Psalm 139
ie fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Hierdie Psalm is vir my heilige grond. Aan die een kant besing dit die wonder van God se intieme betrokkenheid by ons maak nie saak waar ons ons bevind nie. God is alomteenwoordig by ons en vir ons. Aan die ander kant besing dit die wonder van menswees: “omdat ek ‘n ontsagwekkende wonderwerk is.” Dié twee waarhede ontlok twee gebede by die Psalmis. Hy wil in die eerste plek God se eer ten alle koste beskerm en verklaar dat God se vyande ook sy vyande sal wees. Hy wil in die tweede plek absoluut getrou en lojaal aan God leef en vra dat God se ondersoekende teenwoordigheid hom op die beproefde pad sal lei.
Bid die Psalm
“Vir die koorleier: Van Dawid. ’n Psalm. Here, U deursoek my en ken my. U weet of ek sit en of ek opstaan, U ken my gedagtes van ver af. Of ek op pad is, en of ek gaan lê, elke oomblik weet U waar ek is. Selfs voordat ek praat, Here, weet U al presies wat ek gaan sê. U sluit my in van voor en van agter. U hand van seën is op my. Dié kennis laat my in verwondering, dit is vir my te hoog om te begryp! Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug? Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar! Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun. Sou ek sê: “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,” dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag, want duisternis is vir U soos lig. U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees. As U net die goddeloses sal uitroei, o God! Gaan weg van my, julle moordenaars! Hulle smee bose planne teen U, u vyande misbruik u Naam. Moet ek hulle nie haat wat vir U haat nie, Here? Moet ek nie ’n afkeer hê van dié wat teen U in opstand kom nie? Ja, ek haat hulle met ’n volkome haat, want u vyande is my vyande. Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my en ken my onrustige gemoed. Kyk of daar enige sondige neiging by my is, en lei my op die ewige pad.” NLV
Boodskap en betekenis
Die Psalm word omraam deur die werklikheid dat niks vir God verborge is nie. Die Here sien dwarsdeur ‘n mens: “U ondersoek my en U ken my” (vers 1). Dit is waar van alle aksies (sit en opstaan), gedagtes (”van ver af verstaan U wat ek in gedagte het” – 2020-vertaling), omswerwinge (“U het dit afgemeet”), en woorde (“U ken dit volledig”). Die Here omsluit ons van alle kante en sy hand is te alle tyd op ons soos ‘n pa wat sy peuter ondersteun, soos vers 5b meer korrek vertaal moet word: “U plaas u handpalms op my.” Dit is belangrik om raak te sien dat al die werkwoorde in die eerste ses verse wat God se betrokkenheid beskryf in die teenwoordige tyd vertaal is. Die Psalmis is nie net as’t ware uit vorige ervaring bewus van God se intieme kennis van en betrokkenheid by hom nie. Dit is iets wat van oomblik tot oomblik in sy lewe gebeur. God is nader aan ons as wat ons bewussyn kan inneem: “Om dit te verstaan, is ‘n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie.” God is nie net so naby aan ons dat ons van Hom kan wegkom nie. Hy is oral waar ons sou wou wegvlug van Hom af, in die hemel, in die doderyk, aan die einde van die see, in die dag en in die nag, selfs in die duisternis wat as die plek gereken is waar God nie aanwesig sou wees nie. God is alomteenwoordig deur sy Gees. Dit is tegelykertyd ‘n verskrikking en ‘n vertroosting – vir die goddelose ‘n onrusbarende werklikheid; vir die gelowige ‘n gerusstellende werklikheid. Want God is alomteenwoordig by ons en vir ons waar ons ook al mag gaan. Maar dié kennis is nie net aan die “ewige nou” verbind nie. God se betrokkenheid kom eintlik van voor ons geboorte af en strek tot aan die einde van ons lewe, “nou en vir ewig”. God se beplanning van ons ontstaan en ontwikkeling is dus omvattend, en uit die NT weet ons nog helderder dat dit selfs ná die dood voortgaan in die ewige lewe. God het ons gevorm in die moederskoot – daarvoor loof die Psalmis Hom: “omdat ek ‘n ontsagwekkende wonderwerk is.” Dit sluit sy binnekant of gewete in – die betekenis wat aan die niere gekoppel is (vers 13) – interessant genoeg iets wat dus gereken word as geskep selfs voorgeboortelik, en iets wat God gee, nie net iets wat deur die samelewing gevorm is nie. Dit sluit sy skelet in, die deel van sy liggaam wat struktuur aan die tapisserie van menswees gee. Dit sluit uiteindelik ook al sy lewensdae in wat in God se boek opgeskryf is – nie soseer alles wat sal gebeur nie, maar die tydsduur daarvan. ‘n Mens kan hier iets raaksien van die feit dat elkeen van ons ons oorsprong in God se gedagtes het. God het ‘n prentjie van ons gehad, vóór ons nog daar was, en ons toe geskep daarvolgens. Dit is waarom die Psalmis sê, dat hy wonderlik is, soos God hom gemaak het, en dat God se gedagtes vir hom wonderlik is. Dit is eintlik net ‘n ontsagwekkende oorweldigende bewussyn. Of hy slaap en of hy wakker is, hy is altyd in God se gedagtes – en God is altyd in sy gedagtes. Dié twee ontsagwekkende en oorweldigende waarhede ontlok twee smeekgebede by die Psalmis. Hy wil in die eerste plek God se eer ten alle koste beskerm en verklaar dat God se vyande ook sy vyande sal wees. Hy wil met goddelose mense niks te doene hê nie. Hulle is immers bloeddorstig en bedrieglik, mense wat teen God opstaan en sy vyande is. Die Psalmis identifiseer dus volledig met God self en wil dus niks te doene het met enigiemand wat hom van dié lojaliteit kan wegskeur nie. Hy wil in die tweede plek absoluut getrou en lojaal aan God leef en vra dat God se ondersoekende teenwoordigheid hom op die beproefde pad sal lei: “Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ou beproefde pad.” Die “pad van verdriet” kan ook vertaal word as “pad van afgodery”. Die eerste vertaling fokus die aandag op dinge wat pyn kan veroorsaak. Die tweede vertaling fokus die aandag op dinge wat afvalligheid kan bring. Daarteenoor vra hy dat God hom op die beproefde pad sal begelei. Die vertaling “beproef” (“ancient” volgens Allen) gee die woord ‘ôlâm weer wat ook met “ewig” of “altyd” vertaal kan word. Die idee is egter nie dat dit soseer op die lewe hierna dui nie, maar eerder dit wat die toets van die tyd sal deurstaan. D.w.s. dié pad wat van altyd af die regte een was, en wat vir altyd sal hou. Dit is dié pad waarop die Psalmis begelei wil word.
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar