Skip to main content

Tag: Samuel

2 Samuel 13 – dis ontstellend dat Tamar geen geregtigheid kry met haar gewelddadige verkragting nie

Verkragting bly in alle omstandighede een van die mees gewelddadige ingrype in ‘n vrou se lewe.  In die lig van die oordeel op Dawid se sonde, konsentreer ‘n mens baie keer op die fisiese dood van Dawid se kinders.  Maar Tamar se verkragting is vir haar net so erg as die dood: “sy was ‘n wrak”.

Absalom, die derde oudste seun van Dawid, het ‘n mooi suster, Tamar, gehad, van ‘n gedeeltelike Aramese afkoms deur hulle ma, Maäka.  Amnon, die oudste seun van Dawid by Aginoam, beraam ‘n plan om met haar gemeenskap te hê, met die hulp van sy neef Jonadab.  Maar verag haar na hy sy sin met haar gekry het.  Let op hoe Dawid betrek word by die afskuwelike plan, hoewel onwetend.

Na die ontsteltenis van die vorige twee hoofstukke se owerspel en moord, is hierdie verhaal van verkragting vir my eintlik soos ‘n skop in die maag.  In die eerste plek oor hierdie ongeveer 16-jarige vrou wie se lewe verwoes is, maar in die tweede plek ook oor die oneffektiwiteit van Dawid se woede.  Hy tree nie op teen Amnon nie, amper soos Eli vroeër, ten spyte van duidelike wetsvoorskrifte (Lev 18:9; 20:17).  Erger nog, hy versoen hom selfs met Amnon se uiteindelike sterfte aan die hand van Absalom, maar doen niks vir Tamar nie.  Hy is meer bekommerd of sy ander seuns ook omgekom het, as oor Tamar se lot.  Selfs die optrede van Absalom stel niks reg nie.  Dit wis maar net vir Amnon uit, maar doen niks vir Tamar nie, hoewel dit darem lyk asof hy vir haar verblyf verskaf het.  Die enigste lydende party in die verhaal, Tamar, word dus geïgnoreer, en daar is geen geregtigheid vir haar nie.  Dit is ontstellend en onaanvaarbaar.  En sulke goed gebeur baie keer vandag nog!

2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here

Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ek verras is met die emosionele impak daarvan op my.  Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat ek lees hoe Dawid al dieper sak, van owerspel tot moord en die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel.  En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is.

Attah ha-ish – Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas gelees het.  Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab.  Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia –  Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel!  Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal.

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het.  Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna.  Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.

Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.

WEEK 6: 2 Samuel 8-10 – Dawid is ‘n regverdige en billike koning, by wie die Here is net waar hy gegaan het

Met die belofte van die Here as fondament, bevestig Dawid sy koningskap met militêre poste regdeur al die gebiede wat hy verower en onderdanig maak aan hom.  Sommige van dié aksies is grusaam, soos die onderwerping van die Moabiete (volk van sy groot-ouma Rut – vgl 1 Sam 22 waar hulle nog op goeie voet was), ander weer meer diplomaties, soos die ooreenkoms met Toï van Hamat.  Die Filistynse mag word deurslaggewend gebreek, sodat sommige selfs as deel van Dawid se lyfwag aangestel word.  Die Filistyne word hier eintlik die “Kreti en die Pleti” genoem.  Pleti is ‘n verwysing na Filistyne, en Kreti ‘n verwysing na hulle afkoms uit Kaftor, wat vermoedelik die eiland Kreta is (Deut 2:23; Jer 47:4; Amos 9:7).

Telkens word genoem van die ekonomiese waarde wat met die buit tot sy koningskap toegevoeg word: belasting, perde, strydwaens, brons, silwer, goud waarvan hy die meeste aan die Here wy vir die bou van die tempel, soos ons later sal sien.  Hy skep ook deeglike strukture vir die “kerk”, weermag en staatsadministrasie, waarvan Josafat die eerste CEO word, waarvan ons in die Bybel lees.  Die name Abjatar en Agimelek is heel waarskynlik met die teks se oorskrywery omgeruil, sodat 8:17 eintlik moet lees: “Sadok seun van Agitub, en Abjatar seun van Agimelek …” (vgl 1 Sam 22:20).

Daarmee saam word die oorwinnings egter telkens aan die Here toegeskryf, “net waar hy gegaan het”. En Dawid word as ‘n regverdige en billike koning geteken, wat ter wille van Jonatan, sorg vir Saul se familie.  Mefiboset, seun van Jonatan, die een met die gebreklike voet, kry Saul se grond terug, onder bestuur van Siba, maar bly by Dawid in sy huis, heel moontlik om ‘n ogie oor hom te hou.  Mefiboset se seun, Miga, word pertinent hier genoem, omdat Jonatan eintlik deur Miga ‘n baie groot nageslag het (1 Kron 8).  Hoewel Saul dus verwerp is deur die Here, word Jonatan geseën met ‘n groot nageslag.  Dawid bly lojaal aan Jonatan, hoewel hy nie dieselfde lojaliteit aan die ander afstammelinge van Saul bewys nie (vgl die verhaal van Rispa se seuns in hoofstuk 21).

Die oorlog teen die Ammoniete word in meer detail oor die volgende drie hoofstukke vertel, want dis tydens dié oorlog wat Dawid owerspel en moord pleeg.  Dawid probeer eers diplomatieke betrekking met hulle vestig, maar sy gesante word verneder.  Die afskeer van die een kant van hulle baard, die sieraad van mans in die Ou Nabye Ooste, was ‘n groot vernedering, en ‘n parodie op rou-gebruike van dié tyd (Jer 48:37; Job 1:20).  Joab en Abisai gaan dus oor tot militêre aksie.  Aanvanklik bied die Ammoniete teenstand, veral met die terugtrek in hulle stad.  Hulle bondgenote, die Arameërs, sluit egter vrede met Israel in die oorlog en raak aan Dawid onderhorig, wat die Ammoniete so verswak het, dat dit uiteindelik tot Dawid se oorwinning sou lei (hfst 12).  Die “sewe honderd man op strydwaens en veertig duisend oorlogsperde gedood” van 10:18 moet waarskynlik op voetspoor van 1 Kron 19:18 eerder wees: “sewe duisend van die strydwabemanning en veertig duisend voetsoldate”.

2 Samuel 7 – God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag

Dit tref my dat Natan Dawid se versoek om vir die Here ‘n huis te bou aanvanklik positief antwoord, en nogal daarby voeg: “Die Here is by u”, die woorde wat later ‘n titel vir Jesus so word, Immanuel, God met ons (Matt 1:23).  En dan korrigeer die Here sy profeet, en keer Dawid om ‘n tempel te bou, omdat God eerder die Dawidshuis gaan bou en bestendig vir altyd.  Daarmee wys God twee goed:

  1. dat dit Hy is wat die inisiatief neem en nie afhanklik is van enigiets wat sy volk vir Hom doen nie, en
  2. dat Hy nie ‘n korttermyn God is nie, maar een wat op die langtermyn met Dawid se nageslag en die volk Israel ‘n verhouding het.

Daar is dus ‘n fundamentele verskil in hoe God oor Dawid se nageslag en dié van Saul praat.  God het sy seën van Saul en sy nageslag onttrek, maar belowe aan Dawid, dat selfs as sy nageslag ontrou is aan God, sal Hy nie sy trou aan hulle onttrek nie. Daar is wel die verwagting dat Dawid en sy nageslag aan God sal behoort en aan Hom getrou sal bly, maar dit word nie as voorwaarde vir God se verbintenis aan hulle gestel nie.

Dit is werklik ‘n grootse belofte, van dieselfde omvang as die verbond aan Abraham, een wat selfs rekening hou met die moontlike sonde en afdwaling van die nageslag.  Geen wonder dat dit in die omgangstaal as ‘n Dawidsverbond bekend geword het nie, veral omdat die woord trou (hesed) wat hier gebruik word, verbondstaal is.  Jeremia sou dié belofte uitbrei na die hele volk (Jer 31) en Jesus, die seun van Dawid, na die hele mensdom (Joh 3).  Dit vorm ook die agtergrond vir Paulus se beskrywing van gelowiges se verhouding met God in 2 Kor 6:16-18.

Hoe pragtig skryf die skrywer:

“Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: ‘Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!'”

En dit word dan Dawid se grootste gebed vir die res van sy lewe: dat God hierdie toesegging sal waar maak, vir hom en sy nageslag EN vir sy volk.  Dit is wat ek ook wil doen!

2 Samuel 6 – God se wil moet in alles die deurslag gee

Interessant dat Dawid met militêre mag optrek om die ark te gaan haal by Baäla, ‘n ouer naam vir Kirjat-Jearim (Jos 15:9).  Dawid maak aanvanklik die fout om die ark op die “Filistynse manier” op ‘n nuwe wa aan te ry, terwyl Numeri 4 se voorskrifte is dat die ark alleen deur Leviete met draaghoute gedra mag word.  Dit lei tot die tragiese dood van Ussa wat probeer keer dat die ark van die wa afval.  Sy dood is nie net die gevolg van sy ongeoorloofde aanraking van die ark nie, maar ook moontlik omdat God met die struikeling van die osse gewys het dat dit nie die regte manier is om die ark te hanteer nie (vgl die gebeure in die tempel met Dagon – 1 Sam 5).

Dawid is aanvanklik diep ontsteld oor die Here se optrede (só ‘n onsteltenis oor die Here word baie min in die OT vertel – net Kain [Gen 4:5], Samuel [1 Sam 15:11], Dawid en Jona [4:1]), maar besef uiteindelik dat hy nie die Here geken het in die proses nie (1 Kron 15:13 – ons het nie op die regte manier na die wil  van God gevra nie), soos hy telkens voorheen gedoen het.  Dit leer my dat God se wil in alles die deurslag moet gee.  Oor alles moet Hy geraadpleeg word.

Na 3 maande, wat die ark van God (wisselend ark van God en ark van die Here genoem in die gedeelte) by Obed-Edom (moontlik uit die Filistynse stad Gat, maar kan ook ‘n Leviet gewees het – 1 Kron 15:18) gestaan het, maar net vir hom voorspoed gebring het, bring Dawid die ark op die regte manier die Dawidstad in (1 Kron 15:11-15).  Hy offer ‘n bul en vetgemaakte kalf (heel moontlik net aan die begin van die prosessie en nie elke 6 tree nie, volgens die meeste geleerdes), dans met groot vreugde, soos vrouens dit baie keer gedoen het wanneer oorwinnings gevier is.  Dit kan een van die redes wees vir Mikal se misnoë, dat hy saam met die vroue gedans het, hoewel uit die latere gesprek dit eerder blyk dat sy hooghartig en trots was, en so ‘n uitbundigheid as ‘n vernedering beskou het.  Let op hoe Mikal as Saul se dogter, eerder as die vrou van Dawid, beskryf word, waarmee haar veragting van Dawid geïnterpreteer word as ‘n aantasting van Dawid se koningskap.  Haar kinderloosheid sorg dat Saul nie voortleef in die nageslag van Dawid nie.

Onlangse kommentaar