Psalm 145
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Psalm 145 is die afsluiting van die groepie Dawid Psalms – Psalm 138-145 – wat God se betroubaarheid deur die eeue bevestig sowel as die goeie bedoelings wat Hy van altyd af het vir sy mense, trouens vir alle mense: “Die Here is goed vir almal.” (vers 9). Daarom, sê Dawid: “My mond sal die lof van die Here verkondig; alle mense moet sy heilige Naam prys vir altyd en ewig.” (vers 21). ‘n Mens kan die Psalm in twee deel, hoewel elke vers eintlik die hele boodskap van lof in sigself alreeds dra. Die eerste deel – vers 1-9 – besing God se lof aan die hand van sy allesoortreffende kwaliteite en karakter, hoewel dit uiteraard verbind is aan die konkrete voorbeelde wat daarvan getuig. God se groot goedheid is lofwaardig vir ewig. Die tweede deel – vers 10-21 – raak ‘n bietjie meer spesifiek en besing God se lof meer direk aan die hand van sy groot werke en magtige dade, en maak dit nog meer universeel op alles en almal van toepassing as selfs in die eerste deel van die Psalm. Dit is ook uitsonderlike beloftes wat jy kan aangryp in jou gebede! God se besondere beloftes verryk die lewe vir ewig.
Bid die Psalm
“’n Loflied van Dawid. Ek wil U prys, my God en my Koning, u Naam wil ek altyd loof. Ek wil U elke dag loof, en u Naam vir altyd prys. Die Here is groot! Hy is waardig om geprys te word. Sy grootheid is onmeetbaar. Geslag na geslag sal u dade prys en van u magtige werke vertel. Ek sal die glans en heerlikheid van u majesteit verkondig en nadink oor u wonderdade. Mense sal praat van u vreeswekkende dade; hulle sal van u grootheid vertel. Hulle sal vertel van u onvergeetlike goedheid; en met vreugde sing van u regverdigheid. Genadig en barmhartig is die Here, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde. Die Here is goed vir almal, en barmhartig oor sy hele skepping. Alles wat U geskep het, loof U, Here, en u getroue dienaars prys U! Hulle vertel van die prag van u koninkryk; hulle maak u groot mag bekend. Hulle sal aan almal vertel van u magtige dade, en van die glansryke majesteit van u koninkryk. Want u koninkryk is ’n koninkryk vir alle tye. U heers geslag na geslag. Die Here help almal wat geval het en dié wat swaarkry, tel Hy op. Die oë van almal is hoopvol op U gerig; U gee aan almal kos op die regte tyd. U maak u hand oop, en bevredig die begeertes van al wat lewe. Die Here is regverdig in al sy dade; en getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, vir almal wat Hom in opregtheid aanroep. Hy vervul die begeertes van dié wat Hom dien; Hy hoor hulle hulpgeroep en red hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar die goddeloses vernietig Hy. Die lof van die Here wil ek verkondig. Alles wat leef, sal sy heilige Naam vir altyd prys!” NLV
Boodskap en betekenis
Die eerste deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van aanhalings oor wie en wat God is. ‘n Mens kan enige vers neem as ‘n “koringkorrel” vir jou dag om jou oor God te verwonder!
Let op die beskrywing van die meer as tien kwaliteite en karakter van God self:
- sy lofwaardigheid wat vir altyd geprys moet word,
- sy grootheid wat ondeurgrondelik is,
- sy luisterryke majesteit wat alles verlig,
- sy wonders wat ‘n mens uitnooi om vir altyd daaroor na te dink,
- sy ontsagwekkende magtige dade waaroor jy nie kan stil bly nie,
- sy groot goedheid wat mens verstom,
- sy regverdige optrede waaroor ‘n mens net wil juig,
- sy genade,
- sy barmhartigheid,
- sy geduldigheid,
- sy groot troue liefde, en
- sy glansryke koningskap wat mense oral met ontsag vervul.
Trouens: “U koningskap strek oor alle ewighede … deur al die komende geslagte” (vers 13)!
Die tweede deel van die Psalm is eintlik ‘n bron van beloftes van wat God doen waarmee ‘n mens jou gebede kan verryk. Let op die beskrywing van sy groot werk en magtige dade, want elkeen daarvan is ‘n belofte wat in gebed aangegryp kan word, nie net deur die geloofsgemeenskap nie, maar deur die hele mensdom!
Lees dié meer as tien beskrywings as beloftes en maak dit deel van jou gebede:
- Die Here is goed vir almal,
- Die Here ondersteun almal wat val,
- Die Here help almal op wat teneergedruk is,
- Die Here gee almal kos op hulle tyd,
- Die Here versadig al wat lewe met wat hulle wil hê,
- Die Here is regverdig in al sy weë,
- Die Here is getrou aan alles wat Hy gemaak het,
- Die Here is naby almal wat Hom aanroep in waarheid,
- Die Here vervul die wens van dié wat vir Hom ontsag het,
- Die Here hoor die hulpgeroep van dié wat vir Hom ontsag het, en verlos hulle,
- Die Here beskerm almal wat Hom liefhet (maar al die goddelose mense vernietig Hy).
Dít is die Here wat ons aanbid! Dít is die dinge waarop jy kan staatmaak. Dít is die dinge waarvoor jy kan intree en die Here se seën op alles en almal kan afbid. Ook vir jouself.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar