Psalm 148 – God sorg vir dié wat na aan Hom is

20 Desember
Psalm 148 – God sorg vir dié wat na aan Hom is
1Halleluja! Loof die Here uit die hemel; loof Hom in die hoogtes! 2Loof Hom, al sy engele; loof Hom, al sy hemelse magte! 3Loof Hom, son en maan; loof Hom, al die helder sterre! 4Loof Hom, hoogste hemele en die water wat bo die hemelkoepel is! 5Laat hulle die Naam van die Here loof, want dit is Hy wat bevel gegee het – en hulle is geskape. 6Hy het hulle gevestig vir altyd, vir ewig. Hy het ‘n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie. 7Loof die Here vanaf die aarde – seemonsters en al die diep waters, 8vuur en hael, sneeu en newels, stormwind wat sy bevel uitvoer; 9berge en al die heuwels, bome wat vrugte dra en al die seders; 10wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg; 11konings van die aarde en al die volke, aanvoerders en al die regeerders van die aarde; 12jong mans en ook jongmeisies, oumense saam met jongmense. 13Laat hulle die Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe; sy luister reik oor aarde en hemel. 14Hy het sy volk sterk gemaak – ‘n rede tot lof vir al sy troue volgelinge, die Israeliete, die volk wat na aan Hom is. Halleluja!
In hierdie week van Kersfees begin ons met Psalm 148 wat die hele heelal – die hemel en die aarde, die skepsels en die skeppings – oproep tot lof. Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef.
Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof: 1) God het hulle gemaak; 2) God het hulle vir altyd gevestig; 3) God het ‘n vaste orde bepaal wat nie verby sal gaan nie (NAV: “waarbuite hulle nie kan beweeg nie”). Die Psalmis gee ook drie redes waarom alles op die aarde God moet loof: 1) God se Naam alleen is hoog verhewe; 2) God se luisterrykheid strek oor die hele aarde en hemel; 3) God het sy volk sterk gemaak as getuienis aan almal wat Hom getrou volg. God wys dus sy sorg in sy beloftes aan dié wat: “na aan Hom is”.
Die hele skepping het dus hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie. Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie. Daarom moet die hele skepping God loof. Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”. Halleluja!
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-148-alles-en-almal-loof-die-here-uit-hemel-en-aarde/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar