad is die eerste voorsiening die Egiptiese slaaf wat hulle na die bende lei.  En hulle verslaan die Amalekiete en kry al hulle mense terug (soos Abraham lank tevore met die wegvoering van Lot – Gen 14).  Let op met hoeveel deernis Dawid die manne hanteer wat die pas nie kon volhou nie (in navolging van Num 31:25-27 en Jos 22:8), en hoe strategies hy die buit hanteer deur daarmee vriende te maak met die leiers van Juda.  Daarmee wys hy onomwonde dat hy anders is as Nabal en Saul.  Hy is sterk in slegte omstandighede en vrygewig in oorwinning.

Hoe tragies sluit die verhaal van Saul nie af in hoofstuk 31 nie.  Saul en sy seuns sterwe in die oorlog, en word vernederend vasgespyker teen ‘n muur. ‘n Koning met baie potensiaal wat nie die mas kon opkom nie, omdat hy nie bereid was om na God te luister nie. Die pad is nou oop vir Dawid om deur die volk as koning bevestig te word.  Die mense van Jabes in Gilead se verbintenis aan Saul, vir wie hy in hoofstuk 11 bevry het, beweeg hulle om in sy dood ‘n laaste eer aan hom en sy seuns te bewys.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH