Skip to main content

Tag: Samuel

WEEK 3: 1 Samuel 16 – die Here kyk na die innerlike

Drie dinge val my op in die gedeelte:

  1. Dat die verandering van koningskap met die Gees te make het.  Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van die dag af  kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur; Alles hang van die Here af.
  2. Dat Dawid se verkiesing eers lank hierna tot sy werklike koningskap lei, waar hy erken word deur die hele volk; dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het, sy roeping kom eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing.  Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.
  3. Mense kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid (let op hoe selfs Dawid beskryf word in vers 18) – God kyk na die innerlike.  Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree.  Die Here se keuses moet die deurslag gee, en nie ons eie insigte nie.

1 Samuel 15 – om te luister is beter as die vet van ramme

Saul se verhaal is, soos Eli s’n, ‘n verhaal van verspilde kanse.  Hier gee die Here deur Samuel vir Saul ‘n manier om reg te maak wat hy tevore verbrou het, en hy verkwis die geleentheid, deur Agag se lewe te spaar en van die beste buit te neem.

“Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want Hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”

Dit roer my dat Samuel die hele nag deur die Here smeek om uitkoms, want hy was lief vir Saul en die volk, en sou tot die einde van sy lewe daaroor treur.  Maar dit verontrus my dat Saul kan dink hy hét gedoen wat die Here gevra het, maar net nie raaksien dat halwe gehoorsaamheid uiteindelik geen gehoorsaamheid is nie:

“om te luister is beter as die vet van ramme.”

Saul is ook meer bekommerd oor wat sy manskappe sou sê, as wat God deur Samuel sê, en daarom sy poging om Samuel saam te neem na die manskappe toe, sodat hy nie voor hulle verneder word nie.  Let op hoe hy begin praat van die Here as Samuel se God.  Daarby is die langtermyn gevolge van hierdie ongehoorsaamheid verrykend: Agag se nageslag vind ons weer in die boek Ester, waar Hamman, ‘n Agagiet, Israel probeer uitwis!

1 Samuel 14 – Hy kan red, deur baie of deur min

Jonatan tree hier na vore as ‘n dapper vegter wat in voeling is met wat die Here wil.  Hoe pragtig sê Jonatan nie:

“Hy kan red, deur baie of deur min.”

Let op hoe die oorwinning kom deur sowel Jonatan se heldedade en die Here wat paniek en verwarring saai onder die vyand.  Selfs Hebreërs wat eintlik aan die Filistyne se kant was, kom oor na Israel toe!

Saul darenteen kan selfs met die ark by hom nie in kontak met God kom nie: “Maar God het hom nie toe geantwoord nie.”  Sy opdrag aan die manskappe om nie te eet voor die aand nie, illustreer sy dwaasheid deurdat dit die oorwinning beperk én sy seun se lewe bedreig (onthou Jefta en sy dogter!).

Die manskappe keer dat Saul vir Jonatan kwaad aandoen, interessant genoeg deur Jonatan se heldedaad aan God se hulp te verbind.

1 Samuel 13 – Saul minag die Here

Saul se koningskap wankel al te gou.  Dit is tragies dat hy al die potensiaal gehad het, en die Here sy koningskap vir altyd wou bevestig, maar dat hy nie die riglyne vir aanbidding en gemeenskap met God nakom nie, en so uit God se guns val.

Nog erger, anders as ‘n Dawid, toe dié aangespreek is, keer hy nie terug na die Here in berou nie, maar tel doodgewoon die manskappe by hom, en sit die oorlog voort.  Dit kom neer op ‘n minagting van God en sy woord.

As Samuel dan vir Saul sê, dat die Here besluit het om ‘n ander koning te kies, spel hy dit uit dat dit “‘n man na God se hart” sal wees.  En hiermee word alreeds in prinsiepe die groot verskil tussen Saul en Dawid aangevoer, die een wat God hierna gaan soek het.  Die verskil tussen Saul en Dawid is ‘n hart wat kan reageer op wat God sê en doen.  Dawid oortree eintlik meer eksplisiet die Tien Gebooie – moord en egbreuk – as Saul, en het net so baie huismoles as Eli en Samuel, maar keer telkens in berou na die Here toe, as dié hom aanspreek daaroor.  Dit is steeds wat God in my en sy kinders soek.

1 Samuel 12 – om na God te luister is die essensie van die geestelike lewe

Samuel se seuns het eintlik net so droog gemaak soos Eli s’n.  Die verskil was dat Samuel steeds leierskap aan die dag gelê het, en Eli nie.  Ironies egter dat sterk profetiese leierskap nie die volk tevrede stel nie en dat hulle kies vir ‘n oorerflike koningskap sisteem ten spyte van die gebreke van Eli en Samuel se kinders.

Samuel se integriteit staan egter soos ‘n paal bo water uit.  Let ook op hoe hy aan die Here deurgaans die eer gee: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was.”  En hy onderrig die volk dat selfs in ‘n monargie moet volk en koning na die Here se stem luister en aan Hom gehoorsaam wees. Dit is die essensie van die geestelike lewe.

Soos ‘n Elia later, vra Samuel dat die Here donderslae en reën gee, wat ontsag by die volk vir die Here ontlok.  Let ook op hoe Samuel hulle onderrig dat die afgode niks is nie, soos alreeds met die storie van die ark en Dagon bewys is.  Hulle hoef op geen manier gevrees te word nie.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda