Psalm 134
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Hierdie Psalm is nie om dowe neute aan die einde van die reeks van 15 Pelgrimspsalms geplaas nie. Dit is ‘n wisselspraak tussen die pelgrims – vers 1-2 – en die tempelpersoneel – vers 3. Dit simboliseer die afskeid wat onvermydelik kom met die einde van die week se feesviering en uiteindelik met die terugreis na die eise van die normale lewe. Die hele gemeenskap van pelgrims roep dus aan die einde van die besoek die verantwoordelike tempelpersoneel op om die Here te seën of prys in die heiligdom terwyl hulle voortgaan om hulle diens deur die nag daar te verrig. Dit verwys waarskynlik onder andere na die Levitiese hoofwagte en poortwagte en ander funksionarisse wat vir die gladde verloop van die tempeldiens sowel as vir die beveiliging verantwoordelik was (vgl. 1 Kron. 9:10-34). Die tempelpersoneel reageer daarop deur op wederkerige wyse die seën van die Here uit Sion op elkeen van die pelgrims (vgl die enkelvoud jou) uit te spreek. Een só ‘n voorbeeld vind ons in die seënbede van Numeri 6:24-26: ”Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Waaraan die belofte gekoppel is: “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” Dié seën word hier ook spesifiek aan die Here wat hemel en aarde gemaak het, verbind. D.w.s., God sal hulle seën waar ook al hulle in sy skepping beweeg.
Bid die Psalm
“’n Pelgrimslied. Prys die Here, alle dienaars van die Here. Julle wat snags diens doen in die huis van die Here, hef op julle hande in die heiligdom en prys die Here. Mag die Here julle seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.” NLV
Boodskap en betekenis
Die boodskap is dus duidelik. Die gereelde aanbidding by die tempel het die pelgrims in kontak gebring nie net met die lewensveranderende teenwoordigheid van die Here, maar sy omvattende seën vir die lewe ontsluit. Tye het verander, maar God se seën waar die geloofsgemeenskap bymekaar kom, is steeds ‘n werklikheid. Soos Jesus self sê: “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”(Matt. 18:19-20).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar