Skip to main content

Tag: Samuel

1 Samuel 28-29 – Saul se koningskap wankel

Dit is met groeiende spanning wat ‘n mens dié gedeelte lees.  Die aanloop tot die oorlog op die Gilboaberg by Jisreël begin met Saul wat nie meer God se stem kan onderskei nie, nie direk deur drome nie, nie deur die bemiddeling van die priesters (met die urim en die tummim) nie , en nie deur ‘n woord van die profete onder leiding van die Gees nie.

Saul se desperaatheid word in detail geteken.  Hy is honger en bang.  En hy raadpleeg ‘n verbode dodebesweerster.  Dit alles, omdat God hom verlaat het.  Dis hartseer dat terwyl Samuel gelewe het, Saul ongehoorsaam was.  Noudat Samuel dood is, bly Saul steeds ongehoorsaam.  Hy kan nie dit oor sy lippe kry om te sê, ek het gesondig nie.  Terloops, die dodebesweerster was duidelik verbaas en doodbang dat enigiets gebeur toe sy iemand uit die dode oproep.  Dit dui aan dat dit God is wat uiteindelik van Hom laat hoor deur Samuel, en dat die dodebesweersters praktyk eintlik ‘n bedrogspul was.

Dawid word ook uitgeskakel uit die oorlog deur die besware van die ander Filistynse konings wat hom nie vertrou nie.  En in hoofstuk 30 is hy in elk geval betrokke by ‘n oorlog teen die Amalekiete, wat die leër van Israel só verswak dat hulle verslaan word en Saul en Jonatan in die oorlog (hfst 31) omkom.

Die tafel is gedek vir die onafwendbare gevolge van ‘n lewe wat nie in God se teenwoordigheid geleef word nie.  Saul se koningskap is naby sy einde.

Urim en Tummim: Dit was vermoedelik twee stene wat die priester in sy borssak gedra het vir besluitneming (Eks 28:30). Soms word net gepraat van die urim, soos hier. Hoe dit presies gewerk het, is onseker. Vermoedelik was die een ’n ja- en die ander ’n nee-stem, ofskoon daar soms nie ’n antwoord gekry is nie (1 Sam 28:6).

1 Samuel 26-27 – in swaar tye word oorwinnings gebore

Die pad na die troon lê besaai met dorings!  Saul se erkenning van Dawid as ‘n beter mens as hy hou nie lank nie (hfst 24).  Op ‘n soortgelyke wyse as in die grot by die skaapkrale in En-Gedi, word Saul in Dawid se mag gegee, maar hy kies om nie vir Saul dood te maak nie.  Hoewel Saul op soortgelyke wyse as by die grot teenoor Dawid reageer – let op hoe Saul sy eie optrede as dwaas beskryf – besluit Dawid om uit te wyk uit die grondgebied van Israel.

Die opmerking oor die Here wat dalk vir Saul aanhits (vers 19), sluit aan by ’n opvatting van dié tyd (vgl. 2 Sam. 24:1), dat God agter alles besig is, met die goeie dinge wat gebeur sowel as met die slegte.  In 1 Kronieke 21, wat na die ballingskap geskryf is, is dié aksie, in die geval van Dawid in 2 Sam 24, egter aan Satan toegeskryf, omdat met tyd besef is dat sulke optredes nie direk aan God toegeskryf kan word nie, hoewel dit nie buite sy beheer geskied nie.

Let op hoe Dawid reken dat dit onmoontlik is om die Here te dien in ‘n vreemde gebied (vgl 20:6,29 waar Dawid die storie van sy familie wat op sy geboorteplek aanbid, gebruik om afwesig te kan wees by Saul).  Daar is in dié tyd geglo dat die Here net binne die landsgrense gedien kan word.  Selfs vir ‘n gelofte moes ‘n mens na die plek waar dit afgelê is, teruggaan (vgl Absalom in 2 Sam 15:7 wat dié storie van grond misbruik vir sy eie planne – amper soos Dawid, hoewel die motivering verskil).  Dit lyk selfs asof Dawid reken dat hy nou verplig word om die afgode van daardie plekke te gaan dien.  Dit gee ‘n interessante perspektief op sy behoefte om in die huis van die Here te wees, selfs ‘n huis vir Hom te bou: “Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.  Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God” (Psalm 84:11).

Hy gaan bly in die land van die vyand, by dieselfde Akis waar hy hom tevore kranksinnig gehou het, dié keer met sy 600 man by hom.  Hy mislei Akis deur steeds teen die Filistyne op te tree, al is hy op hulle grondgebied, maar telkens te sorg dat niemand van sy veldtogte vrykom nie.  In wese is Dawid besig om ‘n deel van die land te verower vir sy toekomstige koningskap.

Dit tref my dat die pad na die vervulling van God se roeping nie ‘n maklike pad is nie.  Maar selfs in hierdie haglike en gevaarlike situasie, kan dit net wees dat die kennis wat hy in dié tyd opdoen, hom uiteindelik goed te staan kom om die Filistyne vir goed uit die weg te ruim wanneer hy koning word na Saul se dood.  Dit is in swaar tye wat die oorwinnings gebore word.

Kan God van gedagte verander?

Die vraag is by die Bybelskool gevra, Kan God van gedagte verander?

Die kort antwoord is die volgende, soos een kommentaar (Klein) skryf hieroor:

Daar is ‘n paradoks tussen God se vryheid, om van gedagte te kan verander, en God se betroubaarheid, om nie van gedagte te kan verander nie.  Albei is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Ek wil twee aspekte in my langer antwoord uitlig:

1)  God verander nooit in sy wese of karakter nie – Hy is onveranderlik in terme van bv. sy liefde en trou.

Vergelyk bv. Hosea 11:8: “Hoe kan Ek jou vernietig … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”

2)  God kan wel van gedagte verander, omdat Hy in verhouding is met ons.

Dit sien ‘n mens bv. in die bekende Pottebakker verhaal in Jer 18.  Soos klei in die hande van die pottebakker is, so is ons in God se hand.  Wanneer Hy ‘n oordeel uitspreek en mense luister (is plooibaar soos klei), SIEN HY AF van die kwaad, en omgekeerd as Hy seën uitspreek en mense luister nie (is nie plooibaar soos klei nie), SIEN HY AF van die goeie wat Hy wou doen.

God verander dus van gedagte BINNE die verhouding met ons, soos ons ook onderling met mekaar werk, hoewel Hy nooit van karakter verander nie. 

Vincent Brümmer (What are we doing when we pray? On prayer and the nature of faith – 2008 – Andrew Murray pryswenner vanjaar) skryf hieroor en sê dat gebed eintlik die sleutel is om God se wese te verstaan (Ebeling se gedagtes).

“God gives us some things, not only as we wish, but because we wish.”

Dit beteken nie dat ons gebed God se arm draai nie, of dat dit outomaties gebeur nie, maar dat Hy in vryheid op ons versoeke reageer, omdat ons dit vra en Hy in verhouding is met ons.

Teenoor die statiese idee van God as onveranderlik, wys Vincent uit hoe gebed die verhouding tussen God en die bidder verander wat daardeur ‘n werklike veranderings effek op beide het.  (On)veranderlikheid is altyd ‘n dinamiese begrip omdat dit ‘n onvolledige konsep is – God is onveranderlik in sy goedheid en getrouheid, maar veranderlik ten opsigte van gebeurlikhede.  Anders sou hy nie ‘n persoon wees nie.

In ‘n besondere gedeelte in sy boek, Asking an omniscient God, sê hy die volgende:

Hy skiet die populêre gedagte van Boethius af dat God alwetend ten opsigte van die toekoms is, deur van buite ons realiteit, uit die ewigheid, na ons gebeure in tyd te kyk en dus te reageer op die gebeure soos dit gebeur, en dus nie voor die dinge gebeur nie. Dit maak nie logiese sin volgens Vincent nie, want ons ervaring van tyd sal dan ‘n illusie word.    Selfs die verlede, hede en toekoms sal dan van God se perspektief een punt in tyd word en ononderskeibaar.

Vincent stel eerder voor dat God se alwetendheid ten opsigte van die toekoms gesien moet word as dat Hy te alle tye van alle toekoms moontlikhede bewus is, en ook die relatiewe waarskynlikheid van elke gebeurlikheid ken.  Hy kan dus die toekoms antisipeer,

1) omdat Hy ons intensies ken, maar

2) ook sy eie bedoeling tot uitvoer kan bring.

Ten opsigte van die feit dat God ons behoeftes ken, kan ‘n mens aanvaar dat God baie van ons behoeftes vervul sonder dat ons vra, maar weens sy behoefte om met ons in ‘n verhouding te lewe, sommiges net gee omdat ons vra.  Anders sou ons óf oorweldig wees deur die vervulling van ons onuitgesproke behoeftes óf bederf deur te dink dat ons behoeftes outomaties, sonder ‘n verhouding, bevredig word.

Hy sê ook volgende ongelooflike ding:

God se goedheid is die onderbou van die bidder se vertroue om te vra!

Daarvoor het die bidder die gawe van enlightenment (om sy wil te ken), empowerment (om sy wil te kan doen) en taste for the good (om sy wil uit liefde te doen) nodig.  Hierdie trinitariese verklaring (enlightenment – Jesus; empowerment – Vader; motivation [soos hy dit verderaan noem] – Gees) is kenmerkend van sy teologie.

Vincent gebruik ook John Lucas (Freedom and Grace) se briljante voorbeeld as ‘n metafoor vir gebed as samewerking tussen ons en God, dié van Persiese tapytmakers.

In elke familie werk die pa aan die eenkant en die kinders aan die ander kant.  Die kinders faal baie keer daarin om presies te doen wat die pa sê, maar die pa is vaardig genoeg om sy patrone aan te pas om hulle foute te inkorporeer en in ‘n fassinerende, konstant-ontwikkelende ontwerp te verander.

God se werk moet dus nie as ‘n bloudruk verstaan word nie, maar eerder as ‘n goddelike projek wat God ontwikkel in gemeenskap met menslike deelnemers.  Dit het ‘n effek op hoe ons die eskatologie sien – in stede van ‘n vaste uitkoms, is die eschaton iets waaraan ons as medewerkers met God saamwerk.

Om terug te keer tot die vraag oor God se verandering van gedagte:

Numeri 23:19 sê wel van God die volgende: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.”  Maar daar moet ons onthou dat dit uit die mond van Bileam kom, wat nie gesagvol oor God ‘n uitspraak kon lewer nie.  Daarby interpreteer Bileam dit self, deur daaraan by te voeg: “Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?”

Dit beteken dat al wat Bileam sê, is dat God se woorde en sy dade ooreenstem, Hy doen wat Hy sê.

Dieselfde geld die gedeelte in 1 Samuel 15:29, waar Samuel die oordeel oor Saul se koningskap uitspreek en dit verbind aan God wat nie van gedagte verander nie, maar doen wat Hy sê.  In 1 Samuel 13:15 sê Samuel immers dat God se plan eintlik was om Saul se koningskap vir altyd te bevestig het, maar omdat Saul nie gehoorsaam was nie, het Hy sy plan verander.  Die frase “nie van gedagte verander nie” bedoel dus eintlik net, dat God doen wat Hy sê.

Daarteenoor, moet ons ook sê, soos Jeremia die gesagvolle profeet van die Here, God reageer ook op hoe mense na Hom luister of nie, en verander sy optrede in reaksie daarop.

DUS: Albei stellings is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

1 Samuel 25 – om met vrygewigheid te leef

Drie dinge tref my in die gedeelte.

  1. Die eerste is die kontras tussen Nabal, met wie ‘n mens nie kan praat nie (:17), en Dawid, met wie Agajil wel kon praat (:24, 35).  Leerbaarheid en ‘n luisterende gesindheid is van die mees fundamentele verskille tussen ‘n dwase en ‘n wyse mens.  Dit is ook die verskil tussen Dawid en Saul.  Albei het verkeerde goed gedoen in hulle lewens, maar net Dawid was bereid om te luister as God hom daaroor deur die profete aangespreek het.
  2. Die tweede is die ironie dat Nabal soos ‘n koning, melek (:36), feesvier, maar dwaas is soos koning Saul.  Dawid darenteen tree wys op, deur te luister na die insig wat Abigajil vir hom gee.  En daarmee stel hy ons gerus dat God se keuse van hom as regeerder, nagid (:30 – die woord beteken prins, wat ‘n meer charismatiese leierskap aandui), die korrekte een is.
  3. Die derde is die les wat Nabal en Abigajil ons leer, dat inhaligheid jou inhaal, terwyl vrygewigheid jou vrymaak.  Dit is wanneer ‘n mens vasgryp aan jou goed, jou besittings net vir jou eie belange gebruik, en nie omgee vir ander nie, en nog erger, onregverdig optree teenoor dié wat jou besittings help beskerm, dat jou lewe juis in gevaar kom.  Vrygewigheid darenteen stel jou vry om op God te kan vertrou vir wat jy nodig het.

WEEK 4: 1 Samuel 24 – Jy moet jou vyande liefhê

Dit is asof die lig van die Nuwe Testament hier in Dawid se optrede deurskyn.  Dawid het Saul in sy mag in die grot by die skaapkrale.  Dit is asof die Here self vir Saul in Dawid se mag gee.  Maar Dawid slaan nie sy hand aan Saul se lewe nie.  Selfs die mantelpunt wat hy ongemerk afgesny het, pla sy gewete.

Geen wonder nie dat Saul hard aan die huil gaan nie, toe hy agterkom wat gebeur het.  Hy erken dat Dawid ‘n beter man is as hy, dat hy kwaad met goed vergeld, en dat Dawid ‘n weldaad aan hom bewys het, al is hy sy vyand.  Dit is asof die stryd tussen goed en kwaad in Saul se gemoed hier na die oppervlak kom, en ‘n mens hom wil-wil jammer kry, totdat ‘n mens in hoofstuk 26 weer gaan lees van Saul se agtervolging van Dawid, en ‘n mens besef dat Saul die stryd gewonne gegee het, en dat die kwaad doodgewoon die oorhand in sy lewe gekry het.

Dawid tree ongelooflik wys en koninklik hier op.  Hy skep ruimte vir God om op te tree, deurdat hy weier om die reg in eie hande te neem.  En dit alles is gebaseer op sy vertroue dat die Here sal sorg, sy saak sal behartig, en reg sal laat geskied aan hom.  Dit is inspirerend en bemoedigend.

Onlangse kommentaar